Juliemaand vanjaar, en die eerste week van Augustus, het ons sterk herinner aan die wekelange geweld in Natal in Julie 2021. Die patroon van algehele anargie wat weke lank duur, kom al meer voor, en dit dui telkens op ’n disfunksionele staat en ’n disfunksionele samelewing.
Die een geval wat sterk in die nuus was, was die skadelike staking van werkers in die Tshwane-munisipaliteit. Regoor Pretoria is dienslewering ontwrig, betogings gehou en paaie versper. Dit het gepaard gegaan met aanvalle op werkspanne wat elektriese herstelwerk moes doen. Selfs gesondheidswerkers is aangeval waar hulle opgedaag het om noodhulp te verskaf.
Die tweede ontstellende geval van geweld was natuurlik die ontwrigtende taxi-staking in die Wes-Kaap, waar 10 busse aan die brand gesteek is, paaie versper is met brandende bande, winkels geplunder en geboue aan die brand gesteek is. Die aanvalle op busdienste duur nou al vir etlike maande, waar bendes verbonde aan taxi-vakbonde op busse vol passasiers skiet, veral op die roete tussen die Kaap en die voormalige Transkei (die Oos-Kaap Provinsie).
Dit was egter nie die enigste gevalle nie. In Riverlee, suid van Johannesburg, was daar wekelange terreur aan die orde van die dag in gevegte tussen onwettige mynwerkers onder mekaar, en waar die inwoners ook met misdaad en geweld geïntimideer is. Die SAP was onmagtig om ’n spoedige einde aan hierdie onrus te maak. ’n Spesiale taakmag moes saamgestel word om ’n mate van beheer daaroor te kry, terwyl desperate inwoners gevra het dat die weermag dringend in die gebied ontplooi moet word omdat die polisie klaarblyklik nie die krisis te bowe kan kom nie.
In dieselfde tydperk het ’n hele reeks plaasaanvalle voorgekom. In een bepaalde week in Julie is daar sewe plaasmoorde aangeteken. Plaasaanvalle duur onverpoosd voort in Suid-Afrika.
So pas is ’n bejaarde boer in Oos-Transvaal oorval en vasgebind. Daarna het ’n konvooi bakkies opgedaag om groot getalle van sy bokke en skape op te laai en weg te voer. Sy skade word beraam op R300 000. Dié geval dui op georganiseerde terreur, veediefstal en roof wat duidelik niks met “normale misdaad” (soos die ANC dit noem) te doen het nie.
Met dank aan die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis