As ons gedink het die ontploffing in Beiroet vroeër dié maand was erg toe meer as 6 000 mense beseer is en sowat 180 gedood is, het ons nog niks gesien nie. Daardie plofstof was net ‘n skrale 2 000 ton onstabiele ou wapentuig wat in een stoor op die hawe vir ses jaar geberg is maar het so ‘n kragtige ontploffing veroorsaak dat dit kilometers ver skade gedoen het. Of dit van ouderdom ontplof het en of die ontploffing deur vyandelike missiele veroorsaak is, die opberg van die ou wapentuig was soos die president self gesê, ‘n growwe, nalatige fout.
Maar, wat sal gebeur as 141 000 ton onstabiele ou wapentuig wat vir 30 jaar lank in 175 store geberg is en so veel as 29 rugbyvelde beslaan met ‘n spoorvervoernetwerk van 49 km tussen hulle, ontplof? Hoe ver en permanent sal die skade strek wat daardeur veroorsaak word? Wel, mens kan jou dit nie eers indink nie maar dit wag vir ‘n aantal mense wat in die Karoo en selfs heelwat verder woon. Naby De Aar in die Noord-Kaap is die weermag se 97 Ammunisiedepot wat miloene verouderde patrone en oortollige ammunisie, swaar kaliber projektiele, lekkende vliegtuigbomme, onstabiele kanonrondtes en onstabiele missiele daar opberg. Hierdie depo is die grootste in die Suidelike Halfronde. En nou is dit die gevaarlikste plek in ons land.
Die ontploffing in Beiroet, Libanon, het dalk die aandag gevestig op Suid-Afrika se situasie en nou is daar besef dat daar in dié opslagplek werklik ou bomme van meer as 20 jaar is. Wanneer dit so oud word vorm daar kristalle wat dit baie sensitief maak, en selfs statiese elektrisiteit soos dié wat mense se klere ontwikkel, is genoeg om die ou toerusting te laat ontplof. En as selfs net een ontplof, sal dit dit aarde so skud dat die ander ook sal ontplof. As 141 000 ton plofstof op ‘n streep begin ontplof word dit ‘n ondenkbare gebeure!
Soos ons die ANC ken is daar sedert 2015 toe die kontrak verval het met die ontwerpers van die veiligheidstelsel wat in 1993 daar aangebring is, nog geen poging aangewend om die plek in stand te hou nie. In standhou beteken nie net die veiligheidsmeganismes op die perseel nie maar veral dat daar gereeld van die ou bomme en toerusting wat ‘n gevaar word, ontslae geraak moet word deur dit op ‘n veilige manier te laat ontplof. Daarvoor sou ‘n perseel ingerig word wat dit makliker sou maak as die ou metode wat tot 34 jaar lank sou neem om alles te vernietig. Daar het egter niks van gekom nie alhoewel die ANC in 2016 onderneem het om alles by die perseel in stand te gaan maak en op te gradeer. Maar steeds is die meeste van die slotmeganismes by die hekke asook die elektriese stroombaan van die heining, asook die veiigheidskameras by die landingstrook die afgelope jare buite werking. Intussen beweer die weermag die ammunisie is volgens internasionale goedgekeurde kategorieë en metodes geberg en veilig.
Daar is nie woorde om hierdie mense se karakters te beskryf nie. Nie net doen hulle nie hulle plig nie, hulle steel die staatsgelde wat vir die werk begroot is, en dan lieg hulle nog daaroor en oor alles! Dit is nie iets waarvoor mens maar net oë kan toeknyp nie, hulle stel duisende mense se lewens in gevaar! Hoeveel mense en diere se lewens gaan verwoes word wanneer hierdie ENORME BOM ons land tref!