DIE KEELVOL FAKTOR ONDER BLANKE SUID-AFRIKANERS

Die Afrikanervolk en Blankes oor die algemeen is onder hewige druk in Suid-Afrika en omstandighede in die land is besig om 'n gees van verset wakker te maak onder dié deel van die land se bevolking.

JACO ELS van die Afrikaner Nasionalistiese beweging (ANB), bespreek hierdie verskynsel en wys waarom dit – hoewel tans nog ver van 'n beginselgedrewe beweging – op die langer termyn goed kan wees vir die stryd van Afrikanernasionalisme.

Etlike maande gelede het die nuutste poging om Afrikaners op een of ander wyse onder die vaandel van 'n sambreel-organisasie byeen te bring bekend geword. Uit die beskikbare inligting oor die nuutste aksie, is dit duidelik dat die bedoeling daarvan is om Afrikaners te betrek wat ontevrede is met die huidige amptelike regeringstelsel in die land én met alle partye of groepe wat daarmee verbind word. Die ANB is nooit amptelik genader om deel te word van hierdie nuwe aksie nie, maar sommige lede van dié beweging is wel deur middel van informele gesprekke of via kommunikasie in die sosiale media daarvan in kennis gestel. Hierdie onlangse roeringe is natuurlik niks nuut nie.

Trouens, sommige van die organisasies wat in die korrespondensie genoem is, is juis oorblyfsels van vorige pogings om Afrikaners weer onder een vaandel byeen te bring. Dit is wel so dat die Afrikanervolk se situasie byna jaarliks versleg. Daar het reeds 24 jaar verloop sedert die oorname van die Swart kommunistiese regime en Afrikaners beleef al hoe meer in die praktyk die antagonisme en vyandskap van dié regime en sy ondersteuners. Daar is beslis 'n groeiende vryheidsdrang by Afrikaners wat nie wil of kan emigreer na veiliger en voorspoediger lande nie. Om egter ná al die vorige foefies en windmeul-storm aksies nou wéér pogings aan te wend om Afrikaners in een kraal te jaag en dan net weer dieselfde doodgebore aksies voor te staan óf weer van die beginsels van Afrikanernasionalisme af te wyk en op die vyand van die volk se gekose terrein die stryd te voer, is nie net 'n mors van tyd en energie nie, dis ook 'n voortsetting van die demoraliseringsproses van ons volk.

Volgens amptelike dokumente van die nuutste poging tot sameroeping van die Afrikanervolk sal mense en organisasies wat by vorige futiele aksies betrokke was weer sleutelrolle speel in die nuwe pogings. Hieronder tel die sogenaamde "Boere-Afrikaner Volksraad", waarvan die HNP-leier, Andries Breytenbach die voorsitter is en Steyn van Rönge die laaste bekende adjunkvoorsitter. Laasgenoemde speel volgens alle aanduidings 'n sleutelrol in die nuutste poging om 'n sambreel-organisasie te stig. Hy doen dit egter in sy hoedanigheid as vermeende leier van die AWB. 'n Vinnige studie van die dokumente waarop hierdie nuutste samewerkingsaksie bepleit word laat 'n mens onmiddellik een belangrike vraag vra: Wat dan van die "Boere-Afrikaner Volksraad" en sy pogings om "selfbeskikking" vir die Afrikaner te bewerk? Is hierdie nuwe plan 'n erkenning dat die "Boere-Afrikaner Volksraad", misluk het? Dié organisasie is dan juis sowat tien jaar gelede van stapel gestuur as voertuig na 'n verenigde front van Afrikaners wat los staan van die politieke strukture binne die stelsel, om vir "selfbeskikking" vir die Afrikaner te beding. Waarom dan nou weer iets nuut van die grond af bring?

Van Rönge se amptelike verklaring na die eerste vergadering van die nuwe beweging, wat hy die "Vaderlands-alliansie" noem, verklaar dat hulle die "Boere-Afrikaner Volksraad", se agenda moet ondersteun. Nou waarom dan nog 'n nuwe organisasie? Is die "Boere-Afrikaner Volksraad", se fut uit? Kan belangrike sake soos veiligheid nie binne die "Boere-Afrikaner Volksraad", behandel en bestuur word nie? Het dié volksraad dan nie 'n veiligheids-portefeulje nie?

Die ANB se standpunt oor gesprekvoering met ander Afrikanerorganisasies en -groepe is goed bekend en dit het steeds nie verander nie. Die ANB is bereid om gesprek te voer met enige organisasie of groep wat die duidelike voorneme verklaar om die Afrikanervolk se saak te dien in hierdie verknellende toestand waarin ons verkeer. Daar is egter 'n baie eenvoudige voorwaarde. Die eerste punt op die agenda van enige gesprek sal wees: Wat is die aard en inhoud van Afrikanernasionalisme? As ander Afrikaners nie met ons as draer van die fakkel van Afrikanernasionalisme kan saamstem oor dié eenvoudige kwessie nie, is daar geen sin in verdere gesprek nie.

