Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) doen gereeld 4jr-studies om die mees besoedelde gebiede in die wêreld aan te wys. Hierdie navorsing word in fyn besonderhede gedoen met inagneming van grootte van gebiede, populasiesyfers, sosiale stand van die inwoners, en so meer. Die nuutste statistiek is pas vrygestel en sluit die jare 2013-2016 in.
Waar Johannesburg tevore as die besoeldste stad in Suid-Afrika aangewys is, met Pretoria kort op sy hakke, het daar in die nuutste statistiek 'n lank verwagte skuif plaasgevind met Hartebeespoort en omgewing as die mees besoedelde gebied in die hele Suid-Afrika, met Pretoria tweede en Johannesburg derde. Hartebeespoort/Brits is ook 162e op die lys van mees besoedelde gebiede ter wêreld – dit wil gedoen wees aangesien die databasis van die WGO vir hierdie kategorie 3000 stede ter wêreld beslaan!
Dat die mynbedrywighede en fabrieke in die Hartebeespoort/Brits-omgewing die groot oorsaak is kan nie betwyfel word nie. Die WGO reken dat die gifstowwe in die lug sulke fyn stofdeeltjies is dat dit diep in die menslike long (en natuurlike ook ons diere s'n!) infiltreer en baie ernstige siektes tot gevolg het.
Wat die meeste kwel, is dat inwoners van die gebied elke nag en meeste dae gebombardeer word met gasreuke wat so sleg ruik dat geen lewende wese dit kan hou nie. Die mees verdagte lugbesoedelaars is die Firestone-fabriek, die Hernic-myn en Auto Cast. Maar dit mag ook ander wees. Sover is dit nie bekend dat enige gesaghebbende instansie teen hierdie moordende toestand standpunt ingeneem het nie. Intussen word die asma-pasiënte by die dag meer – vra maar die aptekers in die omgewing. Van die sinussitus en allergië praat mens nie eers nie. En wie weet waarom daar deesdae so 'n hoë kankersyfer ter sprake is.
Die vraag is nou: is daar werklik niemand wat kans sien om hierdie toestand aan te spreek nie? Gaan mens sienderoë toelaat dat die geldmagte voortgaan om hulself te verryk ten koste van mens en dier in daardie omgewing? Dalk verg dit net 'n oproep of twee na 'n instansie soos Carte Blanche...