Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde handel nie onwelvoeglik nie...
GENADEDOOD
Genadedood is ʼn misleidende benaming. Dit moet eerder selfdood of lewensbeëindiging genoem word. Ongelukkig het mense gewoond geraak aan lelike dinge wat in mooi papier toegedraai is soos regstellende aksie en swart bemagtiging. Vir die doel van dié onderwerp volstaan ek egter by genadedood omdat dit die meer bekende benaming is.
Genadedood (Grieks: Eutanasie) is die doelbewuste optrede om ʼn persoon so pynloos as moontlik te laat sterf; die verkorting van ʼn sterwensproses wat onherroeplik tot die dood lei. Dit word ook geassisteerde dood genoem omdat iemand wat erge lyding ervaar met behulp van ʼn professionele persoon selfmoord pleeg. Dit word hoofsaaklik in gevalle waar iemand aan ʼn ongeneeslike siekte ly en erge pyn verduur, uitgevoer. Die behoefte om so ʼn mens se pyn te verlig, is dan so sterk dat dit die natuurlike drang om die lewe te behou, geheel oorskadu.
Genadedood kom ter sprake waar daar menslik gesproke ʼn besliste aanduiding van ʼn spoedige dood is. Maar kan ʼn mens dit werklik bepaal? Sekerheid is relatief. Die dood het sy eie tyd en ritme en ons liggaam dikwels die aambeeld van pyn en beproewing.
Die vraag of die genadedood in Suid-Afrika gewettig moet word, het ʼn tyd gelede in die nuus gekom toe Desmond Tutu sy ondersteuning daarvoor bekend gemaak het. Hy het gesê dat die genadedood die risiko vir mense wat erg ly om selfmoord te pleeg sal verlaag en nie geassisteerde selfmoord is nie.
George Carey, ʼn voormalige aartsbiskop van Canterbury, het ook te kenne gegee dat hy wetgewing ten gunste van die genadedood in Brittanje gaan ondersteun. Justin Welby, die huidige aartsbiskop, het dit egter as verkeerd en baie gevaarlik veroordeel. Die Anglikaanse Kerk is amptelik teen genadedood gekant.
Met sy steun vir die genadedood het Tutu die soveelste gruwel probeer ontsondig. Hy is bv. openlik ten gunste van aborsie, homoseksuele verhoudings en huwelike van dieselfde geslag. Geen wonder dat ds. Theunis Botha, leier van die Christen Demokratiese Party, so ʼn paar jaar gelede gesê dat indien Christus nog op die aarde was, Hy Tutu ʼn seun van die Satan sou noem!
Die groot fout wat Tutu maak, is om die genadedood as ʼn menseregtekwessie en nie ʼn godsdienskwessie te beoordeel nie. Hy was ook in die nuus toe hy gesê het dat net omdat iets in die Bybel staan, dit nie noodwendig waar is nie. Hy het spesifiek na Paulus se briewe verwys waarin hy homoseksualisme veroordeel. Tutu sê dat dit aanstoot aan mense met ander seksuele oriënterings gee en dat hy nie ʼn God kan aanbid wat homoseksualiteit veroordeel nie.
In die mediese wetenskap is genadedood verkeerd. Medici kan nie genees sowel as doodmaak nie. Hierdie stryd is niks nuut nie. Dis een van die oudste verhale in die Bybel - Job se begeerte om eerder te sterf as om verder te ly. “En mag dit God behaag om my te verpletter, sy hand uit te strek en my af te sny!” (Job 6:9). In 7:15,16 sê hy dat hy net ʼn geraamte is en sy lewe verfoei.
Die Bybel erken sulke gevoelens, maar onderskryf geensins die genadedood nie. Die profeet Elia wat vir Agab gevlug, onder ʼn besembos gaan lê en gewens het om te sterf, is ʼn sprekende voorbeeld hiervan (1 Kon.19:4). Toe ʼn Filistynse oorwinning ʼn uitgemaakte saak was, het Saul sy wapendraer om ʼn genadedood gevra: “Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee....” (1 Kron.10:4). Hy het geweier en saam met sy koning gesterf.
Die lewe is die somtotaal van ons besluite. God gee ons egter geen reg om oor die lengte van ons lewe te besluit nie; slegs die gehalte. Ons weet dat ons almal gaan sterf. Dis skuld wat vereffen moet word. Die Bybel laat egter geen ruimte om die dood te verhaas nie. Dit moet ons egter nie moedeloos maak nie. Niks gebeur met gelowiges waarvoor God hulle nie krag gee nie. Christus neem nie altyd ons leed weg nie, maar vul ons lewe met sy teenwoordigheid.
God verstaan dat ons soms so moedeloos kan word dat ons soos Elia wens om eerder te sterf. Ons leef egter nie op gevoel nie, maar deur die geloof. “.... Maar die regverdige sal uit die geloof lewe” (Rom.1:17). Die kind van God word lewenslank deur sy geestelike oortuigings gelei; ook wanneer dit by pyn, lyding en die dood kom.
