VERWOERD SE EKONOMIESE BELEID

Byna alle argumente wat deur die liberale wêreld ingebring word teen die NP-regerings van Dr DF. Malan, Adv JG Strijdom en Dr HF Verwoerd (1948-1966) is deurspek met emosionele twakpraatjies. Hulle vermy gewoonlik die invloed van die sukses van die NP se ekonomiese beleid in dié era en veral die feit dat die Swartman meer daarby gebaat het as die Blanke. Die kollig in hierdie artikel val op die sukses van Verwoerd se ekonomiese beleid en die vraag kan dan gevra word of dit nie juis die hoofrede agter sy ontydige dood was nie?

Kort na die oorname van die ANC in 1994 het die leier van die HNP, Jaap Marais, sy party se Hoofbestuur toegespreek. Op daardie vergadering het hy profetiese woorde geuiter wat nie net vandag perspektief bring op die afgelope 22 jaar se plundering van ons land nie, maar ook oor die merkwaardigheid van die sukses van die eerste twee dekades van die NPse bewind. Sy woorde was: "Enige suksesvolle staat word op twee belangrike pilare gebou, naamlik respek vir wet en orde en 'n gesonde, groeiende ekonomie."

Misdaad

Oor misdaad en die omvang daarvan sedert die oorname van die ANC-regime hoef daar werklik nie veel gesê te word nie. Dis algemene kennis dat dit waarskynlik Suid-Afrika se grootste sosiale krisis is en dat Suid-Afrika een van die lande in die wêreld is met die hoogste voorkoms van geweldsmisdaad. Kortom kan gesê word dat daar meer mense (Swart en Wit) in Suid-Afrika doodgemaak word onder ANC-bewind as tydens enige oorlog wat al ooit in die opgetekende geskiedenis van die land geheers het sedert die koms van Jan van Riebeeck.

Ekonomie

Die misdaad epidemie in Suid-Afrika het natuurlik ook 'n reuse invloed op die ekonomie, maar dit is 'n onderwerp wat 'n artikel op sy eie werd is. Dit kan wel genoem word dat een van die grootste faktore wat die ekonomie van die land lamlê, die mate is waarop korrupsie op elke regeringsvlak aan die orde van die dag is. Terug by die ekonomie as sodanig. Volgens die nuutste syfers staan Suid-Afrika se staatskuld tans op R1 892 017 064 553 (R1892 miljard). Met die huidige bruto nasionale produk wat staan op R4 644 609 805 350 (sowat R4645 miljard) beteken dit dus dat die ANC se staatskuld gelykstaande is aan byna 41% van die land se Bruto Nasionale Produk (BNP). Net die rente op hierdie skuld alleen is R107 miljard per jaar! (Een honderd en sewe duisend-miljoen rand).

Selfs die grootste leek behoort te kan sien dat daar nie eintlik sprake van ware groei in die ekonomie kan wees as die staat wurg aan so 'n skuldlas nie. Die amptelike werkloosheidsyfer in Suid-Afrika tans is rondom 29%, terwyl dit algemene kennis is dat die tekort aan geskoolde arbeid in die land ernstige afmetings aanneem. Die land se groeikoers (met heelwat gekook en gespeel met syfers in aggenome) sukkel onder die ANC-regime om hoër as 2% te kom. Intussen boer die amptelike inflasiekoers tussen 6% en 7%, maar in die praktyk ervaar Jan Publiek ook iets heel anders as dié bekookte syfer as hy maandeliks sy inkopies by 'n supermark moet doen.

Ekonomie onder Verwoerd

Nou kom ons by die waarheid oor die sukses van Suid-Afrika onder die regering van Verwoerd, waaroor daar deesdae nie gepraat of geskryf mag word nie. Dit word sekerlik die beste opgesom deur die bekende aanhaling uit die Rand Daily Mail, wat geskryf is slegs 'n paar maande voor Verwoerd se dood. Op 30 Julie 1966 skryf dié koerant só oor die Verwoerd regering: "The nation is suffering from a surfeit of prosperity and he can command almost unlimited funds for all that he needs at present in the way of military defence. He can claim that South Africa is a shining example of peace in a troubled continent… he can snap his fingers at the United Nations." Onder die NP-regering van Verwoerd en sy beleid van apartheid (afsonderlike ontwikkeling, soos Verwoerd self verkies het om daarna te verwys) het die lewensstandaard van Swartes gegroei met 5,4% per jaar teenoor dié van die Blankes met 3,9% per jaar.

