WAAROM APARTHEID ‘N MISDRYF MOET WEES

Dr Danie Theron

Die huidige regime se mislukkings kan net verskoon word as apartheid as die grootste misdryf beskou word wat ooit in Suid-Afrika gepleeg is.

George Orwell se bekende aanhaling (dat wie die verlede beheer, die toekoms beheer) word graag aangehaal. Selfs deur links-liberales.

Die Blankes van Suid-Afrika beleef sedert 1994 die tirannie van die swart meerderheid. In daardie dampkring is net standpunte aanvaarbaar wat met hulle s'n ooreenstem. Ook oor hulle houding oor die verlede.

Die Afrikaner geskiedenis is misdadig. Dit was 'n stuk blatante rassisme. Dit is 'n onreg soos die huidige heilige Grondwet verkondig. Daardie onreg word nou reggestel deur regstellende aksie.

Hoe erger daardie onreg uitgebeeld word, hoe meer aanvaarbaar is die stappe van vandag. As dit boonop 'n misdryf was, dan het vandag se regime 'n blanko tjek om te maak wat hulle wil.

Al is die huidige bewind onbevoeg, lui, hopeloos, dom, korrup - niks kom naby die misdadigheid van apartheid nie. Die land kan pikdonker word en in 'n woesteny verander word, dit kan steeds nie vergelyk word met die onreg van apartheid nie.

So telkens sal die Afrikaner vind hy word net verder beskuldig. Die klagstaat word groter. Nou het ene Yonela Diko met 'n meesterplan vorendag gekom. Maak die ontkenning dat apartheid 'n misdaad was ook 'n misdaad! Bravo! Dit gaan alles oplos. En as u my nie wil glo nie vra vir Diko. Eskom gaan oornag die suksesverhaal van die jaar word en SAA gaan more al winsgewend wees....

Kom ons stel hierdie super intelligente wese aan die woord:

Making apartheid denialism a crime cushions the country from further mistakes in the absence of a livid memory and ensures that the seriousness of apartheid is never lost or left to the whims of realists and denialists in the future.

Dat so 'n brein nou eendag moet vrot....

Wat hier verkondig word, is dit wat die Jode gedoen het met diegene wat enigiets omtrent die Holocaust in twyfel getrek het. Wat jy dink en sê is 'n misdryf.

So die land se probleme is nie te soek by diegene wat korrup en onbevoeg is nie. Eskom misluk omdat daar Afrikaners is wat ontken dat apartheid 'n misdryf was.

Omdat ons nie skuldig genoeg voel nie, wil die nuwe Suid-Afrika nie week nie.  

Ons kan die voorstel belaglik vind, maar dit lê voor die deur.

Demoniseer 'n volk se verlede, sy simbole, sy taal en sy kultuur en hy het geen bestaansteg meer nie.

In gewone Afrikaans is dit 'n oorlogverklaring. Hoeveel Afrikaners het hiervan kennis geneem?

As ons niks meer het wat ons eie is en waarop ons trots mag wees nie, wat het ons dan? Maar belangriker is die vraag: Wat is ons dan?