Nuwejaarsboodskap aan die Volk van Suid-Afrika
31 Desember 1962
Dr HF Verwoerd
"As ons ooit sou moes veg vir ons voortbestaan en ons vaderland, laat geen mens en geen staat daaroor twyfel hê dat ons dit sal doen nie. Dit is ons land, ons erfenis, waarmee al ons verwagtings en ons verlangens diep verbonde is en waarin ons onder leiding van die Almagtige al die probleme sal oplos op ons eie manier tot almal se voordeel en geluk."
Daar is baie min Suid-Afrikaners wat nié die nuwe jaar met groter vertroue tegemoet gaan nie. Inderdaad heers daar ’n algemene gees van groot optimisme oor 1963. Miskien klink dit ongelooflik in die lig van sekere van die aanvalle op die Republiek, of indien party V.V.-besluite in ag geneem word. Suid-Afrika het egter geleer om rekening te hou met die bron van sulke aanvalle en om, soos die geval is met die meeste goed gevestigde en bestendige state, die V.V. nie te ernstig op te neem nie.
Dit sou miskien betreur kan word dat die V.V. nie meer die hoop en verwagting van die mensheid beliggaam nie. Almal moet egter eenvoudig aanvaar dat die V.V. weinig agting afdwing sedert jong eendstertagtige nasies feitlik beheer oorgeneem het deur die meerderheidstem te bepaal. Dit verskaf teenswoordig die verhoog vir die openbaring van jeugdige aggressiwiteit en hul minderwaardigheidsgevoelens; vir hul gretigheid om in die huishoudelike sake van ander in te meng — miskien omdat hul eie swak geadministreer word — en om die groot moondhede in die gesig te vat onderwyl hulle elke moontlike soort guns van hulle ontvang, wat om verskeie redes tog nog vir eers beskikbaar gestel word.
Die V.V. het gefaal. Dit los probleme nie op nie, waarborg die vrede nie en ook nie beskerming teen egte aanvalle nie; is finansieël swak; en het ondoeltreffend geblyk wanneer dit optree. Die groot avontuur van die nasies het ontaard in ’n sinlose stormloop na die mikrofoon — die nuwe speelding van die ekshibisionis en die agitator.
Suid-Afrikaners, Suidwes-Afrikaners en hul vriende is nie die skrik op die lyf geja nie. Hulle het hulle eerder heelhartig toegelê op die taak om hul nasie te bou sowel as om hul land se voorspoed te bevorder en ’n gees van goeie buurskap te kweek met die nie-blankes aan hul sorg toevertrou. Hulle is gevolglik nie alleen optimisties met betrekking tot hul eie toekoms nie, maar ook in hul skatting van wat bereik kan word vir die voorspoed en die selfbestuur van die verskillende rassegroepe in hul midde.
Daar is egter meer positiewe redes vir die algemene gees van vertroue in die toekoms as hierdie neiging om bedreigings van buite oor die hoof te sien.
Die elemente behandel ons goed. Die vooruitsigte van ons uiters belangrike boerderybedryf is baie gunstig, behalwe in enkele streke. Die droogte het weliswaar ’n geweldige terugslag veroorsaak en groot verliese is gely; maar toe dit begin reën, het die aangebore veerkragtigheid van ons boerebevolking weer eens geseëvier. Terwyl sekere bemarkingsprobleme oorwin is, het ander weliswaar nog bly bestaan, maar selfs dié wat voortspruit uit die Europese Gemeenskapsmark blyk meer hanteerbaar te wees as eers verwag is. Die boerdery sal nog met voor- en teenspoed te doen kry, of dit deur die natuur of deur die mens veroorsaak word, maar oor die algemeen heers daar stille vertroue en die wil om opnuut vorentoe te beur.
Meer as vertroue word op industriële gebied aangetref: daar bestaan geesdrif vir nuwe ontwikkelings in baie rigtings. Die toekoms wat die Republiek aan die nywerheid bied, het die verbeelding aangegryp, nie net van Suid-Afrikaanse ondernemers nie maar ook van buitelanders. Nuwe ondernemings is begin en beplan, en die uitbreiding van bestaande nywerhede word oral aangetref. Vyfjaar- en tienjaar-planne kenmerk die groot sleutelindustrieë wat die Staat aan die gang gesit het.
Die klimaat is reg en die onheilsprofete waag dit nie om so luidrugtig te kritiseer soos vroeër nie. Hulle werp liewer ’n rookskerm op deur groter verwagtinge op te wek of ’n vinniger pas te stel. Daarna val hulle aan wat tot stand gebring word deur vergelykings te tref met sulke onpraktiese maatstawwe. Diegene wat besef dat regtig waardevolle ondernemings maande, en in sommige gevalle selfs ’n paar jaar, van beplanning, opskrifstelling in besonderhede, en bouwerk nodig het voor produksie kan begin, weet dat die opwaartse wending in die ekonomie wat reeds meer as ’n jaar gelede begin het, eers vrugte kan begin dra in die jaar wat voorlê. Daarna kan die ontwikkeling soos ’n sneeubal aangroei.
