Die ANC se plan met die nuwe wet op die beskerming van inligting is kamtig van die baan geskuif as gevolg van die geweldige weerstand van dwarsoor die wêreld. Maar ons mag ons nie blind staar teen hierdie tydelike verdoeseling van die werklikheid nie. Menige kommunistiese wetgewing sedert 1994 het sienderoë die lig gesien sonder dat die publiek daarvan bewus was. Hierdie wet is vir die Swart kommuniste te belangrik om sommer so opsy te skuif aangesien dit 'n uiters belangrike rol speel in die sukses wat hulle in die laaste fase van rewolusie wil behaal. Sou die media vry wees om te vertel hoe die volksmoord op Blankes uiteindelik volvoer word, sal dit hulle planne in die wiele ry. Daarom kan ons verwag dat hier 'n groot stuk korrupsie sal plaasvind om dit vir hulle moontlik te maak om die volksmoord sonder volle medewete van buitelandse publiek te voltrek.
Volgens die ANC se nuwe wet op die beskerming van inligting sou 'n mediatribunaal aangestel word om namens die regering as waghond oor die media op te tree. Dinge sal seker meer subtiel gedoen moet word maar ons kan steeds min of meer die oorspronklike verloop verwag. Oortreders wat ongewensde nuus publiseer, sal natuurlik ordentlik vasgevat word, sodat die ANC uiteindelik indirek sal bepaal wat die publiek mag weet en wat geheim gehou moet word.
Elke groot mediagroep in Suid-Afrika is sedert Augustus 2009 op hul agterpote en nou in 2011 het die stof effens gaan lê nadat ook die buiteland storms veroorsaak het oor die ontoepaslikheid van so 'n wet. Kommersiële aartsvyande staan skielik saam en koerante dra volblad advertensies waarin hulle die reaksie van redakteurs van byna elke noemenswaardige groot nuusblad in die land op die ANC se planne met die media publiseer.
Die feit is dat die ANC-regime ná amper sewentien jaar op die rantjie van ineenstorting staan. Hulle onbevoegdheid is so ooglopend dat die media dit nie langer agter iets soos die persoon van Nelson Mandela of die skyn van versoening of selfs die prestasies van nasionale sportspanne kan wegsteek nie. Die ANC het die fase betree waar hulle weer skaamteloos propaganda maak vir hul sosialistiese beleid en hiervoor het hulle die steun van die massas nodig. Hulle weet natuurlik goed hoe om hierdie steun agter hulle te kry.
Soos Koos Venter dit stel:
Speel die rassekaart! Dieselfde ou holruggeryde retoriek oor die bevoorregte Witmense wat die arme Swart bloedjies niks gun nie, sal wéér effektief genoeg wees om die nuwe revolusionêre fase van hul stryd in te lui. Die media in Suid-Afrika het egter vir so lank 'n prentjie van rasseharmonie en 'n reënboognasie voorgehou, dat dit logies is dat hulle met die ANC sal begin swaarde kruis as laasgenoemde weer die vure van rassepolarisasie begin stook. Die uiteinde is konflik tussen die regime en die media. Omdat die regime nie regtig binne die raamwerk van die demokrasie enige voet het om op te staan wat betref hul planne om die media te muilband nie, moet hulle natuurlik weer fiktiewe en belaglike verskonings uitdink.
Probleem is net dat hierdie verskonings, ingekleur in heelwat retoriek wat aan die om voor kwaad te wees oor die haglikheid van hul toestand, goed genoeg sal wees om ook die Swart massas te laat glo dat die media vasgevat moet word.
Jackson Mthembu, daardie luidrugtige ANC-woordvoerder wat natuurlik self 'n byltjie te slyp het met dronkbestuur-sondes nou die dag nog so uitgeblaker het, was voor in die koor toe die mediatribunaal bespreek is. Hy het uitgevaar teen die media se "onverantwoordelike en misleidende beriggewing" en
nuus wat "inbreek maak op Suid-Afrikaners se privaatheid".
