BOEREFORTE IN PRETORIA

Die Transvaalsche Rijdende Artillerie het reeds sedert 1888 'n paar mobiele staalfortjies gehad wat hulle rondgery het en telkens by ’n nuwe staanplek herdoop het. Ná die Jameson-inval van 1895 het dit duidelik geword dat ’n konfrontasie met Brittanje onafwendbaar was, en die regering het begin luister na die waarskuwings en raad van L. Grünberg, wat reeds sedert 1895 in die ZAR besig was met die oprigting van myn-masjinerie. Hy was ook die plaaslike verteenwoordiger van die wapentuig-vervaardigers Schneider en Kie van Le Creusot, wat die swaar Long Toms gemaak het.

Op 24 Maart 1896 het die Uitvoerende Raad besluit om agt forte rondom Pretoria te bou om die hoofstad te beskerm. Daar was mededinging tussen Franse en Duitse belanghebbendes, en die bou van Fort Schanskop, Fort Klapperkop en Fort Wonderboompoort is in groot geheimhouding toevertrou aan H.C. Werner, bestuurder van die South African Contracting Company, wat sterk steun geniet het van die Deutsche Bank in Berlyn. Hy is bygestaan deur die Duitse offisier O.A. von Dewitz, en die werk sou onder die toesig van kmdt.-genl. P.J. Joubert uitgevoer word. Grünberg en S. Leon sou verantwoordelik wees vir Fort Daspoortrand, wat ontwerp is volgens die Franse stelsel, waar die ander drie van die vyfhoekige versterkingstipe was. Die Duitsers sou ook ’n magasyn bou. Schanskop en Klapperkop sou so geleë wees dat hulle 'n inval uit die suide, die ooste en die weste sou kon afslaan en die spoorweg na Delagoabaai en die pad na Johannesburg sou kon beveilig.

Die bouwerk het in Mei 1896 begin; die wit werkers was hoofsaaklik Italianers, bygestaan deur swart werkers uit die omliggende gebiede. Fort Schanskop, Klapperkop en Wonderboompoort het bombestande kasematte gehad, telegraafkantore, magasyne, bergkamers en masjienkamers. Op die mure kon draaibare geskut opgestel word om nadering uit alle rigtings in die vtsier te hou; in die mure was daar skietgate.

Schanskop (boukoste £47,500) is op 5 April 1397 oorhandig, Wonderboompoort (£49,000) op - September 1897, die magasyn (£65,000), Fort Klapperkop (£50,000) op 18 Januarie 1898, en Daspoortrand op 12 November 1898. Vier Long Toms het reeds in April 1897 in Pretoria aangekom vir installasie in die forte en op 7 November 1898 is ’n nuwe seksie by die Staatsartillerie gevoeg om die forte te beman. Nog Long Toms en wapentuig is bestel, maar die oorlog het uitgebreek voordat hulle afgelewer kon word; van die telegraafmasjinerie vir die forte is ook in Kaapstad gekonfiskeer.

Met die uitbreek van die oorlog het die garnisoen van Fort Schanskop met sy mooi ingangspoort en sy groot binneplein uit een offisier en 30 manskappe bestaan. Die ander forte was ook gereed. Maar reeds voor die oorlog is besluit om die vier Long Toms van die bestaande Pretoriase forte na die front te stuur, en het Louis Botha, toe waarnemende kommandant-generaal, en genl. J.H. de la Rey die bemanning van die forte onttrek om die suidelike toegang na Pretoria te gaan bewaak.

Die forte sou nooit 'n aktiewe militêre rol speel nie. Wel het lord Roberts hulle gebruik as huisvesting toe hy Pretoria in 1900 ingeneem het, en tydens die Tweede Wêreldoorlog het hulle - tot die ontsteltenis van bewaringsbewuste mense - as opslagplekke vir ammunisie gedien.

Reeds in 1913 het genl. C.F. Beyers gepleit vir die behoud van Schanskop, en van Klapperkop, en van 1938 af was daar groot openbare belangstelling in die ou forte. In Julie 1938 is die twee forte tot nasionale gedenkwaardighede verklaar, maar hulle is tot 1951 vir militêre doeleindes gereserveer. In 1963 het die Departement van Verdediging Klapperkop, (binneplein) gerestoureer en ingerig as die eerste museum van die Suid-Afrikaanse Weermag; dit is op 23 Mei 1966 geopen. Schanskop is in die sewentigerjare vir dieselfde doel opgeknap. Maar Wonderboompoort  wat reeds in 1904 as ongeskik vir militêre gebruik verklaar is, staan nog bouvallig en wag op ontferming. En Daspoort?