Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As kankerpasiënt weet ek nou dat die kuns om positief te lewe niks met geld, duur motors of skoonheid te doen het nie. Die min dae wat voor my lê hou ek net vol liefde en vergifnis vir almal naby my, en ek dank God vir hulle liefdevolle ondersteuning.
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE VERONTREGTES” (7)
083 444 7672)
The huge increase in serious crime – and the escalation thereof vertically (in intensity) and horizontally (geographically), such as were the case with the Senekal and Groblersdal incidents, where a single politically-inspired criminal incident had the potential to spark violence in an instant with a serious spill-over effect to other areas in our country.
-Genl Roland de Vries
*
In Februarie begin al die wurms wat die regerende party uit die blik gelaat het, aan sy karkas vreet. Swak regering, ongebreidelde korrupsie, ‘n verknogdheid aan Kommunisme en sy boetie wat makliker op die Westerse oor val, Sosialisme, neig hom daartoe om bande te hersmee met China, Rusland en natuurlik die Moslemlande.
Die verhouding tussen die ANC en die Weste kry ‘n groot knou wanneer die minister van Buitelandse Sake, Naledi Pandor, haar en die regerende party se steun aan Hamas uitspreek, wanneer die Lady R, ’n Russiese vragskip onder sanksie, aandoen by Simonstad, waar dit artillerie-ammunisie vir Rusland laai, en heel moontlik AK-variante wapens en ammunisie aflaai vir gebruik deur die SA Spesmagte se geheime operasies.
Wanneer die ANC (met ongeveer 2 miljard belastinggeld) vir Israel aankla by die Internasionale Strafhof, voel die VSA dat hulle ook daarby betrek word en hulle besluit om die RSA te verwyder van die AGOA-ooreenkoms en begin ook met die implementering van ander strafmaatreëls. Dit het reuse negatiewe, ekonomiese gevolge vir Suid-Afrika.
Die ANC besef nie dadelik nie dat dit ‘n swak besluit is om die Weste te verruil vir Rusland, China en die Arabiese Moslemstate. Rusland is in ‘n verbete oorlog met Oekraïne betrokke en sal nie dieselfde handelsbande kan smee as wat die VSA en Europa (die land se grootste handelsvennote) in die verlede met SA gehad het nie. China se ekonomie is in elke geval besig om drasties te verswak na ‘n moontlike resessie en selfs depressie.
Binnelands is Eskom besig om verder te verswak, die algemene bevolking begin vertroue in die ANC te verloor en met ‘n verkiesing om die draai, begin die karkas, wat eens die liefling van die wêreld onder Nelson Mandela was, hulle geliefde te haat.
*
Dionne Viljoen se Renault Tiber het vanoggend haar weer in die steek gelaat en sy het die kinders kosskool toe geneem met Buks se Land Cruiser V6. Daar is nog ‘n paar sakke voer agterop die dubbelkajuit-bakkie, saam met vier sakke sement.
Nadat sy die kinders afgelaai het, hou sy by die Vuilbaardsvlei (so genoem nadat Lang Hans van Rensburg ‘n leeu daar geskiet het) se enigte verkeerslig stil, agter twee wit Quantum-taxi’s. Terwyl sy ‘n ander stasie op die radio soek, hou nog ‘n taxi, ‘n ligblou Siyaya, langs haar stil en ‘n ander een ry tot teen die bakkie se agterste buffer.
Dionne is ‘n gemaklike vrou, een wat die Engelse sou tipeer as “happy go lucky”, wat graag met alle mense oor die weg wil kom. Sy glimlag vir die passasier aan haar regterkant in die taxi, maar haar glimlag verstar as die skuifdeur oopgaan. Uit die blou taxi spring vier manne met handwapens. Dionne se man, Cor, het haar lankal voorberei vir ‘n situasie soos hierdie en al het sy hom met ‘n knippie sout geneem – sy is immers ‘n menseliewende vrou, wat glo in elke ander mens is daar ‘n stukkie goed – onthou sy nou instinktief wat om te doen.
Vir ‘n vlietende oomblik sê sy dankie dat die Renault vanoggend onklaar is en sy met die Land Cruiser ry. Sy druk die oordrakas in vierwiel laagstrek en druk die Cruiser se fris nie-fabriek staalbuffer-cum-bosbreker teen die Quantum die naaste aan haar se agterkant en trap die versneller weg. Vir ‘n sekonde of drie fluit die groot bande, maar dan stoot sy die taxi voor haar weg. Dit stamp die heel voorste voertuig en vir ‘n oomblik is daar weereens ‘n huiwering, maar dan beweeg hierdie een ook. Sy druk die bakkie in trurat en jaag agteruit. In haar trupsieël sien sy onmiddellik die stoom uit die verpletterde verkoeler spuit. Sy jaag so vinnig as moontlik weer vorentoe en stamp die naaste taxi.
