Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het ons nie die lewe gegee om dit so ver as moontlik uit te rek nie. Hy het ons die lewe gegee as ʼn geleentheid om vir die ewigheid voor te berei.
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE VERONTREGTES” (15)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
The collapse of municipalities and its subsequent further reduction in basic service delivery (health, water, and sewerage).
-Roland de Vries
*
OPSOMMENDE RIGLYNE UIT ONS VEILIGHEID VIR GEMEENSKAPPE – WERKSESSIES DIE AFGELOPE SES JAAR TOT DUSVER
Hiermee ‘n opsomming van die noodsaaklikste riglyne uit ons reeks ‘gemeenskapsveiligheids-werkswinkels’, wat ons oor die afgelope vier jaar geformuleer het:
• Kom ons neem beheer as vredenliewende gemeenskappe oor ons eie veiligheid, raak betrokke en raak georganiseerd.
• Lees die Bybelse boek Nehemia en begin by die beveiliging van ons gesinne (huis-en-haard beveiliging) en die volgehoue bou van hoop en vertroue in Geloof.
• Trek die beveiligingsnetwerk stelselmatig wyer (veiligheidsteunkringe) en sluit geledere met jou bure – onderlinge steun, rondom beskerming met veiligheid stelsels in diepte opgestel.
• Sorg dat jou veiligheidsplan en gebeurlikheidsbeplanning in plek is en moniteer die
gevaartekens sodat daar proaktief opgetree kan word – neem die inisiatief betyds.
• Bly weg van die areas waar dit brand (pockets of fire) en beveilig ons mense daar waar hulle is.
• Tree doelgerig en wettig saam met staatsinstansies soos die polisie op om dorpe, woonareas soos winkels en kwesbare punte en toegangsweë te beveilig, wanneer noodweer (selfs met ‘n vuurwapen) en oorlewing ter sprake is.
• Oorweeg tydelike verskuiwing en beveiliging van mense uit privaat woonplekke, aftree-oorde ensovoorts, slegs indien hulle lewens aldaar bedreig word deur byvoorbeeld brande of onluste of iets dergeliks.
• Tree onder alle omstandighede wettig, professioneel en gedissiplineerd op en hou die emosies in toom.
• Bly koel, kalm en berekend en moenie aan die proses van paniek saai deelneem nie.
• Werk slegs op inligting wat geverifieer is.
• Werk saam met alle vrede-liewende mense wat onder dieselfde bedreiging as ons staan en staan saam – werk aan goeie en opbouende gesindhede en verhoudinge.
• Werk saam met polisie-lede en ander relevante belangegroepe wat ons kan vertrou.
• Moenie goedsmoeds deur aanhitsers en agitators uitgelok word om roekeloos en
onnadenkend op te tree nie.
• Dink en waardeer (ontleding) voor ons doen.
• Ons werk vir vrede.
• Moenie vrees nie en Glo.
Onthou die goeie lesse uit die KwaZulu-Natalse (KZN) opstand van Julie-Augustus 2021…ten tye, waar goeie mense saam teen die kriminele euwel soos ‘n bastion van wilskrag en geloof gestaan het - daardie lesse waarna ek as die wonderwerke van KZN verwys: Bose magte is magteloos as goeie mense nie vrees nie, Geloof het in ons Hemelse Vader en saamstaan!
-Roland de Vries
*
“Pa, daar is ‘n mens. Kan ons haar nie help nie?”
Johan is tot die uiterste toe gespanne. Hulle het net-net betyds uit Garsfontein padgegee. Die tyd was so fyn gesny, dat hy in die tru-spieëltjie die gloed van vlamme kan sien. Hy het geen idee of die vlamme van hulle eie huis af kom nie, en of dit maar net vanuit die voorstad kom, waar hulle huis was.
“Hoe weet jy dis ‘n haar?”
