Lees meer oor aardskuddings by Aardbewings - teken van ons tyd asook Thelma Cillie se vertelling oor 1969 se aardskudding in die Boland by Die aarde het gebewe!
" Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit het in 1969 in die Ceresgebied plaasgevind. Reeds 'n geruime tyd oorskry die gemete spanningsvlakke in die aardkors in ons land dié van die aardbewings in Suid-Afrika in 1810, 1890, en 1969. Dr Chris Hartnady, navorsings- en tegniese direkteur by die aard-wetenskaplike organisasie Umvoto Africa beweer: 'Dit is nie ‘n kwessie van òf dit gaan gebeur nie, maar ‘n kwessie van wánneer. In Afrika begin die skeidinglyne van die Nubia- en Somalia-plate wat vanaf die Andrew Bain fraktuursone in die Indiese Oseaan loop, by Port Shepstone, deur Natal en Lesotho tot in Mosambiek, en al die pad deur noord-oos Afrika. Die gekompliseerde samestelling van plate in Afrika is reeds 'n geruime tyd aktief besig om te skuif met opvallende veranderinge in die noorde van Malawië.' "
Ons wil met 'n bepaalde doel die ervaring van Thelma Cillie oor die kragtige, onverwagte aardbewing wat sy en haar gesin op 29 September 1969 in die Boland oorleef het, met ons lesers in 'n reeks aflewerings deel. Daar heers toenemende kommer uit verskeie oorde oor die moontlikheid dat 'n hewige aardbewing Suid-Afrika kan tref. Dat geen mens by magte is om 'n datum aan so 'n Godsbeheerde gebeure te heg nie is so, maar die tekens word deur God aan ons gegee en ons moet ons daaraan steur, daaroor praat en ons geestelik, psigies en fisies voorberei op so 'n moontlikheid.
Aardskuddings in Suid-Afrika is nie so 'n rare gebeure is as wat die nasionale media daarvan maak nie. Die feit dat meesal ligte aardbewings die afgelope jare ons land getref het soos ook die 2,8 ligte skudding verlede jaar op 23 April in Johannesburg, stel die publiek verder houtgerus, maar volgens wetenskaplikes is Suid-Afrika voor in die ry vir 'n massiewe skudding, baie groter as in 1969. Lees meer daaroor by Aardbewings - teken van ons tyd
Om vyf minute oor tien op 29 September 1969, het 'n ontsettende ramp die gemeenskappe van die Boland in die omgewing van Ceres, Groot Winterhoekvallei, Tulbach, Wolseley en Prince Alfred's Hamlet op hulle knieë gedwing.
Geen persoon wat so 'n aardbewing nie self deurleef het nie, kan hom indink wat die inwoners daardie nag en die dae wat gevolg het, deurgemaak het. Thelma waarsku spesifiek dat haar nageslagte weer so 'n aardbewing mag beleef en dat die onbekende en onverwagte belewenis daarvan vir hulle minder skokkend kan wees indien hulle bekend is met Thelma en haar gesin se ervaring. Maar, sê Thelma, moet nooit vergeet nie dat ons Almagtige Skepper mens die nodige moed en deursettingsvermoë skenk om ons deur elke onbekende en angsvolle omstandigheid te lei.Thelma vertel:
Die dag het skoon en helder aangebreek met geen waarskuwing van die naderende onheil nie...
Toe die aanhoudende gelui van die telefoon my om vyfuur die oggend uit 'n rustelose slaap wek, was dit die nagsuster wat my na die hospitaal ontbied – na die sterfbed van my moeder. Ek het moeg opgestaan want ek het baie min geslaap tydens haar siekte maar ek het my skoonsuster, Lila, eers gaan oplaai en ons het woordeloos in die oggendstilte na die hospitaal gery.
'n Rukkie later het ons baie hartseer huistoe gegaan om die reëlings te tref vir die begrafnis. Ek het my familie in die Transvaal en Suidwes-Afrika gebel en vertel van my moeder se dood; en almal het beloof om nog dieselfde dag na ons te vertrek. Daarna het ek saam met Koekie en Ou Toes, my twee bediendes, beddens oorgetrek en etes voorberei sodat alles gereed en gerieflik sou wees wanneer ons gaste koud en moeg daardie nag opdaag.
Ek was besig om 'n lys name neer te skryf van familie en vriende wat die volgende dag nog wou vertel van my moeder se heengaan, toe Clemens, my jongste broer uit Windhoek bel en vra dat ons hom en sy vrou die namiddag op DF Malan-lughawe moet ontmoet. Aangesien ek self so baie dinge te reël gehad het, het Irene, my skoonsus, aangebied om hulle te gaan haal.
So tussen al die werkies deur bly my gedagtes maar droewig maal... maar die oggend gaan vinnig verby met die bedagsame besoekies van vriende. Mev ds Coetzee kom ook oor om hulp en slaapplek aan te bied ingeval my huis te vol sou wees vir al die familie. Hoe kosbaar is dit tog om vriende te hê.
Teen skemer was al die belangrikste take afgehandel en ek het gou 'n draai in die blomtuin gaan maak om vir elke slaapkamer 'n paar blommetjies te gaan pluk. Blomme sê so baie dinge en maak woorde soms onnodig. Die ruikertjies was pas in elke kamer neergesit toe Clemens en Wilna opdaag en oor 'n koppie koffie ons familiesakies bespreek.
