Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om te troos beteken nie om pyn weg te neem nie, maar om daar te wees en te sê: Jy is nie alleen nie, ek is by jou, saam kan ons jou las dra; moenie bang wees nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (9)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Kyk mooi en miskien sal julle ook sien wat ek sien.”
Die ou man onthou ‘n les wat iewers in die Bybel opgeteken is. As hy reg onthou het ‘n groep mense, hy dink Gibeoniete, hulle vermom deur ou brood en stukkende reissakke te vat, hulle klere geskeur en hulle lywe met stof, roet en as besmeer, sodat hulle as reisigers van ‘n baie ver land kon voorkom en daarmee die Israeliete te oortuig om hulle nie aan te val nie. Die Here was kwaad daaroor.
“Kyk hulle klere. Dis aspris geskeur, op dieselfde manier en die grond wat hulle aangesmeer het, het nog handmerke aan. Daardie deurmekaar hare is nie so gelê of verwaai nie, maar is so met hulle hande gekrap. En hulle leier is ‘n man met die naam Frikkie Andrews. Ek ken hom – hy is ‘n aartsskelm.”
“Maar Pa, hy dra ‘n baba in sy arms. Hoe gevaarlik kan ‘n man wees as hy sy kind dra?”
Hy antwoord haar nie, maar loop twee meter vorentoe.
“Dis ver genoeg, Frikkie! Bly waar julle is.”
“Maar, Oom…”
“Niks se ‘gemaar’ nie. Jy vergeet ek ken jou. Waar is my kar se battery en die geld wat jy my skuld?”
“Ai, Oom. Dis mos lank gelede en ek en my vrou en kind en hierdie mense by ons soek hulp. Ons was aangeval en het nie kos of wapens nie. Oom is mos ‘n Christen en dis Oom se plig om ons te help.”
“Ons kan vir julle ‘n bietjie kos gee, maar dan moet julle julle ry kry. Julle kan nie hier bly nie. Jakkalse verander nie van streke nie, luiperds van kolle en Kussiete nie van velkleur nie. Dit staan ook in die Bybel.”
Frikkie en sy mense loop nader. Die ou man lig sy haelgeweer op, wetende dat daar min dinge meer intimiderend is as die groot, donker gat voor in ‘n twaalfboor haelgeweer se loop.
“Staan net waar julle nou is. Dis heeltemal ver genoeg.”
Drie volwasse mans kom staan by Frikkie.
“Asseblief, Oom!”
Hy skreeu die laaste woord uit en dis duidelik dat dit ‘n teken is vir die ander . Hy laat val die “baba”, wat net ‘n opgestopte rokkie is met ‘n mussie waar die kop moet wees, gryp sy eie haelgeweer wat onder die pop versteek was, ‘n ou, afgesaagde enkelskoot Harrington& Richardson en rig die wapen op die ou man.
Die afstand is minder as tien meter en die skoot hael sal verwoestend wees. Die ander manne gryp ook hulle wapens agter hulle rugge uit hulle gordels. ‘n Skoot klap agter die ou man en Frikkie val. Die ander drie laat hulle wapens op die teerpad kletter. Almal steek hulle hande in die lug, manne sowel as vroue en kinders.
Die ou man waag om om te kyk na waar die skoot gekom het. Sy dogter staan met die ou Winchester se kolf teen haar wang, terwyl sy die hefboom vorentoe druk en terugtrek teen die kolf, sonder om haar oë van die visiere of teiken af te vat. Die leë doppie trek met ‘n boog en val op die grond. Die “klik-klak”-geluid van die oorhaal is in die nuwe stilte duidelik en onmiskenbaar.
“Gaan sit plat op julle boude, bo-op julle hande.”
Sodra hy seker is dat hulle onskadelik is, loop die ou man en sy seun nader, deursoek die mense vir ander wapens en vind nog een versteekte kortloop .32 rewolwer en ‘n paar messe.
“Julle kan ons nie ongewapen wegjaag nie!” spoeg een van die vroue.
“Dame, ek sal baie beter slaap as ek weet julle het nie wapens nie. Vat julle manne nou vir ou Frikkie, pasop vir daardie been met die gat in en maak dat julle wegkom.”
Hy kyk op sy horlosie.
“Drie minute. Dis hoeveel tyd julle het om pad te gee, dan skiet ek op almal wat ek kan sien. Glo my asseblief,” sê hy sonder emosie.
“Hoe het Pa geweet?”
“My eie pa, julle oupa, het gesê daar is niks slegter as ‘n slegte witman nie.”
