Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Billy Gramham het by geleentheid tereg gesê dat 'n hele beskawing verkrummel en verval wanneer die gesinslewe agteruitgaan. En ons sien vandag hoe ons volk en ons land se waardes 'n totale beskawingsineenstorting beleef...
BROKKIES UIT DIE BOEK RAUTEM (4)
RAUTEM, geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Kort voor die sluipmoord op Dr. Verwoerd het hy as Eerste Minister, vir Professor Jan Hoek opdrag gegee om ondersoek in te stel na die mag wat die Anglo American, op die Suid Afrikaanse groter ekonomie, en veral op Politieke gebied in Suid Afrika uitgeoefen het. Hy het selfs vir Anglo American verbied om besigheid in die Tuislande te doen, met goeie rede?
Wat Professor Jan Hoek toe opgestel het, het in parlementêre kringe as ‘Die Hoek Verslag’ bekend gestaan. Dr. Verwoerd is egter binne in die Parlement, deur Demitri Tsafendas vermoor nog voor die Hoek Verslag klaar was. Demitrio Stafendas (sic) was ‘n gelyste Kommunis en kon as gevolg van sy ‘Rooi Lêer’ by die Buro van Staatsveiligheid dertien keer agtereenvolgend, nie daarin slaag om die land binne te kom nie. Kort voordat hy Dr. Verwoerd binne in die Parlement met ‘n dolk in die hart doodgesteek het, het hy ten spyte van die genoemde lêer daarin geslaag om die land binne te kom, maar erger nog, hy het werk in die Parlement gekry – as bode!
Toe die ‘Hoek Verslag’ ter tafel gelê is, het slegs John Vorster – die vermoorde Verwoerd se opvolger, Jaap Marais – LV vir Innesdal en latere leier van die HNP, Piet Koornhof, en Dr. Andries Treurnicht – destydse Redakteur van ‘Die Transvaler’ dagblad en latere leier van die Konserwatiewe Party; die Hoek Verslag onder oë gehad. John Vorster het beveel dat die Hoek Verslag vernietig moes word en dat nòg die res van die Parlement nòg die publiek ooit oor die inhoud ingelig moes word.
*
Die wit polisiehelikopter is ‘n spikkeltjie wat voorafgegaan word deur die geklap van rotors wat woep-woep klap, voordat die geluid van die enjin hoorbaar word. Ters is spyt dat hy die .50 agtergelaat het. Hierdie is die eerste sending waar dinge so skeef loop. Eers die verbrande kwêvoël, Skeer wat koes en die ou wat by die hoek opgedaag het. Hy het hom darem raakgeskiet en uit die foto’s weet hy dis Stefan Marais. Dit laat hom ewe koud, as wat die destydse Minister van Justisie en Polisie, Jimmy Kruger, gesê het oor die dood van Steve Biko.
Ters oorweeg dit vir ‘n oomblik om terug te hardloop en die MacMillan te gaan haal. Daarmee sal hy die helikopter kan uithaal, daarvan is hy seker. Hy besluit daarteen en hardloop die digste deel van die plantasie binne, met die hoop dat die polisie hom nie sal raaksien uit die vliegtuig nie.
*
“Arno, dink mooi – hoe sou die man oor die berg kon kom? Hier agter is dit te besig, hy sal vanaf die Noord-Ooste moes kom.”
Arno, wat vir baie jare deur die berg gery het om watervalle en natuurlike bos te karteer, dink ‘n paar oomblikke diep.
“Die enigste plek waaraan ek kan dink, is die onteiende plaas op die Witvlagpad. Aan die Ooste daarvan is Ben se plek en aan die Weste is Schlieben s’n. Dis die enigste plaas waar jy van die pad na die kruin kan kom, sonder om gesien te word.”
“Hoe ver is dit, padlangs?”
“Seker so sestien, agtien kilometer. Van die hek af tot op die berg – so vier. Maar ons kan nie daar opkom sonder vierwieldryf nie.”