Dan sien ons steeds vandag die treurige gesigte op TV wat die nageslag met emosionele opgesweepte twakstories wil vertel hoe swaar die Swartman kwansuis onder Verwoerd gekry het. In 1965 het die Suid-Afrikaanse ekonomie gegroei teen 7,9%. Dit het daardie jaar die tweedehoogste ekonomiese groeisyfer ter wêreld verteenwoordig. Teenoor hierdie merkwaardige groeisyfer, wat behaal is terwyl SuidAfrika sy man moes staan teen 'n vyandige wêreld, was die amptelike inflasiekoers net 2% per jaar en die prima rentekoers was slegs 3% per jaar. Dít dui tog duidelik op 'n goed-bestuurde land, waar die regering sy verantwoordelikheid teenoor die bevolking nagekom het. Die tydskrif Time skryf aan die einde van 1965 soos volg oor die land van apartheid: "South Africa is in the midst of a massive boom."

Om alles te kroon het die ekonomiese voorspoed gepaard gegaan met ongekende vrede en veiligheid. Die Verwoerd-regering het die aanslag van die Kommunisme, wat via die sogenaamde Swart Bevrydingsbewegings gevoer is, op daardie stadium basies vernietig. Mandela en ander voorbokke van die kommuniste en terroriste is uitgesnuffel en hokgeslaan en soos die statistiek aandui, het dit met die Swartman selfs beter gegaan as met die Blanke.

Dis opmerklik dat die aanvanklike opkoms van die Swart Bewusseinsbeweging in die laat 1950's en vroeë 1960's gepaard gegaan het met 'n effense insinking in die ekonomie. Dit het ook gepaard gegaan met rassebotsings elders in Afrika, maar die hand van die kommunistiese aanslag daarin was duidelik. Nadat Suid-Afrika egter uit die Britse Statebond getree het in 1961, is die vertroue in die land se ekonomie stadig maar seker herstel en die Verwoerd-regering het die vertroue van binnelandse beleggers begin wen.

Die meerderheid Swartes was ook tevrede met die situasie waarin hul moes leef en Verwoerd het 'n baie goeie verhouding gehad met al die tuislandleiers. Die NP-regering het baie gevaarlike en soms onhigiëniese hole (soos Sophiatown in Johannesburg) opgeruim en in die Swart voorstede soos Soweto ordentlike behuising met aanvaarbare infrastruktuur, skole, parke, biblioteke en sportgeriewe aan hulle verskaf. Teen die einde van Verwoerd se bewind het dit ekonomies só goedgegaan met Suid-Afrika, dat daar maatreëls ingestel moes word om te keer dat die ekonomie té vinnig groei!

Genereer eie welstand

Ironies genoeg was Verwoerd nie baie opgewonde of angstig om te veel buitelandse beleggings na Suid-Afrika te lok nie. Hy het eerder 'n beleid gevolg waardeur binnelandse kapitaalvorming aangemoedig is. Teen die einde van 1961 het die Departement van Binnelandse Sake 'n opname gemaak wat laat blyk het dat 85% van die verbruikersgoedere wat in winkels in Suid-Afrika te koop was, hier in die land vervaardig is.

Verskeie industriële mylpale is in die dekade tussen 1955 en 1965 behaal, waarvan die sukses van SASOL sekerlik die grootste was. Die belangrikste aspek was egter dat Suid-Afrika se ekonomie van binne gebou is en dat die Verwoerd-regering nie alleen staatgemaak het op buitelandse kapitaal vir die groeiproses nie. Tog was die buiteland afhanklik van verskeie van Suid-Afrika se minerale bronne. Die verbetering en beter regulering van mynbou het egter 'n groot bydrae tot die binnelandse ekonomiese sukses gelewer. Benewens die toenemende produksie van goud en heelwat ander minerale is industrialisering besonder sterk voortgesit en het die totale waarde van landbou- en veeteeltprodukte tot in die eerste helfte van die sestigerjare (1960-1965) opmerklik toegeneem.

