(Lees die reeks by Land van Ons Vaders)
LAND VAN ONS VADERS
Dr WJ de Kock
Slaan oop die groot boek wat vertel van ons nasie se pad tot hier: van die dowwe dae van krisis, mismoed, oorlog, en die donker uur van die neerlaag wat naas die datum van die laaste dag van Meimaand geskrywe staan. En dan weer die teken van die hoop as 'n nuwe hoofstuk vir Boer en Brit tesame aanbreek. Blaai oop by dieselfde Meimaand as Oranje-blanje-blou die eerste keer wapper oor die rusies wat swaar sterwe. Wees geduldig. Blaai lank tot waar jy 31 Mei weer sal vind – dag van beskikking – simbool van die nuwe môrestond waarop so lank gewag is...
Skuif oop die eerste toneel: Bloemfontein, Mei 1899. Beraad in die hoofstad van die Oranje-Vrystaat. 'n Konferensie om die pikswart dreiging van die oorlog te besweer. Twee manne sit teenoor mekaar, elk met sy eie gedagtes en strewe. Van die woorde wat aan hierdie lang tafel gespreek word, sal die lewe van twee Boere-republieke afhang:
die woorde van Paul Kruger, segsman vir die Boeresaak; die woorde van Alfred Milner, tolk van 'n magtige volk wat op die pad van sy imperialisme twee Boererepublieke teengekom het. Tussen dié twee die rustige, breedgeskouerde Marthinus Steyn, toeskouer by die drama, wat self vertel hoe hy in dié dae toe aaneen gepraat is oor alles wat later Transvaalse groenboeke en Britse blouboeke sou vul – uitlandersgriewe, stemreg, dinamietmonopolie en arbitrasie – hoe hy die salwende werk van die vrede probeer doen het.Elfuur die môre op 31 Mei: Kruger en Milner ontmoet mekaar die eerste keer in die Sentrale Spoorwegkantoor van Bloemfontein. Abraham Fischer is die tolk. As hy buite kom. berig hy die gang van die gesprekke – elke dag sak sy moed laer. Geduldig wag die Transvalers wat hul ou president vergesel: ADW Wolmarans, Schalk Burger en die jong staatsprokureur, Jan Smuts.
Daarbinne sê Kruger eindelik met trane in die oë: "Dis nie die stemreg wat julle wil hê nie, dis my land!" En buite laat selfs die lankmoedige Steyn die moed vaar. "Dit was vir my duidelik," so skryf hy dit neer, "dat ons kon doen wat ons wou maar die oorlog sou kom. Die konferensie is slegs gebruik om Engeland 'n skyn van reg te gee. Só sterk sterk was die oortuiging by my dat ek, toe ek van my besoek aan Milner in my kantoor terugkom, instruksies gegee het om dadelik 'n paar duisend Mausers en een miljoen patrone te bestel..."
Steyn se Mausers daag nooit op nie. Dit is reeds te laat. Die wiel van geweld trap die planne van hulle wat na die vrede so vergeefs gesoek het, roekeloos plat.
Trek toe die sluier oor die lydensuur van die Boer. Dek die jare van bloed en brand, van heldekryg teen oormag, van veg en vlug, van naakte aarde en die dood van vrou en kind. Bring ons wéér by 'n 31 Mei in die jaar 1902, die dag wat vrede moet bring – vrede in die woestyn waaroor die eg van die oorlog sy swart tande gesleep het. Dag van vernedering en neerlaag, van niks wees in jou eie land tot 'n beter dag weer sou kom.
Êrens móés dit breek, hierdie taai wal van moed en ysere volharding. Al is dit om die lyding en sterwe van die swakkes, van oumens en vrou en kind nie langer te aanskou nie, om nie langer soos die hygende wildsbok voor die jagters uit oor vlakte en rant te swerwe nie.
So het die vredesvoorstel die Transvalers daardie Maartmaand op die Hoëveld bereik, êrens noord van Balmoral – by Stroomwater. (Wie weet vandag nog waar Stroomwater lê?) Die twee-en-sestigste staanplek van die regering-te-velde van die Zuid-Afrikaanse Republiek, die kapkarregering wat hom nie deur Kakiekolonnes laat vang het nie. Terwyl die ou leidsman van Transvaal in die verre Europa eensaam by sy ope Bybel die maande om peins, beweeg die regering deur Pretoria na Klerksdorp om die Vrystaterste ontmoet.
