Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voel jy soms soos 'n weeskind, verstote en alleen? Aardse dingetjies kan jou tydelik troos, maar al wat jy regtig nodig het is om te onthou dat Jesus weer aarde toe kom, hierdie keer om sy kinders te kom haal. Onthou elke dag dat jy nie verlate is nie, dat Hy alles van jou weet, en dat Hy sál kom ons na sy Paradys te neem!
BROKKIES UIT DIE BOEK: DARIUS PRINS – STAATSVYAND (1)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Ek wonder wat ons vriend, Darius, uitgerig gaan kry. Is hy op soek na inligting, of soek hy moeilikheid?”
“Ja, ek weet nie wat hy gaan doen nie. Ek het ‘n bietjie gedink oor die hele ding.”
“Watter ding, Arno?”
“Oor die vraag waarom die buiteland ons nie in vrede kan laat nie. Persoonlik dink ek dit het nie veel met ons grondstowwe te doen nie. Ja, lank in die verlede in, sou dit waar wees. Engeland het inderdaad ons goud nodig gehad om hulle militêre basisse te onderhou en om hulle ekspansionisme te finansier, maar ek dink nie dis meer die geval nie.”
Skeermes kyk voor hom en laer af, asof hy inspirasie by sy skoene se tone soek.
“Wat ook al, ek wens hulle wil net hulle tassies vat en loop. Ons kan heel gemaklik ons eie krisisse verwerk.”
“So gepraat van die buiteland, ek het anderdag statistieke gelees aangaande ongedokumenteerde uitlanders. Volgens die selfoonmaatskappye, wat mense ge-RICA het, was daar meer as sewe en twintig miljoen immigrante voordat hulle begin padgee het. Zimbabwiërs en Nigeriërs is verreweg die meeste.”
“Ek weet dis nie polities-korrek nie, maar die enigste rede waarom hulle hier was, is omdat daar nog ‘n sweempie van geld, kos en mediese sorg is. In Zim is dit skaarser as ‘n eerlike politikus en in Nigerië is soveel korrupsie en agteruitgang, dis net nie waar nie. Advokaat Ike Khumalo het ‘n klompie maande gelede gesê Suid-Afrika kan nie hulle blankes met die res van Afrika deel nie.”
“Kom ons kom terug by die rede waarom ons klompie ligte velle so gehaat word.”
“Sê maar wat jy dink?”
“Dit gaan grootliks oor geloof. Ek wil nou nie profetiese uitsprake maak nie, of om myself uit te gee as ‘n kenner van die Bybel nie, maar ek meen dit gaan oor geloof. Waarom het die Franse protestante hierheen gekom? Dit was weens die herroeping van die Edik van Nantes, en die nuwe ywer waarmee die Roomse Kerk hulle vervolg het. Baie Nederlanders en Duitsers het om dieselfde rede gekom. Het julle al opgelet wat die verskil is tussen byvoorbeeld klein plattelandse dorpies in Suid-Afrika en ander lande wat na 1600 tot stand gekom het, soos Amerika en Australië? By hulle was die sentrum van die nedersetting die sogenaamde ‘saloons’, ‘n kroeg-dobbelhuis en in baie gevalle ‘n bordeel. By ons was dit kerke. Kyk maar hoeveel kerkpleine en Kerkstrate is daar.”
“Gaan aan...”
“Onthou nou, hierdie is die tydperk, veral na 1750, waar humanisme en die Renaissance oorvleuel het. Hierna het die Franse Rewolusie en die eerste Industriële Rewolusie gevolg. Maar kom ons gee eers ‘n treë terug. Na die val van die Rooms Katolieke Ryk en die builepes van die 1300’s, waar tot sowat vyftig miljoen mense dood is, is die mag van die RKK gebreek. Die tweede uitbraak het vir die dood van twee miljoen gesorg. Dit het kulturele, maar ook maatskaplike en ekonomiese veranderings meegebring. Net soos die COVID-plaag van 2020, vra baie wetenskaplikes of dit spontaan was en of dit met opset versprei is. Kom ons gestel laasgenoemde is ‘n volstrekte moontlikheid. Die vraag is waarom?”
