SEPTEMBERMAAND – VERWOERDMAAND (2)

DR VERWOERD SE KINDERJARE

Nog ‘n werk wat in geheel op Gelofteland by die skakel Herinneringe aan dr HF Verwoerd verskyn,  is ‘n biografiese skets van dr H O Terblanche. Dit gaan meer oor sy kinderjare, vertel deur sy jonger suster Lucie.

Lucie vertel:

In Wynberg het die twee seuns allerhande kattekwaad aangevang. Op die hoek van ons straat, Mortimer Road, was daar 'n sinagoge. Dit moet nog daar wees. Dit was welbekend dat iemand homself in die sinagoge opgehang het en dat dit daar spook. Hendrik en Len het toe van Ma se lakens gesteel en ná donker gaan spook speel, kastig om die Jode bang te maak.

Volgens Ma was Hendrik eintlik nog te jonk, maar die juffrou van die Evangelies-Lutherse skool in Waterloo Road, het kom pleit dat hy asseblief moet kom om haar getalle vol te maak.

'n Maand ná sy sesde verjaardag is hy toe by die Duitse skool ingeskryf waar Len reeds was. Eendag kom hy watersopnat by die huis want die juffrou het hom buite in die reën laat staan. Ma is natuurlik smoorkwaad en sê: "As dit weer gebeur dan kom jy huis toe." Net twee dae later kom Hendrik vroeg huis toe. Ja, die juffrou het hom weer uit die klas gestuur. Die middag kom kla die onderwyseres dat Hendrik nie 'n minuut stilsit nie, en Ma vra: "Maar ken hy sy werk?" Ja, sê sy, hy doen die skoolwerk baie vlugtig en dan sit hy die ander kinders se aandag en aftrek. "En vanmôre was hy so woelig en stout dat ek hom moes uitstuur en toe loop hy huis toe."

Hendrik moes teen sy sin weer skool toe, maar eendag sê hy hy is nou lekker moeg vir daardie juffrou wat hom heeldag uitskel vir mamma-se-seuntjie. Toe gaan kla Pa by die skoolhoof en sê hy dink hy moet maar vir Hendrik by 'n groter skool inskryf. Die skoolhoof soebat dat Hendrik moet bly want hy is dan tog so intelligent. Hy het toe gebly tot aan die einde van standerd 4. Dit was in 1912.

Hendrik was omtrent agt of nege, toe kry hy Sint Vitusdans, 'n senuweesiekte. Die dokter het voorgeskryf dat hy vir twee maande in 'n donker kamer moet bly en stil moet lê; hy mag nie woel of lees nie. Ma het hom baie goed opgepas, soos enige ma, maar toe sy hom weer eendag uit die bed tel om die matras om te draai, kry sy 'n menigte prenteverhale en boekies daaronder wat hy al die tyd weggesteek het om stilletjies te lees. Hy het darem mooi gesond geword.

'n Ander petalje in die Duitse skool was die onderwyseres se kweperlatte wat onverklaarbaar verdwyn het. Sy bring elke keer 'n nuwe lat skool toe en dan verdwyn dit net so vinnig. Toe word daar op 'n dag voorbereidings getref vir 'n skoolkonsert. Die verhogie waarop die juffrou se tafel staan, moet verskuif word, en daar kry hulle dosyne stukkende kweperlatte weggesteek. Die skuldige het nooit aan die pen gery nie maar Hendrik het glo vir Ma gesê hy het gedink daar moet iets aan gedoen word, want dit is onregverdig dat hulle van die môre tot die aand onnodig lyfstraf kry.

Na standerd 5 is Hendrik en ons almal Rhodesië toe. Daar het ons drie jaar lank (1914-1916) gebly terwyl Pa sy ideaal om die evangelie te verkondig, kon uitleef. Kort na ons aankoms sterf ds. Smit en toe moes Pa amper drie jaar waarneem voor daar uiteindelik 'n leraar bevestig is.

My broer Hendrik, of Henk soos hy kleintyd genoem is, was twaalf, Len veertien en ek vyf toe ons aan die einde van 1913 uit die Kaap na Bulawayo verhuis het. Pa het 'n paar maande vroeër vooruit gegaan. Na ten minste drie dae en nagte op die trein was ons kinders se vreugde groot toe ons Pa op die perron sien staan om ons te verwelkom. Van pure uitbundigheid het Hendrik van die trein afgespring nog voor dit tot stilstand gekom het, en Pa tegemoet gehardloop. Net daar kry hy toe 'n paar stywe klappe en verander die vreugde in trane, want Pa was ook maar pure senuwees na die lang wag.