DOODSTRAF IS SKRIF- GEFUNDEERD

Ons het die afgelope week kennis geneem van nog ‘n plaasmoord op Hartswater waar drie Blankes letterlik uit hulle huis ontvoer en op ‘n ander plek gemartel en vermoor is. Ons het ook gesien hoe die inwoners van Hartswater tydens protes aandring dat die doodstraf teruggebring moet word. Die Bybel is duidelik oor hierdie saak en ons kan op verskeie plekke lees dat die doodstraf geregverdig is vir dade soos hierbo.

Selfs oor minder enstige dade word die dood van die misdadiger nie as ‘n sonde beskou nie. So lees ons in Exodus 22:2 dat ‘n dief dalk die gevolge van sy dade met die dood kan dra:

“As ‘n dief betrap word terwyl hy inbreek, en hy word geslaan, sodat hy sterwe, sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie.” – Ex 22:2

Wat het die moordenaars in Hartswater met die slagoffers gedoen? Hulle het die drie Blankes letterlik uit hulle huis gesteel. Dit was diefstal. Sou die boer paraat was en die inbrekers doodgeskiet het, het hy heeltemal geregverdig opgetree volgens die Woord van God. En noudat die inbrekers ook moordenaars is behoort daar net een straf te wees: die doodstraf. Maar lewenslange gevangenisstraf word beskou as 'n mensliewender soort straf as die doodsvonnis. Of lewenslange gevangenisstraf in die oorvol en sindikaatbeheerde Suid-Afrikaanse tronke werklik mensliewender as die doodstraf is, is egter 'n debatteerbare punt.

Die handves van menseregte bepaal in artikel 11 daarvan: Elke mens het die reg op lewe.

Dit klink op die oor af goed. Maar daar is 'n paar kwessies wat oordink moet word. In teenstelling met die inhoud van artikel 11 van die grondwet dat elke mens die reg op lewe het, bepaal die sesde gebod: Jy mag nie doodslaan nie. Gemeenregtelik is moord strafbaar en was dit nog altyd so vanaf die vroegste tye. Die mensdom het vanaf die vroegste tye nie 'n verklaarde "mensereg"op lewe nodig gehad om moord en doodslag te verstaan en strafbaar te stel nie. Wat het dan sedertdien verander?

Die vroegste strafbeginsel het straf en vergelding as hoogste motief gehad. Dit was in ooreenstemming met Bybelse beginsels van straf. Mettertyd is hierdie Bybelse beginsel ondergrawe deur humanistiese opvattings wat daartoe gelei het dat die basiese doel van straftoemeting aan die misdadiger verander het. Rehabilitasie en korrektiewe terapie is deesdae aan die orde as die uiteindelike doel van straftoemeting. Straf en vergelding word deesdae as onmenslik en outyds (oftewel "Bybels") gesien. Ons sien dieselfde opvattings ook in Suid-Afrika se eie strafregstelsel.

Die "nuwe bedeling" in Suid-Afrika het gepaardgegaan met die implementering van die eertydse Tussentydse Grondwet van Suid-Afrika, Wet 200 van 1993. Dit is later met die finale grondwet, Wet 108 van 1996 vervang. Laasgenoemde is sedertdien al meer as twintig maal gewysig, meestal om sekere prosesse se implementering en uitvoerbaarheid vir die regime te vergemaklik.

In terme van daardie nuwe grondwet is 'n heel nuwe soort waardestelsel op die Suid-Afrikaanse gemeenskap geïmplementeer. Die grondwet is suiwer op die ANC/SAKP se sogenaamde Freedom Charter gegrond, wat in wese die regime se bloudruk is vir hul sosio-politiese rewolusie in Suid-Afrika. Die sekulêre humanisme en liberalisme dien as grondslag van hierdie nuwe grondwetlike bedeling in Suid-Afrika.

Die uitwerking is sommer met die intrapslag opvallend in die aanhef tot die Konstitusie, wat soos volg lui: We, the people of South Africa, recognise the injustices of the past... en verder: ... a democratic and open society in which government is based on the will of the people ... en verder: This Constitution is the supreme law of the Republic: law or conduct inconsistent with it is invalid... Die RSA Grondwet is tans die hoogste gesag in Suid-Afrika en nie God en sy Gebod nie.

Die voormalige RSA se grondwet, Wet 32 van 1961, se aanhef het opvallend heel anders gelui, naamlik: In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van nasies en die geskiedenis van volkere... en verder: Die volk van die RSA erken die oppergesag en leiding van die Almagtige God (Artikel 2).

Die huidige grondwet is 'n radikale wegbreek van die gevestigde en tradisionele waardestelsel van die Afrikaner. Ons is gekonfronteer met 'n vreemde kultuur wat uiting vind in die liberalisme en sekulêre humanisme wat die huidige grondwet adem.

Die protestantse Calvinisme ken nie die andersoortige wêreldbeskouing van die sekulêre humanisme en die radikale liberalisme nie. Beide hierdie wêreldbeskouings bevat die filosofiese onderbou waar die mens sentraal staan en onafhanklik (outonoom) is van enige metafisiese verhouding met 'n goddelike wese.

Eenvoudig gestel, beteken dit dat die mens sy eie god is en nie afhanklik is van God Drie-enig nie. Die mens self word die maatstaf van alle dinge.

Hierdie lewensbeskoulike element van die huidige Suid-Afrikaanse grondwetlike bestel het gevolge op elke lewensterrein van die samelewing. Dit vind uiting in die sogenaamde Handves van menseregte wat deel is van hoofstuk 2 van die nuwe SA se huidige grondwet – artikels 7 tot 39 daarvan – en alle nuwe wetgewing sedert 1994. Hier dink mens in besonder aan die wetgewing oor arbeidsake, vroueregte en kinderregte soos pas weer ter sprake, misdadigers se regte, gelykmaking van geslag, ras, kulture en godsdienste. Dit het dan ook neerslag gevind in die kwessie oor die doodstraf.

Die oorsaak van die hoë misdaadsyfer van epidemiese afmetings kan by die eiegeregtigheid van die liberalisme en die humanisme gesoek word. Die fout word nie meer by die misdadiger gevind nie, maar by die "siek" samelewing, wat bearbei moet word deur heropvoeding. Die misdadiger word sodoende nie persoonlik aanspreeklik gehou vir sy wandaad nie, maar die samelewing word in die beskuldigdebank geplaas en verwyt.

Reg en geregtigheid word afgebreek wanneer die geloof agter die reg verdwyn. Die humanisme se vyandigheid teenoor die doodstraf is in wese hul vyandigheid teenoor God se reg. Die staat of owerheid dra die swaardmag om veroordeelde moordenaars deur die regspleging en oplegging van die doodstraf regverdig te straf en om wetsgehoorsame burgers te beskerm (Romeine 13:4). Wanneer die owerheid egter die doodstraf afskaf en ook nie meer sy wetsgehoorsame burgers beskerm nie, het hy sy plig versaak, het sy swaard stomp geword en het die burgers die reg tot verset teen so 'n regime.

Calvyn se woorde is vandag meer as ooit van toepassing: "Christus het ons nie duur met sy bloed gekoop sodat ons ons 'gehoorsaamheid aan die begeertes van mense moet verpand nie – nog minder dat ons aan hulle goddeloosheid uitgelewer moet wees! "