God se weë is nie ons weë nie. Hy stap soms moeilike paaie saam met ons. Hy bly egter die Gewer en Onderhouer van die lewe: “U is alleen Here, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare gemaak .... en U hou alles in die lewe....” (Neh.9:6). Ons het dus geen reg om ons eie lewe te beëindig nie.
Job het so moedeloos in sy beproewing geword, dat hy aan selfmoord begin dink het. Elihu waarsku hom: “Moet ook nie jou toevlug neem tot sonde nie, jy verkies dit immers bo swaarkry” (Job 36:21). Dis ook so met genadedood. Mense weet dis verkeerd, maar gaan desondanks voort net om van pyn verlos te word. God verstaan, maar verskoon dit nie. Die besluit oor wanneer en hoe ons sterf, berus by God alleen. “... en niemand het mag oor die dag van die dood nie....” (Pred.8:8).
Genadedood is ʼn vergryp teen God se doel met die lewe. Hy gee die lewe. Dis ʼn gawe. Wie dit beëindig, gooi hierdie geskenk as’t ware in Sy gesig terug. Nee, die reg om ʼn lewe te beëindig, is alleenlik God se besluit.
Genadedood is ʼn tameletjie vir medici. Enersyds wil geen dokter iemand se lewe in sy hande neem nie. Andersyds wil hy ook nie die sterwensproses lank laat duur nie. Op watter punt laat ʼn dokter iemand sonder om enige verdere genesingstappe te neem toe om te sterf?
Genadedood is bystand-selfmoord. Medici staan mense by om selfmoord te pleeg. Hulle doen die nodige voorbereiding waarna die persoon self die proses aan die gang sit. Al probeer mense die genadedood goed en waardig te laat voorkom, verander dit niks aan die feit dat dit selfmoord en derhalwe sonde is nie. Dis strenggesproke ʼn ydele poging om God se gesag uit te daag!
Die mensdom het in ʼn doodskultuur verstrengel geraak - aborsies neem oorhand toe terwyl wetgewing ten gunste van die genadedood aangemoedig word. Dis ʼn klemverskuiwing van die lewe na die dood. God se fokus op die lewe word omgekeer. Dit smaad die lewe en omhels die vloek!
Die dood is ʼn natuurlike vyand: “Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood” (1 Kor.15:26). Die lewe daarenteen is ʼn gawe van God: “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas....” (Gen.2:7). Selfs toe daar ʼn keuse tussen lewe en dood ontstaan het, is Israel aangesê om die lewe te kies: “... Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deut.30:19).
Alle sondaars is bestem om te sterf. Dawid sê: “Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het!” (Ps.89:48). “En net soos die mense bestem is om eenmaal te sterwe...” (Heb.9:27). God gee die lewe. Ons is huurders daarvan. Hy kan hierdie huur enige tyd opskort!
Dit gebeur soms dat God sy doel met ʼn mens se lewe deur lyding bereik. Dit maak mense nederig en laat hulle hul afhanklikheid van God besef. Daarom het Hy meegevoel met elkeen wat tot Hom bid om hul lyding te beëindig. Hy weet die beste. Sy tydsberekening is volmaak.
Beproewing is nooit sonder verborge genade nie. Daarom durf niemand hul vir ʼn voortydige beëindiging van die lewe beywer nie. Om die dood doelbewus te verhaas, is en bly sonde. So ook om op uitsonderlike maniere die lewe met mediese apparate te verleng terwyl die dood onafwendbaar is. Wie ’n goeie lewe lei, sal die lewe sonder hartseer verlaat.
Die lewe is nie ’n besitting waaraan ons moet vasklou nie. Die dood is ʼn huiswaarts reis waarna ons moet uitsien: “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam te woon en by die Here in te woon” (2 Kor.5:8). Hoe ʼn mens sterf maak nie saak nie. Hoe hy leef, is belangrik. “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid...” (Jak.1:5).
Vrysinnigheid is besig om kerke te vernietig. Al hoe meer kerklui spreek hulle ten gunste van genadedood uit. Dit gaan vir hulle oor menslikheid en meegevoel en nie die Bybel nie.
België is die eerste land waar kinders wat terminaal siek is, die genadedood mag aanvra. Sedert 2002 kan enige persoon ouer as 12 jaar in Nederland dit aanvra. In 2012 is daar reeds 1,432 gevalle van genadedood in hierdie land aangeteken.
Die argument word aangevoer dat die genadedood ʼn genadige uitweg is vir iemand wat weens pyn en lyding sy menswaardigheid verloor het. Was Jesus dan nie die lydende God op aarde nie? Behoort Hy dan nie vir ons ʼn voorbeeld te wees nie?
Die Bybel is baie duidelik. Wie sy lewe voortydig beëindig, pleeg selfmoord en oortree die sesde gebod. Laat ons elke dag voluit lewe. Al eindig dit ook met erge lyding. Dit sal ʼn boodskap wees vir almal wat ons geken het. Kom ons hardloop op die lewensbaan totdat die doodsklok lui!