LICHTENBURG SE SPOEL-DELWERYE 1926

LAND VAN ONS VADERS

(Lees reeks by Land van Ons Vaders)

H.S. van Blerk

"Ou neef, hier moet jy 'n donkie aan sy stert vashou as jy hom wil behou. En so wragtie, as jy partykeer weer jou oë uitvryf, sit jy net met die stert."

So het 'n oom aan my pa gesê min of meer die dag toe ons in 1926 op die delwerye aangekom het. En dit was ook so. Ek was toe 'n knaap van nege jaar. Ek moes die donkies aan hul sterte vashou. Ek het my bes gedoen maar na 'n paar dae was daar twee weg. Onderwyl ek na hulle gesoek het, het nog twee weggeraak. Toe het ek my bes gedoen om daardie ses te behou maar die dag toe ons na 'n maand terug Brits toe sou gaan om ons trek te gaan haal, was hulle net vier. Ek en my pa het drie dae na daardie verloopte ses donkies gesoek en intussen nog een kwytgeraak.

Die delwery was dan ook aan daardie beginjare 'n sameraapsel van alles onder die son: donkiewaens, ossewaens, model T-Fordvragmotors wat almal water aangery het vir die duisende delwers wat op daardie oomblik veral op Bakers en Elandsputte na diamante gesoek het. Van ligdag tot donker het die waens toegestaan voor die pompe – soms 'n tou van vier diep wat 'n myl ver strek. Die hangsiwwe het gegier, die stof het gewaai, en van mense het dit gekrioel en gewemel: wit, swart, Moor en Indiaan.

Die inkruipplek – mens kon die huisies wat opgerig is nouliks iets anders noem – het dan beantwoord aan elkeen se vindingrykheid. Ossewaens met kaptente het plek-plek gestaan en 'n gesin geherberg. Origens het veral seil- en sak-kaias oor slap latte getrek, vir 'n beskutting gesorg. Party mense het 'n ou ronde tenk middeldeur gesny en te lekker gebly. Daar was die omie wat vir hom 'n huisie, ses voet by vier voet met spitsdakkie van omtrent drie voet hoog, gebou het en as mure en dak, 'rubbertek' gebruik het. Baie vindingryk, maar so 'n versoeking vir my pa se paar bokke. Ek het met my eie oë dié dag gesien hoe die jong bokkie bo-op oom Piet se huisie spring en "Mê-mê" daarin verdwyn. Oom Piet was baie ongelukkigdie aand toe hy moeg van die kleim af kom en sy huisie in flarde aantref. Hy en die huisie het oornag verdwyn, seker gaan bly waar daar geen bokke is nie – of dalk op 'n paal waar geen bok hom sou bykom nie.

Elkeen het gesorg vir 'n skuiling oor sy kop maar daar was 'n ander noodsaaklikheid wat vir die delwer werklik nie so onontbeerlik voorgekom het nie. Toe ou Johnston, die Engelsman, vir hom en sy ou vrou so 'n privaathuisie oprig, het ons nogal gewonder oor die ou Engelsman se 'opstêrsgeit' en net die kop geskud.

Water is van die pompe af in tenks aangekarwei vir die kleims en vir die private huise. Maar wanneer dit in die somer reën, het die meeste waens in die panne en oral waar water opgedam het, vir die kleims geskep. Dieselfde tenk is sommer so tussenin by die pompe volgelaai vir huislike gebruik – totdat 'n maagkoorsepidemie uitgebreek het. Daarna is die tenks wat slegs skoon water ry met 'n swart kruis gemerk. Die ander tenks mog toe glad nie vir huislike gebruik water karwei nie.

So 'n tenk, van twee- tot sesvat, is oorwegend gebruik om water in aan te ry, of water in af te laat. Die water is van die tenk op die wa na die tenk op die grond laat loop deur middel van 'n ysterpyp wat min of meer soos 'n pyp gebuig is. Dan moes daar gesuig word, soms sommer baie hard. Die pyp wat my pa by een van die waterwaentjiesgebruik het kon net ek alleen suig dat die water loop. Ek het gesorg dat die hele delwery daarvan weet.

Maar hierdie tenk, so plek-plek een van hulle, is dikwels vir 'n ander doel gebruik. Die meeste mense op die delwerye was van dié wat deur die samelewing half eenkant toe gestoot is met die gevolg dat godsdienstige sektes oral gefloreer het. Die grootdoop en onderdompeling was aan die orde van die dag, en omdat doopplek skaars was, is van sulke tenks gebruik gemaak.