Die grootste deel van ons volk het die koers van Afrikanernasionalisme verloor en het saam met die massas verval in die moeras van die humanistiese menseregtekultuur wat deur die kommunistiese magte aan ons volk opgedring is. Ons as die draers van die beginsels van suiwer Afrikanernasionalisme glo egter dat daar géén hoop op sukses is as ons strategieë wil volg wat van dié beginsels afwyk nie.

Die sogenaamde "Boere-Afrikaner Volksraad" het reeds amptelik verklaar dat hulle twee opsies het in hul strewe na "selfbeskikking". Eerstens het hulle hulself in hul amptelike dokumente bereid verklaar om met die ANC/SAKP-regime te onderhandel oor selfbeskikking en daarvoor beroep hulle hulself op die verwerplike heidense grondwet van die nuwe Suid-Afrika!

Artikel 235 van die nuwe Suid-Afrika se Grondwet bepaal glo dat 'n "taal- en kultuurgemeenskap wat graag wil, selfbeskikking in 'n eie gebied kan opneem, mits dit op amptelike vlak, in samehang met die Regering, aangepak word". Dus, hierdie "Boere-Afrikaner Volksraad", waarin 'n politieke party soos die HNP 'n sleutelrol speel, wil nie net aanspraak maak om in gevolge die ANC/SAKP-regime se heidense grondwet selfbeskikking te eis nie, hulle wil boonop ook in ooreenstemming met die bepaling van daardie grondwet met die regime daaroor onderhandel!

Die "Boere-Afrikaner Volksraad" se tweede opsie is om die regime te probeer dwing om met hulle te onderhandel deur hulp te gaan vra by die Verenigde Nasies! Volgens die beginsels van "Internasionale Reg", wat glo in die Verenigde Nasies se grondwet vervat word deur middel van 'n verdrag getiteld die "International Covenant on Civil and Political Rights," word selfbeskikking van volke glo verskans en die "Boere-Afrikaner Volksraad" glo hulle sal die ANC/SAKP-regime in die bek kan ruk met dié verdrag, want Suid-Afrika is immers 'n lidland van die Verenigde Nasies...

Die "Boere-Afrikaner Volksraad" verklaar dan op hul webwerf dat sowat 35 000 siele deel was van hul "volkstemming" en dat die VVO dus by implikasie geen keuse sal hê as om hulle as verteenwoordiger van die Afrikanervolk gelyk te gee oor die volk se selfbeskikkingsregte nie... Is hierdie mense regtig ernstig? Besef hulle dan nie dat honderdduisende Afrikaners deel was van vyf algemene verkiesings sedert die oorname van die huidige regime in 1994 nie? Het dit hulle ontgaan dat Afrikaners in hul hordes in die regime se raadsale sit as deel van verskeie partye op al die regeringsvlakke van die nuwe Suid-Afrika? Hoe sal hul saak dus by die Verenigde Nasies kan slaag?

Dié organisasie is in ek geval dekades lank al 'n vyand van Afrikanernasionalisme. Met die voorafgaande feite in gedagte, watter verpligting het die Verenigde Nasies om hulle enigsins te steur aan 'n groepie Afrikaners wat nie soos die res van hul byna 2 miljoen volksgenote deel van die amptelike regeringstelsel van die Reënboognasie in Suid-Afrika wil wees nie?

Die tyd het aangebreek dat Afrikanernasionaliste hul prioriteite in orde kry met die realiteit van ons situasie as vertrekpunt. Laat ons dit maar reguit en duidelik vir mekaar stel – daar is géén amptelike kanaal waarop ons selbeskikking sal kry of ons land sal terugkry nie. Jaap Marais het dit in die laaste jare van sy lewe herhaaldelik en baie duidelik vir ons uitgespel: "Hierdie huidige bestel sál in duie stort en dit sál gepaard gaan met anargie en geweld. As dit gebeur, moet ons gereed wees om eendragtig op te tree, want daar sal nuwe grense getrek word in ons vaderland. Daardie grense sal wéér met bloed getrek word..." In daardie komende fase van ons geskiedenis sal ons toekoms dus bepaal word. Dis 'n gegewe feit waarvan ons nie kan wegkom nie. Die man wat dit wil betwis, leef in 'n fantasiewêreld los van enige werklikheid of realiteit.

Daar sal natuurlik, soos telkens in die verlede en op erg vyandige wyse, aan die ANB gevra word wat dan ons oplossing is en wat ons doen om die volk van ondergang te red? Dis eenvoudig. Soos hierbo genoem, moet ons die realiteit van ons situasie as 'n gegewe aanvaar. Die stelsel in die nuwe SuidAfrika is ontwerp om die Afrikanervolk te vernietig. Waarom sou ons vyand dus vir ons 'n agterdeur oopmaak om uit hul greep te ontsnap?

Die tweede realiteit is dat hierdie stelsel nie kan hou nie en dus in duie sal stort. Wanneer dit sal gebeur, kan niemand met akkuraatheid voorspel nie. Maar dit sál gebeur. Wat ons moet doen om daarvoor voor te berei is om eendersdenkende Afrikaners op die regte beginselbasis te versamel. Konsolidasie van diegene wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort. Ons het die basiese taak van opvoeding en onderskraging van Afrikaners wat soek na die waarheid.