BOEREVOLK POLITIEKE GEVANGENES VRA VRYLATING

Boervin

Mediaverklaring

Suid-Afrika

15 Junie 2019


Boerevolk Politieke Gevangenes vra vrylating weens onregmatige aanhouding

18, 19 en 20 Junie 2019 gaan ’n waterskeidingsaak wees en bepaal of daar nog enigsins plek vir die grondwet en internasionale verdrae in Suid-Afrika se howe bestaan. Dit gaan aandui of vergelding van en onderdrukking van die Boerevolk so ’n prioriteit in Suid-Afrika geword het dat alle regspleging oorboord gegooi word.

Die Pretorius familie, wat betrokke is in die Boeremagsaak, bring op 18 Junie 2019 ’n aansoek in die Hooggeregshof te Pretoria waarin hulle die regmatigheid van hulle aanhouding bevraagteken en vra dat hulle vrygelaat moet word, alternatiewelik tydelik vrygelaat word hangende hulle klagte wat hulle by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregte Komitee ingedien het. Hulle is in 2002 gearresteer en op 29 Oktober 2013 in Pretoria se Hooggeregshof tussen 30 en 35 jaar vonnisse van gevangenisstraf opgelê vir hoogverraad.

Op 5 Junie 2018 het Dr. Lets Pretorius deur prof. Hercules Booysen, ’n internasionaal erkende volkeregkenner, ’n klagte ingedien by die kantoor van die Menseregte Komitee, wat op 2 Julie 2018 deur hulle aanvaar is. Die twee broers, drs. Johan en Wilhelm Pretorius het hulle klagte ingedien op 22 Julie 2018, wat op 3 Desember 2018 aanvaar is. Hulle klagtes by die VN is gegrond op die Opsionele Protokol tot die Internasionale Verdrag van Siviele en Politieke Regte waartoe die Republiek van Suid-Afrika homself ná 1994 verbind het. In die klagtes vra hulle onmiddellike vrylating asook kompensasie vir die 17 jaar se onregmatige aanhouding. Hulle voer aan dat hulle verhoor onregverdig is aangesien dit byna al die minimum menseregte waarborge tot ’n regverdige verhoor verbreek het. Weens die feit dat die verhoor onregverdig was, is die aanhouding onwettig.

Die bede tot permanente vrylatingis gegrond op drie onregmatighede naamlik:

  • Dat hulle vyf jaar ná hulle vonnis steeds nie daarin kon slaag dat hulle appèlstukke deur die Appèlhof aanvaar word nie en hulle reg op appèl dus onherroeplik geskend is. Die skending van hulle grondwetlik en internasionaal beskermde reg op appèl maak die verhoor per se onregverdig. Wat bydra tot die onregmatigheid van die appèlproses is die feit dat die staat weier om die volledige en amptelike rekord en dokumentasie van die strafverhoor aan hulle te verskaf en dat hulle daarom nie die nodige dokumentasie het om te kan appelleer nie.
  • Dat hulle reeds in 2002 gearresteer is en hulle juridiese proses na 16 jaar nog nie afgehandel is nie. Die Grondwet en Internasionale verdrag waarborg ’n spoedige verhoor. Dit beteken vanaf arrestasie tot laaste remedie van appèl uitgeput is. Die internasionale grens vir regverdigheid is 10 jaar. Hulle is dus reeds 6 jaar verby die grens wat internasionaal aanvaarbaar is vir ’n “spoedige verhoor”. Indien 16 jaar vir ’n verhoor dus regverdig is, kan die reg tot spoedige verhoor geen waarborg wees nie.
  • Dat hulle reg op ’n wettig saamgestelde hof geskend is. Wetgewing bepaal dat assessore slegs dien tot en met skuldigbevinding. In hulle strafsaak het een van die assessore gedien tot die einde van die vonnis en was die samestelling van die hof dus onwettig. Hulle is daarom gevonnis deur ’n onwettige hof.

Die res van die onregmatighede word aan die hof getoon om aan te dui dat hulle ’n baie sterk kans het op vrylating deur die VN se Menseregte Komitee. Hulle vra alternatiewelik tydelike vrylating om die skade en verdere skending van hulle regte wat hulle verduur weens die onregmatige aanhouding te beperk, hangende die afhandeling van hulle klagte by die VN. Hulle voer aan dat die skendings van hulle verhoor so ooglopend ’n verbreking was van die Republiek van Suid-Afrika se internasionale verpligtinge, dat die Komitee nie tot ’n ander beslissing sal kom as dat hulle onregmatig aangehou word nie. Die saak by die Verenigde Nasies kan so lank as vier jaar duur voordat dit afgehandel sal wees. Dit beteken dat hulle dan vir 21 jaar in aanhouding sal wees met die baie goeie kans om vrygespreek te word. Dit sou beteken dat hulle 21 jaar onregmatig in aanhouding sou wees. Hulle verwys na enkele punte wat hulle in hulle klagte geopper het:

  • Marteling wat deur die staat en regter toegelaat is vir meer as 11 jaar.
  • Hulle reg om onskuldig deur ’n hof geag te word totdat skuldig bevind is.
  • Hulle reg op gelykheid voor die reg en om nie arbitrêr vervolg te word nie.
  • Die skending van reg op regsverteenwoordiging aangesien dr Lets Pretorius 9 maande en drs. Johan en Wilhelm vir 1 jaar en 7 maandesonder regsverteenwoordiger was, terwyl die strafsaak aangegaan het. Verder het die staat geweier om regshulp aan hulle te verskaf tydens hulle appèl proses.
  • Hulle regsprivilegie weens die feit dat hulle herhaaldelik afgeluister is en hulle geprivilegeerde dokumentasie herhaaldelik deur die staat op beslag gelê is.
  • Dat die verhoorregter Eben Jordaan nie onpartydig was nie.
  • Dat die vonnis skokkend en onwettig was met slegs vergelding en straf as maatstaf.

Boervin (sien www.boervin.org) vra vir elkeen se ondersteuning en gebede in hierdie aangeleentheid. Dit kan die begin wees om die Boerevolk Politieke Gevangenes se vrylating te bewerkstellig en ook ’n boodskap vir die staat te gee dat daar gevolge is vir die onderdrukking van die Boerevolk. Elkeen wat die hofsaak wil bywoon is welkom aangesien dit ’n publieke verhoor is.

Vir navrae kontak Riëtte

Sel: +27 82 776 6597

E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.