“En die antwoord is?”
“Jy kan nie ‘n nuwe orde skep voordat die bestaande een nie vernietig word nie.”
“So?”
“Wat het op die Franse Rewolusie gevolg? Die woord ‘communé’, waarvan ‘Kommunisme’ afgelei is, kom nie uit Rusland nie, maar uit Frankryk. Indien jy die literatuur van Voltaire, Rosseau, Robespierre en die ander filosowe gaan lees, wat die Franse Rewolusie vooraf gegaan het, sal jy sien dat nie net die humanisme sy oorsprong daar het nie, maar ook sosialisme. Marx het sy Kommunistiese Manifes in 1848 gepubliseer, maar dit gedagte daaraan kom reeds van 1830 af.”
“Wat wil jy vir ons sê?”
“As jy sien hoe vinnig op mekaar hierdie dinge plaasgevind het, is dit amper asof die gebeure in die tyd gekompakteer is. Aan die een kant kry jy die verbrokkeling van die kerk en in ‘n mate die Christendom, en aan die ander kant die opkoms van Sosialisme, wat inderwaarheid net ‘n eufemisme is vir Kommunisme, sonder ‘n duidelike skeidslyn. En nou wil ek ook ‘n ander stok in die hoenderhok gooi. In 1859 publiseer Charles Darwin sy boek: ‘The origin of Species by Means of Natural Selection’. Nou, ek besef hy het nie bedoel dat die evolusie-leer geloof in ‘n Skepper vervang nie, maar dit het vir baie mense gebeur en dit is vandag nog ‘n kwessie. Darwin het, nadat hy besef het wat die gevolge van sy boek is, homself onttrek en het, sover ek weet, daarna met groente geboer. Onthou ook dat hy ‘n opgeleide teoloog was.”
“So, jy wil vir ons sê dat al hierdie geskiedkundige gebeure binne ‘n kort tydjie plaasgevind het en dat dit alles meegewerk het dat die menslike verstand, of intellek, geloof vervang het?”
“Ja, in baie gevalle.”
“Wat van die Reformasie – waar pas dit in?”
“Goed. Die Reformasie vind sy hoogtepunt in 1618-1619, met die Sinode van Dordt. Dit het nie die Christendom vervang nie, maar was in wese ‘n terugkeer na die beginsels van die Bybel. Die Katolieke Kerk het vir baie eeue die monopolie op geloof gehad. Die Bybel was vertaal in Latyn, die Vulgata, en net die priesters en ander ampsdraers van die kerk kon Latyn lees. So, die gewone kerkmens moes die priester gaan vra wat sê die Here en die priester kon dinge opmaak soos hy wou, in baie gevalle om die mense uit te buit. Die Reformasie het ‘n einde hieraan gebring, veral toe Luther die Bybel in Duits vertaal het en die gewone mens dit self kon lees.”
“Ek verstaan, maar kan nie die kloutjie by die oor kry nie.”
“Dink daaraan so: wie was die heerser in die destydse wêreld? Die Katolieke kerk. So, die wêreld was ‘n een-wêreldstelsel onder leiding nie van die God van die Bybel nie, maar onder leiding van Rome, wat as ek die reformatore reg verstaan, ‘n sodanige verdraaiing was, dat die hoof van die kerk nou die pous was en nie meer Christus nie. Onthou nou, die Katolieke kerk se rug is gebreek met die uitbreek van die buile-pes of Swart Dood in die 1300’s. Hulle begin skaars hulle invloed terugkry, of die Reformasie vind plaas, wat uiteindelik ‘n baie groter bedreiging was as die pessiekte. Wat moes gedoen word? Die protestante moes uitgeroei word, wat byna gebeur het met die Sint Bartolomeus-nag se moorde.”
“Gaan aan? Dit klink my jy is naby die punt wat jy wil stel.”
