REAKSIE OP RAMAPOKKER SE TOESPRAAK

President Ramaphosa
U praat op 'Menseregtedag' en sê dat rassisme in ons land nie verdwyn het nie. U gaan dit glo ook nie duld nie. Dit bly volgens u ’n werklikheid en dan sê u dat diegene wat hulle aan rassisme skuldig maak Suid-Afrika na ’n verlede, wat tot hulle voordeel was, wil terugneem.
Wat? U sê dus wit mense is diegene wat hulleself aan rassisme skuldig maak! Dit is ’n diep rassistiese stelling.
Dít in dieselfde week wat Hyundai ’n program loods wat jong wit werkloses uitskop omdat ’n regeringsprogram dit vereis. Dít terwyl die regering deurgaans in die howe veg om hulp in die Covid-tyd vir slegs swart ondernemings te gee. Dít in dieselfde maand wat die BLF in die hof skuldig bevind is vir walglike haatspraak nadat hulle die dood van wit kinders verwelkom het.
Dít in dieselfde maand wat Julius Malema hof toe gevat is omdat hy sê boere moet doodgemaak word en dat hy die moontlikheid van wit volksmoord nie wil uitsluit nie.
Dít terwyl die Suid-Afrikaanse regering tot in die Grondwethof geveg het om bruin mense in Suid-Afrika uit die Wes-Kaap te laat trek. Dít terwyl Sasol-werkers aandele kry op grond van ras. Dít ten spyte daarvan dat briljante wit kinders nie medies kan studeer nie, want hulle is wit. Dít terwyl skoolkinders uit netbal- en rugbyspanne geskop word oor rassekwotas. So kan ek aangaan.
Híéroor is u doodstil.
U is met rasblindheid getref. Op sy beste lei u aan rastonnelvisie.
Rassisme ís ’n werklikheid. Dis in ons skole, werkplekke, universiteite en staatsinstellings.
Dié rassisme word deur mense gepleeg wat ons na ’n toekoms van ras wil neem.
U regering is egter ’n mede-argitek en u rasbril maak u aandadig aan ’n land waar rassisme leef.
Dirk Hermann