VERSETLAND - BOEK TE KOOP

VERSETLAND kom uit die pen van die befaamde skrywer, dr Philip Venter. U kan die boek bekom deur hom te skakel by  083 444 7672. Lees hieronder meer daaroor.

 

Waar Jacobus (Skeermes) Hugo agter die .300 Mannlicher van oorlede Stef lê, met sy eie .308 Mauser en die R6 naby hom, herken hy die mense aan wie Nicodemus hom ’n paar dae gelede voorgestel het. Twee meter aan sy regterkant is ’n baie groot man, ’n kleinneef van Nicodemus self. Hy lê met ’n baie lang, outydse geweer uit die 1870’s, blykbaar ’n Remington. Die rondtes is lank, reguit en kan baie ver skiet. ’n Anachronisme is die moderne teleskoop wat bo-op die loop gemonteer is. Langs hom lê ’n vrou – hy kan nie nou haar naam onthou nie – en nog verder is ’n eks-smokkelaar met ’n dubbelloop .470. Nog verder die klomp Malan-broers, Flip, Jan, Floors, Doors – lyk asof hulle gebore is met ’n geweer in die hande. Hulle lê stil, gemaklik en kalm, soos ou soldate, wat hulle elkeen natuurlik is.

Dan is daar die jongklomp. ’n Baie mooi tienermeisie, saam met haar vriende vanuit Waterkloof, as hy reg onthou, ’n rooikop vrou met ‘n 6.5x55mm Sweedse Mauser en ’n hefboom-aksie Winchester, langs haar ’n korterige man met knoetserige spiere... en dis sover as wat hy hulle ken. Hy verstaan dat die meeste van hulle maar hulle eie storie gehad het en dat hulle uiteindelik hier opgedaag het.

Hulle lê op ’n ronde koppie, nie baie hoog nie, maar dit gee hulle goeie uitsig oor die vallei hierdie kant van die plantasie. Natuurlik sou die mense kon uitwyk na die Noordekant toe – die Suide se koppies is te steil – maar daar is ook ’n aantal manne wat hulle kan wegkeer.

“Hoeveel is ons – sewentig, vyf en sewentig?” wonder Skeer. “Het ons genoeg ammunisie? En hoe lank kan ons uithou?”

Hy was al self in heelwat gevegte, ook teen ’n oormag, maar hierdie is vir hom nuut. Kom daar ’n massagolf van hoeveel – Stef het gesê duisende, so hoeveel duisende, twee, drie, ?

Hy wens hy kan ook so kalm wees soos hierdie manne en vroue...