Die rede vir hierdie sondes is vir Mthembu heel logies. Dis die "bleek en wit gesigte" in redaksiekantore se skuld, sê hy. Op die koop toe voeg hy by dat die media nog te veel Wit base het. Dis tyd dat groot mediahuise deur "die mense" (lees Swart pro-ANC kaders) oorgeneem word, reken hy.
Inderwaarheid het Jackson Mthembu met hierdie uitbarsting sy hand oorspeel, want hy het die onderrok 'n bietjie te ver laat uithang. Nou weet ons die planne met die mediatribunaal gaan nie regtig oor staatsgeheime en sulke belangrike sake nie. Nee, dit gaan daaroor om mense in magsposisies te beskerm. Dit gaan oor die beeld van die verkrummelende ANC/SAKP-regime.
Die waarheid is natuurlik dat die ANC geïrriteerd is met Suid- Afrika se skisofreniese samelewing wat beskaafde Eerstewêreld norme en standaarde, soos vervat in die veelgeroemde Grondwet, met die Afrika-kultuur van onbeholpenheid, onvermoë en selfverryking (korrupsie) moet probeer paar. Hulle kan eenvoudig nie nóg 'n wapenskandaal of reisskandaal op die voorblaaie van koerante duld nie. Om van ander korrupsie, blatante onbevoegdheid of die media se fassinasie met die Afrika-kultuur soos Zuma se baie vrouens en ander los gelukkies met jong minnaresse nie te praat nie.
Die regime se propagandaprobleme
Die ANC is duidelik geïrriteerd omdat hulle onbeholpenheid nie meer so maklik soos voorheen deur die massamedia verswyg word nie. Hulle wil beskerm word en hulle is moeg vir hierdie tussenfase van skyndemokrasie. Hulle soek duidelik 'n versnelde weg na 'n stelsel soos in openlik kommunistiese lande waar die koning se deugde dag en nag besing word, al loop hy kaalstert deur die straat.
Maar in Suid-Afrika werk hierdie soort propaganda nog nie so lekker nie. Die SABC probeer dit immers al lank, en hulle is die een media instansie wat deur byna niemand ernstig opgevat word nie.
Met die laaste samestelling van 'n nuwe raad vir die SABC het die ANC verlede jaar skaamteloos opgetree en byna al die nuwe raadslede is herkenbare kaders. Selfs hanskakie kandidate soos Max du Preez was nie goed genoeg om die paal te haal nie.
Dan lees 'n mens hoe die SABC weer geld bedel by die regering, omdat sy begroting net nie wil klop nie. Maar in finansiële verslae word daar vertel van R28 000 wat begroot is vir koffie en tee by 'n enkele beplanningsessie, R482 000 vir 'n kerspartytjie of R1,3 miljoen vir 'n eendag-beplanningsessie van bestuurslede van die SABC, waarvan R348 000 net aan versierings uitgegee is!
Hoe lyk die nuus wat só 'n roekelose en onbeholpe korporasie opdis? Kyk maar self elke aand na die sewe-uur nuus en sien hoe die deugde van die kaal koning besing word.
Boonop is die bestuur van die SABC gereeld self in die nuus weens hul onderlinge gevegte, wat self verwant is aan die binnegevegte in die ANC, wat deesdae al hoe erger raak.
Die SABC is ook nie meer genoeg vir die ANC nie. Daar is nou sprake van vriende van die ANC in die sakewêreld wat groot geld gaan uithaal om 'n pro-ANC koerant die lig te laat sien. Dit bly egter 'n ope vraag of so 'n koerant ('n nasionale dagblad word beplan) kommersieel sal kan oorleef. En hoe effektief gaan dit wees? Die geskiedenis het al bewys dat die Swart mark nie werklik belangstel in koerante wat uit lang artikels vol ideologiese propaganda bestaan nie. 'n Hele paar soortgelyke pro-ANC koerante het al gekom en gegaan. Die enigste sukses in die Swart mark is egter produkte soos die Daily Sun, 'n koerant wat volgens die resep van die geelpers opereer en dan kort sensasionele berigte plaas oor alles van seksskandale tot stories oor mense wat deur die Tokkelossie gepla word.