*
‘n Stabiele regering is presies wat die term impliseer. Stabiliteit beteken dat ‘n land sodanig regeer moet word, dat dit nie omgekantel kan word nie.
‘n Burgery wat versorg word, waarvan die regering bekwaam en billik is, wat alle inwoners se welstand op die hart dra, het gewoonlik nie rede tot kommer nie. Die geskiedenis leer egter dat, wanneer ‘n regeerder selfversekerd raak, in sò ‘n mate dat hy homself regte toe-eien wat hy nie verdien nie, mettertyd die gevaar loop om hetsy by die stembus, òf in die geval waar die kiesers nie net onintelligent is nie, maar ook maklik met leë beloftes om die bos gelei word, uiteindelik deur ‘n minderheid of selfs deur die lompe meerderheid vervang te word. Wanneer die korrupsie sodanig word dat die man op straat begin besef dat hulle betaal vir die luukse lewe van ‘n handjievol selfaangestelde elite, word die omverwerping van genoemde regering uiters bloedig.
Wat ‘n Nuwe, Nie-Rassitiese Suid-Afrika moes wees, het ontaard in ‘n uiters rassistiese plek, waar ras bepaal aan wie se kant die regering is.
In April het die Suid-Afrikaanse Regering begin besef dat die modder waardeur hulle die land gesleep het, uiteindelik aan hulle begin kleef. Eskom, wat onvervangbaar is, wat die ekonomiese stabiliteit nie net verseker nie, maar ook in stand hou, begin finale uitklopsindroom toon.
Enigiemand wat ‘n motorkar vir té lank probeer ry, vir ver en hard, kan sê dat elke stukkie masjienerie ‘n eindpunt bereik. Hoe ouer die kar word, hoe meer moet hy gediens word, kritieke onderdele moet vervang word en daar moet oordeelkundig en sagkens met hom te werk gegaan word.
Jy kan nie verwag om met ‘n 1960 model kar, wat jare se harde diens gelewer het, wat nou tot in die rooi gedruk word dag na dag, week na week en selfs jaar na jaar, verwag dit moet hou nie. Daar kom ‘n tyd wanneer dit nie meer ekonomies en prakties sin maak om die voertuig aan die gang te hou nie. Uiteindelik moet die ding vervang word met ‘n nuwe of nuwer model.
Die meeste kragstasies in Suid-Afrika is, soos die norm wêreldwyd is, gebou om veertig jaar diens te lewer. In die hoogbloei van Apartheid is die meeste van die huidige stasies gebou en, behalwe vir Medupi en Kusile, en is elkeen tussen vyftig en sewentig jaar oud. Koeberg kernkragstasie is in 1984 in gebruik geneem en is veronderstel om in diens te wees tot 2029, wat hom ‘n leeftyd van 45 jaar gee, waarvoor hy ontwerp is. Kundige ingenieurs is egter uit diens gestel en daar vorm letterlik krake in die struktuur.
Voeg hierby twee dekades se leegtap van broodnodige kapitaal om nuwe kragaanlegte te bou, om onderhoud aan die bestaandes te doen en swakgehalte steenkool, wat in sommige gevalle nie veel meer is as klip nie, wat uitmekaarspat as dit verhit word en die binnekante van die oonde beskadig, metaaltamheid wat oral intree en enige mens sal besef dat dit met uiterse kundigheid skaars aan die gang kan bly, maar met die uitdiens-stelling van die bekwaamste ingenieurs en politieke kaders wat by hulle oorgneem het, is dit te verwagte dat die hele netwerk op die randjie van ineenstorting loop.
In April het die sagteware verskaffer van die rekenaarstelsels, dit wil sê wat onder andere alle vroeë waarskuwingsbronne beheer, aangekondig dat hy sy stelsels gaan afskakel, aangesien Eskom hom 7,6 miljard rand skuld. Eskom ontken dit, probeer deur ‘n hofbevel die maatskappy dwing om aan te hou diens lewer, maar die hof besluit teen Eskom.
Die nuwe Hoof-Uitvoerende Beampte kla sy aankope-direkteur aan vir korrupsie en onbevoegdheid, wat op sy beurt weer die HUB beskuldig van rassisme. Wat die regering nie besef nie, of ten minste wil erken nie, is dat die natuurwetenskap hom nie aan velkleur of politieke kaderkonneksies of aanstellings steur nie.
Indien ‘n regering in ‘n onstabiele situasie oproer onder beheer wil hou, moet hy die vermoë hê om wette af te dwing. Dis maklik om wette te maak, maar nie altyd so maklik om dit toe te pas en te sorg dat dit nagekom word nie. Nadat die wetgewende gesag die besluite geneem het – gewoonlik om net die een deel van die bevolking te paai en hulle eie sakke te vul – word dit aan die polisiemag oorgelaat om te sorg dat dit uitgevoer word.
