Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Satan is die een wat depressie by mense misbruik totdat hulle glo hulle is hopeloos en ongered. Die teenoorgestelde is egter waar: iemand wat deur die donker van depressie geloop het, het 'n bepaalde innerlike krag ontwikkel wat van hom 'n wyser en sterker mens gemaak het. Moenie na die duiwel luister wanneer jy op jou swakste voel nie – weet daar kom 'n tyd hierna wat jy as kind van God baie sterk sal wees met 'n wysheid wat jou verder deur jou lewe sal dra, want in die donkerste dieptes het jy God weer gevind.
OMGEKOOPTE OU SA REGERING VERANTWOORDELIK VIR DR HF VERWOERD SE MOORD
Hierdie uittreksel is geneem uit die boek RAUTEM geskryf deur dr. Philip Venter. Hy is ‘n bekende skrywer van veelvuldige boeke wat ons binnekort hier op Gelofteland bekend sal stel. Sy kontaknommer is: 083 444 7672 en sy boeke kan dan direk by hom bestel word.
Met hartlike dank aan dr. Philip Venter
Tsafendas is nooit verhoor nie omdat die hooggeregshof in ′n spesiale ondersoek bevind het dat hy as skisofreen nie vir sy dade aanspreeklik gehou kon word nie en ingevolge wetgewing nie verhoor kon word nie. Hy is lewenslank in tronkselle en die Sterkfontein-gestig opgesluit, waar niemand hom te woord kon staan nie, en hy is op 7 Oktober 1999 daar dood. Hy is op die hospitaalterrein in ′n ongemerkte graf begrawe.
In teenstelling daarmee het groot getalle veroordeelde terroriste wat veelvuldige moorde op onskuldige Suid-Afrikaanse burgerlikes gepleeg het, voor die voet amnestie gekry en is uit die tronke vrygelaat. Verskeie van hulle is vir hul bloeddorstigheid en genadeloosheid beloon met hoë poste in die staatsdiens, selfs as offisiere in die polisiediens. Vir Tsafendas, egter, was daar geen amnestie nie. Hy moes sy geheime saam graf toe neem.
Kort na Tsafendas se moordaanval op dr Verwoerd het hy psigiatriese waarneming vir doeleindes van die hofondersoek ondergaan. Hy het aan een van die sielkundiges, prof AJ Van Wyk, gesê dat iemand of iets hom beheer het en hom opdrag gegee het om dr Verwoerd te vermoor. Hy het onsamehangend van ′n ″demoniese lintwurm″ gepraat. Aan ′n ander psigiater, dr I Sakinofski, het hy gesê dit was asof hy gehipnotiseer was, want hy kan nie onthou wat gebeur het nie. Ook het hy van sy denkbeeldige lintwurm en demoon gepraat wat ″reg in die middel daarvan″ was. Hy kon nie verduidelik wat hy daarmee bedoel nie. Ook hoe hy na Suid-Afrika gekom het en met watter doel, het hy gesê hy kan glad nie onthou nie.
′n Mede-bode het vertel dat Tsafendas enkele minute voor die moordaanslag op Verwoerd aan hom gesê het iemand gaan hom dalk bel.
Wie sou hom kort voor die moordaanslag bel, en wie was dit wat hom opdrag gegee het om die moord te pleeg? Was daar ′n telefoonoproep van ′n hanteerder of opdraggewer? En waarom kon hy al hierdie dinge nie onthou nie? Was hy dalk deur iemand tydens hipnoterapie in ′n gestig of kliniek gebreinspoel om die misdaad te pleeg, asook om van die terapeut en sy terapie te vergeet? En hoe was dit vir Verwoerd se opvolger, BJ (John) Vorster, moontlik om ′n dag ná die moord reeds in die openbaar te verklaar dat die moordaanslag die daad van ′n enkeling was, terwyl die ondersoek na die gebeure nog nie eens begin het nie?
Op hierdie kwelvrae word op opspraakwekkende wyse lig gewerp deur dr AV (Allan) Bird, gesiene neuroloog van Simonstad, in sy biografie, Bird on the Wing, wat in 1992, die jaar dat hy op 76 jaar oorlede is, in ′n beperkte oplaag gepubliseer is. Die boek is nie wyd bekend gestel nie, en die media wat daarvan bewus was, het daaroor geswyg.
Bird skryf dat hy in 1953 ′n Joodse psigiater (sy naam en van word in die boek vermeld) ontmoet het wat ook lid was van die SA Kommunistiese Party. Hy het ′n vennoot in Bird se praktyk geword, en het laasgenoemde saamgenooi om van die geheime vergaderings van die kommuniste by te woon. Daar het hy onder andere Joe Slovo en Nelson Mandela ontmoet. Omdat die atmosfeer by hierdie vergaderings ernstig lands-ondermynend was, het Bird besluit om liefs daarvan weg te bly.
Kort voor die eerste aanslag op dr Verwoerd se lewe op 9 April 1960 deur David Pratt, het Bird se vennoot aan hom gesê dat Verwoerd geskiet gaan word. Hy (Bird) was aan diens in die Johannesburg-Hospitaal toe die gewonde eerste minister die middag van die moordaanslag met skietwonde aan die kant van sy kop ingebring is vir noodbehandeling. Die volgende dag is hy vir sy eie veiligheid na die Algemene Hospitaal in Pretoria oorgeplaas.