Die grensnywerhede

Verwoerd se ekonomiese beleid het baie sterk klem gelê op die ontwikkeling van industrieë in Suid-Afrika. Verwoerd het gesorg dat sy ekonomiese beleid 'n fyn balans handhaaf tussen die geleenthede vir Swartes, wat weer sou help om die tuislande te ontwikkel, en die geleenthede vir Blankes in Suid-Afrika. Hy het die noodsaak van werkreservering in die industriële wêreld besef om die Blanke werker te beskerm. Sy insig oor die verhouding waarin ekonomiese ontwikkeling moes staan teenoor die sosiale werklikhede van die land, was een van die geheime van sy sukses.

In hierdie verband het Verwoerd byvoorbeeld sy beleid só geformuleer dat dit sy tuislandbeleid perfek kon aanvul. Dit sou natuurlik beteken dat die ontvolking van die platteland en die instroming van massas na die stede streng beheer moes word en in sommige gevalle selfs opsetlik verhoed moes word. Na Verwoerd se dood is hierdie aspek verwaarloos en amper geïgnoreer en dit word vandag gebruik as argument oor waarom aparte ontwikkeling kwansuis nooit sou werk nie. Beide die ontwikkeling van die ekonomie en die verantwoordelike bestuur van die sosiale werklikhede van die land moes boonop volgens Verwoerd se plan so regverdig as moontlik verloop. Dis net logies, want as een groep in die proses uitgebuit word, sou die stelsel tog nooit op die langer duur suksesvol kon wees nie. Op een of ander stadium sou die uitgebuite groep in opstand kom.

Teen hierdie agtergrond was Verwoerd se plan met grensnywerhede so briljant. Dit sou 'n wen-wen situasie vir al die partye skep, waar Blankes hul verdienste in Blanke gebiede spandeer om die ekonomie van Blank Suid-Afrika te stimuleer, terwyl Swartes weer hul verdienste spandeer in hul tuislande. Dit sou beteken dat die aanvanklike hulp wat die tuislande van Suid-Afrika moes ontvang mettertyd sou verklein, totdat hulle as onafhanklike ekonomieë op hul eie sou kon funksioneer. Hiermee saam sou ander ontwikkeling, soos die landboubedryf natuurlik ook 'n rol speel.

SASOL en die chemiese industrie

Intussen is 'n oliepyplyn van Durban na die Rand aangelê. SASOL en die ru-olie raffinaderye het die kern daargestel van nuwe komplekse chemiese bedrywe wat in alle rigtings ontplooi het, maar wat Suid-Afrika terselfdertyd al hoe meer onafhanklik sou maak van die res van die wêreld. Teen so 'n geweldige tempo is daar in die paar jaar sedert Republiekwording vordering gemaak met die ekonomie van die land, dat daar inderdaad van 'n tweede industriële revolusie gepraat kon word.

Die bruto nasionale produk van die land het tussen 1961 en 1964 met 6.5% per jaar gestyg – een van die grootste styging ter wêreld op daardie stadium. Waar die land voorheen in ’n baie groot mate van buitelandse kapitaal afhanklik was, kon hy 'n ontwikkelingstadium bereik waar grotendeels in sy eie kapitaalbehoeftes voorsien kon word. Een van die belangrikste aspekte in hierdie verband was natuurlik ook die invloed van die Afrikaner en die wyse waarop die Afrikaner se kaptiaal- en sakevernuf in die proses gegroei het.

