TOTALE APARTHEID EN SELEKTIEWE APARTHEID

Dr Danie Theron

Apartheid is ‘n woord wat vandag deur enigeen ten aansien van enige situasie gebruik word om daardie situasie of toestand te beskryf as sou dit ‘n onreg daarstel en ‘n skeiding wat onbillik is en wat onregverdiglik diskrimineer. So word na die stappe wat Israel neem om Palestyne uit te sluit uit Israel, wat Palestyne van hulle burgerregte ontneem en dies meer, as apartheid verwys. Dat dit geen verband hou met wat werklik met apartheid bedoel was nie, word gerieflikheidshalwe en moontlik dalk ook uit onkunde, geïgnoreer. Die persepsie wat rondom die woord geskep is maak dit baie moeilik om mense van die teendeel te oortuig.

Dit is egter bitter nodig om ware apartheid en halfgebakte apartheid van mekaar te skei. Wat word met die twee begrippe bedoel?

Dr HF Verwoerd het werklik erns gemaak met die implementering van die beleid van skeiding op elke vlak van die samelewing.

Gegrond op die beginsel dat elke volk historiese gebiede het wat aan hulle behoort en waarin hulle woon, was sy uitgangspunt dat skeiding sodanig moet word dat volle onafhanklike state vir elke volk moes ontwikkel tot by ‘n punt waar hulle onafhanklikheid en staatskap sou vestig. Sy standpunt was een van totale apartheid en hy het gestel dat dit jou koers gee. Hy het pertinent gestel dat die skeiding niks met minderwaardigheid te make het nie, maar met verskillendheid. Watter bewyse het mens nog nodig om te sien dat daar tientalle verskille is wat die saamleef van wit en swart in een bestel onmoontlik maak?

In sy toespraak voor die Suid-Afrikaklub in Londen op 17 Maart 1961, pas nadat hy Suid-Afrika se voortgesette lidmaatskapvan die Britse Statebond teruggetrek het weens vyandigheid teen Suid- Afrika se rassebeleid, het dr Verwoerd dit onder meer soos volg gestel:

Dit is tevergeefs om te beklemtoon dat die Regering se beleid nie daarop gebaseer is dat mense minderwaardig nie, maar verskillend is. Óf om daarop te wys dat 'n lid van 'n Afrikastaat nouliks gelukkig geag kan word as hy in vodde geklee is, met weinig om te eet, met lae lone, min voortdurende werk en 'n krot om in te woon as die enigste vergoeding vir alles waaraan hy gebrek het en wat hy ly, is dat hy die stem het! Bevredig die stem en help dit die mense indien die massas hierdie stem sonder veel persoonlike diskresie moet uitoefen omdat hulle niks van politiek af weet nie, of omdat 'n Swart amper-diktator of 'n politiekgesinde half-opgevoede kliek, blinde trou vereis om hulle aan die bewind te hou?

Om die moraliteit van 'n beleid te beoordeel, moet daar onthou word dat in alle sedelikheid die ewewig tussen verskillende waardes, verskillende regte, gevind moet word. Absolute reg vir die een kan ontsaglike onreg vir die ander beteken.

Suid-Afrika se probleem is uniek. Nêrens in die wêreld en nooit in die geskiedenis het daar 'n situasie ontwikkel wat heeltemal soortgelyk is nie. Die oplossing moet dus ook uniek wees. En tog wil elkeen, orals, hetsy goed ingelig of heeltemal oningelig, teoretiese idees en beginsels of oplossings wat elders nuttig bevind is of geag word, op hierdie verskillende situasie toepas.

Meer as 300 jaar gelede het twee bevolkingsgroepe, wat ewe vreemd aan Suid-Afrika was, in ietwat klein getalle uit verskillende rigtings 'n land binnegekom wat toe feitlik onbewoon was. Geeneen van hulle het 'n ander man se land gekoloniseer of hom deur inval en onderdrukking beroof nie. Elkeen het hom gevestig en langsamerhand sy nedersettings uitgebrei en in hoofsaak elkeen 'n ander deel sy eie probeer maak. Daar was botsings en grensoorloë, en grensgebiede is verower, maar sedertdien het die witman meer grond aan die Bantoe-gebiede toegevoeg, en voeg hy steeds daaraan toe, uit wat hy self beset en bedoel het om sy eie te wees.