Rook begin uit haar voertuig se bande borrel, maar al vier weile trap nou vas, al wikkel die voorstes heen en weer soos dit nuwe traksie soek.
Een van die gewapendes skiet ‘n paar skote in haar rigting, waarvan twee die agterste kantruit breek en een in die B-plaar agter haar kop vasteek. Dionne lê skuins na haar linkerkant, maar hou die versneller op die vloer. Die 4-liter V6 skreeu teen die toerebeheer, maar verloor nie krag nie.
Alhoewel beide drywers van die Quantums rem trap, fluit hulle bande bloot op die teer, totdat die voorste een se moed hom begewe, hy die rem los en die versneller trap. Die kombinasie van Land Cruiser en taxi versnel nou vinnig en dit tref weer die voorste een, wat begin swenk na die regterkant, op die linker agterste hoek. Sy kom weer regop, nie omdat sy dapper is, of die gevaar verby nie, maar besef sy moet kyk waarheen alles gaan.
Die agterste taxi swaai nou ook uit na die regterkant, terwyl die drywer die ander een se voorbeeld volg en probeer wegkom van die 4X4, maar hy draai van die stoot skuins agter heeltemal om, sodat sy voorkant terugwys na waar hulle vandaan gekom het.
Dionne is skielik woedend, soos wat dit soms gebeur met sagmoedige mense en sy trap rem, ry agteruit vir ‘n tien meter en jaag op die taxi die naaste aan haar af, wat nou met sy kant na haar toe staan. Sy sien vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde die geskokte, wydoop mond en oë, voordat die buffer die taxi tref, wat nou effens van balans af is, soos dit draai. Die momentum van die bakkie is groot genoeg dat dit die taxi omdop, voordat sy tot haar sinne kom, verder na haar regterkant toe draai, oor die middelmannetjie ry en skuins oorkant die pad by die aansluitingstraat indraai. Sy hou net lank genoeg stil om die voertuig uit vier by vier te haal en ry dan polisiestasie toe.
Klaas Minnaar, die eienaar van die pandjieswinkel, sien die Toyota van Cor by die polisiestasie, reg oorkant sy winkel stop, sê sy vir sy assistant om oor te vat en loop dan vinnig agter Dione aan, die stasie binne.
Een van die taxi’s, die een wat heel aan die voorkant was, hou agter die Cruiser stil en die drywer en twee passasiers spring uit. Hulle hardloop agter Dionne aan en wanneer sy by die toonbank omdraai as hulle binne hardloop, klap een van hulle haar hard teen die wang. Sy steier agteroor en net die bokant van die toonbank keer dat sy nie neerslaan nie.
Klaas is al amper sewentig, maar jare se harde werk en te veel biltong en bier, maak dat hy swaar, sterk en groot is. Hy gryp die man om sy middel en hardloop met hom teen die muur aan die oorkant vas. Dionne het haar pepersproei, wat sy altyd om haar middel dra, nou uit en sy spuit die ander twee daarmee.
Klaas het sy selfoon, druk ‘n paar nommers en is verlig as Cor feitlik dadelik antwoord.
“Cor, kom polisiestasie toe. Hier is moeilikheid!”
Die man waarmee hy in die muur vasgehardloop het, kom nou weer by en klap die selfoon uit sy hande uit. Klaas slaan hom reg in die middel van sy neus. Dit alles gebeur binne ‘n halfminuut en die polisiemanne kom uiteindelik tot verhaal, twee van hulle word wakker, waar hulle agteroor in hulle blou regeringstoele slaap, hardloop om die toonbank, slaan die valdeurtjie op en met wapens getrek, beide knuppels en pistole, skreeu hulle op die vrou en manne.
“Staanstil! Stop, of ek skiet!”
Die drywer en passasiers, met oë wat steeds nie wil fokus nie, begin skreeu. Die pepersproei hang nog in die vertrek en die vier polisielede begin nou ook hoes en hoe meer hulle die trane uit hulle oë vee, hoe erger word dit.
“Kom!” Klaas gryp vir Dionne aan die bo-arm en sleep haar uit die polisiestasie, hardloop oor die straat en in sy winkel in, waar hy die deur en die veiligheidshek sluit.
“Wat gaan aan?”
“Hulle wou my hi-jack. Ek wou nie saamwerk nie!”
Een van die ander taxi’s kom nou ook aangekruie. Die insittendes klim seer en geskok uit en loop die polisiestasie binne.
“Mara, gee vir my jouselfoon! Dionne, wat is Cor se nommer?”
Klaas bel weer en na vier luie antwoord Cor.
“Waar is julle nou?”
“In my winkel. Die deur is gesluit, maar dit gaan nie lank wees nie, dan is die polisie hier.”
“Ek is op pad. Bly net daar!”
