VROUEMONUMENT BLOEMFONTEIN

Dolf van Niekerk se radioprogram, "Land van Ons Vaders" was een van die gewildste reekse wat ooit deur die SAUK uitgesaai is. Niemand was dus destyds verbaas dat die Akademieprys vir Hoorspele aan Van Niekerk toegeken is vir sy hantering daarvan nie. Daar is ook in 1966 in 'n bundel agtien van die sketse saamgevat wat die verteenwoordige beeld van Suid-Afrika net soos in die radio-uitsendings weergee: 'n beeld van sy vlaktes, sy stede, sy mense, sy geskiedenis, 'n beeld van ons land en die land van ons vaders, ons Gelofteland, Suid-Afrika.

LAND VAN ONS VADERS

(Lees die reeks by Land van Ons Vaders)

Hier volg die eerste van die sketse, hierdie een geskryf deur:

dr MCE van Schoor

Die Nasionale Vrouemonument en Oorlogsmuseum

Sagte sonstrale van 'n kwynende dag val hier op die monument. Dit is stil... wonderlik stil. Selfs die roersels van die karee- en olienhoutlower en die geroep van 'n tortelduif na haar maat in die koppie hier digby maak die stilte nog stiller... Hier het die bouwerk van mensehande en die natuur tot rus, tot vrede saamgesmelt. Hier swyg die mens, want hier het sy siel stil geword...

As seun van die Vrystaatse vlaktes wat feitlik in die skaduwee van hierdie gedenknaald gebore is, het ek so dikwels hierdie stilte kom opsoek en my reeds as kind die vraag afgevra: Waarom gryp hierdie monument 'n mens so aan? Waarom staan jy met 'n knop in jou keel en met trane in jou oë voor hierdie bronsbeeldegroep en sandsteennaald wat hoog in die blou lug inskiet?

Waarom betree die onverskilliges en die nuuskieriges hierdie heiligdom met huiwering en eerbied? Waarom getuig wêreldreisigers, wat die grootste van alle grootste gedenktekens en monumente besigtig het, dat niks hulle al soos hierdie gedenkteken ontroer het nie?

Is dit omdat die gedagte van die Vrouemonument uit die opregte siel van 'n Marthinus Theunis Steyn gebore is? Hy wat eenmaal getuig het, "Voor mij is er slechts een beeld van ware liefde, trouw en moed, nl de Afrikaanse vrouw"?

Is dit omdat hierdie vergestalte huldebetoning van 'n volk nie net uit die rykdom van die rykes nie, maar veral uit die armoede van die armes moontlik gemaak is?

Lê die aangrypende ook daarin dat dit uit die herrysenis van ons klein en beskeie Afrikanervolk na sy diepste loutering tot stand gekom het?

Is die mees sprekende daarin opgesluit dat die beeldhouer, Anton van Wouw, en die argitek, Frans Soff, uit suiwer piëteit die triomferende martelaarskap van die kampmoeders met hulle kinders volmaak versinnebeeld het?

Dit moet tot elke mens, elke geslag spreek, want dit dra 'n wesenlike boodskap – 'n boodskap van lyding, die lyding van vroue en kinders wat nie ontaard het tot 'n gevoel van haat nie, maar 'n gevoel wat gelouter is tot 'n verhewe liefde vir vryheid, volk en vaderland!

In duidelike letters staan dit op die voetstuk uitgebeitel:

"AAN ONZE HELDINNEN EN LIEVE KINDEREN – UW WIL GESCHIEDE – Dit Nationaal Monument is Opgericht ter Nagedachtenis aan de 26,370 Vrouwen en Kinderen die in de Concentratiekampen zijn Omgekomen en aan de Andere Vrouwen en Kinderen die Elderes tengevolge van den Oorlog, 1899 – 1902, zijn Bezweken."

In so weinig is soveel gesê, maar al die woorde ter wêreld kan nooit die diepere simboliek oordra van die aangrypende beeldegroep wat in die palm van hierdie monument rus nie: Die moeder met haar ontblote hoof en sterwende kind op haar skoot – in haar diepste droefheid en smart, in die kyk van haar oë, wat eintlik nêrens kyk nie, ( of is dit die kyk na binne?) spreek 'n boodskap vir alle tye: "My kind is sterwend, maar ek sal nie wanhoop nie, want dit is hierdie lyding, hierdie sterwe wat sal verseker dat my volk nie sal sterf nie!"

