Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek is 'n oumens wat baie bekommernisse geken het, maar die meeste van hulle het nooit gerealiseer nie. Nou besef ek dat bekommernis 'n vyand van die lewe is, 'n vorm van ateïsme, want dit veronderstel ongeloof in die bestuur van God in my lewe. En nou laai ek my bekommernisse by God af en weier om dit môre weer op te laai.
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE VERONTREGTES” (3)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
(2) Political assassinations of prominent political leaders, due to the culture of lawlessness and violence in the ANC and similar organisations and the current practice to continue with hard political intimidation and even assassinations.
-Genl Roland de Vries
*
Abdul Ibn Jusaf is in sy laat dertigs, sterk en fiks, alhoewel hy nie lank of groot gebou is nie. Hy het ’n vol baard, soos dit hoort, swart en swaar, wat pas by sy deurdringende swart oë. Hy het nie ‘n grondlengte kleed aan, of soos dit genoem word, ‘n “thobe” nie, maar ‘n netjiese kamoefleeruniform, meer geskik teen ‘n woestynagtergrond as die ruie plantegroei van Cabo Delgado in Mosambiek. Hy dra geen medalje of kenteken nie, behalwe vir sy naam in Arabiese skrif bokant sy regter hempsak en die rangkenteken van majoor op sy skouers.
“Hoekom? Dis maklik – Islam is ‘n godsdiens vir manne en krygers, nie soos die Christendom wat vir swakkelinge is nie.”
“Hoekom sê jy so?”
Die man oorkant hom is van medium lengte, nie werklik oorgewig op die manier dat hy oral vet is nie. Inderwaarheid sou hy as skraal voorkom, as dit nie was vir sy koeëlronde en stewige boepensie nie, wat hy versteek onder die loshangende hemp van sy Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag “camos” nie. Hy het die gesogte kenteken van Spesiale Magte, oftewel die “recces”, soos dit in die algemene omloop bekend staan. Sy ylerige blonde hare is langer as wat toelaatbaar sou wees in die Suid-Afrikaanse Leër van dertig jaar gelede. Hy het lanklaas geskeer en die ewe blonde stoppeltjies, is in teenstelling met Abdul se welige baard, kollerig op sy ken en onder sy swak kakebeenlyn. Abdul wonder of die man werklik lid van spesmagte is en of hy van iewers af net gekoöpteer is, soos sommige al in die verlede gedoen het. Op sy kraagpunte is die range van ‘n kaptein.
“Sê julle Jesus nie dat as iemand jou op die wang slaan, jy die ander een moet draai nie?”
Bertus is ietwat onkant gevang. Hy het inderdaad in ‘n kerkgaan-huis grootgeword, maar hy het nie eintlik baie kerk toe gegaan nie. Sy pa was ‘n fanatieke kerkmens wat nooit ‘n diens gemis het nie en in vreemde tale gebid het en “profesieë” gemaak wat nooit bewaarheid is nie. Hy het egter ook skelm gedrink en saans, as die kinders slaap, vir sy vrou, Bertus se ma, geslaan.
“Ja, ek dink so.”
“Jy dink so? Lees jy nie julle Bybel nie?”
Bertus beskou homself as ‘n Christen, alhoewel hy nie werklik weet wat die kenmerke van een is nie en wat geloof behels nie. Hy het in ‘n kerkhuis grootgeword en dit maak hom ‘n Christen.
“Ek het nie een hier nie...” antwoord Bertus half gedweë en lamsakkig.
Abdul klop teen sy eie slaap met sy voorvinger.
“Ek het die Koran hier. Ek hoef nie meer te lees nie. Ek ken dit.”
“Dis goed.”
“Nou kom ek vra iets anders. Noem julle nie julle God ‘God van vrede’ nie?”
“Ja, ek dink so.”
“Jy dink so, maar jy het ‘n geweer in jou hand, ‘n pistool aan jou sy en ‘n bajonet aan die anderkant. Het julle Jesus ooit ‘n wapen gedra?”
“Ek weet nie... ek dink nie so nie.”
“Muhammed aan die ander kant het ‘n scimitar gehad en self mense se koppe daarmee afgekap. Islam is vir manne, nie swakkelinge nie.”
“Sê jy ek is ‘n swakkeling?” Bertus hoop hy hoef nie nou te bewys hoe sterk hy is nie; die man oorkant hom lyk baie gevaarlik.
“Slaan jy jou vrou as sy ongehoorsaam is?”