Aprilmaand – gesprekke oor vrede terwyl die vyand wag. Taaie verset naas pleitende, weemoedige toesprake wat van toegee praat. Debat terwyl daarbuite die kleingeweer en kanon nog praat. Woorde en wrange berekening. 'n Volk laat uitroei? Vasstaan tot die laaste koeël tref? Waar lê die plig? Die verbryseling van die vryheid nou aanvaar en die brandhout uit die brand pluk, of stry tot dáár waar die oewer van vertwyfeling dofweg glim?
Vra dit dan aan hulle wat elke dag in hierdie derde jaar van die oorlog met die honger, die koue en die reën, en met die dood self leer saamleef het. Vra dit aan die kommando's. Laat húlle die antwoord op Vaalrivier se oewer by Vereeniging kom gee – dis hulle reg; hulle wat die wêreld met hul dapperheid verstom het. Laat hulle die antwoord gee aan die soldaat Kitchener en dieselfde kille Milner wat presies drie jaar gelede teenoor Paul Kruger by Bloemfontein gesit het. Hy wat nou die oes kom insamel. Kyk hulle deur, elke stroewe gelaat daar in die groot tent. Jy sal hulle weer vorentoe ontmoet op die pad van die volk oor wie se toekoms hulle hier die skeidsregters moet wees. Marthinus Steyn, Christiaan de Wet, Schalk Burger, Louis Botha, FW Reitz, Koos de la Rey, Christiaan Beyers, Jan Kemp, Barry Hertzog, Chris van Niekerk. Eenkant by die tafel van die notulehouers, Johan Daniel Kestell. Een ontbreek; hy is op pad uit die verste hoek van Namakwaland: Jan Smuts, die skraal advokaat wat nou Boeregeneraal geword het.
Die bittere werk kan begin, hier in die tent en in die groot huis in Pretoria waar die laaste woord gespreek sal moet word. Dag na dag tot Meimaand se einde daar is, elke dag in die groot tent en die groot huis; weeg en bedink, prakseer om te red vir die toekoms, sonder om die vryheid te begrawe. Die paadjie word al smaller. Eindelik bly net voorwaardes vir die vrede en die antwoord uit die wit tent moet 'n ja of 'n nee wees. Die pad van onderhandeling het sy einde bereik. Byna die einde.
Saterdag 31 Mei 1902, halftien in die môre in die tent op Vereeniging. Dis die oomblik om die antwoord te gee wat vanaand in Pretoria moet wees. Twee gedagtes wroeg in die harte van hulle wat moet besluit: verbete weiering of gelate toestemming dat die stryd afgesluit word. Twee voorstelle lê op die tafel. Laat die man wat eens Vrystaatse president was, en nou leidsman van die Transvaalse regering, laat eers FW Reitz spreek: "Ek plaas my handtekening onder geen dokument waardeur die onafhanklikheid prysgegee word nie. Ek het die grootste eerbied en respek vir die gevoelens van daardie dappere manne wat so goed en so getrou vir hulle land en hul volk geveg het, maar ek meen dat dit verkeerd sal wees om met Engeland tot 'n ooreenkoms te kom."
Laat uit die dapperes self 'n generaal spreek – PR Viljoen van Heidelberg wat self 'n seun verloor het: "Ek het die Here gebid dat Hy mag gee dat ek nie sal trap op die kosbare bloed wat vergiet is nie, op die bloed van my eie seun; maar na alles wat ek gehoor het, is ek nou oortuig dat ons die oorlog moet beëindig. Ek het 'n voorstel ter tafel gelê waaruit die toekomstige geslagte kan sien dat ons verplig was en gedwing was om ons vryheid op te offer. Ek kan net hoop dat ons eenparig sal wees in ons besluit."
Eenparig as die hart in twee verskeur is; wie kan hier eenparig wees? Dus weer praat, nog 'n voorstel, 'n verklaring om die roue werklikheid van hierdie oomblik vir die nageslag vas te vat. Dan stem. Vier-en-vyftig vir, en ses daarteen. Laat Schalk Burger nou praat met hierdie swygende manne in die tent waar in elke oog 'n traan blink: "Ons staan hier by die graf van die twee Republieke. Veel bly daar vir ons om te doen... laat ons die hande nie terugtrek van ons plig nie. Laat ons die Here bid om ons te lei en ons te toon hoe ons ons volk bymekaar moet hou..."
