Jeanette Koekemoer
Terwyl Vorster vroeg in die sewentigerjare besig was om Suid-Afrika se binnelandse beleid te verander na 'n toestand waar ras en kleur nie meer bepalend sou wees nie, het daar in die buiteland 'n toestand geheers wat met opset van die Suid-Afrikaner weerhou is. Engeland en Amerika was, soos altyd, die twee lande wat druk op Suid-Afrika toegepas het om sy binnelandse beleid van afsonderlike ontwikkeling te laat vaar. Wat egter in daardie tyd dáár afgespeel het was juis die ideale klimaat om hul druk op Suid-Afrika in die wind te strooi, maar nóg het Vorster voortgestoomroller om etniese grense te verwyder, ongeag hoe kunsmatig dit deurforseer sou word.
Om te verstaan hoe maklik dit sou wees om die internasionale geldbase uit ons binnelandse beleid te hou moet ons na die binnelandse toestand van Brittanje en Amerika in daardie tyd kyk.
In die ná-oorlogse jare is Brittanje letterlik oorstroom deur swart en bruin immigrante uit die Statebond. Reeds teen die einde van die sewentigerjare was ongeveer 4 % van die Britse bevolking Nie-blankes. Natuurlik is ook dáár 'n ernstige poging aangewend om die rasse-integrasieproses suksesvol te laat geskied maar hierdie beleid het nie baie goed op die Blanke Britse publiek neergekom nie. Daarom het geweldige rassegeweld uitgebreek totdat skeiding tussen rasse naderhand na die enigste uitkoms gelyk het. Ná 'n ondersoek oor die etniese toestand is daar tot die slotsom gekom dat waar rasseharmonie heers, dit uitsluitlik in gebiede was waar swart en wit apart gewoon en gewerk het. Selfs The Guardian, die liberale Britse koerant, het in April 1977 erken dat daar geen rasseharmonie in ander gebiede as in afsonderlike woonbuurtes heers nie.
Daarna is 'n verslag deur die Britse statutêre kommissie vir rassebetrekkinge uitgereik waarin onomwonde verklaar is dat rasseverhoudinge sal verbeter indien swart en wit heeltemal geskei word in woongebiede sowel as werk. Die kommissie het ook 'n nuwe rasseklassifikasie voorgestel. Hiervolgens moes opgawes van die etniese oorsprong van alle werknemers deur hul werkgewers gehou word. Selfs mev Margaret Thatcher wat toe leier van die opposisie was, het dit ondersteun en gewaarsku dat rasse-integrasie groot gevaar vir die Britte inhou.
In die VSA is die integrasieproses natuurlik ook toegepas, veral in die ná-oorlogse jare. Alle universiteite, kolleges die staatsdiens en die sakewêreld is aangesê om studente en werknemers aan te stel ooreenkomstig die verhouding wat hulle etniese groep van die totale bevolking uitmaak. Dit het daarop neergekom dat 1 uit elke 10 studente en werknemers swart moes wees. Skole was reeds vanaf 1954 geïntegreer en programme om diskriminasie op alle vlakke af te breek was in werking, maar weer eens was die diskriminasie teen die Blanke so oorweldigend dat talle insidente vingerwysend was.
In 1978 het 'n hofsaak deur 'n Blanke student 'n groot deurbraak gemaak toe die Hooggeregshof beslis het dat die kwotastelsel strydig met die Amerikaanse grondwet is. Allan Bakke het in 1972 en weer in 1973 aansoek gedoen om toelating tot die mediese fakulteit in Kalifornië maar telkens is sy aansoek geweier. Sestien swartes met laer kwalifikasies as hy het by elke geleentheid toelating verkry. Bakke het na die Hooggeregshof van Kalifornië geappelleer en die saak is in die Federate Hooggeregshof voortgesit met 'n beslissing in Bakke se guns. Dwarsdeur Amerika is hierdie uitslag as 'n groot terugslag vir swartes sowel as rasse-integrasie beskou.