“Ja, jammer oor die lang lesing. Die punt is, die vlugtelinge uit Europa, destyds, het die reformasie na die Kaap gebring. Hier, in amperse afsondering, het dit gefloreer. In Amerika het die Wesleyaanse teologie meer indruk gemaak as die Nederlandse, oftewel Nederduitse, soos dit destyds al bekend was, soos hier die geval was. Ons voorvaders het onder leiding van veral manne soos Paul Roux, strenger by die Drie Formuliere van Eenheid gehou as in ander opkomende lande, nie dat ek hulle wil afskiet nie, inteendeel.”
“Is dit waarom die Engelse die Kaap geannekseer het?”
“Dis moontlik een van die redes. Natuurlik ook om die seeroete na Indië te annekseer.”
Skeermes Hugo sit diep in gedagte.
“Jy weet, Arno, ek wil amper soos Festus van destyds sê: ‘Jy oortuig my byna’. As ek jou gedagtegang verder wil voer, is dit waarom die destydse Engelse sendelinge die inboorlinge so opgestook het teen die Boere?”
“Ek dink so. Hulle moes doen wat die Engelse nie kon regkry nie.”
“En die Groot Trek?”
“Onthou nou die NG Kerk van destyds het die Trek heeltemal afgekeur en selfs die Trekkers onder tug geplaas. Tot by sensuur. Hulle wou ook nie toelaat dat ‘n geordende dominee saam trek nie.”
“Hoekom?”
“Amptelik sal die historici sê hulle wou nie lidmate verloor nie. Ek dink eerder dat hulle die regering van destyds na die mond gepraat het. En neem nou in ag dat die Engelse die Trekkers wou keer deur hulle te verbied om kruit saam te vat. Daar is die oorvertelde storie van ‘n stewige tannie wat op ‘n kruitvat gaan sit het, met haar rok daaroor gevou, terwyl die soldate die goed deursoek het.”
“Waar pas die Zulu’s in?”
“Was daar Engelse sendelinge in Natal destyds?”
“Ek verstaan. Maar maak jy nie nou verskriklike baie aannames nie?”
“Miskien, maar onthou enige hipotese word gesteun deur feite. En die geskiedkundige feite is daar vir almal om te lees. Kom ons gaan verder. Gestel die diamante en later die goud was nie die rede nie, maar die verskoning om die republieke te annekseer.”
“Dit is waarom Kitchener die opdrag gekry het om man, vrou en kind uit te roei. Dit is waarom die Engelse die Boerevroue en meisies aan swart manne gegee het om te verkrag, sodat daar nie meer ‘n suiwer blanke bloedlyn sou wees nie?”
“Ja, en dit was amper. As ‘n mens net in ag neem dat 26 000, sommige meen soveel as 42 000 vroue en kinders in die konsentrasiekampe dood is, kon ons nou meer as 20 miljoen Afrikaners gewees het. Onthou hoe Afrikaans as kombuistaal uitgekryt is na die oorlog en dat hulle toe probeer het om selfs die kerke te verengels.”
“En die uniewording in 1910?”
“Onder leiding van Louis Botha. En ‘n ruk later die stigting van die Broederbond, wat niks anders is as Vrymesselary met ‘n gereformeerde baadjie aan nie. Maar kom ons praat oor die ANC. Wie dink julle het hulle deur die jare gefinansier en raad gegee? Wie het vir die joernaliste gesê om naby die jeugopstande te wees en die gewraakte foto’s te neem met name soos dié van Hector Petersen? Waar het baie van die ANC hooggeplaastes gestudeer, ook Thabo Mbeki? En neem in ag dat die destydse Soviet Unie die ANC opgelei het, dat die drie alliansie vennote die ANC, Cosatu en die SAKP is.”
“So, waar laat dit ons nou?”
“Dit laat ons met ‘n protestantse tradisie wat verkrummel het, nie net as gevolg van die kerke se napraat van die politici nie, maar ook as gevolg van die verdraaiing van Bybelse waarhede deur die teologiese fakulteite, die opkoms van die Pinksterbeweging, die charismatiese kerke en die ander kultusse.”
“Ons is dus steeds die hindernis in die pad van die globaliste, ons handjievol wat steeds die reguit, Afrikaanse en protestantse tradisie handhaaf.”
“Mitt Gott und Mauser?”
“Netso.”