Een van die grootste argumente waarop profete van "verandering" en lofsangers van die nuwe Suid-Afrika onder Blankes in die verlede gehamer het as hulle aan die aard van die Afrikaan en die inhoud van Afrika se geskiedenis herinner is, was die foefie van die "regstaat".
"Ons word beskerm deur die grondwet" sou hulle antwoord op argumente van nugter denkers en mense wat met logika die gebeure in post-koloniale Afrika ook hier in Suid-Afrika voorspel het. Die grondwet sou ons glo beskerm, want die grondwet waarborg 'n regstaat en op hierdie manier sal die ANC altyd in toom gehou kon word as hulle werklik begin handuit ruk.
Of só het die liberale profete van die reënboogland ons probeer wysmaak. Intussen het die ANC homself al hoe lekkerder in die nuwe bedeling tuisgemaak en ons land is vandag net nog 'n verrotte korrupte Afrika staat op die rand van algehele ineenstorting. Die regime probeer egter nie eers meer die skyn voorhou dat hulle die regstaat ondersteun nie. Soos alle ander Afrika-despote voor hulle, begin die howe hulle irriteer, want dis 'n instrument waarmee die Witman hul spoed kan breek op pad na nóg meer rykdom en nóg meer mag.
Baie van hierdie profete van die nuwe bedeling het voorspel dat Ramaphosa die antwoord op al die land se probleme sou wees – daar moes net eers van die bose Zuma ontslae geraak word. Alles sou na die oorname van Cyril Ramaphosa blykbaar sommer klopdisselboom begin verloop.
Toe bars einste Ramaphosa vroeg in September 2015 die bom by die ANC se Jeugliga kongres: Sy uitspraak dat geen hof langer toegelaat moet word om die ANC te beheer of bestuur nie, was radikaal en uitdagend teen die stelsel. Dit het boonop ingepas by ander uitsprake van hooggeplaaste ANC-leiers én by die regime se optredes, waar hulle reeds verskeie keer hofuitsprake geïgnoreer het.
So, daar vlieg die profete van die nuwe Suid-Afrika se sterkste argument ook by die agterdeur uit. Suid-Afrika 'n regstaat? Moenie laf wees nie. Diktatoriale piesangrepubliek is 'n meer akkurate beskrywing.
Met dank aan die ANB - u kan hul webblad besoek by www.anbsa.co.za