Cor kry sy tweerigtingradio:
“Alle stasies, alle stasies. Dionne is in die moeilikheid in die dorp, by die polisiestasie. Kan iemand help?”
Die radio kraak en dan klim die een na die ander boer en hulle vroue op die radio en bied hulp aan. Na elf minute hou Cor se ou 320 V6 Isuzu enkelkajuit stil en hy spring uit. Klaas maak sy winkel se deure oop en roep hom om nader te kom.
“Wat gaan aan?”
“Ek weet nog nie presies nie, maar hulle wou jou vrou hi-jack. Sy is hier by my.”
Die een na die ander hou die omgewing se boere stil en die manne – en vroue – spring uit. Sommige het nie net handwapens by hulle nie, maar selfs langgewere. Die twee taxi-eienaars sien wat aangaan, hardloop by die deur van die polisiestasie uit, spring in die twee voertuie en ry so vinnig as moontlik weg. Die passasiers hardloop in alle windrigtings weg, voordat die stasie se deure toegaan en gesluit word.
Moenie die Boere of hulle vroue die harnas injaag nie!
*
Bartel Fourie het daar onder die boom, diep in die veld, ‘n weergeboorte ervaar. Nie ‘n geestelike een nie, ook nie ‘n epifanie nie.
Gister het hy alles verloor. As gevolg van Transformasie het hy sy werk as ingenieur by die provinsie se waterraad verloor, waarna hy sy eie besigheid begin het, wat heel goed gegaan het, maar die enigste behoorlike kontrakte het daarna gegaan vir maatskappye wat BEE-geregistreerd was en later vir BBB-EE. Hy moes noodgedwonge ‘n swart vennoot inneem en gister-oggend het hy ‘n besoek gekry van die man se prokureur, wat hom kom inlig dat die hele besigheid op die een of ander obskure manier nou ten volle die besit is van sy eertydse vennoot, met die nodige dokumente om dit te staaf. Natuurlik is hy na sy eie regsverteenwoordiger en nadat die man die dokumente deurgegaan het, was die nuus glad nie goed nie.
“Natuurlik kan ons die howe nader, maar ek is bevrees, meneer Fourie, dat jy net jou geld sal mors met ‘n regsaksie.”
Laat die middag het die balju opgedaag, sy besittings opgeskryf en hom met ‘n uitsettingsbevel bedien. Hy kan nie glo dat die regstelsel so vinnig kan beweeg as dit moet nie. Al wat Bartel oor het, is ‘n Glock, die klere aan sy bas en ‘n ou M1 Garand wat nie geregistreer of gelisensieer nie. Die balju het beide sy kar en bakkie se sleutels geneem, sodat hy dit nie kon gaan versteek iewers nie. Sy bankrekeninge is gevries, maar hy het nog so ‘n klompie duisende rande versteek vir ‘n noodgeval en nou is dit so ‘n een.
Bartel se vrou het hom lankal gelos vir ‘n baie ouer hartsjirurg, sy seun is oorlede aan komplikasies as gevolg van die Covid-inenting en sy dogter bly in Australië. Sy wil nie met hom praat nie, want hy het haar teen haar huidige (derde) man gewaarsku.
Bartel het vanoggend sy wapens geneem en in sy ou Nissan Safari, wat ongelisensieer is en na sy beste wete lankal geskraap, die veld ingery, ‘n groot boom gaan soek en daaronder gaan sit met die Glock se loop in sy mond. Hy wil immers nie bloed en grysstof aan die binnekant van die bakkie gespat hê nie.
Dis net hier waar hy ‘n tweede geboorte ervaar het. Waarom sal hy sy lewe neem as hy dit baie beter kan gebruik? Hy ervaar ‘n groot klomp vrede as hy besef hy kon homself maar nounet geskiet het, maar hét nie. Hy redeneer dan sy lewe behoort nie meer aan hom nie en daarom kan hy dit nie verloor nie. Nou kan hy dit gebruik om die lewe vir diegene wat hom te na gekom het, moeilik te maak. Hy het ook niks behalwe sy lewe om te verloor nie en dit is nie veel werd nie.
Bartel haal die pistool uit sy mond, vee die spoeg versigtig af en sit dit terug in die holster aan sy sy.
Terug in die dorp maak hy die bakkie vol petrol. Hy weet hy sal nie vreeslik ver kom met die 82 liter in die tenk nie, maar hy kan mos weer volmaak met kontant. Vuilbaardsvlei, waar sy ander dogter Liza, die apteker is, is ver, maar hy kan dit haal.
Hy hoop half die verkeerspolisie (of die SAPD) keer hom voor om te kyk na sy voertuig se lisensie. Daar is immers iets wat die Amerikaners noem: “Suicide by police.”
Tog ry hy ongestoord tot hy by Vuilbaardsvlei aankom. Liza is oorstelp van blydskap om hom te sien.