“Jou Land Rover?”
“In die garage. Waarvoor wag ons?”
Arno bestuur, met Skeer en sy lang bene langs hom. Agter-in sit Priester met Stef se .300 Winchester Magnum en langs hom Leona. Onder geen omstandighede sou sy agterbly nie.
“Dis my pa.”
Die fris V8 vat dadelik en binne ‘n kwartier is hulle by die skewe, geroesde plaashek. ‘n Halfuur van stadig ry, plekke in vierwieldryf-laag, is hulle by die einde van die roete. Van hier af is dit voetslaan verder.
“Skeer, wat is daar?”
“Waar?”
“Daar, onder die krans, tussen die sekelbosse”.
Vir ‘n oomblik het iets geblink.
“Dis ‘n kar. Seker syne.”
Alhoewel die Land Cruiser goed gekamoefleer is, was daar vir ‘n oomblik ‘n ruit, spieël of stuk bakwerk wat die son gevang en weerkaats het. As dit nie daarvoor was nie, sou hulle verbygeloop het, sonder om te sien. Van die Toyota af is die ligter spore van ‘n vierwiel motorfiets met knopperige bande sigbaar.
“Priester, hy moet op een of ander manier hier verbykom en sy kar kom haal. Ek sal dit hoog op prys stel as jy hier wag. Leona, jy ook?”
Leona antwoord nie, vat haar .243, maak seker daar is ‘n rondte in die loop en begin aanstap. ‘n Paar honderd meter verder gly haar voet van ‘n mosbedekte klip af en sy verstuit haar enkel. Dis asof die pyn al die krane oopmaak en sy gaan sit in ‘n saamgetrekte bondeltjie en huil onbedaarlik.
“Arno, hou my geweer, asseblief!”
Skeer gee sy Mauser vir Arno aan, tel vir Leona op en dra haar, sonder om te probeer troos, terug na waar Priester by die voertuie wag. Haar enkel swel vinnig en Skeer wonder of dit net verswik is, of dalk gebreek. Sy sê niks, maar hy sien sy byt op haar tande. Sy laat ook vir geen oomblik haar geweer agter nie. Hy sit haar op die Land-Rover se passasiersitplek, skeur sy hemp se moue af, deurweek ‘n deel van die ene mou met remvloeistof, soos sy ma gemaak het toe hy klein was en bind haar voet stewig vas.
“Dankie.”
‘n Halfuur later is hy terug by die plek waar Arno vir hom wag. Hy vat sy geweer, maak seker die ding is gelaai en sit dan die veiligheidsknip op.
“Niks?”
“Niks, nie ‘n piep of paai nie.”
“Paai?”
“Ja. Dis een van my ma se uitdrukkings.”
Hulle loop ‘n kwartier lank op die spoor van die vierwiel motorfiets. Die berg maak ‘n lang, diep kloof hiervan af. Die enigste pad vir enige voertuig met wiele is in die middel daarvan.
“Arno, wag jy hier, asseblief. As hy by my verbykom, dan kan jy hom keer.”
Skeer voel skielik in sy element. Hy is weer ‘n jagter, met die ou Mauser 7.62, op die spoor van die gevaarlikste dier op aarde. Hy voel sterk en fiks, ten spyte van die stukkies baksteen wat snytjies in sy wang gemaak het. Die gevaar maak dat hy voel hy sien beter, hoor en ruik beter. Elke sintuig is tot die uiterste gespan. Hy kan sien waar die fiets gery het, waar dit effens op ‘n klip ‘n swart merk gelaat het, hy hoor die voëls, sonbesies, die effense windjie deur die gras. Hy het nie ver geloop nie of hy hoor die knetter van ‘n eensilinder enjin aankom. Die ryer is haastig en probeer nie eens om die geluid van die fiets te demp nie. Hy moet hier vebykom.
Skeer staan in die middel van die smal kloof en wag. Hy tel die geweer op, haak die draband om sy linkerarm, haal die veiligheidsknip af en wag, met die geweer in ‘n hooghou posisie. Hy staan nie langer as twee minute nie, of die man met die vierwiel verskyn voor hom.
