U sal weet van die skandemakers wat onlangs met ‘n sogenaamde 10-punt vredesplan na Oekraïne en Rusland toe wou gaan. President Zelensky van die Oekraïne het hom nie aan die vredesplan gesteur nie en sy eie eise gestel. In Pole waar hulle geland het, dit is nou Ramaphosa, sowat honderd ekstra veiligheidspersoneellede – nie almal verklaard nie – , taakmaglede, bomdeskundiges, joernaliste, van die weermag se spesiale magte en ‘n aantal ander Afrika-staatshoofde, was die skandes nog erger. Hulle papierwerk vir die reis was onvoldoende en die vliegtuig waarmee hulle gereis het, was propvol wapens en ammunisie wat nie aan die Poolse regering verklaar is nie. Daarom moes die vliegtuig sowat 26 uur lank op die aanloopbaan staan voor die veiligheidsmense en joernaliste die vliegtuig kon verlaat. Natuurlik is die Poolse regering vir rassiste uitgeskel maar die president van Pole, mnr. Andrzej Duda, het vas bly staan en geen reël gebuig om die Suid-Afrikaners te pas nie.
‘n Brief is namens die groter lugvaartgemeenskap van Suid-Afrika aan die Poolse president deur ene mnr. Duncan Gillespie geskryf waarin hy die president bedank en ‘n paar sake uitklaar:
“Baie dankie dat u die regte ding gedoen het om internasionale wette en konvensies toe te pas op die gehuurde Suid-Afrikaanse Lugdiensvlug wat per kontrak aan ons regering verhuur is, en wat moedswillige verontagsaming en onkunde van internasionale regulasies getoon het in die vervoer van onverklaarde passasiers, asook militêre wapens en ammunisie.
“Ons regering en hul swak gedissiplineerde boewe, wat hulle voordoen as 'beskermingselemente' vir die politici wat ons land uitgeroei het, se ekonomie en infrastruktuur vertoon dikwels optrede wat hulle buite die wet plaas. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens, 'n staatsentiteit, ondersteun deur ons regering en by baie geleenthede onwettig bygestaan om voorvalle en regulatoriese wanpraktyke te verbloem deur ons lugvaartreguleerder, het 'n onlangse geskiedenis van verontagsaming van internasionale standaarde en prosedures.
“Die bitterheid en onbeskoftheid wat ons regering aan die dag lê deur te glo dat hulle kan bemiddel in 'n groot noordelike halfrond-konflik, wanneer hulle self nie in staat is om ons land behoorlik te bestuur nie, of enige sukses in streekskonflikte kan toon waarin hulle ons seuns en dogters werp nie, ontstel die oorgrote meerderheid van ons Suid-Afrikaners.
“Aanvaar asseblief ons opregte verskonings vir die posisie waarin die optrede van ons politieke meesters en hul lugvaart- en militêre entiteite u en u mense hierdie week geplaas het. Ons, van die groter lugvaartgemeenskap in Suid-Afrika, is diep verleë en opreg spyt oor hierdie gebeurtenis en vertrou dat u sal besef dat hierdie denkbeeldige charade deur ons regering, min tot geen ondersteuning geniet deur die groter Suid-Afrikaanse bevolking”.
Mnr. Gillespie het daarmee die saak in die reine probeer stel maar dalk het die buiteland nog so ‘n ietsie van die ANC-regime geleer.