Laat nou die kluitklap op die kis volg, die laaste drama op hierdie Saterdagaand, 31 Mei 1902, in die groot huis by Burgerspark in Pretoria. Lees wat jy moet onderteken en wat eendag in die bladsy van die geskiedenis sal staan as die Vrede van Vereeniging. "Terms of Surrender," so staan dit hier – nie die oorgawe van Mauser en bandelier nie; oorgawe van die vryheid waarvan Piet Retief so lank gelede in Grahamstad se Engelse koerant geskrywe het. Die vryheid wat hier dood moet gaan, dood moet gaan om op te staan...
Kyk, dis die rooidag wat breek oor die stilte van jou verwoeste land, oor die smart wat jy saamdra, oor die winterryp van jou armoede en jou ontreddering. Dis die roodag van die hoop, Afrikaner, en hy wink jou vorentoe uit jou vreemdelingskap in eie land, uit jou sukkeljare met 'n taal wat nie joune is nie, en 'n ander wat jy nog nie joune gemaak het nie. Uit die niks-wees van jou skugterheid, en uit jou aarseling in die hoek waarheen die sweep van die neerlaag jou gedryf het.
Dis inspantyd en die eerste skof is nie lank nie. Tot 1910 maar. Daar is weer vir jou 'n 31 Mei beskik, so kort na die ander wat jy nie kan vergeet nie. Dis 'n skoner een hierdie, gebore uit goeie wil tussen jou en dié wat so kort gelede nog jou vyand was. Die goeie wil om in hierdie land waaroor 'n eeu van onreg heengegaan het, die nuwe eenheid te soek, 'n nuwe staat te bou wat met sy hoë ideaal die smet van gister tussen Boer en Brits moet uitwis...
Kom saam na Durban in die Oktoberhitte waar die Unie van Suid-Afrika gestalte moet kry. Kyk wie sit saam om 'n grondwet vir die toekoms te smee. Dáár is die rysige Merriman, veteraan van die Kaapse politiek, en sy boesemvriend Sauer; Frans Malan, die wakker Bolander; en Thomas Smartt; die sakeman Jagger en Edgar Walton van Port Elizabeth en dr Jameson self, dieselfde klein postuur wat deur sy roekelose daad teen Transvaal sy naam in die geskiedenis gestoot het. En wie sit rondom hom? Boeregeneraals wat gekom het om te praat, nie oor wat agter lê nie, maar oor wat vorentoe wag: Botha, Smuts, Hertzog, Burger, De Wet en De la Rey. En in die middel van die Vrystaters hul president, die jong reus van nie so lank gelede nie, nou binne enkele jare oud en slepend. Maar in die gesloopte liggaam woon nog die vonkelende gees van die groot vaderlander. Manne van die Konvensie sien jy hier wat die pad moet uitstippel, die pad wat weg moet voer van rassehaat en sinnelose partypolitiek na die kalme oord van saamstaan en saamwerk vir Suid-Afrika.
Kom dan in die gees saam na die hoopvolle dae en die oomblik van die nuwe begin, 31 Mei 1910. Kom deel in die Konvensiegees wat oor ons land heen trek en harte meevoer op die wieke van 'n nuutgevonde optimisme. Staan by waar in Pretoria teen Meintjieskop die hoeksteen gelê word van die gebou wat Herbert Baker, die jong Engelsman, vir die nuwe Unie beplan het. Skiet af die vuurwerk; kom hou in ou Kaapstad karnaval om die groot dag te vier met musiek, koorsang en tablo, soos dit hoort. Beelde van die verlede: die ou Portuese met hulle skepies, Jan van Riebeeck, die Setlaars van 1820. Loof paslik die bouers; swyg oor die brekers. Dis die uur van harmonie. Laat niemand dit versteur met skimme van gister of vermoedens oor môre nie...
Onweer so kort na die lieflike sonskyn – wat maak dit saak? Uit die storm groei opnuut die krag. Onthou jy nog die eerste flits? Hertzog op De Wildt. Hertzog uit die Botha-kabinet. 'n Nuwe party in die land. Staking en geweld in Johannesburg, die eerste keer. En die jaar 1914; die felle gloed van 'n wêreldbrand daarbuite. En hier: Boer met die wapen in die hand – vegtend en vlugtend soos vroeër. Tronke vol rebelle; woorde vol bittere verwyt – ook onder hulle wat jy pas by die karnaval van die eensgesindheid gesien het.
So sal die groot wiel rol tot vrede weer oor die verskeurde mensheid sy vleuels vou en ook hierdie volk weer koersvat... Koersvat deur jare van skaarste en onsekerheid wat vir die mensdom ná die dwase slagting in Europa volg. Luister na die tyding van brand wat nog oral uitslaan. Van 'n Volkerebond, van Bolsjewiste – 'n naam wat nuwe betekenis kry – en rooi geweld tussen die mynhope van Johannesburg. Nog 'n nuwe naam om te onthou: Britse Statebond, dominiumstatus – sesessie. 'n Paktregering van Arbeiders en Nasionaliste regeer oor die Unie. Afrikaans as landstaal amptelik erken...