Indien die polisie dan ‘n verontagsaming van ‘n wet bespeur, kla hulle die oortreder aan by die howe. Die howe besluit of die aangeklaagde skuldig is en wat ‘n gepaste straf is. Korrektiewe dienste (‘n eufemisme vir ‘n plek waar misdaad gedy) sorg dan dat die straf uitgedien word. In Suid-Arika maak die hoofregter godsdientige opmerkings, wat sy goeie reg is, maar word daarvoor aangekla. Die howe verloor as gevolg hiervan en met die kaskenades van ander regters, sy aansien.
In Maart word die vorige president, Jacob Zuma, vir die soveelste maal deur ‘n voorsitter van ‘n kommissie, wat hy self aangestel het om korrupsie te ondersoek, beveel om voor hom te verskyn. Die Grondwethof gee die kommissie gelyk, wat op sy beurt tronkstraf van twee jaar aanbeveel.
Die ANC het reeds in 2017 in ‘n resolusie onderneem dat elke kader wat van ‘n ernstige misdaad beskuldig word, opsy moet staan totdat die proses afgehandel is. Hierdie besluit raak nie net vir Zuma nie, maar letterlik dosyne ander kaders in minder-belangrike poste, (sommiges word net in ander, meer senior poste “herontplooi”), maar ook die Sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, wat van diefstal, korrupsie en ander misdade aangekla word. Hy word aan die einde van Maart 30 dae gegun om sy pos te ontruim. Gedurende hierdie 30 dae – amper soos Napoleon se Honderd Dae – gebruik hy om die voetsoolvlak-takke aan sy kant te skaar. Dis geen geheim dat hy en Jacob Zuma hierin saamwerk nie en, met baie laevlak mense wat hulle ondersteun, sowel as ‘n beduidende faksie wat hoë poste binne die regering beklee, is dit onvermydelik dat die party sal skeur. Dis duidelik dat Zuma ‘n nuwe, eie politieke party wil stig. (Ja, MK het toe gevolg...Red.)
Nog ‘n Amerikaanse IT-maatskappy kondig aan dat hulle hul sagteware-programme wat die wapenuitreiking binne die SAPD beheer, afgeskakel het. Niemand weet waar die wapens van die SAPD is nie.
Die Sentrale Vuurwapenregister, wat wapenlisensies aan burgers behartig, is in ‘n chaos.
Die SANW se topstruktuur veroorsaak dat hulle begroting nie aangewend kan word vir toerusting nie en feitlik alles wat hulle op boeke het, is stukkend, dit wil sê ondiensbaar, weg en/of verouderd.
Die algemene werklose gepeupel word gepaai met ‘n bedrag wat maandeliks aan hulle uitbetaal word. In Maart is hierdie getal mense naby aan 19 miljoen. Omdat so baie geld ter sprake is, word ‘n beduidende gedeelte van die bykans 350 miljard gesteel.
Die onvermydelike van al hierdie sake bring mee dat Suid-Afrika soos ‘n kaartehuis inplof. Die regerende party skeur en faksionele gevegte vind plaas, wat beteken dat hulle hul houvas op die politiek verloor.
Eskom verloor een verouderde kragstasie eensklaps, wat beteken die naburige stasies word oorlaai en skakel ook af. Die hele stelsel vou inmekaar. Banke kan nie geld uitbetaal nie en SASSA-uitbetalings staak, net soos produksie, die vervoer van brandstof (wat in elk geval bang is dat hulle voertuie uitgebrand word), en die spoornetwerk kan nie gebruik word vir die vervoer van enige goedere nie, want die stasies en spore is letterlik weggedra. Ontevrede skares soek kos, water en blyplek.
In plaas van gemeenskaplike oplossings te probeer vind, word elke moontlike winkel, kompleks en woonhuis aangeval en geplunder. Die SAPD is onbekwaam met generaals wat niks weet van polisiëring nie, wapens wat weg is, beamptes wat in elk geval nie weet hoe om dit te hanteer nie, en ‘n gepeupel wat nie enige respek vir hulle het nie. Dieselfde geld vir die metro-polisie. Die SAPD probeer die SANW betrek op grondvlak—polisiëring, maar dieselfde probleme wat die polisie het, het die weermag ook.
Die aanvalle in Capo Delgabo in Mosambiek wys dat die buiteland op geen manier gaan intree nie, behalwe om hulle eie burgers land-uit te neem.