Ters sien die groot man, nie meer as sestig meter van hom af nie. Die man is nie net groot nie, maar hou ‘n geweer direk op hom gerig. Hy oorweeg dit om af te duik, om te rol en sy kanse te vat, al het die ou ‘n lang geweer en hy net die Glock.
“Moenie dit probeer nie, Grootseun!” roep Skeer.
Ters ry stadig nader, tot hy nie meer as tien meter van Skeer af is nie, skakel die Bombardier af, klim uit die saal en gaan staan voor die voertuig. Skeer is effens verbaas oor die man se passiwiteit. Enigiemand anders sou reeds homself op een of ander manier teëgesit het.
“Zip jou baadjie oop met jou linkerhand.”
Ters maak soos van hom verwag word.
“Haal met die linker die wapen onder jou skouer uit.”
Ters buig sy arm en gewrig om die wapen onder sy linker skouerholte uit te trek, maar dis ‘n holster wat die wapen teen ‘n veer vashou en hy sukkel. Vir die eerste keer praat hy:
“”Ek kry hom nie uit nie!”
“Dan is dit waar ons paadjies skei. Sê groete.”
“Wag, wag! Gee my net kans!”
Ters pluk aan die wapen, maar versigtig, sonder om Skeer ‘n verskoning te gee om die geweer se sneller te trek. Hy hou die Glock tussen duim en wysvinger vas.
“Nou goed, gooi dit na jou regterkant onder die bosse in.”
Ters doen wat gevra word.
“Nou hande agter jou kop, vingers inmekaar gevleg. Jy weet hoe!”
Skeer het nog nooit iemand so vinnig gesien beweeg nie. Ters Benson het inderdaad sy hande agter sy kop ingedruk, maar dit kom so vinnig weer te voorskyn, dat Skeer se oë dit amper nie kan volg nie.
Vir ‘n vlietende oomblik blink iets in die son en dan tref dieselfde iets hom teen die voorkop. Ters het die mes, wat tussen sy blaaie vasgegespe was, uitgepluk en in dieselfde beweging gegooi. Dis iets wat hy vir ure en ure geoefen het.
In plaas daarvan dat die punt van die lem teen Skeer se voorkop tref, het Ters nie genoeg draai ingesit nie, of hom met die afstand misgis, en die knop van die hef tref hom tussen die oë, presies in die middel van sy voorkop. Vir ‘n deel van ‘n oomblik is hy half gedisoriënteerd van die slag, maar hy trek in elke geval die sneller van die Mauser. Onwillekeurig besef hy dis mis.
Ters beweeg baie vinnig. Dis asof die afstand tussen hom en Skeer net verdwyn. Hy gryp die loop van die geweer, druk dit boontoe, op dieselfde oomblik as wat die skoot afgaan. Die tromp is nie baie ver van sy regteroor af nie, maar dit haal hom nie ‘n snars af van waarmee hy begin het nie.
Terwyl sy regterhand die geweer boontoe druk, tref die hak van sy linkerpalm vir Skeer onder die ken. Die groot man val half agtertoe en binne die bestek van ‘n paar sekondes sien hy weer swart voor hom. Dit voel amper asof sy bene wil swik, maar dan kom hy tot sy sinne, staan sterk en regop. Die meshef het die vel van sy voorkop gebreek en deur die swelling loop ‘n straaltjie bloed teen sy voorkop af en langs sy neus.
“Magtag, maar jy is vinnig!”
Ters grinnik en vir die eerste keer is daar enige uitdrukking op sy gesig.
“Kom, ou Grote. Dis net ons twee.”
Skeer is nou versigtig. Die man is baie vinnig en baie goed! Hy hou sy hande op soos ‘n bokser om sy gesig te beskerm, die linker hoër as die regter, terwyl sy regter elmboog sy maag beskerm.