Omtrent agtuur die aand het Kleintjie, 'n ander skoonsuster van my, 'n pragtige ruiker van verskillende soorte veldblomme gebring en ek het troos geput uit die skoonheid van die blomme. Buite by haar motor het ons nog 'n bietjie gesels: "Nee dankie, nie nou tee nie," het sy geantwoord, "ek het nog so baie dingetjies om te doen en dit is al amper donker." Min het ons toe kon dink dat ons dié nag weer in die stikdonker sou ontmoet...
Om kwart voor tien die aand het ons rustig om die kombuistafel gesit en gesels. Andrew, my jongste seuntjie, het bo-op die tafel gesit en elke woord ingedrink wat Clemens oor Windhoek te vertel het. Ek onthou dat dit 'n besonder aangename aand buite was – doodstil, sonder wind.Ek was eenkant besig om toebroodjies te maak en Lona en Riana, ons twee dogtertjies, het reeds in die sonkamer wat uit ons slaapkamer lei, geslaap. Malan, my man, het op die agterstoep op 'n divan gelê en lees. "Ons moet gaan inkruip", het ek voorgestel. "Die toebroodjies is klaar en ek het 'n lekker pot sop gekook vir die familie wat nog vannag gaan kom..."
En toe meteens! Terwyl ek nog praat gebeur dit... Sonder énige waarskuwing of aanduiding vooraf, begin die aarde skud en dreun! Alles in die kombuis en in die res van die huis begin rittel en beef... al vinniger en vinniger... en al harder en harder! 'n Ontsettende geraas en 'n gedruis en gerammel asof die berge met 'n oorverdowende lawaai oopgewring word, laat ons verskrik na mekaar kyk. Kasdeure vlieg oop en bottels konfyt, koppies, pierings, glase, borde en ornamente word wild deur die lug geslinger, voordat dit kletterend aan skerwe op die grond val.
Die hele huis begin kantel en meteens is dit stikdonker!
Andrew val van die kombuistafel af en klou vir lewe en dood aan Clemens se bene vas. Ons het géén beheer oor onsself nie en vind dat ons glad nie kan beweeg nie. Ons word heen en weer geslinger en klou met alle mag aan die tafel wat aanhoudend heen en weer geruk word. My man is heeltemal van die bed geslinger en kruip-loop na buite om te kyk wat aangaan... Botsende gedagtes flits in die geskokte stilte deur my brein: "Wat kan dit wees?... Nee! Tog nie die oordeelsdag nie! Ons is dan só jonk. Die lewe is dan nog so mooi, so vol. Daar's nog so baie om te doen!"
Ons kantel meteens weer met 'n ontsettende skudding en ek gee myself gelate oor: "Nou ja, liewe Here, as dit dan móét, moet U ons seker nou maar neem," dink ek. "Wat kan ék tog doen om dit te verhoed?" Ek is so bly my man en kinders is by my en ek voel innig jammer vir Clemens en Wilna wie se twee kindertjies in Windhoek agtergebly het...
Toe die skuddings effe bedaar, probeer ons beweeg maar struikel in die donker oor die stukkende glas op die vloer... Eindelik kon ek weer praat en roep na my man om ons dogtertjies, wat heeltemal aan die een kant van die huis was te gaan haal. Toe hy uiteindelik val-val by hulle aankom vind hy hulle bewend van vrees op die vloer in ons kamer. Hulle is hard uit hulle beddens geslinger en het sowat twintig voet ver in ons slaapkamer ingerol. Na min of meer 30 sekondes, wat vir ons na 'n ewigheid gevoel het, het ons buite gekom.
"Kyk, die sterre het geval!" het ek beangs geroep, want in die stikdonker het duisende liggies teen die berghange geflits... en terwyl ons nog so staan en kyk, het die flikkerende ligte wat soos sterre gelyk het, in vure verander! Wat ons gesien het was in werklikheid groot vuurvonke soos die rotse in die berge –wat Ceres omring – gebreek en verskuif het. Binne 'n paar sekondes het die nag vir ons 'n verskrikking geword! Die berge rondom ons was meteens een brandende massa! Die aarde onder ons het geskud en aaklig gedreun. 'n Ontsettende, vreesaanjaende gebeurtenis om te aanskou en te beleef.
Ons het vreesbevange voor ons agterdeur gaan sit. Ons hele agterplaas het 'n betonvloer en dié soliede stuk beton het gevoel soos 'n vlot op die see, soos dit heen en weer en op en af geskud word. My man het later gewaag om die suikerpot in die kombuis te gaan haal want die kinders het in so 'n geweldige toestand van skok aan ons vasgeklou dat ons hulle skoon suiker wou voer. Veral Andrew was histeries en ons het telkens gevrees hy gaan flou word.
Om die aakligheid van hierdie nag nog te verger het al die diere die naarste geluide gemaak. Honde, katte, skape, beeste en voëls het almal op hul eie manier saam met die mense geweeklaag...
En hier het ons groepie gesit – klein en naak voor die almag van God. Hierdie vreemde ontsetting wat ons oorval het – ons kon dit geheel en al nie verstaan nie en ons was diep bewus van ons afhanklikheid van die genade van God die almagtige Skepper, en van ons volslae nietigheid as mense.
Vervolg... (2)