AS ONS MAAR WEET...

Volgens ‘n onderhoud met Cyril Ramaphosa se twee epidemioloë, die egpaar Karim wat op die raadgewende ministerie dien, sal Covid-19 teen Juliemaand veroorsaak dat ons heelmoontlik na die hoogste vlak van inperking opskuif. Dit kan, volgens hulle, meebring dat Suid-Afrika tot 18 maande in die Covid-19-sage sal meedoen.

Natuurlik sal hierdie winter soos altyd ook ‘n gewone griepseisoen wees waar die aantal sterftes onder persone met swak immuniteit normaalweg jaarliks hoog is. Maar hierdie jaar sal daar nie onderskeid in toetsing tussen Covid-19 en ander griepvirusse gemaak kan word nie want die toetsapparatuur is nie daartoe in staat nie. Dus sal die positiewe toetsingsyfer die hoogte inskiet met “Korona as oorsaak”.

Nie dat die Covid-19-toetsing in enige geval ‘n betroubare toets is nie. President John Magufuli van Tanzania het ‘n goeie sin vir humor en genoeg intelligensie geopenbaar toe hy ‘n aantal toetsapparate ingevoer en verskeie “toetse” laat doen het onder andere op ‘n bok en ‘n papaja. Ja, u het reg gelees, en wie van ons sou nou daaraan gedink het! Die toetse is almal met mensename en ouderdomme benoem en weggestuur vir resultate. Daar is heerlik gelag toe die uitslag arriveer: beide die bok en die papaja se uitslag is positief! Wat sê dit vir ons? Dat die hele toetsding ‘n klug is! Net soos skrywer se swaer met bosluiskoors by die apteek instap, doktersvoorskrif in die hand, voorgekeer word vir ‘n koorstoets en die uitslag negatief is – dié man wat pas uit die dokter se spreekkamer stap met ‘n professionele diagnose van erge koors!

Maar grappies nou daar gelaat... hierdie inperkingsverlengplan van die regering kan niks goeds teweeg bring as mens na die syfers van die miljoene verhongerdes in ons land kyk nie. Daarvan word in die media nou groot gewag gemaak en na verwagting word met hierdie syfers nie oordryf soos met die virusstatistiek nie. Volgens Statistiek Suid-Afrika 2018 was daar reeds 6,6 miljoen verhongerde burgers in die land. Onthou, die regering spog nie graag met die hoë “vreemdelinge” bevolkingsyfer van Suid-Afrika nie aangesien hy al te veel kritiek ontvang het vir sy roekeloosheid om sedert 1996 ons landsgrense oop te stel vir al wat ‘n Afrikaland is se verhongerdes. Daarom hou hy by die totaal van sowat 58miljoen Suid-Afrikaanse burgers terwyl wakker ekonome soos Mike Schusler reeds jare gelede die beraming op meer as honderd miljoen inwoners getrek het. En natuurlik pas hierdie syfers nie by die regering se 6,6 miljoen in nie. Daarom is dit is meer waarskynlik dat daar teen 2018 40 miljoen verhongerdes in Suid-Afrika was.

Nou reken Andy du Plessis, besturende direkteur van FoodForward SA dat daar minstens 30 miljoen mense in Suid-Afrika is wat dringend hulp met voedselverskaffing benodig. Hy sê mense is desperaat, hordes pleeg selfmoord, ander huil onbedaarlik wanneer hulle ‘n kospakkie ontvang. Andy se syfer is verseker nader aan reg alhoewel hy met net ‘n persentasie van die gevalle in sy werk te doen kry. Alles in ag genome, soos die droogtes en die ekonomiese insinking agv die inperking, gaan die syfer baie naby 60 miljoen radelose honger mense draai. Veral vanuit Noord-wes, Noord-Kaap en Mpumalanga waar daar ‘n hoë bevolkingsdigtheid is, asook die “informele nedersettings” waar armoede lankal hoogty vier, sal ons die impak begin waarneem.

En wat doen mense wat so desperaat is dat hulle voel hulle niks meer het om te verloor nie? Hulle sien net een laaste uitweg: staan saam, kom in opstand teen die wreedheid en soek ‘n vyand wat beveg moet word. As hulle dit nie doen nie staar hulle ‘n gewisse hongerdood in die oë. Dit sal die land in bloed en anargie doop, ‘n gewisse stryd waarin elkeen vir sy lewe sal moet veg.

Dit is vir geen mens om te sê wanneer en watter omvang so iets sal aanneem nie, maar die Here leer ons in Matt 24 om na die tekens van die tyd te kyk. As ons dit nie doen nie is ons onverantwoordelik en verdien ons nie beskerming deur God se genade nie. Daarom, kyk en luister, en doen dan wat u weet u moet doen terwyl dit nog moontlik is. Alexander Solzhenitzyn was ‘n Russiese skrywer, filosoof, historikus en politieke gevangene onder Rusland se onmenslik wrede kommunistiese regering. Oor die Gulag strafkamp waar hy saam met volksgenote ontsettende lyding moes verduur, het hy geskryf dat as hulle geweet het wat op hulle sou wag, hulle vroeër tot die dood toe sou veg terwyl hulle nog iets gehad het om voor te veg.

Hier in Suid-Afrika onder nóg ‘n kommunistiese regering wat voorgee dat hy vir sy land se mense omgee terwyl hy homself tot oorversadiging verryk ten koste van miljoene wat sonder werk en kos is, het ons reeds baie verloor maar is daar nog een geveg voor. As ons dit nie veg nie, sal ons ook agterna in ons ellendige toestand kan sê: As ons maar geveg het toe daar nog iets oor was om voor te veg!