Talle gebeure soos hierdie het in Amerika en Brittanje plaasgevind maar is uit die aard van die saak vir die buiteland stilgehou. Dit was 'n ontnugterde en verwarrende tyd waarin dit duidelik was dat die buiteland nie die reg gehad het om enige druk op Suid-Afrika toe te pas oor die beleid van afsonderlike ontwikkeling nie. Nog het Vorster met die grootste onderduimsheid voortgegaan om die publiek te mislei en rasse-integrasie af te forseer met die uiteindelike gevolg van 'n swart regering wat vandag bekend is vir sy korrupsie en onvermoë om 'n land te regeer. En hoe het Vorster dit reggekry?
Om hierdie antwoord te kry, moet ons kyk na van die oudste misleidingtegnieke in die politiek: daar word een ding vir die publiek gesê, en 'n ander ding gedoen. En die goedvertrouende landsburgers aanvaar dat wat vir hulle gesê word, tot hul voordeel sal strek. Kan u F W de Klerk se strategie in die 1992-referendum onthou? Hy het nie vir die kiesers gevra of hy Mandela, die terroris en bomplanter, uit die tronk mag uitlaat en tot president verhef nie; nee, hy het slegs gevra of hulle ten gunste was van onderhandelings in dié verband, en dat hy sou terugkom na die volk ná die onderhandelings. En toe hy 'n meerderheid ja-stem kry, het hy sonder verdere onderhandelings Mandela vrygelaat; die res ken u.
En Vorster? Dieselfde strategie het hom in die 1977-verkiesing laat wen. Dit druis in teen alle logika dat ’n mens ’n vyand kan beveg deur presies dit te doen wat hy van jou verwag. Andersom gestel, sulke optrede kom alleenlik daarop neer dat jy jou vyand gelyk gee dat daar iets skort met jou saak, en dit was presies die boodskap wat die totale beleidvoering van die NP-regering in die sewentiger jare uitgestraal het. Die nuut ingeslane rigting om weg te beweeg van afsonderlike ontwikkeling was nie weg van die land se vyande nie, maar ná hulle toe. Hoe het Vorster dit dan reggekry as sy beleid so onlogies was?
Dit rus in die leuen-strategie wat die NP in die verkiesing gevolg het.
Die twee belangrikste strydvrae van die algemene verkiesing op 30 November 1977, was buitelandse inmenging in die grondwetlike voorstelle wat later bekend geword het as die ’77-voorstelle.
Die opvallendste kenmerk van die verkiesing was die feit dat Vorster ’n mandaat van die kiesers gevra het téén buitelandse inmenging, terwyl sy totale beleidvoering juis buitelandse inmenging uitgelok het. Die druk van buite is as ’n aanslag teen die hele land beklemtoon en die NP-regering het hom voorgestel as die groot kampvegter vir die handhawing van die land se soewereiniteit.
Op 27 Oktober 1977 het mnr Vorster byvoorbeeld gesê die bedoeling van die buitewêreld is om “. . . ons skade te berokken. . . en om ons te ontneem, dit wat ons s’n is”. ’n Paar dae later het hy in ’n toespraak gesê: “Ons het amper by die punt gekom waar niks meer van ’n self-respekterende land gevra kan word nie as om te sê: so ver en nie verder nie!” Die kiesers was oortuig dat Vorster hul steun in nasionale belang nodig gehad het en dat hy halt geroep het. So het Vorster die kieserskorps agter hom verenig.
Wat in werklikheid gebeur het, was dat die Vorster-regering die verset in die binnelandse geledere teenoor die oplaaiende buitelandse inmenging suksesvol by die stembus gemobiliseer het, terwyl die einste NP-regering die klimaat vir die inmenging van buite gekweek het. Hoe groter die buitelandse druk was, hoe sterker kon die kieserskorps agter die regering verenig word. Dit was die hoofrede vir die NP se sukses in die verkiesing van 1977. So was dieselfde taktiek van F W de Klerk die rede vir die vrylating van Mandela wat Suid-Afrika vandag in die knelgreep van 'n fatale toestand onder 'n swart regering gebring het waar ons 'n snelnaderende ekonomiese ineenstorting tegemoet gaan met al die chaos wat daarmee gepaard gaan – presies wat die buiteland wou hê moes gebeur sodat hulle hul hande op die laaste van Suid-Afrika se rykdomme kan lê.
Só is die Blankes deur hulle eie leiers uitverkoop.