WAT GEBEUR AS DIE KRAG AF BLY...

Jeanette Koekemoer

Die meeste Suid-Afrikaners het reeds gewoond geraak aan die periodieke kragonderbrekings in ons land. Sommige het hulself goed, en ander minder goed, ingerig om die ontwrigting daarvan die hoof te bied en almal verduur dit nog in relatiewe kalmte aangesien dit hoogstens 'n uur of twee op 'n keer duur.

Maar wat as dit langer duur? Of glad nie weer aangeskakel word nie?

Met die winter amper verby slaak almal 'n sug van verligting want die risiko van 'n totale elektrisiteitsineenstorting is mos nou kleiner.  Ja, 'n verantwoordelike mens sou so kon redeneer.  Maar in die lig van nuusberigte wat plaaslik onder die mat ingevee word, is die verwagting nie dat daar verantwoordelikheid aan die dag gelê word nie.  Euronews berig byvoorbeeld op 5 Desember 2014: "Ukraine’s fuel crisis has deepened after a deal to buy South African coal collapsed. The imported coal turned out to be unfit for purpose. The head of a Ukrainian state energy firm has been arrested on suspicion of embezzlement in relation to the deal."

Te midde van 'n elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika wat reeds etlike jare duur waartydens Suid-Afrikaners ten duurste opdok maar steeds die ongerief van gereelde kragonderbrekings beleef, gaan die Suid-Afrikaanse owerheid 'n onwettige transaksie met die Oekraïne aan en verkoop ons land se steenkool vir 'n inkomste wat nie op die boeke reflekteer nie.

Daarna word slegs die uitvoerende bestuurder van die Oekraïne se energiedepartement gearresteer. Is die deler dan nie net so goed soos die steler nie?   Kortom, wie ookal glo dat ons kragkrisis iets van die verlede is, moet wyer kyk. So kort as 'n jaar gelede is daar nog gelag oor die moontlikheid van 'n totale kragineenstorting maar deesdae is daar op elke groot organisasie se vergaderingsakelys 'n gereelde bespreking oor hul plan van aksie wanneer dit sal gebeur – die 'as' het in 'wanneer' verander...

Suid-Afrika is nie uniek as dit by onwelkome kragonderbrekings kom nie. Die meeste lande in die wêreld gaan soms daaronder gebuk.  Daar is wel verskeie oorsake vir die onderbrekings: soms word dit deur weerlig veroorsaak soos in New York gebeur het, ander kere is dit kortsluitings as gevolg van verslete toerusting soos in die Noordoostelike deel van Amerika die geval was, en soms deur blatante nalatigheid soos in Egerton in Engeland gebeur het. En dan ook deur grootskaalse korrupsie soos waaraan Suid-Afrika oor die hele wêreld bekend staan. Die oorsake verander egter niks aan die gevolge wat oral dieselfde is nie. En duur die onderbreking te lank, het al hierdie plekke een saak in gemeen: grootskaalse plundertogte, geweld, aanrandings, verkragtings en selfs lewensverliese.

So het dit ook in Miami, Pakistan, Uganda, Senegal, Madagaskar, Kenia, Indië, Guinee en talle ander plekke gebeur dat finansiële verliese in miljarde bereken word terwyl menselewens daartydens van nul en gener waarde is.  En of die groot kragonderbreking in helder daglig of in die donker ure van die nag begin, die gevolge bly dieselfde.

Hiervan is New York 'n goeie voorbeeld tydens twee groot onderbrekings onderskeidelik in 1965 wat gedurende werksure begin het, en in 1977 toe dit reeds na sluitingstyd plaasgevind het.

In beide gevalle het plunderaars binne etlike ure die strate ingestorm, winkels geplunder en aan die brand gesteek sodat vure binne talle geboue die volgende dag nog hoog gebrand het. Genadiglik het nie een van hierdie kragonderbrekings langer as 48 uur geduur nie en kon daar spoedig 'n einde aan die nagmerrie kom wat deur priester Gabriel Santacruz van die St. Barbara's Kerk in Bushwick so beskryf is: "We are without God now!"

