MOORD IN DIE LAND VAN BELOFTE

LAND VAN ONS VADERS

Dr WJ de Kock

(Lees reeks by Land van Ons Vaders)

"Maar nee, dit hou te lank aan, dis nie vreugdeskote nie, mense, dis die uur van verskrikking, die bloedigste drama van hierdie dapper volk se bestaan wat hom vannag hier langs die vlak spruite van Natal gaan afspeel."

Kom saam op die spoor van Voortrekkerwaens oor die kepe in die hoë kruine van die Drakensberg in die laaste maande van die jaar 1837 en vroeg in die jaar van bloed, 1838. Saam na die land waar die noodlot roep...

Staan hierbo, hoog, soos Retief en sy dapperes dit die eerste keer gesien het, waar nou die pad van Harrismith se kant af na Natal oorsteek. Dis nog die ongerepte wildernis voor jou, skoon in sy oerprag, land van eindelose heuwelglooiing en diep, blink kerwe in die groen tapyt waar Tugela van heinde en ver, van Majuba daarbo tot dáár in die suide by Mooirivier, die lang vingers sprei om uit die bergland van die Draak sy breë stroom op te vang en doer in vlak wêreld af te laai waar die skepe al honderde jare verbyvaar na Indië en weer terug deur die gierige water om die Kaap.

Agter Tugela, noordekant toe, lê die land van die Amazoeloe, Suidekant toe is die stilte wat die assegaai van Tsjaka gemaak het. Stil van Dukusa waar Tsjaka rus, tot onder aan die Umtamvuna waar die bloedspoor begin doodloop en manne van die Baka en die Pondo in die voorhek van Xhosaland woon. Groot genoeg lê die wêreld tussenin, die land tussen swart en swart, groot genoeg vir die wit tentwaens uit die Weste om staanplek en woonplek te kom soek.

Land van Belofte... Maar wie kan deur die voorhang van die toekoms sien as Retief en sy manne die eerste keer hierdie lowerland binnery om woonplek te vra van die heerser aan die Wit-Umfoloos; Dingane – baas van die bloedryk van Tsjaka, bang vir die nuwe dinge wat skielik kom en waarvan hy so min begryp, aarselend, tastend en vol duistere argwaan. Wit bure in die land onderkant Tugela?

Die voorloper wat hom kom grond vra, die wit huise wat teen Drakensberg se hange nou reeds afkom, nog voordat die voorman weer by Oemgoengoendslowe was om sy belofte te kom haal van 'n nuwe land vir die mense wat – so word vertel – van hul koning weggeloop het om hier te kom waar die lem van Tsjaka die stilte van baie beendere gelaat het.

Daar moet hard gedink word, want die wit huise is reeds daar waar Tugele se water begin. Die ringkop van die Boere wat die Zoeloebeeste by St Konyela gaan haal het, kan nou iedere dag terugkom na die kraal van die Groot Olifant om te praat. Het Tsjaka nie voorspel van breë paaie wat eens deur Zoeloeland sal loop nie? Hoor hy wat Dingane is nie lankal 'n tor wat dreun en die swart vloed in sy hart laat styg nie?

Hoe kan hy weet dat dáár ver tussen die wit huise op wiele ook die donker karos van die twis lê tussen die voormanne van die Boere – twis juis oor hom, die diklyf wie se woord so dikwels die dood naderroep, daar aan Kumbanespruit. Daar kring die aasvoëls al tien jaar lank om die klipkoppie waar Matiwane se beendere lê, vlak langs die aalwynplaat waar soldatevoete van Zoeloeland se impies alles lankal snuif getrap het in hul lang oefendanse van die dood. As jy die dood wil dra waar die koning se bevel dit vra, moet jy oefen. Wie weet waarheen die blink lemme môre deur die lang gras sal skuur. Hy wat op die driepootstoel sit voor die grootste hut daar oorkant – hy sal sê. As die swart tor in sy oor spook, sal hy sê: Bulalani – maak dood!

In die eerste dae van Februariemaand 1838 wás dit so. Die voorman van die Boere het weer gekom om die woord van Dingane te kom haal: hy en sy manne, meer as sestig, en sy kleurling-agterryers. Wie sal sê wat in sy hart omgegaan het op die lang pad van sy laer aan Doornkop langs die Tugela tot by die woelige kraag van Tsjaka se moordenaar, in die Vallei van die Konings daar ver aan die Wit Umfoloos?

