NIKS IS NUUT NIE (8)

Dries Bergman

Lees reeks by Niks Is Nuut Nie

MOEILIKHEID IN DIE BOEREPUBLIEKE

"Om swartes teen Boere te bewapen, was dwaas en konfrontasiesoekery.  Dit kon nie anders as om op rassebotsings uit te loop nie.  Dis tragies dat mede-blankes die aanhitsers moes wees!  ...
Die Transvaalse swartes was uitsonderlik wreed.  In 1854 is Hermanus Potgieter, broer van Andries Potgieter byvoorbeeld op die grond met penne vasgespyker en onder barbaarse toejuiging lewendig afgeslag! Die strafkommando wat daarna uitgestuur is, het by die een kraal uitgebraaide mensvet en by ‘n ander op mensehande wat oor 'n spit gebraai is, afgekom."

Die burgers van die Oranje Vrystaat (OVS) het gereeld onder die Basoetoes se stroop- en plundertogte deurgeloop. Nadat die OVS in 1854 selfbestuur verkry het, het opperhoof Mosjesj sy onderdane aangehits om die grense oor te steek en op die Boere se grond aanspraak te maak.  Dit het Sir George Grey genoodsaak om met die swart rusverstoorder 'n vredesverdrag te sluit ten einde oorlog te voorkom.

Die Basoetoes het hulle egter nie aan hieraan gesteur nie en hul rooftogte op blanke eiendom hervat.  Duisende swartes het oor die grens gestroom en alles in hul pad geplunder en vernietig.  Talle Boerewonings is in die proses afgebrand en landerye verwoes.  Dit het die OVS geen ander keuse gelaat as om oorlog teen die swart booswigte te verklaar nie.

Toe Grey gevra is om tussenbeide te tree, het hy die OVS gelyk gegee waarna die geslepe Basoetoes hul vyandelikhede tydelik gestaak net om dit spoedig weer te hervat.  Nadat etlike plase afgebrand, boere vermoor en vee geroof is, het die Tweede Basoetoe-oorlog uitgebreek.

Hierdie keer het president Brand 'n dringende versoek aan die nuwe goewerneur, sir Philip Wodehouse, gerig om as bemiddelaar in die geskil oor die vasstelling van die grense tussen die OVS en Basoetoeland op te tree.  Die werklike toedrag van sake het Wodehouse sprakeloos gelaat nadat hy in Oktober 1864 persoonlike ondersoek ingestel het.

Daarna het hy ‘n sterkbewoorde brief aan Mosjesj gerig en as volg geskryf:  "Wat gaan aan?  Van die een punt van die grenslyn tot by die volgende een, het bendes van jou stam hulle op verskillende plase gaan neerplak sonder dat hulle die reg daartoe het.  Hulle het hul op verskillende plase neergeplak, statte gebou en die wettige eienaars gedwing om van hul plase af pad te gee.  Oral is verlate, daklose plaashuise sowel as aanplantings wat ten gronde gaan te sien" (Vry vertaal uit "Basutholand Records 111", p.306).

Wodehouse was egter ‘n marionet aan ‘n lyntjie en is gou deur sy meerderes gedwing om van deuntjie te verander en 'n vriendeliker, verdraagsamer houding teenoor die booswigte in te neem.  Telkens wanneer dit gelyk het asof die Basoetoes die oorhand gaan kry, het die goewerneur geen vinger verroer om die Boere te help nie.  Wanneer die Boere die oorhand gekry het, het Wodehouse glo gesê: "Ek sal jammer wees as hulle slaag" (Scholtz, p.388).

Die Vrystaatse burgers het derhalwe besef dat alvorens hulle die Basoetoes nie verslaan nie, hulle nooit met rus en vrede gelaat sou word nie.  Gevolglik het hulle die een suksesvolle aanval na die ander geloods en die swart boosdoeners goed op hulle baadjie gegee.  Toe die skrif vir Mosjesj aan die muur was, het hy die Britse goewerneur versoek om die Basoetoes onder Britse beskerming te plaas.  Wodehouse het die Basoetoes tot Britse onderdane verklaar en Basoetoeland in Maart 1868 by die Britse Ryk ingelyf.

