THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
Hierdie aardskokke is feitlik landswyd gevoel. By plekke so ver as Port Elizabeth, Durban en Kaapstad het mense paniekbevange uit hulle huise gehardloop – sommige was so ontstel dat hulle behandeling teen skok moes ontvang. Daar is selfs geringe skade in Kaapstad aangerig – byvoorbeeld gebarste mure van huise en geboue en ruite wat uitgeval het.
As plekke so ver van die rampgebied wat die middelpunt van die skok was, só getref is, kan daar seker begryp word deur watter helse angs die mense in die rampgebied sélf gegaan het. Dit is 'n ondervinding wat ons in der ewigheid nooit sal vergeet nie. Kinders wat 'n Voortrekkerkamp in Bainskloof bygewoon het, het vertel dat dit gevoel het asof die aarde reg onder hulle oopgeskeur. Die kinders wat in tente geslaap het, het gesê die grond onder hulle het meteens op en af begin beweeg en die tente het heen en weer gekantel. Om die kinders 'n bietjie te kalmeer, het mnr Louis Pienaar die kamporkes laat speel, en nadat die nagegnoeg 550 kinders liedjies gesing het, het hulle weer gaan slaap. Die kinders het so intens belanggestel in die aardbewing dat mnr Pienaar 'n deskundige van die Universiteit van Stellenbosch gekry het om hulle te kom toespreek oor die oorsaak en aard van aardbewings.
Hoe baie het ons ook in hierdie nag van verskikking aan die gevangenes gedink! Hierdie mense wat in selle gesit het en nie kon uitkom nie! Watter oorweldigende angs sou hulle nie ook belewe het nie? Sommige tronke in die rampgebied was so erg beskadig dat die gevangenis later buite die selle bewaak moes word.
Ons het 'n ligpunt in 'n berig in Die Burger van 1 Oktober 1969 gesien. Geoloë het verklaar dat hulle nie dink dat dit die begin van nóg rampe is nie. Hulle het aangeneem dat ons waarskynlik geen verdere aardbewings sou ondervind nie. Nou ja, die gedagte troos darem. Hulle het ook verklaar dat die aardbewing die hewigste was wat ons nóg in Suid-Afrika ervaar het. Hierdie aardbewing het egter in 'n gebied voorgekom wat hulle seismies as onaktief beskou het.
Meegevoel het daagliks uit alle oorde gekom. Die Eerste Minister het self oorgekom na ons om sy meegevoel te betuig en 'n helikopter is die eerste dag tot die waarnemende Administrateur se beskikking gestel sodat hy self die rampgebied kon besoek. Ná die nodige ondersoeke en samesprekings op hoë amptelik vlak, het ons regering die rampgebied wonderlik tegemoet gekom en prysenswaardige hulp is aangebied: Die grootste gedeelte van Tulbagh sal herbou moet word. Ceres wat aanvanklik gelyk het asof daar minder skade is, sal ook grootliks herbou moet word – veral die woonhuise. Van buite het die meeste nuutgeboude huise nie so erg beskadig gelyk nie maar van binne was dit 'n ander storie. Sommige van die winkelgeboue het nie so erg seer gekry nie – moontlik omdat dit grootliks nuwe geboue is, en omdat daar met die bouwerk al heelwat van staalkonstruksies gebruik gemaak is.
Ons hoor nog daagliks, soos ons met mense gesels, van die baie noue ontkomings wat mense gehad het. Mense wat werklik wonderbaarlik aan die dood ontkom het en elke keer sien ons duidelik die beskermende Hand van God.
Só hoor ons toe ook van die familie Smith op Ceres. Hulle moes hulle seun Louis, 15 jaar oud, onder 'n hoop puin uitgrawe Net sy voet het uitgesteek, en tog, nadat hulle hom uitgekry het, het hulle gevind dat net sy enkel beseer is! Mev Smith wat ook effens beseer was moes hierna behandeling ontvang. Mnr Smith is die man wat ná die aardbewing ons telefone vir ons so gerieflik kom insit het – hetsy in tent of karavaan.
Ons hoor van die familie Du Toit in Eikestraat. Moeder en dogter het net betyds padgegee voor vallende mure. Daar is ook die familie Bruyns wat inderhaas uit hulle huis moes vlug. Ons dink veral aan die familie Woudberg se wonderlike ontkoming. Mev Woudberg en kinders het vir 'n paar dae gaan kuier, en mnr Woudberg was alleen tuis. Hy kon net betyds padgee voordat feitlik die helfte van die huis ingestort het!
Baie mense moes hulle meubels gou uit die huise wat so wankelrig gelyk het, verwyder en die volgende oggend was meubels op die sypaadjies 'n algemene gesig. Almal het hulle egter so gerieflik moontlik ingerig en oral was daar darem nog een of ander ou stofie waarop die boeretroos kon voorberei word.
Dit was treffend dat ons, ongeag die vreeslik ramp, tog nog die pragtige natuurskoon van ons distrik kon waardeer. Dit was kompleet asof alle plante en bome wat so deur die aarde rondgeskud is nou hul mooiste aan ons wou wys – asof hulle wou vergoed vir al die ander verliese.
