'n Paar uittreksels daaruit:
"Eers wil ek daarop wys dat die Regering al geruime tyd in die verleentheid geplaas word deur sinspelings dat Maori’s op die volgende toer deur Suid-Afrika sal aanvaar word”.
"Vanselfsprekend kon die Regering nie toelaat dat so ’n valse indruk oor sy beleid en optrede propageer word nie”.
"Die Regering is gekies om die verskillende vorms van integrasie, insluitende maatskaplike integrasie, teen te gaan. Hy moet sorg dat landsbeleid eerbiedig word, op sportgebied soos op alle ander terreine”.
"Die Kabinet het vroeër, en nou weer, eenparig teen die ontvangs van gemengde spanne besluit. Die Eerste Minister het dus sy hele Kabinet se beleid en besluite weergegee, en nie bloot sy eie mening nie”.
"Ook het ek, onlangs weer, met dr. Craven en ander oor die probleem onomwonde gepraat, hom ondubbelsinnig meegedeel dat Maori’s nie as lede van ’n toerspan aanvaarbaar sou wees nie en hom aangeraai om hom nie te laat verlei tot antwoorde wat verleentheid sou kan skep nie”.
"Oor die omstandighede van die besoek van twee Maori- rugbyamptenare wil ek in hoflikheid teenoor hulle nie uitwy nie, maar moet tog sê dat dit toe baie duidelik gestel is dat dit geen presedent vir die ontvangs van ’n gemengde span vorm nie”.
"Die bewering dat die Regering aan Nieu-Seeland wil voorskryf hoe hy sy spanne moet kies is ook verkeerd. Al wat die Regering van die Republiek doen, en reg het om te doen, is om te besluit watter soort besoekers of gaste hy bereid is om in sy land te ontvang, of te nooi. Die uitgenodigdes, of die Regering van hul land, is volkome vry om dit aan te neem, of hulle toe te laat om te gaan of nie”.