Die voorbeeld van ander Kommuniste
Daar kan geen twyfel wees dat die huidige koers van die ANC-regime afstuur op uiteindelike volskaalse kommunistiese diktatorskap nie. Hierdie nuwe beplande wet om die media te muilband is dus 'n baie belangrike stap vir hulle, omdat hulle maar al te goed weet dat die pen wel magtiger is as die swaard.
Dit is egter geen geheim nie dat joernaliste vandag nog vervolg word in lande waar die media onderdruk word. Om een of ander rede kan die Kommunis eenvoudig nie die propaganda van hul opposisie verdra nie.
In lande soos China word selfs internetverkeer gereguleer en die publiek het nie vrye toegang tot enige inligting op die internet nie. Opposisiekoerante bestaan inderdaad nie eintlik nie, want dit kan lewensgevaarlik wees om die regime te probeer ontmasker. 'n Paar jaar gelede het 'n jong meisie aan die Universiteit van Beijing onder 'n skuilnaam op 'n geselsgroep op die internet ingegaan en ander lede van die groep opgeroep om die propaganda van die regime te ignoreer en in "ware vryheid te begin leef". Sy is binne ure opgespoor en summier in die tronk gegooi!
In die Maldieve eilande dien drie besigheidsmanne tans vonnisse van lewenslange tronkstraf uit, nadat hulle inligting op die internet gepubliseer het wat die regering gekritiseer het. Die aanklag was dat hulle hoogverraad gepleeg het en die regering probeer omverwerp!
In Moslemlande kan jy tronkstraf of selfs die doodstraf kry as jy enige anti-Islam propaganda versprei.
Maar hulle gaan selfs verder.
'n Man wat onlangs met president Zine el-Abidine ben Ali van Tunisië gespot het in 'n propagandastuk is gemartel totdat hy al sy wagwoorde vir sy webtuiste bekendgemaak het, sodat dit gesluit kon word. Daarna is hy summier in die tronk gegooi.
Is dit ons voorland? Klink dit onmoontlik dat iemand in Suid-Afrika in die tronk kan beland oor propaganda teen die regime? Dink weer! Kyk maar na die Boeremagsaak. Daardie manne sit al langer as sewe jaar in die tronk as verhoorafwagtendes en teen die meeste van hulle is daar nog niks bewys nie. Maar die regime se veiligheidswette maak dit moontlik om hulle agter tralies te hou op die aanklag dat hulle 'n gevaar vir staatsveiligheid inhou. Waarom sal dit anders wees in die geval van die mediawet?
Totale beheer
Vir die Kommunis gaan dit egter uiteindelik oor totale beheer. As die ANC dus die media in Suid-Afrika in só 'n mate kan muilband dat hulle belangrike inligting van die publiek kan weerhou, begin hulle al hoe meer beheer uitoefen oor die vorming van Jan Publiek se opinie. Dan word nuus inderwaarheid maar net propaganda.
Die uiteinde van hierdie oefening is natuurlik die uiterste diktatoriale beheer oor mense se denke, soos wat dit geskets is in George Orwell se boek, 1984. As jy die daaglikse nuus kan beheer en manipuleer, kan jy uiteindelik ook die optekening van die geskiedenis beheer. Soos Orwell dit gestel het: "Hy wat die verlede beheer, is ook in beheer van die toekoms. En hy wat die hede beheer, beheer die verlede."
'n Goeie voorbeeld van hierdie stelling is die gewoonte van die media om "nuwe navorsing" oor historiese kwessies uit die bloute as evangelie te begin verkondig om sodoende verwarring en disinformasie te laat seëvier. Die massamens, wat gewoonlik in elk geval nie 'n baie goed ingeligte persoon is nie, eet hierdie propaganda dan vir soetkoek op en so word persepsies geskep om sy denke te beïnvloed. Baie onlangs was daar byvoorbeeld die geval van een of ander slimgeleerde historikus wat skielik met die storie te voorskyn gekom het dat die Boerevolk aan die einde van die negentiende eeu eintlik 'n half-barbaarse spul mense was wat vuil en onhigiënies geleef het. Die historikus, 'n vrou, vertel toe dat die Engelse konsentrasiekampe ingestel het om die Boervroue teen hul eie onbeskaafdheid te beskerm en hulle te leer om meer higiënies te leef!
