Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die voordeel van pyn en lyding is dat dit ons leer om meegevoel met ander lydendes te hê. Wie al pyn en lyding ervaar het, kan nooit ongevoelig teenoor ander se pyn en lyding staan nie.
SAAMBLY
Saambly is ʼn euwel wat onrusbarend toeneem. In 1990 is die getal mense wat in Suid-Afrika saambly op 10% bereken. Dis tans meer as 43% en styg steeds! Saambly is ’n verhouding wat nooit as ’n amptelike huwelik voltrek word nie, maar nogtans al die wesenlike kenmerke van ’n huwelik dra. In 1970 het die NG Kerk so sterk teen hierdie sonde gevoel, dat sy die regering gevra het om alle saamblyverhoudings buite die huwelik strafbaar te maak.
In 2009 het dieselfde kerk opslae in die media gemaak toe sy besluit het om die moontlikheid van groter verdraagsaamheid jeens saamblyery te ondersoek. Dit het gebeur nadat verskeie lidmate navraag oor die kwessie gedoen en die kerk besluit het om oor die sonde na te dink en besmoontlik te ontsondig.
Die NG Kerk het tans geen duidelike, amptelike beleid hieroor nie. Gevolglik neem baie lidmate ’n baie verdraagsamer houding teenoor saamwoon in. As ʼn kerk homoseksualisme eers veroordeel en daarna ontsondig het, waarom dan nie ook saamblyery nie?
Die Roomse Kerk matig haar op grond van Mt.16:19 die reg aan om sondes te ontsondig. Nodeloos om te sê, is haar interpretasie van Mt.16:19 korrup. Geen kerk mag sonde ontsondig nie. Dis om God te tart!
Daar was in die verlede talle pogings om saamwonery te probeer regverdig. Nie een van die argumente het die toets van die Skrif geslaag nie. Dis ’n verbreking van die sewende gebod wat alle buite-egtelike geslagsomgang verbied.
God veroordeel alle vorms van onkuisheid. Daarom moet gelowiges binne en buite die huwelik kuis leef: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees….” (Heb.13:4). Gelowiges se liggaam en siel is vir God afgesonder. Daarom veroordeel Hy alle onkuise dade, woorde, gedagtes en selfs begeertes.
Saamblyery verbreek nie net die sewende gebod nie, maar ook die derde wat eerbied vir God se Naam eis. Die Bybel roep gelowiges op om Hom te loof. “Laat alles wat asem het, die Here loof…” (Ps.150:6). Sy Naam is groot en moet geheilig word. En dis net moontlik indien gelowiges uit dankbaarheid vir die verlossing in Jesus Christus ook hul liggaam aan Hom wy en niks doen wat Hom oneer aandoen nie.
In die verlede het mense wat saamgewoon het die reëls van die samelewing verwerp sonder om ʼn flenter om te gee wat die gemeenskap daarvan dink. Niks het intussentyd verander nie. Wie geen eerbied vir God het nie se lewe is gewoonlik slordig. Saamwonery is hoerery! Omdat dit oor eiebelang bo God se belang gaan kan sulke mense Jesus nie liefhê nie. Hulle hou hul doof vir die Woord van God.
Benewens die sewende en derde gebod is saambly ook ’n verbreking van die tweede gebod wat afbeeldinge van God verbied. Die mens is na die beeld van God geskep. Daarom moet daar dan ook iets van God in sy optrede raakgesien word. Ons word nie slegs verbied om ’n beeld van God te maak nie, maar ook gebied om die beeld van God te vertoon. “… om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun….” (Rom.8:29). Enige optrede wat die beeld van God oneer aandoen, is sonde.
In Mt.5:14 gee Jesus aan alle gelowiges opdrag om hul lig voor die mense te laat skyn. Ons weerkaats God se lig soos met ’n spieël. En daarvoor moet ons spieëls skoon wees. Sonde maak dit vuil: “Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Fil. 2:14,15).
Sonde maak mense stil. Mense wat saambly, praat nie oor Jesus of hul geloofslewe nie. Sonde maak hulle kragteloos. En dis nie wat Jesus wil hê nie. “... maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees…” (Hand.1:8).
Mense wat saambly, sê graag: “Dis my lewe; wat ek daarmee doen, is my saak en niemand anders s’n nie!” Dis dwaas! Die Heidelbergse Kategismus leer ons op grond van die Woord van God dat ons met liggaam en siel nie aan onsself behoort nie, maar aan God. Wie baasspeel oor dit wat nie sy eie is nie, is vermetel!
Daarbenewens moet ons deeglik rekening met die sondige wêreld hou. Die wêreld word nie beter nie, maar slegter. Gevolglik het gelowiges ’n taak om aan die wêreld te toon hoe om reg te leef. Hulle moet anders wees. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed…” (Rom.12:2).
Die Bybel ken net een samevoeging van man en vrou en dis die huwelik; ’n instelling van God waardeur een man en een vrou lewenslank deur liefde en trou aan mekaar verbind word. Die Bybel sê dat die huwelik ’n afbeelding van die verhouding tussen Jesus en sy gemeente is. Daarom kan dit nooit sonder Jesus wees nie. Saambly is ʼn ergerlike bespotting van die huwelik wat Jesus uitsluit; Hy wat juis die Rots is waarop die huwelik gebou moet word!
Baie mense beskou saambly as ’n proefhuwelik om te sien of dinge sal uitwerk. Dis vreemd aan die Skrif. Daarvoor is daar ʼn verlowingstyd. Wat mense wat saambly ook al oor die huwelik sê, is nie belangrik nie. Die huwelik is ’n afbeelding van die verhouding tussen Christus en sy kerk en saamwoon gevolglik ’n mismaaksel daarvan. Jesus doen dit nie met sy kerk nie, maar dien haar met volle oorgawe.
Saamblyery is Satan se nabootsing van die huwelik. Die Skrif waarsku: “... en gee aan die duiwel geen plek nie….. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie…” (Efes.4:27,30).
Daarom wys alle Skrifgetroue kerke saamwoonverhoudings af. Indien hulle dit nie doen nie, kan hulle geen boodskap van vergifnis oor die sonde verkondig nie. God verander nie. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde tot in ewigheid” (Heb.13:8).
Niemand durf die Bybel se waarheid verander om by die kultuur van die dag aan te pas nie. “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” (Mt.24:35). Openb.22 waarsku dat ons niks mag leer wat nie in die Bybel staan nie.
Skrifgetroue kerke het ’n groot taak om van God se onveranderlike waardes in ’n verworde samelewing te getuig. Hulle is die kragdraad waardeur God se stroom van genade vloei. “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal.5:16).