Hy het die hou nooit sien kom nie. Dit tref hom tussen sy twee vuiste deur, op die punt van sy neus. Dis baie seer en weereens is dit asof dit swart voor hom word. Hy veg egter instinktief terug en plant ‘n hou waar hy laas die man se gesig gesien het. Hy kan voel dis raak, en as die swyming die wyk voor sy oë neem, sien hy met genoegdoening dat Ters se mond bloei. Die kleiner man grinnik egter net tussen die bloed wat sy tande bevlek, deur.
“Oeps!”
Dis asof ‘n tornado op Skeer losgelaat word. Die houe reën van elke kant af en tussen-in kry hy skoppe teen sy bene en heupe. Dis onmoontlik dat een man sò baie sò hard kan slaan, maar dit gebeur!
Hy kry ‘n harde skop met ‘n stewelpunt in die krop van sy maag en as hy daarvan oorbuig, die agterkant van Ters se kop teen die gesig. Dit voel asof sy kop oopbars, sy knieë swik en hy val agteroor op die grond.
Sodra Skeer val, loop Ters op sy gemak na waar die mes geval het.
“Maak oop jou oë! Ek sê, maak oop!”
Ters sit op sy knieë op Skeer se torso. Met sy linkerhand gryp hy ‘n bos hare vas, en druk Skeer se kop agteroor.
“Goed… ogies is oop. Sien jy hierdie dolk?”
Ters hou die dolk aan die kruisstuk vas, swaai dit tussen duim en wysvinger heen en weer.
“Hierdie is ‘n Nazi SS dolk. Dis met presies so ‘n een dat Verwoerd doodgesteek is, nie met daardie goedkoop briewemes wat by die polisie-argief lê nie. Jy kry vandag die voorreg om met ‘n soortgelyke een as ou Verwoerd doodgemaak te word.”
Dis duidelik dat Ters hierdie geniet.
“Sê vir my,” vra Skeer. “Was jy daarvoor verantwoordelik?”
“Is jy gek? Ek was nog nie eens gebore nie.”
“En die Smit-moorde?”
“Ook nie ek nie. Ek was nog te jonk. Maar hierdie mes? Hy was inderdaad daar. Dit was my inlywingsgeskenk van my baas af.”
“Nou goed. Kry nou einde. Sny maar my keel.”
“Keel-af sny? Nee, dis morsig en is moeiliker as wat dit lyk.”
Ters druk die punt van die dolk onder Skeer se ken in, hard genoeg om die vel te sny.
“Wat ek gaan doen, is om die ding tussen jou mondvloer deur te druk, deur jou verhemelte en in jou brein in. Toemaar, dit sal vinnig wees. Jy kan maar jou oë toemaak as jy wil en as jy aan ‘n God glo, maak die gebedjie vinnig.”
Dit lyk asof Ters eenkant gepluk word. Die dolk verdwyn van onder Skeer se ken af en Ters val eenkant toe. Vaagweg hoor Skeer die geknal van ‘n geweer. Hy stamp die kleiner man van sy bors af, staan wankelrig op en kyk rond. Skuins na sy linkerkant, vanwaar hy gekom het, staan Leona. Sy het dooierus gevat oor ‘n droë boom se mik. In haar hande hou sy die .300 Mannlicher van haar oorlede pa. Terwyl hy kyk, hinke-pink sy pynlik nader. Sy kyk simpaptiek na sy gehawende gesig. Sy lippe is stukkend en geswel, die linkeroog ook byna. Sy neus is na alle waarskynlikheid gebreek.
“Dit lyk vir my, Skeer Hugo, asof ek net betyds was.”
“Wat bedoel jy? Ek was besig om te wen!”
“Ja, hoor.”
“Bly hier, dan gaan haal ek vir ons transport”.
Die twee ry die stukkie pad na die Land-Rover binne ‘n paar minute af met die vierwiel. Naby waar Arno en Priester wag, roep hulle van ver af:
“Moenie skiet nie, dis ons.”
(RAUTEM)