Johan het die afgelope weke gesien dat dinge stelselmatig, maar onomkeerbaar, inmekaar tuimel. Hy het gereeld die afgelope jare gesien hoe onbekwaamheid en moedwillige optrede vanaf die regering se kant elke moontlike stukkie hoop op herstel vanuit die sisteem geneem het. Hy het voorberei vir enigiets wat kon gebeur, maar hy is self daarmee onkant gevang.
Waarvoor hy eintlik gewag het, wat die sogenaamde “snellers” moes wees, het hy nie geweet nie. Die verkiesing miskien? Die totale verval van stelsels? ‘n Paar maal in die verlede het hy gedink dis nou tyd, maar dan gaan die normale weer voort en hy werk weer, vat die seuns skool toe, woon hulle sportbyeenkomste by, gaan kerk toe, koop nog ‘n paar bokse nie-bederfbare goed, luister en kyk na wat die slimmer mense oor die land se omstandighede sê en gaan slaap met ‘n onrustige gemoed.
Sy werksure het hom baie besig gehou en hy het gereeld uitgestel om sy wapenbevoegdheid af te handel en dus het hy nie ‘n vuurwapen kon koop nie. Sy pa het wel ‘n paar wapens gehad en Johan het, as eksekuteur van die boedel, die paar ou handwapens en gewere by die polisie ingehandig. Sover hy weet is dit alles vernietig.
In die hoofligte van die Ford Ranger sien hy haar ook en onder normale omstandighede sou hy dadelik stilgehou het, maar nou kan hy nie die kans vat nie. Hy swaai uit en mis die vrou net-net, maar selfs nou besef hy dat die vrou weerloos voorkom en ooglopend nie ‘n bedreiging inhou nie. In sy kantspieël sien hy sy sak op haar knieë neer en gaan lê op haar sy. Onwillekeurig verminder hy spoed en met ‘n sug hou hy stil, sit die bakkie in trurat en ry terug na waar sy lê.
Lucille het die bakkie sien aankom en meer uit desperaatheid as iets anders, hom probeer wys om stil te hou. Sy is sò moeg! Haar hare is gekoek van sweet, van die effense reëntjie wat uitgesak het, en die modder in die vlak, smal spruitjie waar sy gaan skuil het. Haar klere is vuil en hier en daar stukkend, die ergste is die duur bloes wat sy aan het, waar die man dit gegryp het.
Wat haar aangedryf het, is onseker. Miskien die hartseer van haar kinderjare, waar sy uit die huis gehardloop het as haar stiefpa haar ma geslaan en sy met haar pop in die arms, langs die vyeboom gaan sit het, totdat hy in sy dronkenskap omgeval het op sy verweerde gemakstoel en sy roes afslaap.
Onwillekeurig was sy altyd aangetrokke tot iemand soos haar stiefpa – ‘n man wat gewelddadig en meer male as nie, dronk was. Van die een mislukte verhouding na die ander het sy voortgeploeter, totdat Pieter hom oor haar ontferm het. Een van haar kêrels, Roman, het, toe sy hom vertel sy is swanger met sy baba, haar geskop, geslaan en verwurg. Daardie nag het sy ‘n miskraam gehad, maar sy was sodanig verniel dat sy nie weer kon kinders hê nie. Daarom het sy en Pieter twee babas, ‘n seuntjie en dogtertjie, aangeneem. Nou is hulle drie dood en sy is hartseer, bang en baie kwaad.
Selfs die sterkste mens, gedryf deur erge emosie en inspanning, sal een of ander tyd ingee en Lucille is daar. Nadat die Ford by haar verbygery het, het sy bloot gaan lê op die harde, gevoellose pad. Wanneer Johan haar optel en na die bakkie dra, op die agterste sitplek sit en toegooi met die reiskombers, ten spyte van haar vuil klere en lyf, begin sy huil.