In 1977 het die geweld so vinnig versprei dat daar in die tydsbestek van 'n paar uur 31 woonbuurtes en 1,616 winkelsentrums geplunder en aan die brand gesteek is waarvan slegs 1,037 brande tot 'n mate bestry kon word. Die geweldenaars het naderhand met messe, stokke en klippe op mekaar losgetrek in 'n poging om gesteelde goedere van mekaar af te neem – dit in 'n land waar daar destyds goedfunksionerende staats- en munisipale administrering van pligte was, asook 'n sterk polisiemag, sigbaar werksaam, wat nooit self aan plundery en brandstigting deelgeneem het nie. Te midde van 550 erg beseerde polisiemanne is daar 4,500 plunderaars gearresteer maar dit kon nie vergoed vir die miljarde dollars se verliese nie. Uiteindelik het die Carter-regering $11 miljoen aan die stad toegestaan om skade te help vergoed.

Die een goeie ding wat die Amerikaners uit hierdie onvoorsiene kragonderbrekings geleer het was om hul afhanklikheid van elekstrisiteit in heroorweging te neem, en sommige het darem ook geleer om kerse, batterye, flitsligte en selfs wapens byderhand te hou want die aanrandings en verkragtings daartydens is nie so ligtelik vergeet nie – anders as in Derdewêreldse streke soos Lahore in Faisalabad, Pakistan, waar nie veel geleer word uit sulke situasies nie. Dáár probeer die polisie nie eers om die plunderaars te keer wanneer hulle die strate instorm nie en doen selfs mee om met klippe, stokke en messe elke eiendom in sig, publiek of privaat, te probeer verpletter.

'n Soortgelyke toestand het in Kampala, Uganda ontstaan. Die eskalerende kragkrisis het die massas wat reeds keelvol vir ongeregverdige inflasie is, die hoogste in 20 jaar, nou tot 'n voortdurende plundering gebring. Daar word winkels aanhoudend beroof, blokkades op hoofpaaie gevorm, bande gebrand terwyl die koeëls oor koppe fluit en soms tref. As Oos-Afrika se (gewese) derde grootste ekonomie en 'n groot olie-produsent, het hierdie streek nou voortdurend elektrisiteitstekorte as gevolg van voortslepende korrupsie. Selfs twee onafhanklike kragvoorsieners het onlangs hulle aanlegte daar gesluit uit protes omdat die regering hulle nie betaal nie.

In Senegal, net buite Dakar, het die massas selfs teen die president gedraai as gevolg van die 48 uur-lange skofte sonder krag. Plundering is aan die orde van die dag terwyl president Abdoulaye Wade besig is om aan sy versplinterende konstitusie te werk. Intussen brand oproermakers al wat 'n regeringsgebou is af, insluitende die kantore van die Staat se elektrisiteitsfirma, Senelec, wat reeds jare lank nie meer in die aanvraag kan voorsien nie. "Burning tyres litter the streets, witnesses said" – dan is daar tog wel 'n bietjie lig in die strate...

So is daar talle lande as voorbeeld van wat ons hier plaaslik kan verwag wanneer die krag nie weer aangeskakel word nie. Dit mag in Suid-Afrika dalk nie presies manifesteer soos in Amerika waar ondergrondse treine tussen stasies tot stilstand gedwing is, mense in 90-verdieping-hoë geboue vasgekeer is, en vliegtuie oor 80,000 vierkante myl in stikdonker vlieg nie. Maar waarop Suid-Afrika wel kan reken, is dat daar soos in ander gebiede, geplunder, gebrand en gemoor sal word.

Die motivering vir hierdie artikel is uitsluitlik om die mense vir wie ons omgee, meer paraat te maak vir dít wat moontlik op ons wag. Hierdie onderwerp is 'n aktuele saak wat in alle behoudende gemeenskappe onder die loep hoort en dringend aandag verdien. Doen dan uself en u geliefdes hierdie guns:  bespreek 'n deeglike plan van aksie ingeval ons land in dieselfde greep van onmenslikheid val.

As hierdie dinge nié op ons neerdaal nie, wat het u dan verloor?  Heel moontlik niks.

Maar dalk baat u wel later by 'n goeie voorraad blikkies kos en skoon water, 'n veiliger woonarea of -struktuur, dalk ekstra voorrade brandstof vir u kragopwekker, of 'n paar ekstra gassillinders.  En as ons die New Yorkers se voorbeeld volg, sal ons ook seker maak dat ons op verskeie wyses bewapend bly, maar veral soos in Efésiërs 6: "Trek die volle wapenrusting van God aan sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu..."