Hierdie inlywing het die OVS van 'n oorwinning beroof.  Wodehouse se optrede was enersyds 'n skending van die Bloemfonteinse Konvensie omdat die owerheid die burgers doelbewus gedwarsboom het.  Andersyds kon die plaaslike Britse owerheid die grens tussen die OVS en Basoetoeland voortaan vasstel en die eerbiediging daarvan afdwing.   Die swart rowers sou nou baie makliker vee kon roof, aangesien enige gewapende optrede teen hulle oorlog met hul beskermheer (Engeland) sou beteken.   Gevolglik was die burgers van die OVS meer as ooit tevore aan die swart roofkultuur uitgelewer.

In die Transvaal het dinge nie veel beter verloop nie. Toe die Voortrekkers oor die Vaalrivier getrek het, het hulle uitgestrekte gebiede gevind wat as gevolg van stamoorloë grootliks onbewoon was.   Die Matabeles was berug vir hul oorlogsugtigheid en wreedheid.  Desnieteenstaande het hulle goed op hul baadjie gekry toe hulle die Voortrekkers aangedurf het.  Die vestiging van die Boerevolk het dus vir kleiner swart stamme 'n mate van rus en vrede gebring.

Miskien moet al die kleiner swart stamme wat hierdie gebiede tans bewoon, ophou kla oor blankes se sogenaamde onregte van die verlede.  Hulle moet eerder dankbaar wees dat die Voortrekkers vir hulle 'n toekoms verseker het.  Was dit nie vir laasgenoemdes nie, het baie van hierdie stamme besmoontlik ophou bestaan!

Stank vir dank is egter wêreldsloon.  Die betrokke swartes het geen dankbaarheid teenoor hul blanke rusbewerkers getoon nie, en kort voor lank ook hulle vee begin steel.  Die roofkultuur was by die plaaslike bevolking net te sterk ingeburger.  Diefstal en roof was en bly tot vandag toe nog die hoofoorsaak van rassebotsings.   Desnieteenstaande vind die skuldiges gerieflikheidshalwe altyd iets of iemand om vir hul vergrype te blameer.

Bevooroordeelde, negrofilistiese sendelinge het ook in die Transvaal rasseverhoudinge vertroebel.  Die befaamde ontdekkingsreisiger en Britse sendeling, David Livingstone, was een van hulle.  Hy het geen goeie woord vir die Boerevolk gehad nie en was soos sy sendeling-skoonvader, Henry Moffat, fel teen die toekenning van onafhanklikheid aan die Transvaal gekant.  Gevolglik het hulle alles in hul vermoë gedoen om dit te verhoed, maar toe al hulle pogings misluk, het Livingstone swartes van wapens en ammunisie voorsien om hulle kwansuis teen die Boere te beskerm.  Daarna het hy talle amptelike verslae na Londen gestuur wat almal van laster en leuens teen die Boerevolk deurspek was.

Hierna het gewapende rooftogte ‘n nuwe verskynsel in die Transvaal geword.  Duisende stuks vee is in die proses geroof. Nadat daar ferm teen hulle opgetree is, is aansienlike hoeveelhede wapens in etlike krale gevind.  Kommandant-generaal P.E Scholtz het in sy verslag geskryf dat hulle in Livingstone se hut byvoorbeeld meer gewere as Bybels gevind het sodat dit meer na 'n arsenal as na 'n sendingstasie gelyk het!

