GEEN STANDBEELD VIR DE KLERK!

Ná die herrie in die parlement waar FW de Klerk in die parlement uitgejou is deur Malema en sy EFF, het daar ‘n verdere herrie losgebars toe De Klerk aangehaal word daar hy gesê het dat nie alles van apartheid sleg was nie. Onmiddellik het almal op sy rug gespring en terug verwys na die VN se Konvensie op die Misdaad van Apartheid, wat in 1976 aanvaar is.

Malema, Cyril Ramaphosa, Piet Croucamp en etlike ander linkses kon nie wag om De Klerk daaroor aan te vat nie. De Klerk se vroeëre verskonings wat hy oor apartheid aangebied het, was skoon vergete.

Wat interessant is, is dat daardie Konvensie nie bindend is op state nie en daarom geen regskrag het nie. ‘n Staat moet dit uitdruklik aanvaar om bindend op hulle te wees.

Suid-Afrika het dit tot vandag toe nie aanvaar nie, alhoewel die kommunistiese regime dit nou graag aanhaal om iemand soos FW de Klerk mee by te kom.

Dit is verder heel onwaarskynlik dat die ANC-bewind ooit die Konvensie sal onderteken, want dit sal hulle self vervolgbaar maak. Die ANC se beleid teenoor die Blankes van die land val heeltemal binne die omskrywing van die misdaad apartheid, soos deur die Konvensie aanvaar.

Daaronder tel die aanstigting van moord teen lede van ‘n ander rassegroep, enige handeling wat daarop gemik is om enige rassegroep ten dele of fisies uit te wis, maatreëls wat ‘n bepaalde rassegroep verhoed om ten volle te ontwikkel deur byvoorbeeld werksgeleenthede vir daardie groep te weier, en die verbod op die onteiening van ‘n ander rassegroep se grond, hetsy met of sonder vergoeding. As die onteiening daarop gemik is om die rassegroep te benadeel, is dit misdaad.

Dus, sou die ANC daardie Konvensie aanvaar, gaan hy homself onmiddellik vierkant in die moeilikheid plaas.

Die een keer dat FW de Klerk, alhoewel hopeloos te laat, ‘n ferm standpunt kon inneem en die debat op die ANC se kop kon omdraai (as voormalige staatshoof behoort hy tog seker te weet wat die Konvensie se bepalings is?), sak hy maar weer soos ‘n nat sak inmekaar en gee hy toe aan Malema en Ramaphosa. Hy het nou maar eenmaal nie daardie politieke deel van die manlike anatomie wat van hom ‘n man in die politiek sal maak nie. Hy sal ook geen standbeeld kry nie!