Die heuwels van Zoeloeland het toegemaak agter Piet Retief en sy dapperes op hulle rit na die dal van die konings – Emakoseni, daar sal die reis vir altyd eindig. Dingane se aasvoëls draai die eerste maal oor wit lyke. Voortrekkerbloed bevlek die Moordkoppie langs die oefenveld van Hlomo Amabutho en daar is niemand oor wat die aaklige tyding kan bring van lae verraad en die dreigende dood wat nou kaalvoet oor Zoeloeland se heuwels na Tugela se spruite sy pad sal vind nie.

Dáár sit die wyfievoël met die kuikens nog op die nes. Dis werk wat daar voltooi moet word waar die wit tente staan: by Bloukrans en aan Boesmansrivier – daar waar die witman die plek van sy trane Weenen sal noem. Voort dan maar op die moordpad oor die rûens om die koning se rooi werk te doen.

In die vlak wêreld van Doornkop en by Maritz se laer aan die Boesmansrivier wag niemand op die dood nie – dis vreugdeskote wat hulle gaan hoor. Retief moet haas terugkeer. Van Doornkop skuif die mense in groepies ooswaarts om oral staanplek te kry langs lopies en spruite, Retiefmense wat niksvermoedend die wrede dood so tegemoet tree, tot oorkant Bloukrans wat Retief – wie weet, met duistere voorgevoel – vir hulle as verste perk gestel het.

Gert Maritz is die versigtige, die onrustige, wat die dae angsvol aftel. Minstens hý verwag nie meer die terugkeer van Piet Retief nie. Hý is die man wat pleit en waarsku en sy laer in die waai van Boesmansrivier versterk teen die stormwind wat moet kom.

In die stikdonker Vrydagnag, 16 Februarie 1838, het die skielike dood tussen die doringbosse gesluip. Maar wie kan hom nou sien in die maanlig se nag? Die skote daar voor – daar waar die Liebenbergs, Rossouws en Bezuidenhouts staan – kan tog nog vreugdeskote wees.  Maar nee, dit hou te lank aan, dis nie vreugdeskote nie, mense, dis die uur van verskrikking, die bloedigste drama van hierdie dapper volk se bestaan wat hom vannag hier langs die vlak spruite van Natal gaan afspeel. Van hulle daar aan Moordspruit is nie meer een oor nie, ja, darem een. Laat hóm praat van die vreeslike dinge wat hy oorleef het:  Daniël Pieter Bezuidenhout:

" 't Was omtrent 1 iir;s nachts en donker maan. We stonden op 'n ruige bultje, nabij doornbomen.  We hadden 3 of 4 kwaaie, dappere honden, die er niets uitmaakten om 'n tijger aan stuk te scheuren. Ik hoorde de honden blaffen en vechten, en dacht dat het 'n tijger was. Ik stond op en ging, met niets aan als mijn hemd en onderbroek, om de honden aan te hitsen, en toen ek zowat 300 treden van de wagens af was, toen hoorde ik die r-r-r-r van assegaaien en schildvellen, en bespeurde dat' t geen tijgers maar wel swartes waren, waarmee de honden aan't vechten waren!

"Ik schreeuwde terug naar mijn vader: 'Hier is swartes en hulle steek die honde dood!' en ik liep terug naar de wagens om mijn geweer te halen, daar ik ongewapend was. Maar de wagens waren reeds omsingeld van drie kringene swartes. Ik heb nogtans getracht om met mijn handen te stoten en te worstelen om door de swartes heen bij mijn geweer te komen. Toe ik door de drie kringen op deze wijze gekomen was, vond ik dat er aan de binnekant nog 'n klomp swartes om de wagens gehecht was. Toen ik nog aankwam, hoorde ik mijn vader zeggen: 'O God!' en ik kon horen dat hij in zijn bloed smoorde. Hij had 'n steek net hier boven zijn borst in de gorgel.

"Roelof Botha heefte drie schoten gevuurd, en er lagen drie swartes die hij getroffen had, en toen riep hij ook: 'O Heer!'