Die eerste punt is dus dat daar geen kolonialisme was nie, net afsonderlike besetting deur elkeen, byna gelyktydig, en elkeen het meer as 300 jaar lank die geleentheid gehad om sy land te ontwikkel Om sy toenemende bevolking te dien. Die witman het dit gedoen, maar die Swartman nie, en die witman het nie sy mag gebruik om die Swartman se land te oorrompel en te bekom nie. Trouens, net in Suid-Afrika het die witman opsetlik dit vir hom gereserveer en probeer (meesal tevergeefs) om hom op te lei om die beste gebruik daarvan te maak – soos hy met sy eie gedoen het, met sulke goeie gevolg dat die Swartman na hom toe gekom het vir werk, voedsel en die goeie dinge van die lewe, en nie vir politieke verowering nie.

Die witman het dus nie net 'n ontwyfelbare belang in en reg op die land wat hy uit ontblote veld en leë valleie en afgesonderde berge in 'n moderne nywerheidstaat ontwikkel het nie, maar volgens alle sedelike beginsels was dit syne, is dit syne en moet dit syne bly.

Dit is waar dat hy met verloop van tyd binne sy landspale toenemende getalle Swartmense ontvang het. Party het na hom toe gevlug om beskerming, uitgedryf uit hul eie land deur broederstryd en die swaar hand van tiranne. Baie het na hom toe gekom om verligting van honger te vind of aangetrokke deur die skitterende ligte van stede of deur die begeerte na geld of die goeie dinge van die lewe. Die nie-blankes wat die witman se land of die stedelike gebiede binnegekom het, het bloot gekom om werk, veiligheid, gesondheid, onderwys te vind – wat alles ruimskoots deur die witman verskaf is – en het nie eens aan politieke regte gedink of dit verwag nie, hoewel hulle daarvan geweet het.

Vergeet die woord ‘apartheid’. Vergeet enige term waarmee 'n beleid beskryf word, en vra net uself af wat u onder sulke omstandighede sou doen. Daar is drie moontlikhede.

Een is dat die witmense van Suid-Afrika hulself, hul besittings en die komende geslagte moet opoffer. Hulle kan dit doen en deur aan Swart oorheersing oor te gee, selfs al word dit 'n diktatorskap, en die land van hu1 voorvaders te ontruim, of deur te bly en 'n onherkenbare deel van 'n Swart nasie te word. Sou u werklik dit verkies as dit Engeland is waarvan ons praat?

Nog 'n manier is om uself wys te maak dat u deur skynbaar kleiner toegewings kan hoop om die kwade dag af te wend, sodat u kinders of kleinkinders mag ly, maar nie u nie. Dit kon gedoen word deur sommige Swartmense in die Parlement en in elke fase van die lewe in die gemeenskap te aanvaar, met die hoop dat hul selfsugtige bevrediging van eie ambisie hulle sou verhoed om die ambisie van hul massas te ontwikkel en te lei.

En as dit nie gebeur nie, wat dan? As junior vennootskap spoedig – baie, baie spoedig – ook in Suid-Afrika sou lei tot die eis om Swart regering alleen, moet die witman veg of hom onderwerp? En in watter stadium moet hy erken dat sy subtiele poging om mag te behou, misluk het? Trouens, hierdie tweede metode om die probleem op te los, los glad niks op nie. Dit beteken net dat die stryd om mag steeds voortduur, terwyl die blanke regeerder van vandag dinge laat ontwikkel totdat hy, soos in die vorige geval, ingee of hom uiteindelik bevind waar hy in die laaste of byna laaste skans om selfbehoud veg.

