Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hou op om te wonder wat mense van jou dink wanneer jy dit of dat doen; doen ALLES vir die HERE en jy sal vind dat jy die regte dinge vir die regte mense op die regte tyd gedoen het.
DIE MEES GEDUGTE KRYGSMAG IN AFRIKA (6)
DIE SUID-AFRIKAANSE LEËR
Samestelling
Die SA Leër is saamgestel uit 'n Voltydse en 'n Deeltydse Mag. Die Voltydse Mag bestaan uit 'n betreklik klein kerngroep, te wete die Staande Mag wat aangevul word deur dienspligtiges wat hul aanvanklike diensplig ondergaan.
Die Deeltydse Mag, wat die grootste deel van die Leër se slaankrag uitmaak, bestaan uit die Burgermag en die Kommandomag.
Missies
Die SA Leër is derhalwe oorwegend 'n burgermag met drie hoofmissies: Die landwaartse verdediging van Suid-Afrika; samewerking met die SA Polisie in die handhawing van wet en orde in die RSA; en hulpverlening aan burgerlike owerhede ten opsigte van noodlenigingsaksies.
Organisasie
Ten einde hierdie funksies te verrig, is die SA Leër in twee hoofkomponente verdeel, nl 'n Konvensionele Mag en 'n Gebiedsmag.
Die Konvensionele Mag
Die Konvensionele Mag bestaan uit twee divisies en een outonome valskermbrigade. Elke divisie beskik oor drie gemeganiseerde brigades. Indien omstandighede dit vereis, kan 'n addisionele voltydse mag-brigade, wat onafhanklik of saam met die deeltydse magte kan optree, saamgestel word.
Elke brigade is saamgestel uit een tenkregiment, twee gemeganiseerde infanteriebataljons, 'n pantserkarregiment,'n artillerieregiment, 'n genieregiment, 'n veldwerkplaas en sein- en onderhoudseenhede.
Die valskermbrigade beskik oor drie bataljons en 'n regiment ligte artillerie toegerus met 120 mm mortiere en toepaslike ondersteuningseenhede.
Die Konvensionele Mag word bykans algeheel deur Burgermaglede beman, terwyl Staandemaglede hoofsaaklik die boonste bevels-, staf- en sleutel-administratiewe poste beklee.
Soos sy naam en struktuur implisiet aandui, is hierdie mag daarop ingestel om konvensionele maar hoë mobiliteitsoperasies te voer. Dit geskied dikwels oor lang afstande en gebiede met swak padverbindings en 'n ontoereikende infrastruktuur. Sy gemeganiseerde slaankrag lê opgesluit in die taai Ratel infanteriegevegsvoertuig, die kragtige Olifant tenk, die beweeglike Rooikat pantserkar en die gesofistikeerde G-5 en G-6 artilleriestelsels. Hierdie wapenstelsels word gerugsteun deur 'n reeks buitengewoon taai logistieke voertuie.
Die Gebiedsmag
Die Gebiedsmag se area van optrede beslaan die hele RSA wat in tien streekskommandemente en een militêre gebied onderverdeel is. Hierdie kommandemente (met hul hoofkwartiere tussen hakies aangedui) is: Westelike Provinsie (Kaapstad); Oostelike Provinsie (Port Elizabeth); Noord2 Kaap (Kimberley); Oranje-Vrystaat (Bloemfontein); Noord-Transvaal (Pretoria); Witwatersrand (Johannesburg) Noordwestelike Kommandement (Potchefstroom); Oos-Transvaal (Nelspruit); Natal (Durban); en Verre Noord (Pietersburg). Die militêre gebied is dié van Walvisbaai.
Die Gebiedsmag is 'n samestelling van gebiedsgebonde eenhede nl Kommando's, Burgermageenhede en 'n aantal opleidingseenhede wat operasioneel aangewend kan word. Bykans al hierdie eenhede word as ligte infanterie toegerus en opgelei vir aanwending in 'n teeninsurgensierol. Dit sluit in die voorkoming van terroriste-insypeling (soos die ANC...) in die gebiede aan hul toevertrou en gebiedsbeskerming vir alle bevolkingsgroepe teen dade van terreur en sabotasie. Teeninsurgensie-operasies stel hoë eise ten opsigte van mobiliteit. Derhalwe steun eenhede van die Gebiedsmag swaar op mynwerende voertuie soos die mynbeskermde Buffel personeeldraer, helikopters, en in bepaalde gevalle, selfs motorfietse en perde. Enkele eenhede soos 4 SA Infanteriebataljon en 8 SA Infanteriebataijon is met Ratel infanteriegevegsvoertuie toegerus en word derhalwe as gemeganiseerde infanterie beskou. Sommige kommandemente beskik ook oor pantserkareenhede wat gebiedspatrolleringstake uitvoer.
Hulpverlening in tye van nood of ná natuurlike rampe tel ook onder die verantwoordelikhede van die kommandemente, en opheffingswerk onder die plaaslike bevolking van onderontwikkelde areas in hulle verantwoordelikheidsgebied is 'n verdere belangrike taak.
Twee kommandemente, nl Verre Noord en Oos-Transvaal, wat vir die beskerming van die grootste gedeelte van die RSA se noord- en oosgrense verantwoordelik is, word as operasionele subteaters geklassifiseer. Hulle is verantwoordelik vir die beskerming van hulle gebiede teen 'n moontlike konvensionele bedreiging van buite die landsgrense af. Vir die doel word elemente van die Konvensionele Mag onder bevel van die kommandemente geplaas. Daar bestaan ook 'n derde subteater, nl die Westelike Subteater, wat verantwoordelik is vir alle operasies in en vanuit die westelike deel van die RSA.