Blaai verder in jou koerant. Hertzog wil die nuwe status op papier vaslê en hy doen dit. Suid-Afrika is staatkundig vry, sê hy as hy in sy land terugkeer. Vry, sê sy vriende ook – maar ook nog nie vry nie. Nie so vry soos 'n republiek sou wees nie. Nog nie sy eie volkslied nie, nog nie sy eie vlag nie. Nog nie die simbole van sy soewereine status nie...
Begin dan by die vlag – 'n eie vlag vir die Unie van Suid-Afrika; maar deins dan nie terug vir die storm wat jy gaan ontketen nie – nie net 'n Karoo-dwarrelwindjie in die politiek nie maar 'n hewige onweer wat krisis tot in die kabinet sal bring. Hoe moet jou vlag lyk – dit is die vraag. Hoe kan jy daarop antwoord sonder om jou blik weer na die verlede te rig? Daar sal jy eindelik vind wat jy die volk moet aanbied: oranje-blanje-blou, fiere skakel met 'n fiere republiek waaruit jou eerste seuns ontspruit het. Laat dit jou vlag wees. En sodat jy die striemende slae van die ou stryd en die trotse dade van gister nie mag vergeet nie – las daarin die vlag van Brittanje wat sy rol in hierdie land ten goede en ten kwade vervul het; las daarin die helder vlag van die Vrystaat soos uit die hand van die vors van Oranje ontvang, en die Vierkleur wat by Vereeniging begrawe is.
Weer eens 31 Mei, van die jaar 1928 – Uniedag, om jou nuutgebore vlag te hys – simbool en vertolking van diepste aspirasie tot uitbou van jou nasieskap. Kom staan op die verhoog voor die Parlementsgebou in Kaapstad op hierdie 31e Mei, kom staan langs die man wat harder as enige ander die stryd om hierdie vlag gevoer het, dr DF Malan self, en luister na sy woorde: "Die gedagtes het hulle in my vermeningvuldig en in die gees het ek weer oorleef daardie lange, bange stryd wat ons deurworstel het. Toe presies om elfuur ons eie Suid-Afrikaanse Nasionale Vlag bo die Parlementshuis homself vir die eerste maal statig en sierlik ontplooi en in die windjie wapper, en toe een-en-twintig kanonskote plegtig en donderend hul eresaluut uitbulder, was dit vir my beloning genoeg."
Is dit nou afdraand vorentoe? Is die sukkeltyd verby? Nee, kyk self, en sê my wat jy sien op jou volk se volgende skof. Depressiejare, droogte en die droewe las van die armblankedom – is dit wat jy sien? Lees weer jou koerant: koalisie, samesmelting, statuswette, stemme wat 'n republiek vra, stemme wat skynbaar nog so yl opklink. Naderende onheil van daar ver – 'n groter onheil as in 1914, en Duitsland weer in die middel van die kookpot. Vertel van die jare toe die wêreld weer in die tweede moordgreep van sy eie waansin gespook het. Vertel van broedertwis in jou eie land, onder jou eie mense. Die verlamming wat tog eindelik gewyk het.
Die jaar 1948. Die nuwe drang om die dinge te gryp wat so lank van jou en jou vadere weggehou was, die dinge wat so naby was en tog nie nader wou kom nie. Onthou jy hoe jy gewag het op wat nog kortgekom het; jy en die ou garde wat self nog 'n republiek geken het, hulle wat elke jaar minder word in die voorste ry by die volksfees, die grysaards wat vir 'n republiek goed en bloed geoffer het? Toe was dit eindelik daar; gouer as wat jy gedink het. En weer het jy met opgehewe hart 'n feesdag beleef; 31 Mei 1961: geboortedag van die Republiek van Suid-Afrika. Kom staan dan tussen jou mense in die sagte reën op Paul Kruger se Kerkplein en luister na jou Staatspresident, daar waar Kruger swygend neerkyk oor 'n geslag wat die ideaal bereik het wat hom nie beskore was nie: "Ons staan op die drumpel van 'n nuwe bedeling..."
Die dag vir hierdie volk beskik – 31 Mei – dag van groue herinnering, dag van die groot verlies, dag van die nuwe hoop. Dag van die volksvolwassenheid. Dag van dankbare vervulling.