Kobus van Wyk
Pas is deur owerheidweë gesê dat alle skoliere volgende jaar in skole geplaas sal word al is die skoolgeboue reeds oorvol. Dit is uitdagend gestel asof niks anders geduld sal word nie. Daardeur is die indruk gewek dat die "skole" die verantwoordelikheid vir te min skole moet aanvaar.
Wat nie gesê is nie, is dat dit die owerheid se verantwoordelikheid is om voldoende skole te voorsien sodat alle skoolkinders sonder benadeling van veels te groot getalle die nodige onderwys kan kry. Die owerheid (onderwysdepartement en die sentrale regering) dra die skuld van swak beplanning en voorsiening omdat hulle swak insig en min vermoë het.
Daar is blykbaar skoolgeboue wat tans onderbenut word of leeg staan. Waarom wil die owerheid die skoliere benadeel en nie van hierdie skoolgeboue gebruik maak nie? Dit sal die samedromming by ander skole verhoed en alle skoliere bevoordeel. Baie van die ouers woon daar naby en dit sal vir almal gerieflik en voordelig wees.
Wat ookal die oplossing, dit is onomwonde die owerheid se plig wat hulle moet nakom. Dit bied geen oplossing nie om "skole" te oorbelaai en druk op hulle te plaas net om die plig van die regeerders weg te lei en hulle verantwoordelikheid te ontduik. Om die ouers op verdediging te probeer plaas sodat hulle 'n onverdiende las moet dra, is listige vuil spel. Sodra die ouers die las opneem deur deel van die oplossing te probeer wees, het hulle en hulle kinders die stryd verloor. Die regering kan dan heerlik agteroorsit asof hulle onskuldig is. So maak die regering 'n speelbal van die kinders van so jonk as 5 jaar. 'n Skande.
'n Ander verskoning wat die regering voorhou, is dat daar te min onderwysers is. Ook dit is misleidend. 'n Verskoning is net 'n poging om pligversuim te probeer verdoesel omdat die regering skuldig is. Waarom is daar te min onderwysers opgelei? Die regering moet verduidelik waarom hy sy plig versaak het en dit so gou as moontlik regstel.
Wie het die verantwoordelikheid aanvaar om die land voorspoedig te regeer? Dit moet heel eerste uitgeklaar word. Ons moenie in die hinderlaag instap wat so openlik vir ons gestel word nie. Die hinderlaag is: Bure kom hou saam met ons 'n groot geraas partytjie dan pla dit jou nie twee uur in die nag nie.