Arbeid en die ekonomie

Enige ekonoom sal vir ons kan vertel watter enorme invloed die arbeidsektor in enige land se ekonomie het. Juis daarom is arbeidswetgewing in enige land een van die mees sensitiewe, maar ook belangrike aspekte om die groei van die ekonomie te balanseer. Aan die een kant kan die industriële sektor nie sonder arbeid funksioneer nie, maar aan die ander kant kan daar ook nie toegelaat word dat die arbeidsektor uiteindelik die mag verkry om onherstelbare skade aan 'n land se ekonomie aan te rig, soos ons dit veral deesdae in Suid-Afrika ervaar nie.

Een van Verwoerd se suksesgeheime was die goeie balans wat hy deur bestuur, wetgewing en die skep van geleenthede kon verkry, sodat die arbeidsektor nie die stert kon word wat die hond swaai nie. Dít het ons destyds reeds in lande gesien wat na sosialistiese arbeidswetgewing geneig het en ook hier in Suid-Afrika sien ons dit toenemend sedert die NP-regerings van John Vorster en PW Botha arbeidwetgewing hier by ons verander het.

Om op te som, Verwoerd het die logika gehad om te weet dat 'n land se ekonomie eintlik maar werk soos enige besigheid, of dit nou die kafee op die hoek is of 'n internasionale maatskappy. Feit van die saak is dat die verskillende komponente van daardie besigheid in harmonie moet saamwerk om uiteindelik die balansstaat te laat klop. As die besigheid te veel geld leen, raak hy in die moeilikheid en die eerste aspek wat skade ly is sy arbeiders (landsburgers in geval van 'n land), want hulle sit uiteindelik sonder werk. Verwoerd se ekonomiese beleid kon egter die situasie skep waar werkloosheid amper uitgewis is en waar amptelik 74% van nuwe arbeid jaarliks in die formele sektor geakkommodeer kon word.

Die geldmag

Net soos by baie groot maatskappye, werk dit natuurlik ook so in 'n land se ekonomie sodat sommige mense (in die geval van 'n land kan ons praat van geldmagnate) té ryk en té magtig word en in die proses vraatsig word. Hoe meer geld hulle maak, hoe meer wil hulle maak. Dit het skynbaar ook in Verwoerd se era gebeur. Dit het spesifiek gebeur met een familie wat via die mynbedryf so ryk en so magtig geword het, dat hulle later 'n substansiële deel van die land se ekonomie beheer het.

Gierigheid en vraatsug het natuurlik die vreemde gewoonte om 'n begeerte te skep vir al hoe meer rykdom en meer rykdom bring meer mag. En dít is gevaarlik. 'n Wysgeer het eenmaal gesê dat mag die sterkste dwelm is waardeur enige mens oorweldig kan word. In Suid-Afrika het een groep,wat eintlik maar onder die leiding van een familie gestaan het, soveel mag in die ekonomie verkry (ironies juis as gevolg van die rol wat die mynbedryf in die ekonomiese ontploffing van die sestigerjare gespeel het) dat hulle 'n bedreiging vir verdere suksesvolle uitvoering van Verwoerd se ekonomiese beleid geword het.

Verwoerd het dus aan professor Piet Hoek die opdrag gegee om ondersoek in te stel na die Oppenheimer-empaaier in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dié deeglike ondersoek het bevind dat Oppenheimer met al sy tentakels teen 1966 sowat 1000 maatskappye in Suid-Afrika beheer het. Alle aanduidings was dat Verwoerd nie die Hoek-verslag ligtelik sou opneem nie. Sommige bevindings daarin het aangedui dat die geldmag in Suid-Afrika se invloed en toekomsplanne 'n bedreiging sou inhou vir die voortsetting van die regering se ekonomiese beleid tot voordeel van al die land se burgers en tot voordeel van die Swart burgers van die tuislande rondom Blank Suid-Afrika.

Heeltemal te min is nog werklik bekendgemaak oor die Hoek-verslag se inhoud, maar daar kan met reg gewonder word of dit toevallig is dat Verwoerd juis in die tyd van die afhandeling daarvan vermoor is en dat sy opvolger, John Vorster, dié verslag so gou moontlik doodgesmoor en selfs vernietig het.

Oorgeneem uit die Nuusblad van die Afikaner Nasionalistiese Beweging (ANB) (www.anbsa.co.za)