Die media het hierdie storie in alle erns aangegryp. Natuurlik was daar selfs 'n paar napraters wat die geleerde vrou ondersteun het. Siedaar, die saadjie is geplant om die verlede te beheer en een van die Engelse se skandelikste dade in die oorlog om te dop! Binnekort sal hierdie teorie waarskynlik al hoe meer gepropageer word, totdat dit uiteindelik oor 'n paar jaar iewers in 'n geskiedenishandboek verskyn en as 'n feit gepropageer word.
Só word die media gebruik in die eerste stap van 'n strategie om uiteindelik die verlede te "beheer". Die ANC-regime is dus inderdaad met hul nuwe mediawet besig om hulself te posisioneer om die hede te beheer. Deur die media te muilband en te besluit wat die publiek mag weet en wat vir hulle verswyg moet word, beheer die regime die hede. Dít stel hulle weer in staat om die verlede én die toekoms te beheer.
Soos met alle ander strategieë van die ANC/SAKP-regime begin hierdie wet by die verskoning van "rassisme" in die media en beskuldigings van diskriminasie teen die meerderheid deur die minderheid. Maar die oomblik as die wet op die boeke is en deur die parlement goedgekeur is, verdwyn die hele retoriek van die "beginsel" en die wet word 'n wapen om die wil van die Kommuniste op die samelewing af te dwing.
Skynheiligheid van die mediabase
Die veronderstelling is natuurlik dat vryheid van spraak en ongebonde, vry media een van die hoekstene van 'n suksesvolle "demokrasie" is. Maar hoe vry en ongebonde is Suid-Afrika se media werklik?
Die antwoord hierop mag dalk 'n verleentheid wees vir die skynheilige klompie redakteurs wat nou skielik so 'n bohaai maak oor die ANC se planne.
As 'n mens oor beginsel begin praat, kom die ander aspek van hierdie huidige debat oor die ANC se planne om die media te muilband of te manipuleer weer na vore. En daar is baie voorbeelde van skynheiligheid wat aangehaal kan word.
Die kernvraag in hierdie verband is of daar werklik iets bestaan soos algehele objektiewe en "vry" media-instansies. Die antwoord hierop is byna 100 jaar gelde al gegee deur John Swinton, wat in 1914 by sy uittrede 'n toespraak gehou het by die jaarlikse banket van die American Associated Press organisasie. Hy het gaste uit hul skoene geskok toe hy onder ander die volgende te sê gehad het:
"Van 'n onafhanklike pers kan daar geen sprake wees nie. Nie 'n
enkele een van julle waag dit om sy eerlike opinie uit te spreek nie.
Ons is die instrumente van vasalle van die rykes agter die skerms.
Ons is marionette. Daardie manne trek aan die toutjies en ons
dans. Ons tyd, ons talente, ons lewe en ons kragte is alles die eiendom
van daardie manne - ons is intellektuele prostitute."
In Suid-Afrika het ons natuurlik genoeg voorbeelde van hierdie getuienis. Die selektiewe gebruik van nuus en inligting het veral onder die bewind van adv. John Vorster sedert 1967 in alle erns begin.
Een van die belangrikste tegnieke wat sedertdien gebruik is, is die gewoonte van die media om eenvoudig oor sekere sake te swyg, asof dit nie bestaan nie. Die stryd van Afrikanernasionalisme sedert 1967 is byvoorbeeld meer doodgeswyg as wat dit in eerlike debat verslaan is.
Uiteindelik het die Afrikaner se eie media, wat met sy sweet en kundigheid tot stand gebring is, die instrument geword om hom met die een propagandagolf na die ander om te dop om uiteindelik die oorname van die Kommuniste te aanvaar en selfs te ondersteun. Wie weet waar dit gaan eindig as die Kommunis boonop binnekort toegelaat word om die vloei van inligting te beheer?