MY STRYD (5)

Lees reeks by My Stryd

Ds AE vd Berg

STAATSDIENSROOF

1.         Dringende behoefte

Suid-Afrika het ‘n baie groot behoefte aan meer blankes in die land.  Terwyl swart-aanwas die hoogte inskiet, neem blankes s’n onrusbarend af.  Daarbenewens het bykans ‘n miljoen kundiges alreeds die land weens onreg en misdaad verlaat.  Die staatsdiens word miskien die slegste hierdeur geraak.  Leë staatsdiensposte word met onbevoegdes gevul waarna alles tot stilstand kom en daar noodgedwonge van blanke konsultante gebruik gemaak moet word om die werk te kom doen - alles met belastingbetalersgeld.

Duisende onbevoegdes beklee tans openbare betrekkinge waarvoor hulle allermins opgewasse of selfs opleibaar is.  Transformasie-aanstellings het al die spot van die land en onbevoegdheid die Achilleshiel van die regering geword.  Net so min as wat ‘n loodgieter ‘n opehartoperasie kan uitvoer of ‘n winkelklerk ‘n kernkragsentrale kan bestuur, kan enigeen ‘n vakkundige staatsdienspos beklee.  Daarvoor is vakkundiges nodig.  Maar nie in Suid-Afrika nie.  Die media berig gereeld van swartes in bestuursposte wat nie eens hul skoolopleiding voltooi het nie.  In my land is dit belangriker dat ‘n swarte die pos vul, as dat die werk gedoen word.  So word bevoegdes skaamteloos beroof.

Onbevoegde swart amptenare veroorsaak dat bevoegde blankes die staatsdiens teen ‘n ontstellende tempo verlaat.  Wie sal die blankes daarvoor verkwalik?   Hulle doen dan al die werk maar ontvang weinig indien enige bevordering.  Daarenteen word al wat onbevoeg is gereeld bevorder.  Dis niks anders ‘n rasse-oorlog teen blankes nie!

2.         Kritiese onvermoë

Onbevoegdes kan geen ekonomie laat opbloei nie.  Hooggeplaaste swartes slaag nie eens daarin om ‘n begroting te laat klop nie!  Desondanks verdien hulle salarisse buite verhouding met hul produktiwiteit.  Wat is dit anders as roof?   In 2006 het die Ouditeur-Generaal onthul dat 14 kabinetsministers in gebreke gebly het om hul besigheidsbelange aan te meld sonder dat een van hulle vervolg is.

Van die 135 oudits wat in 2002-2005 in 34 van die staatsdepartemente gedoen is, was slegs sewe in orde.  Desondanks is daar nie teen die skuldiges opgetree nie.  Dis myns insiens roof met verswarende omstandighede.  In ‘n blanke bedeling sou hulle beslis in die tronk beland het.

Diefstal, bedrog en korrupsie neem deesdae epidemiese afmetinge in die staatsdiens aan.  Is dit aan iets anders as kleuraanstellings toe te skryf?  Wanneer daar senior staatsdiensposte geadverteer word, word daar dikwels gemeld dat slegs swartes vir die aansoek oorweeg sal word.  En ten spyte van die growwe rassediskriminasie, kraai geen haan weer daarna nie.  Indien dieselfde pos slegs vir blankes was, sou die hel behoorlik los wees!

Geen wonder dat kundige blankes die staatsdiens toenemend verlaat nie.  Baie van hulle word doelbewus uitgewerk, veral die bekwames.  Hulle meerdere kennis bring onbevoegdes se onkunde aan die lig waarna die man en nie die bal gespeel word nie.  Baie kundiges is al op hierdie wyse uitgewerk; iets wat Suid-Afrika allermins kan bekostig.

Onbevoegdheid lê die staatsdiens van meet af aan lam en die toestand word al hoe erger.  Swart amptenare kom basies nie die mas op nie.  In plaas daarvan dat hulle ontslaan word, word daar van konsultante gebruik gemaak wat teen ekstra vergoeding die werk doen.  Dit kom op parallelle staatsdiens neer en kos belastingbetalers miljarde per jaar.  Desondanks ontvang die onbevoegdes steeds groot salarisse en vet bonusse.  Is dit nie roof nie?

In die Transvaal het feitlik elke staatsdepartement blanke konsultante in diens.  Die Oos-Kaap is egter die mees korrupte streek in my land waar meer as R3 biljoen aan konsultante in 2002-2003 vermors is (Citizen, 5 Januarie 2006).  In 2005-2006 het die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid ‘n astronomiese R6,1 biljoen spandeer sonder enige bewys waarvoor dit aangewend is (Moneyweb, 8 November 2006).

3.         Geld verdwyn en dienste kwyn

Min staatsdepartemente wend die geld wat vir hulle begroot is reg aan.  Baie daarvan verdwyn sonder dat iemand weet wat daarvan geword het of waarvoor dit aangewend is.  Ja, swartes het geen kuns gouer aangeleer as om die staatskas te dreineer nie!

Op 12 Oktober 2007 het ‘n ontstellende berig in Mail&Guardian verskyn waar die Ouditeur-Generaal die volgende wanbesteding in staatsdepartemente blootgelê het: Wet en Orde (R535 miljoen),  Korrektiewe Dienste (R775 miljoen), Verdediging (R634 milj),  Kuns en Kultuur (R13,4 miljoen), Openbare Werke (R73 miljoen), Gesondheid (R31 miljoen) en Arbeid (R123 miljoen).  Desondanks is niemand tot verantwoording geroep nie.

Die Departement van Binnelandse Sake is sonder twyfel die muishond in die staats-diens.  Behalwe vir korrupte amptenare wat identiteitsdokumente en paspoorte vir eie gewin verkoop, is daar ‘n algehele gebrek aan administratiewe vaardighede.  Daar word skynbaar sterk oorweeg om bevoegdes in die buiteland te gaan werf om die werk te kom doen, asof plaaslike bevoegdheid geheel en al ontbreek.  Nee, dis daar, maar word net moedswillig oor die hoof gesien omdat dit blankes is!

Verhale van luiheid, onbevoegdheid en diefstal loop dik in die staatsdiens.  Slegs die Departement van Finansies en die kantoor van die Ontvanger van Inkomste is nog betreklik gesond omdat dit nie deur onbevoegdes oorheers word nie.  Daarbenewens is alles korrup van munisipaliteite, voertuigtoetsstasies, munisipale ambulansdienste, plaaslike vervoerdepartemente, tot die SA Lugdiens.  Die Citizen van 7 Desember 2007 berig dat in ‘n opname wat van die wêreld se 30 mees korrupte lande gedoen is, Suid-Afrika 24ste lê.