Die ACVV-kinderinrigting op Tulbagh, die Waverenhuis, is ook nie gespaar nie. Die meeste kinders was gelukkig tydens die ramp met vakansie in die Burger-strandhuis by Muizenberg, Kaap. Sommige was met vakansie by ander gesinne. Omdat die gebou so erg beskadig is, is al die kinders ná die aardbewing vir 'n onbepaalde tyd by privaatmense uitgeplaas. Daar is veral baie van die kinders in Malmesbury uitgeplaas. Kinders wat reeds gedurende die vakansie by privaatmense aan huis was, het sommer daar aangebly.
Ten spyte van die geweldige ontwrigting op die rampdorpe, het mense mekaar op 'n verstommende wyse bygestaan om die lewe weer so gou moontlik op dreef te kry.
So baie mense het gedurende die afgelope jare die geleentheid benut om hulle woonhuise te verbeter, of om heeltemal nuwe huise te bou. Hoe bitter teleurgesteld is diesulkes nou. Só is daar die geval van brig FF van der Hoven, gewese bevelvoerder van die Kommandement Westelike-Provinsie. Die 200-jaaroue plaaswoning op Waterval, pas opgeknap en gereed vir 'n spogonthaal vir die huwelik van sy dogter, staan nou verrinneweerd. Die huwelik en onthaal sou wel nog plaasvind maar heeltemal anders as wat beplan was – die mens wik maar God beskik.
Besoekers het later 'n oorlas op die dorpe geword. Duisende nuuskieriges het na die rampgebied gestroom en die opruimwerk belemmer of vertraag. Dit het later noodsaaklik geword om die paaie tydelik te versper, en permitte moes uitgereik word om aan wettige besoekers toegang tot die dorpe te verleen. Eintlik is verlof net aan familie van die geteisterdes en aan diegene wat amptelike werk of ander sake moes verrig, toegestaan.
Die regering het aangekondig dat alle mense weer van owerheidsweë op die been gehelp sal word; en die eerste stap in hierdie rigting was om dadelik met die oprigting van opslaanhuise vir die dakloses te begin. Mense het nou nuwe moed geskep en geleef vir dié dag wanneer hulle uit die tente weer in 'n veilige huisie sou kon intrek.
Snaakse plekke het skielik slaapplekke geword – so is selfs verskeie stewige hoenderhokke vir dié doel ingerig. Koos en Willem het 'n ou bak van 'n roomys-vragmotor uit Kaapstad gebring om ook as slaap- of bêreplek te dien terwyl honderde en honderde families werklik net van tente afhanklik was.
'n Interdepartementele komitee is deur die regering aangestel om die dorpe in hul groot herbouingstaak by te staan. Tien staatsdepartemente en die Kaaplandse Provinsiale Administrasie is in die komitee verteenwoordig. In hierdie tyd het ons ook besoek van Sy Edele mnr Louwrens Muller, Minister van Polisie en Binnelandse Sake, ontvang. Behalwe as verteenwoordiger van die regering het hy ook ons gemeenskap in sy hoedanigheid as volksraadslid besoek – Ceres en Wolseley was sy kiesafdeling.
Nadat die stigting van 'n rampfonds aangekondig is, was die reaksie van ons mense oral oor ons land werklik skouspelagtig en oorweldigend. Behalwe geldelike hulp is huisvesting uit alle oorde aangebied. Selfs kosvoorrade en klerasie het uit alle rigtings en van baie instansies aangekom. Onder die Suid-Afrikaanse publiek alléén is daar uiteindelik R1 000 000 ingesamel. Die werklike skade in die rampgebied is amptelik op sowat R19 000 000 beraam.
Die dienspligtiges van die Suid-Afrikaanse weermag het getrou op hul pos gebly, die strate gereeld gepatrolleer en 'n liefderike, helpende hand uitgesteek waar hulle ook al kon. Dit was vir menigeen 'n verligting en 'n gerusstelling om te weet dat dié manne byderhand is indien ons hulle sou nodig kry vir die een of ander taak. Selfs met die aflewering van pos was die hulp van hierdie dienswillige jong manne van onskatbare waarde want baie mense moes uit hulle huise trek en het elders gewoon. Dié manne het dit hul taak gemaak om die pos veilig by die regte persone af te lewer.
Herstelspanne van ywerige weermagmanne het onverpoosd gewerk om die dorpe se watertoevoer weer te herstel, en barste wat oor die paaie verskyn het, toe te maak. Die weermagmanne het ook baie gedoen om die moed van die mense in die rampgebied hoog te hou. Hulle was altyd gereed met 'n grappie of het die humor in elke situasie raakgesien.
Die inwonders van die rampgebied het maar alte goed geweet wat sal gebeur as dit in hierdie stadium moes begin reën. Ten spyte van die droogte sou reën op hierdie stadium nie welkom wees nie. Talle geboue sou sekerlik verder beskadig word en die tentlewe sou daardeur voorwaar nie makliker gemaak word nie; solank die reën dus weggebly het, sou die tentlewe nog uithoubaar wees.
Oppak en huistoe ongeag... vervolg