Daar is egter nog 'n metode en dit is om jou voorbeeld van die nasies te neem: lewe en laat lewe – afsonderlik. Sou enigeen in die Verenigde Koninkryk dit as sy ideaal vir die Statebond stel dat dit een staat met een sentrale regering moet word, wat bloot deur getalle beheer word en nie deur die meriete van u land as leierstaat, kleiner in getalle maar groot in ervaring en kennis nie?

Daardie een veelrassige staat, met inbegrip van die provinsie wat Groot-Brittanje dan sou wees, sou noodwendig uit Indië regeer moet word onder die meerderheidsbeheer van daardie honderde en honderde miljoene nie-blankes wat daar gekonsentreer is, gesteun deur andere wat oor die aarde versprei is.Natuurlik wys u dit van die hand as onsin. Maar waarom moet Suid-Afrika,op ‘n kleiner skaal, presies dit vir homself aanvaar?

Ons verkies dat elkeen van ons bevolkingsgroepe deur hulself beheer en regeer word, soos nasies dit doen. Dan kan hulle soos in 'n statebond of in 'n ekonomiese vereniging van nasies saamwerk, waar nodig.Waar is die kwaad hierin, of in die feit dat die voog in die oorgangstadium nie anders kan nie as om die bevoogde in toom te hou en hom te leer en te rig en, waar nodig, tereg te wys? Dit is afsonderlike ontwikkeling.

Suid-Afrika sal in alle eerlikheid en billikheid voortgaan – al is dit dan noodwendig deur 'n geleidelike proses – om vrede, welvaart en geregtigheid vir almal na te streef deur die model van die nasies te volg, wat in hierdie moderne wêreld politieke onafhanklikheid gepaard met ekonomiese onderlinge afhanklikheid beteken.

Dit is ‘n lang aanhaling, maar so noodsaaklik om die ware toedrag van sake uit te wys.

Apartheid kon dus nie halfhartig of selektief geïmplementeer word nie. Dr Verwoerd het dit geweet en sy opvolgers ook. Hulle het egter gekies vir stelselmatige oorgawe. Hoe regverdig jy byvoorbeeld rasgemengdheid op sportgebied, maar jy wil aparte woongebiede handhaaf en daarstel. Mag jy saam met ‘n man sport doen, sosiaal verkeer, saam eet en dalk ‘n hotelkamer methom deel, maar net na die sportbyeenkoms moet hy na sy aparte woonbuurt gaan en jy na joune? In die week beoefen jy en jou kinders aparte sport, maar Saterdae speel jy saam met die Swartman rugby in dieselfde span voor ‘n rasgemengde skare?

Daar was ‘n noodwendigheid ingebou in die beleid wat Vorster, PW Botha en De Klerk gevolg het. Daardie noodwendigheid was dat die selektiewe apartheid wat hulle gevolg het noodwendig moes lei na integrasie. Hulle het dit ontken, maar die geskiedenis het nie net vir dr Verwoerd nie, maar ook vir Jaap Marais reg bewys. Marais wat as ‘n leuenaar uitgeskel is weens die feit dat hy voorspel het dat die beleid van selektiewe apartheid en stelselmatige toegewings, noodwendig sal lei tot volledige integrasie. En die KP was vir 16 jaar deel van die NP se planne. Hulle het die noodwendigheid ingesien toe hulle setels in gevaar was. Hulle kon nie die beginselbesluit neem toe dit gedoen moes word nie. Hulle kon ook nie by die HNP aansluit nie, want dit sou ‘n erkenning wees dat die HNP reg was.

Nou sit mens met die situasie dat jy ‘n nuwe woord moet soek omdat die goedbedoelde woord deur ruggraatlose Afrikaner politici verkrag is. Selfbeskikking is die internasionaal-aanvaarbare woord, een wat deur die VSA gebruik word om state deur hulle geskep, soos Kosovo, te regverdig.

Ja, nou moet ons vir selfbeskikking veg omdat Vorster en sy navolgers te lafhartig was om apartheid te verdedig en uit te voer.