“Ek het nie ‘n vrou nie.” Dit is waar, sy vrou het hom gelos vir ‘n man met ‘n sterker persoonlikheid.
“As jy een gehad het?”
“Natuurlik nie. ’n Regte man slaan nie sy vrou nie.” Bertus onthou dat sy pa ‘n dronk swakkeling was, wat gedrink het en aan sy vrou geslaan het.
“Ek slaan my vrou elke keer as sy sy haar nie gedra nie en sommer net wanneer ek daarvoor lus is, net om haar te wys wie is baas. En as ek ‘n ander vrou wil vat, moet sy net haar mond hou. So, jy sien, Islam is vir sterk manne. Wanneer ek iemand skiet, bekommer ek my nie soos julle Christene dat dit verkeerd is nie. Ek skreeu ‘Allahu akhbar’, wat beteken Allah is groot. As ek seerkry, ’Insh’allah’, wat beteken “dis Allah se wil”. Dis eenvoudig. Julle Christene, aan die ander kant, loop heeltyd met skuldige gewetes en bekommernis dat julle hel toe gaan.”
*
Die grootste aanklag wat deur die jare teen die Boere gelê word is dat hulle nie saam kan staan nie. Daar word vertel as twee Engelse op ‘n verlate eiland sou uitspoel, hulle binne twee dae ‘n klub sou stig, twee Duitsers ‘n bierbrouery, twee Jode ‘n besigheid en twee Boere sal afstig, twee kerke bou en twee politieke partye saamstel.
Gedurende die tyd van die Kaapse Vryburgers het die grensboere ver van mekaar af gebly, oor alles gestry, en net per nagmaalgeleentheid saamgekom en gesing – behalwe die Dorpers (later die Gereformeerde Kerk, of te wel “Doppers”), wat net psalms wou sing.
Gedurende die Groot Trek het die meeste mense in verskillende rigtings getrek, onder hulle eie leiers, maar grootliks saamgekom toe ‘n gemeenskaplike vyand, naamlik die Zulu’s en later die Tswanas, beveg moes word.
Die Transvaal en Vrystaat bly twee onafhanklike Republieke, totdat hulle moes saam baklei teen die Engelse gedurende die Eerste Vryheidsoorlog en weereens by die Tweede Vryheidsoorlog, of te wel die Boereoorlog. Manne wat mekaar van voorheen nie kon veel nie, het geluister toe die generaals krygswet afkondig. Dit het bepaal dat elke burger bo sestien jaar sy eie klere, perd, saal en geweer, een maand se rantsoene en ‘n honderd rondtes ammunisie moes saambring.
Die Sappe en Nattes het mekaar aan die kele gegryp waar moontlik, maar saam geveg gedurende die Grensoorlog, vanaf 1966 tot 1989.
Die rede hiervoor is dat die Boer (of Afrikaner) in wese ‘n diepe, ingebore versugting het na onafhanklikheid. Hy wil hom nie laat voorskryf nie en het ‘n erge weersin daarin. Natuurlik is daar ook diegene wat hulle onder die mag van andersgesindes wil stel. Dit is gewoonlik die papbroeke en verraaiers, die joiners en hanskakies. Ongelukkig is daar ‘n oormaat van hierdie manne ook onder die volk.
Die grootste samebindende faktor is ‘n gewilligheid (lees: gretigheid) om te veg en ‘n gemeenskaplike vyand neem die dwarstrekkerigheid vir die duur van die konflik weg.
Behalwe vir die sugte na onafhanklikheid, is daar ook in die psige van die Boer die diepe wete dat hy net tot op ‘n punt gedruk kan word en dan is daar geen ommekeer nie. Dit help ook nie om hom daarop te wys dat hy deel van ‘n groot minderheid is nie en dat die staatsmasjienerie teen hom gekant is nie. Indien enigsins, maak dit hom net meer hardkoppig en vasberade.
Jy moet nooit aan hom ‘n uitdaging stel met die woorde: “Jy sal nie…” want dan sal hy jou wys hy sàl. Net so min moet jy vir hom sê jy kan nie, want dan sal hy jou verkeerd bewys of ten minste probeer. Sy voorgeslagte was immers die manne en vroue wat die binneland van die onverkende Afrika binnegegaan het met ‘n ossewa, ‘n span osse, ‘n sanna in die regterhand en ‘n Bybel in die wakis.
Hy moet nooit te hard gedruk word nie, want dan is hy soos kwik uit ‘n gebreekte termometer – hoe harder jy hom probeer vasdruk, hoe meer sal hy uitkoms kry en uiteindelik giftig wees.
