THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit in 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
Ons vier bolandse dorpies was stukkend. Ons harte so seer en ons so verslae en so magteloos. Selfs ons berge, onwankelbaar deur die eeue heen, lyk vandag asof hulle geween het oor hierdie vreemde ding wat met hulle gebeur; lang sandtrane loop langs die hellings af; vir altyd geskend op so 'n ongewone manier. Hierdie letsels op ons berge sal steeds dien as 'n stille getuienis om ons te herinner aan 'n nag van verskrikking en boweal aan die Almag van God.
Ons as familie het nou nie veel tyd gehad om na die welstand en moeilikhede van ons kennisse te verneem nie want ons moes nou in hierdie haglike omstandighede met die begrafnisreëlings van my moeder voortgaan. Hier was geen predikante nie. Hulle was steeds in Pretoria vir die kongres.
Gelukkig het ek daaraan gedink en die vorige dag 'n neef, ds Du Toit van die Strand, gebel, wie ingewillig het om die diens te kom waarneem.As gevolg van sy eie gemeentelike verpligtinge kon hy egter nie voor Woensdagoggend 1 Oktober, die begrafnis waarneem nie; en ek is dankbaar dat ek hom betyds genader het want alle telefoonverbindinge was nou ook onderbreek en ek kon niemand verder in kennis stel van my moeder se dood nie. Gelukkig ook dat die begrafnis vir Woensdag gereël was want Dinsdag was 'n dag wat geen mens in hierdie omgewing ooit sal vergeet nie – alles was ontwrig.
Ons is die oggend kerkhof toe om te kyk dat dinge daar reg verloop, en oppad daarheen is ons eers by mnr Blom aan om te hoor wat ons alles te doen staan. Dié arme man se huis het in puin gelê maar sy gesin het wonderbaarlik, sonder enige skrape, uit die huis gekom.
Die Here was so goed vir ons in hierdie verband – baie mense het op haas ongelooflike wyse aan die dood ontkom. Geen blankes is gedood nie, maar daar is elf Kleurlinge gedood in die aardbewing – meestal kinders wat heeltemal toegeval het on die puin en nie dadelik uitgegrawe kon word nie, waaroor ons so jammer gevoel het.
Toe ons by die kerkhof kom moes ons vind dat selfs dít nie gespaar is nie. Die toneel het meer troosteloos en meer verlate as ooit gelyk. Die grafstene het omgelê en baie was gebreek. Die grafgrawers het 'n heilige vrees gehad om daar in te gaan en met baie moeite en mooipraat het my broers hulle later so ver gekry om die graf te grawe.
Selfs die kerk is nie gespaar nie. Die boonste deel van die toring en een van die gewels het afgeval, en die gebou self was nou te gevaarlik om binne te gaan. Daarom sou die begrafnisdiens in die kerksaal gehou moes word. Die kerksaal was self ook al vol barste, en intussen het die aarde nog met 'n onheilspellende gedreun, af en toe gerittel en dan weer gebeef.
Ons was bevrees dat die predikant dalk nie sou kon kom nie want Michellspas het vol rotsblokke gelê en die moontlikheid het bestaan dat die pas nie gou genoeg vir verkeer oopgestel sou kon word nie.
Die toebroodjies wat ek die vorige aand gemaak het, het nou handig te pas gekom. Almal was skielik rasend honger en het gekla dat hul monde aanhoudend droog bly. Ons wou aanmekaar net iets eet of drink – ek glo dit was 'n soort skokreaksie.
Ons huis was ontsettend vuil. Die mure van alle vertrekke was vol barste, en al die barste, selfs die fynstes, was dwarsdeur die mure. Dit het gelyk asof sakkies sement deur die huis gestrooi was – blykbaar as gevolg van die barste wat oop en toe beweeg het. Op die kombuis- , spens- en pakkamervloere was dit een taai gemors van konfyt, heuning, ingemaakte vrugte en wat dies meer. In elke slaapkamer het 'n verlate ruikertjie blomme gepryk wat, eienaardig genoeg, nie omgeval het nie. Drie bediendes het die ganse dag gewerk om die huis min of meer skoon te kry en ons middagete is buite op oop vure berei. Dit het die kinders natuurlik heerlik gevind.
Die Skepper het 'n mens voorwaar wonderlik geskape. Net gisteraand nog het ek gedink ek kan nie 'n tree verder nie en waarlik ek is weer 'n nag deur sonder om te slaap en ek het moed vir nog 'n bedrywige dag wat op hande is.
Na die middagete het ons elkeen 'n kombers geneem en buite onder bome probeer om 'n bietjie te rus – want hoe sou ons weet wat die volgende nag sou bring?