Om swartes teen Boere te bewapen, was dwaas en konfrontasiesoekery.  Dit kon nie anders as om op rassebotsings uit te loop nie.  Dis tragies dat mede-blankes die aanhitsers moes wees!  Etlike van hierdie skoorsoekers was werklik baie swak karakters. Richard Southey wat in 1874 as luitenant-goewerneur van Griekwaland-Wes aangestel is, het byvoorbeeld smokkelhandel in vuurwapens en drank toegelaat.

Die Transvaalse swartes was uitsonderlik wreed.  In 1854 is Hermanus Potgieter, broer van Andries, en sy geselskap tydens 'n jagtog in die Oos-Transvaal deur Makapan se mense oorval en doodgemartel.  Potgieter is byvoorbeeld op die grond met penne vasgespyker en onder barbaarse toejuiging lewendig afgeslag!

Die strafkommando wat daarna uitgestuur is, het by die een kraal uitgebraaide mensvet en by ‘n ander op mensehande wat oor 'n spit gebraai is, afgekom.  Nadat die barbare die stryd aangesê is en die wind sterk van voor gekry het, het hulle die Makapangrotte ingevlug.  Die strafekspedisie het 'n groot vuur by die ingang aangesteek en dit met klippe en boomstompe toegepak waarna 3000 van die kanibale omgekom het.

Toe Livingstone daarvan te hore kom, het hy 'n lasterlike verslag aan die LSG gestuur waarin hy die leuen versprei het dat Boere die swartes aangeval het ten einde van hulle slawe te maak.  Die Britte het sy leuens vir soetkoek opgeëet en die filantrope byna histeries gehad.  Die Transvalers is vir hul vergeldingstappe teen die kanibale as gevoellose verdrukkers van die edele barbare veroordeel!

Livingstone se skaamtelose verdraaiing van die waarheid was die soveelste kwaadwillige aanval van 'n kerklike op die Boerevolk.  Waarom het Livingstone hom nie eers van die ware feite vergewis alvorens hy sy hand op papier gesit het nie?  Het sy Bybel dan slegs agt gebooie gehad?   Wat van die negende een?  Sy leuens het tot die eerste Britse anneksasie van die Transvaal bygedra.

Die Sekoekoenie-oorlog (1876) het uitgebreek nadat swartes vee in die Lydenburgdistrik begin steel het.   Tydens hierdie kort oorlog is talle van die boosdoeners soos ongewensde roofdiere uitgewis.  Sir Henry Barkly, die nuwe goewerneur en gedugte teenstander van die Boerevolk, het die Boere vir die oorlog blameer en Livingstone se  leuen geglo dat die Boere oorlog voer ten einde slawe te verkry.   Barkly het egter net ‘n handige verskoning gesoek om die Transvaal vir Brittanje te annekseer.

Na die anneksasie het die plaaslike owerheid koorsagtig na swartes in slawerny gesoek, maar nie een gevind nie, waarna biskop Colenso 'n sterkbewoorde brief aan Brittanje gerig het: "Ek vertrou dat julle nou uit ondervinding geleer het om nie soveel waarde aan telegramme en selfs amptelike telegramme te rig alvorens julle ook die ander kant van die saak aangehoor het nie.  Die Engelse koerante wat ons hier ontvang, wemel van lelike aantuigings teen die Boere, asook artikels oor hul onderduimsheid, wreedheid en bloeddorstigheid.  Dis alles 'n klomp verdigsels sonder 'n greintjie waarheid daarin". (Vry vertaal uit “Bishop Colenso”).

In dieselfde skrywe wys die biskop Brittanje daarop dat 800,000 swartes vrywillig onder die bestuur van die ZAR gewoon het.  Indien dit vir hulle enigsins gevaarlik was, sou hulle eerder Natal toe gevlug en die plaaslike Britse owerheid om beskerming teen die bloeddorstige Boere gevra het.  Dit was volgens hom die beste bewys dat die beskuldigings teen die Boere van alle waarheid ontbloot was.  Baie van die swartes het selfs 'n Boere-owerheid bo dié van die Engelse verkies.  Colenso was uiters ontsteld dat hierdie leuens spesifiek deur kerklui versprei is!