Nou moet verstaan word dat die tenk slegs 'n opening vir 'n deksel aan die een punt bo gehad het. Die res is toegebou. Die dopeling moes by daardie gat in, gewoonlik nie groter as agtien duim by vyftien duim nie. Een van die predikers het sy dopeling op 'n dag daar in die gat afgedruk en in 'n vlaag van welsprekendheid skoon van hom vergeet. Die tenk was vol, die dopeling kon die bek van die tenk nie kry nie – met die gevolg dat daar sy byna-byna dié dag 'n begrafnis was. Later is van die Moloporivier se oog gebruik gemaak vir hierdie plegtighede.

Daar was op een tydstip sowat dertigduisend blanke mense op die delwerye. Vir elke blanke gesin was daar minstens vyf swart gesinne. Aan die begin was daar glad nie skole nie. Dit was 'n koninklike lewe, veral vir die seuntjies wat so sku vir skool was soos ek. Later het die eerste sinkgebou op Bakers verrys. Dit was omtrent ook al, net die gebou en die meester. Die kinders moes sorg vir sitgoed en skryfgoed. Ons het met petrolkassies, lampolieblikke, veldstoeltjies – elke sitding onder die son – by die skool aangekom.

Omdat die plek so min was en die kinders so volop moes ons in twee sarsies skoolgaan, een groep van sewe-uur soggens tot twaalfuur, die ander van twaalf tot vyf. Tat Martiz, 'n broerskind van wyle genl Manie Maritz, het die situasie uitgebuit deur in die oggend skool te gaan wanneer hy in die middag moes skool bywoon, en in die middag wanneer dit in die oggend sy beurt was. Op dié manier het hy nooit in die skool gekom nie.

Ek moet darem vertel van die Bantoestakings in 1928. Die swartes van die delwery, onder aanvoering van 'n seker Kadali, het besluit dat hulle te min geld kry. 'n Algemene staking het begin en die delwers was bevrees vir opstand. Gerugte, die een wilder as die ander, het die rondte gedoen. Mense het begin padgee, met donkiekarretjies, ossewaens, vragmotors, sommige op trapfietse, ander met hul aardse besittings op 'n kruiwa.

Toe die blankes in ons omgewing al baie yl gesaai was – ons was maar 'n paar honderd tree van die hooflokasie op Bakers, besluit my pa ook om pad te gee. Die allernoodsaaklikste besittinkies is op ons donkiewaentjie gelaai. Die sinkhuisie word net so gelaat. Ons was seker al 'n kwart myl weg toe daaar ontdek is dat een van die bokke makeer. Nou eers uitspan en soek. Die bok het weggebly en my pa het besluit dat die bok meer werd is as ons veiligheid. Ons is daar en dan terug huistoe en het vir die duur van die staking in die hoogste nood vlak langs die lokasie bly woon.

Die delwery het mense van elke slag en stempel aangelok. My pa het my een oggend voorgestel aan die eerste en enigste Boeregeneraal wat ek nog ooit van aangesig tot aangesig gesien het. Dit was 'n generaal Van Zyl wat in die Tweede Vryheidsoorlog iewers in Suidwes-Transvaal – Christiana en omliggende gebied – opgetree het. Hy het 'n drankwinkel  - sjebeen het my pa dit genoem – besit en het in 'n sink-kaia van een enkele vertrekkie gewoon. Hy het soos so baie wat daar was, oornag verdwyn sodat mens nooit weer van hom gehoor het nie.

Oom Faan Maritz, vader van genl Manie Maritz, het by sy broer Gert gewoon. Hy was toe al naby die negentig en die ou gedagte nie meer te goed nie. Een van sy groot sondes was glo om sy brandende pyp in sy baadjiesakke te stop met die gevolg dat hy 'n paar keer op die nippertjie na aan die brand geslaan het. Oom Gert Maritz het altyd 'n kopdoek gedra. Hy het op 'n dag 'n donkie en haar pasgebore vulletjies by ons vir sewentien sjielings gekoop. Sy dogter het glo baie gesukkel met 'n baba met wie geen kos wou akkordeer nie en iemand het hulle die raad gegee dat donkiemelk so goed vir 'n kind met 'n swak magie is.