Ook die handel kom aan die beurt. In die kleinhandel word die verbetering reeds gevoel. Droogte en moeilikhede in die boerderybedryf kan soms geweldige terugslae in die handel veroorsaak, maar hierdie keer is dit uit die weg geruim deur die opwaartse neiging. Nadat daardie moeilikhede verby is, kan meer sigbare vooruitgang in die handel verwag word. Ten spyte van sanksiebedreigings — hoofsaaklik deur state wie se aandeel aan die ekonomie van die Republiek skaars noemenswaardig is — word groter ontginning van die uitvoerhandel in die vooruitsig gestel. In die internasionale ekonomie sal Suid-Afrika ’n toenemende rol moet speel, en hy is besig om hom vir die taak voor te berei.
Ons mynbedryf, en in die besonder ons goudmynindustrie, slaan nog steeds rekords. Dit bly die grondslag van ons voorspoed deur die fondse en grondstowwe te voorsien. Deur ver in die toekoms te kyk en gedurig na nuwe moontlikhede te soek, behou dit die baanbrekersgees in die ontwikkeling van ons land se bronne.
Die toename in die land se reserwes, die veerkrag van sy ekonomie, en die feit dat daar nou geen noemenswaardige betalingsbalansprobleme is nie, is te welbekend om hier beklemtoon te word.
Afgesien van so ’n gunstige ontleding van ’n ekonomiese toestand, wat enige land tot optimisme sou stem, is daar ander ervarings wat enige ander gemoedstemming onmoontlik maak. Vriendelikheid word gedurig aangetref by indiwidue en volkere in baie lande. ’n Mens kan dus nie beïndruk word deur die swartgallige waarskuwings dat Suid-Afrika die mees gehate land is bloot omdat regerings en politici om eie politieke redes ’n openbare houding aanslaan wat vyandig lyk teenoor Suid-Afrika nie. Dit is sekerlik onaangenaam en in beginsel onregverdig, maar so iets mag nie die baie vlakke van gemeenskaplike belange en die breë grondslae van goedgesindheid verduister nie. Belangrike besoekers aan ons land, en diegene met ’n fyn opmerkingsvermoë, vertrek selde sonder om hul geloof in die groot toekoms van Suid- Afrika te verkondig en daaroor bly te voel.
Oor die verhoudings tussen die verskillende bevolkingsdele versterk die vooruitsigte binnelands. Die koms van die Republiek en die uittrede uit die Statebond het nie die duistere voorspellings van die pessimiste verwesenlik nie. Laasgenoemdes kan net nog probeer om die indruk te laat posvat dat die kloof tussen die twee taalgroepe steeds wyer word. Volgens my ervaring — en dit is baie omvangryk — gebeur juis die teenoorgestelde. Daarom hoef dit niemand te verras nie dat immigrante uit baie lande, en veral uit Groot-Brittanje, hulself gelukkig ag om na Suid-Afrika te kan kom waar hulle verwelkom word. Hulle weet dat hulle burgers sal moet word van hierdie nuwe Republiek buite die Statebond indien hulle dit hul tuiste en dié van hul kinders maak.
Met dieselfde vertroue weerlê ek die bewerings van hulle wat verbeteringe ontken in die verhouding tussen swart en wit. Hulle laat toe dat die kleinere getalle se lawaaierige beskuldigings en handelinge wat ’n mens erken lelik is, hul oortuigings kleur. Ek verkies daarenteen om die houding en optrede van die groot massas te neem as die toets van hoe dit gaan met die menslike verhoudings. Geen twyfel hoegenaamd kan bestaan nie dat die beplanning van Bantoe-ontwikkeling, met insluiting van die bewys wat die Transkeiplan verskaf het dat dit nie alles blote teorie is nie, aanleiding gegee het tot beter onderlinge begrip en toekomsverwagtings.
Net so sien die Kleurlinggemeenskap in toenemende mate raak dat daar groot beloftes skuil in die planne vir hul toekoms. Die Indiërgroep sal hopelik dieselfde insig ontwikkel en daarvan bestaan reeds belowende tekens.
Kan daar vir optimisme beter regverdiging bestaan? Op ekonomiese, maatskaplike en politieke gebied bestaan heldere planne en beleide wat in toenemende mate vrugte dra op belangrike terreine waar die mens hom laat geld.
Laat ons dan die toekoms saam tegemoet gaan, besiel deur hierdie gees wat reeds die land deurdrenk. As ons ooit sou moes veg vir ons voortbestaan en ons vaderland, laat geen mens en geen staat daaroor twyfel hê dat ons dit sal doen nie. Dit is ons land, ons erfenis, waarmee al ons verwagtings en ons verlangens diep verbonde is en waarin ons onder leiding van die Almagtige al die probleme sal oplos op ons eie manier tot almal se voordeel en geluk.