En die jong vrou wat by haar staan. Sy wat haar oë ver oor die vlaktes rig; sy wat ten spyte van alle vernedering, ellende en lyding haar hoof omhoog hou asof sy die Onsienlike sien – asof sy reeds in die verskiet die herrysenis van haar volk kan sien? Is sy nie die aanklaer van ons kleingelowigheid nie; van ons onwil om selfloos offers vir ons land en volk te bring soos wat sy en ander dit gedoen het nie? In hierdie beeldegroep, waarvan Van Wouw gesê het: "Ik wou dit nog treuriger maken", is weemoed en hoop tot so 'n patos verhef wat tot diep in die hart gryp. Dit spreek van 'n taal wat alle tale oorskry, en dit dwing ons om stil te wees...

En tog staan ons nie hier en treur soos hulle wat geen hoop het nie, want uit hierdie sametrekking van smart, weemoed en lyding vloei 'n stille krag wat 'n mens sterk om trou te wees aan die ideale waaraan hierdie gestorwe kampmoeders en kinders hulle verbind het. Onwillekeurig hef ons die hoof na bo, al met die slanke naald langs – op, op die blou lug in – die hoof na God gerig. Dáárom gryp hierdie monument  'n mens aan – dit is meer as 'n gedenkteken van vroue - en kinderlyding, meer as 'n bouwerk van brons en sandsteen: dit is 'n simbool van veredelende strewe en verhewe gedagtes; dit rig ons op ons Skepper. Is dit waarom dit hier so stil is...?

Maar as ons omdraai om na ons dagtaak terug te keer, val die oog op die grafte van hulle wat binne die ringmuur rus: Net die woorde: MARTHINUS THEUNIS STEYN, 1857 – 1916; CHRISTIAAN RUDOLF DE WET, 1854 – 1922; JOHN DANIËL KESTELL, 1854 – 1941; die onvergeetlike driemanskap: Steyn, die besielde held van wyse staatsmanskap; Kestell, die vrome held van die geestelike Woord; en De Wet, die onverskrokke held van die krygsmansdaad. En in 'n nissie rus die asse van die "Engel van Liefde", Emily Hobhouse, en by die President sy eggenote, Rachel Isabella Steyn... Nog 'n keer draai ons om. Die moeder en jong vrou se blik vang weer ons oog, maar uiteindelik staar ons al langs die naald weer die blou lug in...

In dié stilte hoor 'n mens maklik woorde uit 'n vroeër tyd. En jy sien weer tente tussen die koppies en die bome – en mense wat ademloos na 'n stem luister. Ook 'n stem wat 'n toespraak van Emily Hobhouse voorlees,. Want sy was ongesteld en kon nie by die monument teenwoordig wees nie. Want dié dag is die monument ingehuldig. En nou staan ons hier, en haar woorde is in jou verstand – en op dié oomblik kry hulle nuwe gestalte:

"Julle staan hier vergader uit alle oorde om hierdie plek te wy aan vrouens en kinders wat van alles – ek sê dit met gesag – van alles beroof was. Mans en seuns, huise en plase, vee, huishoudelike besittings en selfs klere. Gestroop van alles was dit goed om te sien dat hulle nog hulle siele besit het.

"Is dit nie juis die glorie van daardie swakke lydendes wat hierdie beginsel neergelê het nie?

"In hierdie Suid-Afrika van ons lê ware vaderlandsliefde in die eenheid van hulle wat in haar lewe en haar liefhet, in teenstelling met diegene wat op haar, maar uit haar lewe. Die Patriotte en die Parasiete. Hier is die verdeling waarlangs alle ander verdelings geen betekenis het nie. Daar kan geen permanente verdeeldheid wees tussen diegene wat ons land liefhet, in haar en nou verbonde is aan haar nie. Basies is diesulkes een!

"As julle huldeblyk aan die dooies, begrawe haat en bitterheid aan die voet van hierdie monument vir ewig. In plaas daarvan, vergewe, want julle kan dit bekostig, vergewe die rykes wat gierig was vir nog rykdom, die staatsmanne wat sake verkeerd bestuur het, die swak leierskap wat op swakkes en babas oorlog gemaak het. Vergewe – want alleen só kan julle uitstyg tot volle edelheid van karakter en 'n breë en edele nasionale lewe. Want wat werklik tel, is karakter."