Die sluipmoordenaar Pratt was ′n psigiatriese pasiënt van sy vennoot, skryf Bird. ″Ek het tot die konklusie gekom dat my kollega en Pratt die plan beraam het om Verwoerd te skiet. Aangesien Pratt ′n epileptikus was wat aan ernstige depressie gely het, sou hy ingevolge die Wet op Geestesgesondheid van 1916 as geestesversteurde nie verhoor kon word nie,″ skryf Bird. In ag genome Pratt se toestand van terneergedruktheid en sy aanhouding sonder medikasie in ′n gestig, waar hy ook epileptiese aanvalle gekry het, is selfmoord inderdaad die waarskynlikste verduideliking vir sy dood, skryf hy.
Na die inhegtenisneming in 1963 by Rivonia van Nelson Mandela, Joe Slovo en ander kommuniste deur die veiligheidspolisie, wou Bird se vennoot, wat ook medestigter was van die militante ANC-vleuel Umkhonto weSizwe, land-uit vlug. Hy het betreklik gou ′n pos as psigiater in die Brighton-hospitaal vir geestesversteurdes in Londen bekom, asook een as ′n konsultant-psigiater in die Maudsleyhospitaal in die Britse hoofstad.
Dit was vir Bird duidelik dat sy eertydse vennoot geen blinkogige vryheidstryder met vrome, medemenslike ideale was nie, maar dat hy inderdaad lid was van ′n internasionale terroristegroep wat wêreldmag manies nagejaag het. Hy het ′n afspraak met die veiligheidspolisie gemaak en hulle alles van sy vennoot se doen en late en sy betrokkenheid as psigiatriese terapeut van David Pratt vertel.
Op 6 September 1966 het die skoknuus gekom dat Dimitri Tsafendas in die raadsaal van die parlement die eerste minister met ′n dolk vermoor het. Bird het van kollegas in die mediese wêreld verneem dat Tsafendas in die hoë sekerheid Brighton-kliniek in Londen psigiatries behandel is voordat hy met ′n aansienlike bedrag geld na Suid-Afrika gekom het. Dit is dieselfde kliniek waar sy eertydse kommunistiese vennoot in 1963 ′n heenkome as konsultant-psigiater gevind het. Bird het dadelik vermoed dat sy voormalige vennoot vir Tsafendas, net soos Pratt, as pasiënt gehad het en dat hy hom met psigiatriese terapie gekondisioneer het om Verwoerd te vermoor.
Een van Bird se mede-dokters was van mening dat Tsafendas se dolksteke in die borskas van dr Verwoerd, waarvan twee regstreeks die hart en aorta getref het, ongetwyfeld vooraf geoefen moes gewees het – waarskynlik op ′n lyk. Tsafendas het klaarblyklik opleiding van ′n ekspert-anatomis ontvang om sy kaphoue met die dolk so akkuraat te kon rig, het die medikus gesê.
Bird het weereens besoek aan die veiligheidspolisie gebring en alles wat hy van sy oud-kollega en sy vermeende psigiatriese betrokkenheid by Tsafendas weet, vertel. Hy is deur ′n offisier meegedeel dat hulle daarvan bewus was dat Tsafendas reeds in Suid-Afrika ′n psigiatriese pasiënt van Bird se voormalige kollega was voordat hy (die psigiater) na Londen gevlug het.
As die veiligheidspolisie op hoë vlak bewus was van die kommunis Tsafendas se curriculum vitae en van sy bewegings, asook van sy terapeut s′n, hoe was dit dan moontlik dat hy as bode van die parlement in diens geneem kon word waar hy regstreekse toegang tot die persoon van die eerste minister kon kry in ′n gedeelte van die raadsaal waar nie eens gewone parlementslede of die lyfwagte van die premier mag kom nie? wil Bird weet.
Bird skryf hy is van mening dat die moord op dr Verwoerd met militêre presisie deur drie groepe eksperte beplan is: Mediese spesialiste op die gebied van die toraks-snykunde, psigiaters en spesialiste in die regte met regstreekse toegang tot Suid-Afrika se veiligheidsdienste.
″Die pad van die Afrikanervolk loop nie deur die konstitusionele kontrepsies van ′n veelrassige parlement en kabinet nie, maar deur die bloedplas in die parlement waar dr Verwoerd gesterf het omdat hy nee gesê het vir verandering van sy volk se beginsels en waardes, nee vir onderhorigheid aan Brittanje en Amerika, nee vir valse vrede met Afrika-state, nee vir rassevermenging, en nee vir broederskap met die geldmag. Dit is waar die Afrikaners die spoor van vryheid weer moet opvat waar dit doodgeloop het op 6 September 1966″ – Jaap Marais, 4 Mei 1984.
Bronne:
Verwoerd: So onthou ons hom, saamgestel deur Wilhelm J Verwoerd, Protea Boekhuis, 2001.
Die moord op dr. Verwoerd deur J.J.J. Scholtz, Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1967.
Bird on the Wing deur AV Bird, South African natural History Publications, Simonstad, 1992.
Afspraak met die toekoms deur Jaap Marais, LW Uitgewers, Pretoria, 2001. Verwoerd aan die woord: Toesprake 1948-1962, Afrikaanse Pers-Boekhandel, Pretoria, 1963.