Dit is dus ooglopend dat die daadwerklike uitvoering van die SA Leër se missies hoofsaaklik by die Gebiedsmag in die onderskeie kommandemente berus.
SA Leerhoofkwartier
Oorhoofse beheer oor beide die Konvensionele en die Gebiedsmag word deur die Hoof van die Leër en sy Generale Staf uitgeoefen. SA Leërhoofkwartier in Pretoria het vyf stafafdelings wat verantwoordelik is vir onderskeidelik personeel, inligting, operasies, logistiek en finansies. Die Leër se Inspekteur-generaal sien toe dat eenvormige hoë standaarde ten opsigte van opleiding en operasionele paraatheid gehandhaaf word.
Diensplig
Ingevolge die Wysigingswet op Verdediging (Wet 103 van 1982), is alle blanke burgers in die ouderdomsgroep 18-55 aan diensplig onderhewig- (dus was anderskleuriges nie mede-verantwoordelik vir die beskerming van ons landsgrense nie alhoewel vrywilliglik soms in diens geneem). Daar is jaarliks twee innames, nl in Februarie en Augustus. Die meerderheid van hierdie innames word toegewys aan die SA Leër, die grootste van die vier Weermagsdele.
Dienspligtiges word aan verskeie basisse en installasies toegewys en die eerste tien weke word aan basiese opleiding gewy. Dit word verder opgevolg deur spesialisonderrig wat op die dienspligtige se spesifieke korps of eenheid van toepassing is.
Na 'n opleidingstydperk van ses tot elf maande word hulle vir die oorblywende gedeelte van hul aanvanklike diensplig van twee jaar na operasionele en ander eenhede of hoofkwartiere uitgeplaas.
Hierdie groep soldate wat met hul aanvanklike diensplig besig is, staan as dienspligtiges bekend en vorm deel van die Leër se Voltydse Mag.
Opleiding
Die sukses wat op die slagveld behaal word, is afhanklik van goed opgeleide leiers en soldate.
Dienspligtiges ontvang hul basiese, individuele en gesamentlike opleiding by hul onderskeie eenhede. In die Deeltydse Mag word opleiding op 'n deurlopende of afgebroke grondslag voortgesit met 'n jaarlikse maksimum van twaalf dae in die Kommando's en dertig dae in die Burgermag. Lede van die teeninsurgensiemag word in hul onderskeie kommandemente opgelei, terwyl diegene in die Konvensionele Mag opgelei word deur hul formasiehoofkwartier, normaalweg by die Leërgevegskool te Lohatlha in die Noordwes-Kaap. Hierdie skool met sy groot opleidingsgebied en puik fasiliteite is besonder geskik vir alle soorte konvensionele oefeninge. Leiers en spesialiste van alle range word by hul onderskeie korpsskole opgelei. Die SA Leërkollege op Voortrekkerhoogte verskaf bevel- en stafopleiding aan offisiere van die Staande Mag, Burgermag en die Kommandomag. Dit bied ook kwalifiserende kursusse vir adjudant- en senior onderoffisiere aan.
Kleurling- en Swart Soldate
Kleurlingsoldate word in die meeste korpse van die Leër aangeIref. Hulle het reeds in die Eerste Wêreldoorlog gedien. Tans is daar twee Kleurlinginfanterie-eenhede in die Kaapse Skiereiland waar vrywilligers vir minstens twee jaar dien. 'n Derde Kleurlinginfanterie-eenheid, gestasioneer te Midlands naby Kimberley, sal in 1990 met opleiding begin. Ná hul basiese opleiding word hulle hoofsaaklik in 'n teeninsurgensierol aangewend.
By 'n onderhoudseenheid wat naby Kaapstad gevestig is, word Kleurlinge vir die Krygsbehoeftedienskorps opgelei. Gekeurde lede word ook die geleentheid gebied om hulself as offisiere aan òf die Infanterieskool òf die ICrygsbehoeftediensskool te bekwaam.
Ná voltooiing van hul aanvanklike vrywillige diens, kan diegene wat 'n loopbaan in die Leër wil volg, dit doen deur òf in die Kaapse Regiment ('n Burgermageenheid) te dien, òf by die Staande Mag aan te sluit. In laasgenoemde geval kan die lid by een van verskeie korpse ingedeel word.
By 1 Spesiale Opleidingseenheid in Kimberley word vrywilligers oor 'n tydperk van ses maande opgelei in verskeie ambagte sons messelwerk, paneelklopwerk en motorherstelwerk.
Daar is ook 'n aantal swart streekseenhede in die RSA: 21 Bataljon by Lenz aan die Witwatersrand, 111 Bataljon in Oos-Transvaal, 113 Bataljon in die ooste van Kommandement Verre Noord, 115 Bataljon naby KwaNdebele, 116 Bataljon te Messina, 117 Bataljon te Soekmekaar in NoordTransvaal, 121 Bataljon in Noord-Zoeloeland en 151 Bataljon in Qwa-Qwa. Die beroemde 32 Bataljon, wat met groot welslae aan die stryd teen SWAPO in Namibië deelgeneem het, het in die eerste helfte van 1989 na 'n nuwe basis te Pomfret in die Noord-Kaap verhuis.
Swart soldate word aan die onderskeie korpse toegewys en ondergaan toepaslike opleiding aan die korpsskole. Diegene met die vereiste kwalifikasie (minstens matriek) word die geleentheid gebied om hul as offisiere te bekwaam.
Die sentrums vir volwasse onderwys wat in samewerking met die Departement van Onderwys en Opleiding vir swart eenhede gestig is, verdien besondere vermelding. Hierdie sentrums bied aan swart soldate en hul gesinslede die geleentheid om hul opvoedkundige kwalifikasies te verbeter. Onderrig word gegee deur gekwalifiseerde onderwysers wat hul diensplig doen.