Die plaaslike Britse owerheid het by enkele geleenthede self onder die edel barbare deurgeloop en ervaar dat die swartes geensins so voorbeeldig was as wat die negrofiliste voorgegee het nie.  Hulle was gewetenslose boosdoeners wat geen agting vir ‘n ander se besittings of lewe gehad het nie.  Tydens die slag van Isandhlwana is meer as 800 Britse soldate grusaam deur Zoeloes om die lewe gebring.  Die Britte het hul egter by die slag van Ulundi gewreek en duisende Zoeloes uitgewis sonder dat een Boer hulle daarvoor verkwalik het.  Die wraakaanval het selfs nie onder die negrofiliste en sendelinge negatiewe reaksies ontlok nie. Slegs die Boerevolk durf hom nie op sy vyande gewreek het nie!

In dieselfde tyd het die Vrystaatse burgers vir die soveelste keer onder swart veediewe deurgeloop.  Hierdie keer was dit 'n perd van 'n ander kleur.  Die veediewe was gewapen!  Dit het die plaaslike owerheid so onrustig gestem, dat die Kaapse Parlement 'n Ontwapeningswet (1878) aangeneem het waardeur swartes ontwapen kon word.

Die Basoetoes het niks van hierdie nuwe wetgewing gehou nie en hulle met behulp van Franse sendelinge daarteen verset.  Toe hulle weier om hul wapens af te staan, was daar oorlog in die lug.  Toe die verraderlike koloniale sekretaris, Lord Kimberley, daarna ook sy morele steun aan die Basoetoes toegesê het, was oorlog onvermydelik.

Die owerheid kon uiteraard geen steun van die plaaslike burgerkommando verwag nie. Daarby was Lord Kimberley fel teen ‘n militêre optrede gekant en het gesorg dat Brittanje geen hulp sou verleen nie.  Om alles te bekroon is die plaaslike owerheid verbied om na goeddunke te handel.  Dit was natuurlik water op die booswigte se meule!   Na etlike bloedige skermutselings is Basoetoeland in Maart 1884 finaal by Brittanje ingelyf.

Eerwaarde John Mackenzie was nog ‘n Britse sendeling met 'n gereserveerde liefde vir sy medemens.   Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy die swartes hartstogtelik liefgehad en die Boerevolk met 'n passie verag het nie.  Mackenzie het as verteenwoordiger van die LSG in Betsjoeanaland onder die Barolongs gewerk.  Toe hy later as Britse gesant in Betsjoeanaland aangestel is, het hy van die politiek net so ‘n gemors as van sy evangeliebediening gemaak!

Toe die Barolongkaptein hoor dat Mackenzie in Betsjoenaland aangestel is, het hy 'n inval oor die grens gemaak en geglo dat Mackenzie hom teen weerwraak van die Transvaalse burgers sou beskerm.  Tot sy teleurstelling het dit nie gebeur nie.  Mackenzie was onbekwaam en sonder militêre mag om enige gesag af te dwing.  Gelukkig was sy diplomatieke loopbaan van korte duur.

Ontspoorde kerklui maak altyd swak politici uit.  Alhoewel Britse kerklui talle politieke foute in die verlede gemaak het, oortref die mistastings van die kerklui van die twintigste eeu alle blapse. Hierdie eeu kan terreg as ‘n eeu van ongekende kerklike verraad teen die Boerevolk beskryf word. Wat dit so uitsonderlik maak, is dat dit nie  buitelanders nie, maar mense uit eie geledere was wat ons soveel skade berokken het!  'n Mens dink hier veral aan die skandalige optrede van dr. Beyers Naudé, ‘n kerklike wie se doen en late so skadelik was, dat die staat genoodsaak was om hom in 1977 in te perk!