*
Na die aanvanklike veertien bakkies wat opdaag, elkeen met ‘n plaasboer of twee in, daag daar nog ses op, om die ronde getal van twintig op te maak. Na ‘n paar selfoonoproepe, radioberigte en van die families se instinktiewe optredes, daag meeste van die manne se vroue en kinders ook later op. Drie van die manne sukkel om hulle families in die hande te kry, maar voel gerusgestel as die ander hulle bemoedig dat hulle weldra sou opdaag.
Alhoewel die Makarios-plaaswag amptelik vir Piet Jordaan as voorsitter het, gee hy heeltemal sonder teenspraak die leiding oor aan Beyers Conradie. Dit is immers sy plaas en sy probleem, wat nou ook hulle probleem geword het.
Net na eenuur daag sewe polisiebakkies by die plaas op. Sonder om ‘n woord te sê, vat Beyers sy slotaksie, swaarkaliber jaggeweer, gooi ‘n handvol rondtes in sy baadjiesak, sit sy hoed op en loop buitentoe. Sonder aarseling of huiwering, volg die ander sy voorbeeld. Buitekant maak hulle ‘n lang, halfmaanvormige ry, elkeen met sy geweer in die hande. Daar is ‘n versameling ou Lee Enfield .303’s, Mausers, Howa’s, Bruno’s, en Gert Engelbrecht het sy ou houtkolf FN FAL, wat hy “vergeet” het om in te gee, nadat die kommando ontbind is in 2003. Half in die middel staan Sonja Conradie met die R5 wat sy afgeneem het.
Die polisiemanne het uitgeklim, maar staan baie onseker oor wat verder moet gebeur. Niemand maak ‘n vinnige beweging nie, sodat dit nie gesien kan word as ‘n aggressiewe een nie. Die luitenant-kolonel in bevel staan vir ‘n minuut lank skuins voor die middel van die saamgebondele polisiemanne en beweeg dan stadig agteruit, totdat hy weer tussen die ander staan. Niemand wil ‘n uitstaende teiken wees nie.
‘n Uiters vreemde uur en ‘n half gaan verby. Nie een van die groepe maak ‘n beweging of sê ‘n woord nie. Geen dreigemente, uitdagende gebare nie, niks. Hulle staan net ‘n honderd en twintig meter uitmekaar, vanaf net voor die opstal, tot by die huiswerf. Selfs die plaashonde staan asof onseker, sonder om te grom of te blaf.
“Waarvoor wag hulle?” vra Sonja sag.
“Versterkings,” antwoord Beyers, sonder emosie of angstigheid.
Sy woorde is skaars koud of die gedreun van ‘n groot diesel is hoorbaar. Die SAPD-lede beweeg na die kant toe en ‘n RG-12 Nyala pantserkar is nou sigbaar aan hulle agterkant. Indien die polisie gedink het dat die aankoms van die kar die weerstandiges gaan intimideer of uitmekaar gaan dryf, het hulle hulleself misgis. Die Nyala is wel bestand teen kleingeweervuur, maar as Beyers sy Ruger Safari Magnum in .416 Rigby optel en twee 410 grein soliede koeëls teen 2350 voet per sekonde deur die verkoelerrooster stuur, spuit daar onmiddellik wolke stoom daaruit. Die Nyala is ontwerp om polisiemanne dekking te gee teen oproerige skare, gewapen met klippe, stokke of ten beste handwapens.
Oom Faan Viviers skiet na die windskerm met ‘n .458 Lott en die resultaat is dat die windskerm twee groot gate vertoon voor die drywer. Nog twee skote van Beyers tref die rooster en een dring amper deur na die fris Iveco diesel. Die ander Boere het ook hulle wapens opgetel, maar hulle wag, sonder om te skiet.
“Dis nie verby nie, Conradie!”
“Meneer Conradie vir jou, bliksoldaatjie! Ek sou voorstel julle vat julle kaptein en sorg dat julle nie weer julle voete op my of enigiemand van my mense se grond sit nie.”
“Is dit ‘n uitdaging, of ‘n oorlogsverklaring?”
“Net soos jy wil, Ouboet. Net soos jy wil.”
Die polisielede haal hulle gewonde makkers uit die Nyala, maar los die ding net daar. Na ‘n minuut is daar niemand meer in sig nie.
“Wat gebeur nou?”
“Nou sleep ons hierdie pantserkar na die stoor toe en maak hom heel. Ek dink ons gaan alles wat ons in die hande kan kry, moet gebruik. Die spul sal terugkom.”