Seker een van die interessantste mense vir ons kinders was ou dokter Peddie. Ek weet nie of sy van Peddie was nie en of hy ook dokter was nie. Dit was maar wat die mense gesê het. Ek weet net die ou man was van sy sinne af – maar heeltemal skadeloos. Daar was gewoonlik 'n oproer as hy speeltye op die skoolterrein verskyn met 'n meelsak om sy skouers. Dan het die meisiekinders weggehardloop en ons seuns 'n optog agter hom gevorm, natuurlik op veilige afstand. Die oumens het dan voortgestap en elders gaan staan en hom tot ons gewend. Dan was dit behoortlik soos 'n gof soos dié wat naaste aan hom was, probeer het om die verste van hom weg te kom.

Dr Peddie het een oggend ons klaskamer binnegestap. Die meisies in die agterste banke het letterlik uit hulle sitplekke opgevlie en eers weer voor by die onderwyser grond gevat. Dr Peddie het onder die naaste bank ingeloer, 'n fietspomp in die hande gekry en die aftog geblaas. Een van die groter seuns het hom agterna gesit en die pomp uit sy hand geruk. Die ou het voortgestap sonder om eers om te te kyk. Ook hy was op 'n dag nie meer daar nie. Mense het beweer dat hy in 'n diep kleimgat geval en sy nek gebreek het.

'n Klomp van ons skoolseuns – van die heel stoutstes – het sommige middae na skool 'volg my leier' tussen die Indiërwinkels af gespeel. Dan moes die Indiërs kat staan vir hul vrugte en groentetjies wat voor die deur in streepsakke en kassies uitgestal is. Want gryp die leier 'n raap, moet elkeen wat agter hom aankom darem ook iets bykom.

Dit was speletjies. Maar van my skoolmaats het af en toe in ernstiger misdade betrokke geraak. Alte dikwels was daar 'n gedempte atmosfeer in die skool wanneer 'n speurder inkom, met die onderwyser praat en een van die seuns moes opstaan en saam met die speurder gaan. Sommige het nooit weer herstel nie. 'n Sekere een het 'n paar jaar gelede sy doktorsgraad in godsgeleerdheid in die gevangenis verwerf en is nou weer daar. Ek en hy het soms naweke saam donkies in die veld buitekant die delwery opgepas. Dan was ons so opgewonde soos Rooihuide. En ons het daardie dae al op die hoofpad tussen Lichtenburg en die delwerey 'chicken' gespeel.

Soms het die grootmense vir die hele naweek saamgekom. Dan is 'n vrag hout gemaak, glo onwettig. Een so 'n naweek het al ons donkies soos groot spelde verdwyn. Dit was gelukkig in die later jare toe die donkies al huisvas geword het. Ons is met geleende donkies huistoe. Ons eie het die Maandagoggend so 'n uur voor sonuit op 'n streep aangetou huistoe vir hulle voer.

Pa het sy lewe lank Nasionaal gestem. Maar hy was altyd dwars van die Regering met 'n hele wavrag griewe. Toe die verkiesingsveldtogte in 1929 met 'n splinternuwe kandidaat vir die Nasionale Party op die delwery begin, was my pa op die eerste buitelugvergadering by met 'n hele rits vrae oor beloftes wat gemaak sou gewees het en nooit nagekom is nie. Hy het dit veral gehad oor pagtergronde vir kanaalgrawers onderkant die Hartebeespoortdam, en die vyf sjielings per dag wat president Kruger glo voor die Tweede Vryheidsoorlog aan elke burger onder die wapen vir die oorlogsduur beloof het.

Omdat my pa maar klein van postuur was het 'n paar man hom op hul skouers getel en moes hy sy vrae herhaal sodat die kandidaat mooi kon hoor. My pa het weer sy vrae herhaal: doodsêvrae, so hy hy gevoel.

"My magtie, maar ek ken jou mos, ou vriend! Jy is mos Frans van Blerk. Onthou jy hoe ons twee nog op kommando saam onder een kombers geslaap het? Man, ons was mos nog saam in Portugal, onthou jy, Frans?"

Die vrae wat my pa gestel het is nooit beantwoord nie. Maar die kandidaat, wyle mnr Andries Swanepoel, vir baie jare Volksraadslid vir Lichtenburg, het in sy lewe daarna seker nie 'n trouer ondersteuner as my pa gehad nie.

Lichtenburg se delwerye het vir baie mense 'n hele aantal jare 'n heenkome besorg toe hulle net nêrens gehad het om hulle heen te wend nie. 'n Hele paar mense het fabelagtige ryk kleims, die sogenaamde 'potholes' bekom. Maar dit is snaaks dat mens nêrens iemand teëkom wat jou kan sê dat die delwery hom ryk gemaak het nie.