*
Na die gesprek is dit stil in die Land-Cruiser. Beide Maya en Arno is met hulle eie gedagtes besig. Sy voet het herstel nadat dit hoog in die berg gebreek is, maar net soms, as dit koud is of nat, wanneer hy dit ooreis of te lank op een plek stilhou, word dit nog seer, soos nou. Hy skuif sy voet na ‘n meer gemaklike posisie. Maya sien dit en het simpatie met hom. Hy is nie meer jonk nie, eintlik ver daarvandaan, maar sy sien in die effense skynsel van die voertuig se paneelbordligte dat hy diep innerlike krag het, waarvan hy tap as die pad swaar word.
Wat sy nie kon weet nie is dat een van die laaste boodskappe wat hy gekry het van sy vrou, Rachel, was dat sy en hulle seun se plek in Barberton omring was deur ‘n roofbende. Wat van haar kon word, wil hy nie eens begin om te raai nie. Sy het juis daarheen gegaan omdat hy wat Arno is, homself – en haar - te veel in gevaar gebring het nadat hy met Skeermes Hugo te doen gekry het.
Indien hy die geleentheid weer kon terugkry, wat sou hy gedoen het? Dis nou as hy homself kon terugverplaas na daardie aand toe Skeer aan sy deur geklop en vir hulp kom vra het. Miskien was dit omdat Arno erg gefrustreerd was met sy lewe, waar sy loopbaan kortgeknip is omdat hy gepraat het oor onregverdighede toe hy eerder moes stilbly. Miskien moes hy maar ‘n Broederbonder geword het en dan kon hy as vol professor die laaste paar jaar deurbring, maar dit sou teen sy grein indruis.
Wat sou hy besluit het as hy dit kon oorkry? In sy diepste wese weet hy hy sou dieselfde gedoen het.
Hy glimlag as hy dink aan alles wat hulle twee saam beleef het. Deur die jare het hy sy skietkuns nie net op datum gehou nie, maar selfs verbeter. Daar is ‘n algemene opvatting dat fyn skietwerk die talent van jongmense is, maar hy onthou dat toe die Engelse vir ‘n skerpskutterseenheid uit Suid-Afrika gevra het gedurende die Tweede Wêreldoorlog, dat die kolonel slegs manne geneem het wat veertig jaar oud en ouer was.
Agter die sitplek van die Land-Rover, in ‘n kas wat hy ingebou het, rus sy Mauser in 7X57mm. Onder die sitplek is ‘n kas met honderd selfgelaaide rondtes. Langs dit is een van die R5’e wat Maya saamgebring het uit die berg. Aan sy sy is ‘n FN Browning in 9mm Parabellum.
Wanneer hy na Maya kyk, sien hy sy sit , soos altyd, met die SIG skerpskuttersgeweer by haar. Hy weet nie watter handwapen sy onder haar baadjie het nie. Miskien selfs meer as een...
*
“Is jy vaak, Bulletjie?” vra Skeer vir Ezra.
“Nie baie nie, Oom, net honger.”
Skeer kan steeds nie glo hoeveel kos die outjie kan verorber nie. Dis asof hy altyd honger is. Tog, vandat hy hom aangeneem het uit die skrikwekkende omstandighede waar sy ouers vermoor is, nog lank voordat die Groot Gemors begin het, het Kleinskeer, soos almal hom ken, langer en sterker geword. Skeer het die .22 Hornet, wat Ezra nog altyd gebruik het, verruil vir ‘n kragtiger .223 CZ geweer.
“Jy kan maar vir jou iets vat om te eet uit die koelboks. Los net vir my ook iets oor!”
Nadat die mannetjie ‘n toebroodjie en ‘n stuk koue boerewors geëet het, sy hande aan die rol papierhandoek afgevee het, praat Skeer ernstig met hom.
“Jy weet ons gaan dalkies net weer slegte mense teëkom?”
“Dis reg Oom, ek is nie bang nie.”
“Eintlik behoort jy te wees, my seun. Maar waarom is jy nie bang nie.”
“Want Oom is mos by my.”