"Dit was't laaste dat ik hoorden, en ik trachtte toen om weer van die wagens af weg, door  de drie kringen swartes heen te komen. Toen kreeg ik de eerste assegaai op die knop van mijn schouder, door de borst langs de ribben heen. De tweede assegaai kreeg ik op mijn boutbeen, zodat't punt van de assegaai op't been kromde, zoals ik later vond toen ik hem uittrok. De derde assegaai kreeg ik aan de bovenkant van mijn linkerknie – al de wonden zijn aan mijn linkerkant. De vierde assegaai kreeg ik hier aan de bovenkant van de kneukel door de zenuwen onderkant de kuit.

"Ik geraakte toen onder onze beesten en stond 'n ogenblik te luisteren. Toen hoorde ik geen mens meer die 'n geluit maakte – alles was dood, en de swartes waren besig om de tenten en wagens te scheuren en af te breken, en de honden en hoenders dood te steken. Zij lieten niets in't leven.

"Daar was van vrouwen en kinders die bij de wagens van mijn vader vermoor zijn: mijn moeder Elizabeth Johanna (gebore Liebenberg), mijn vrouw Elizabeth Cecilia Smit, mijn schoonmoeder, de weduwee Anna Smit, (gebore Botha), Susanna Margareta (getrouwd met Botha), 'n klein kindje van haar, Elizabeth Johanna, omtrent 5 maanden oud, nog 'n zuster van mij, Maria Adriana Bezuidenhout, ook mijn zusters Rachel Jacoba en Cornelia Sophia, 'n broertje genaamd Hendrik Cornelis, 'n dochtertje van mij, Anna Bezuidenhout, die met de moeder saam vermoord is  (zij was oud 11 maanden)."

Agtertoe is dit stil. Dan maar verder om dié wat voorkant nog lewe, te waarsku as dit kan. En vir dié wat jy nie kan waarsku nie – dieselfde gruwelike dood as agter jou.

Kyk wat die moordnag nagelaat het: Die Frylincks, die Engelbrechts – 36 siele – agterhaal en neergevel in hul nagtelike vlug: mense wat halfnakend en kaalvoet hul wanhoopswedren teen die dood verloor het; wit vere wat in die oggendwindjie oor die veld heen waai, wit vere en vere wat rooi gevlek is; oopgesperde slaapgoed waardeur die skraal oggendlug die reuk van verderf dra; die Bothmas, almal op hul koppe uitgemoor na weerstand tot die einde; die Van Rensburgs – ook op hul koppie langs Boesmansrivier, maar hulle ontsnap deur 'n heldedaad sonder weerga: twee maal jaag Marthinus Oosthuizen deur die swart muur van Zoeloes, eers om die wa te bereik waar kruit en lood lê, dan – onmoontlik soos dit vir almal mag lyk wat dit aanskou – jaag hy die kop uit deur die flitsende assegaaie en bring redding aan die Van Rensburgs. Verward deins die krygers van Dingane voor sulke ongekende heldemoed terug. Soek-soek gaan die aanval suidwaarts na die Maritzlaer en dan kom dit nie verder nie.

Die woeste golf loop hom te pletter. Maritz  se mense staan hul man, 'n eiland in die kolk van moord en verwoesting in hierdie land wat hul Kanaän moes wees. Selfs gespierde Zoeloes kan moeg word, uitgeput van dae se draf oor die vlaktes tot hier waar die voorlaaiers so sekuur praat dat viend en makker op strepe bly lê.

Terug oor die bulte, dan na die Kraal van die Groot Olifant, met al die duisende beeste, skape en perde wat aangeja word om die verhaal te vertel van slagting, van roof en verstrooiing.

Waar die stilte nou heers soos so dikwels die lem van die impies dit gelaat het, ry Maritz om te begrawe en te red waar enkele sterwendes nog onder die bloedige dooies gevind word: Johanna van der Merwe, Catharina Prinsloo, Elizabeth de Beer, aaklig vermink maar lewend tussen 600 dooies. En van hulle – 185 Voortrekkerkinders wie se lewensdag so vroeg in die môre verby is.

Swart Februarie van 1838 op die klipkoppie by Dingaanstat waar die aasvoëls swenk: op die moordveld langs Bo-Tugela se strome waar bloed aan die doringbome kleef en mense saggies ween in hul eindelose droefheid.

Bloed en trane in die Land van Belofte, Natalia.