Dit het nie mooi gelyk buite nie. 'n Swaar rookwolk het in die lug gehang as gevolg van die vure in die berge wat nog aanhoudend gebrand het, en die lug was dynserig en droewig. Ons het probeer rus maar was gedurig onrustig en gespanne.
Net toe ek uiteindelik wou insluimer was daar meteens weer 'n harde skudding en ek kon, hier waar ek buite gelê het, hoor hoe nog flesse konfyt in die pakkamer afval en breek. Nou was my slaap daarmee heen en teen hierdie tyd het ek al net soos ' n uitgewaste lap gevoel en gelyk; my oë was gedaan en al troos wat ek gehad het was dat almal maar so lyk, dat ons almal deur die ramp getref is en dat ons almal ewe besluiteloos was – dit het getroos en dinge soveel makliker gemaak.
Terwyl dit nog lig was het ons die motorhuis reggepak, 'n seil op die grond oopgegooi en al die matrasse uitgedra. Ons het gehoop om darem daardie nag te kan slaap.
Daardie aand was ek werklik so uitgeput dat ek nie in staat was om my familie se aandkos voor te berei nie. Bennie en Lila het die skaap wat die oggend al geslag is, uitmekaar gehaal en net gou het hulle 'n heerlike vleisbraai aan die gang gehad terwyl ander familie weer toebroodjies gemaak het. Ons het later lekker om die kampvuur gesit en eet en mens sou kwalik glo dat alles so deurmekaar en ontwrig was.
Ons het daardie aand almal ry aan ry in die motorhuis gaan slaap want niemand wou dit in hulle huise waag nie. Dit was 'n groot vrees wat ons gepak het en hierdie vrees sou beslis eers oorwin moes word voordat ons dit sou waag om in ons huise te slaap. Selfs mense van die dorp het by ons kom slaap en ons het beslis veiliger gevoel solank ons buite net in groot groepe bymekaar was. Andrew my seuntjie, het egter steeds besluit dat die motor by verre die veiligste plek op die werf is en het snags daarin bly slaap. Snaaks genoeg, in 'n motor het mens feitlik nie die na-skokke gevoel nie tensy dit weer baie erger geword het met sekere tye. Almal het 'n ontsettende vrees om in 'n gebou te gaan, oorgehou.
Omdat baie mense se huise totaal verwoes is, was slaapplek 'n geweldige probleem. Kleintjie, wat haar geboue ook moes ontruim, het in ons kantoor op die plaas ingetrek – die geboutjie is vas aan ons motorhuis en is wonderbaarlik nie beskadig nie.
Apie het met sy gesin in een van die buitegeboue op die werf ingetrek, en ons het die aand maar vroeg gaan inkruip want die volgende dag, 1 Oktober, sou die begrafnis plaasvind. Ons het tog vir rukkies ingesluimer maar kort-kort is ons gewek deur die gedreun en aanhoudende gerammel wat maar nie wou ophou nie – en wat menigeen se senuwees al aan flarde had.
'n Matelose verlatenheid en 'n onbeskryflike hartseer het swaar in my gemoed kom lê terwyl ons paar familielede die kerksaal binngestap het. Die klavierspel het yl en dun, ver weg en onwerklik geklink. Ek het 'n klein groepie vriende wat tog die vrees trotseer het om saam met ons in hierdie uur te wees, raakgesien en ek was oneindig dankbaar teenoor hulle. Ek het vanoggend ook met groot dankbaarheid aan vriende gedink wat ten spyte van hulle afwesigheid, in hierdie dae liefdesdiensies aan my bewys het.
Terwyl die diens aan die gang was, was almal merkbaar gespanne want kort-kort het dit maar nog gedreun en gebewe en dan het vrees weer ons aandag van die vertroostende boodskap van die leraar afgelei.
By die kerkhof aangekom het alles so verskriklik droewig en verlate gelyk met die onheilspellende dynserigheid wat steeds in die lug gehang het en die gedurige gedreun in die agtergrond. Ons laaste Psalm het weemoedig in die sombere oggendstilte opgeklink – hier waar ons gestaan het om 'n moeder tussen gebreekte grafstene weg te lê. Ons het afskeid geneem van die graf en huistoe gegaan, volkome bewus daarvan dat niemand wat daardie oggend teenwoordig was, al ooit so 'n troostelose begrafnis bygewoon het nie – en dit by iemand se graf by wie ons so graag baie vriende en massas blomme sou wou sien. Ons was bedroef maar verlig toe dit verby is en het begin verneem hoe die dinge ons gemeenskap getref het.
Vervolg...