Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gestel u staan op hierdie oomblik voor die wit troon, sal u bang wees? As u bang sal wees, het u dringend ‘n saak met God uit te maak.
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE VERONTREGTES” (29)
083 444 7672)
It is not in our power to anticipate our destiny.
-Winston Churchill
*
“Het jy werklik die kolonel geskiet”
Maya is effens uit die veld geslaan met Arno se vraag. Sy is die afgelope tyd ietwat onseker oor wat met haar emosies gebeur. Vantevore was dit anders. Sy het immers haar lewe en toekoms gebou op ’n loopbaan in die weermag en dit was genoeg. Sy het in ‘n oortreffende trap haarself toegewy aan die uitnemendheid van haar grootste talent en gawe, naamlik om die beste skut en veldkunstenaar te wees wat die SANW – en selfs die SAW – kon oplewer. Sy het baie gelees oor die besondere soldate en sluipskutters die afgelope honderd jaar.
Alhoewel Carlos Hathcock meer bekend is as gevolg van sy bedrewendheid gedurende die Viëtnamoorlog en die manier waarop hy die Viëtkong generaal geskiet het, daarna die vyandelike skut, met die bynaam “Cobra” deur die lens van sy teleskoop, en die vreemde manier hoe hy ‘n teleskoop op ‘n .50 Browning-masjiengeweer gemonteer het, en so ook Audie Murphy, wat die Medal of Honor verwerf het met sy heldedade gedurende die Tweede Wêreldoorlog.
Maar die man vir wie sy die meeste respek gehad het en wie se lewensverhaal sy noukeurig bestudeer het, was ‘n minder bekende man, naamlik Simo Häyä, ’n Finse skerpskutter. Hy het meer as 500 Russiese soldate geskiet gedurende die Winteroorlog, was self in die kakebeen geskiet en het met hierdie ernstige wond baie ver geloop vir hulp, totdat hy gehelp is. Daarna het hy teruggekeer na die front toe en aangegaan met sy krygskuns. Hy het nie ‘n teleskopiese visier gebruik nie, maar met oop visiere geskiet, “want,” het hy gesê. “Dan hoef ek nie my kop uit die sneeu op te lig nie.”
Wanneer Maya daaraan dink hoe ‘n deel van Simo se kakebeen weggeskiet is, vat sy onwillekeurig aan haar eie. Sy is onder geen illusies dat haar gesig daardeur bederf word nie. Immers, in een van die min verhoudinge wat sy gehad het, het die man ‘n terloopse aanmerking daaroor gemaak. Sy het daarna gesorg dat sy hom nooit weer sien nie en het alle bande met hom verbreek.
Maya kyk stip voor haar as sy antwoord.
“Ja, ek het.”
“Ek bedoel dit nie as ‘n stuk kritiek nie.” sê Arno half verleë en hy is onmiddellik spyt oor sy vraag.
“Dit was ‘n opdrag. Ek was ‘n offisier en het nie vrae gevra nie, want dis nie hoe dit werk nie. Of hy kinders en vrou en ouers gehad het, was nie vir my om te weet nie, slegs ‘n teikenaanduiding, die RV en dis al. Dat ek my opdrag reg en goed uitgevoer het, is vir my goed. Wanneer ek alleen is, verknies ek my daaroor.”
“Ek oordeel jou glad nie. Ek het immers al self ‘n paar mense geskiet.”
“Hoe voel jy daaroor?”
“Ek dink nie daaraan nie.”
Daar is ‘n hele ruk ‘n ongemaklike stilte tussen hulle. Wanneer hulle begin praat is dit gelyk.
“Askies, praat jy,” sê Arno.
“Dit was werklik ‘n baie goeie skoot, of skote,weet jy? Dit was nie baie ver nie, net so ‘n rapsie minder as vier honderd en vyftig meter. Die kar het teen sowat tagtig kilometer per uur gery, daar was ‘n vyftien kilometer per uur dwarswind en ek het ‘n venster van minder as drie sekondes gehad, voordat hy van die afrit sou af wees en verskuil agter die bosse van die middelmannetjie op die snelweg.”
“Twee skote met ‘n slotaksie geweer, en albei in die man se kop. Nie ‘n semi-outomatiese een nie?”
“Nee. Hierdie selfde SIG.”
Arno kyk na Maya, op ‘n manier waarop hy hoop sy nie raaksien nie. Sy kyk immers voor haar en dis al laat middag, met die lig wat nie so skerp maak nie.
“Wat sien jy, Arno?” vra sy.
Arno is net effens ongemaklik as hy begin praat.
“Ek dink jy is die mooiste vrou wat ek nog ooit gesien het.”
Maya gee ‘n siniese, kort laggie.
“Jy bedoel ek sou mooi wees as dit nie was vir vir hierdie groot kakebeen nie?”
“Nee. Ek bedoel jy is beeldskoon, punt.”
Maya sug effens, leun agteroor en vreemd vir haar, loop ’n paar trane oor haar wange.
“Ek is jammer.”
“Waaroor?”
“Dat ek jou ontstel het. Dis werklik nie my bedoeling nie.”
“Jy het nie. Dis net dat jy ‘n warboel gedagtes in my losgelaat het en ek weet nie hoe om dit te hanteer nie. Jy is die eerste man wat my met soveel sagtheid behandel. Dis nou behalwe my pa.”
Voordat hy die vraag mooi oordink het praat Arno en is onmiddellik spyt daarna.
“Watse gedagtes?”
Maya dink lank en praat so hard as wat net hoorbaar is bokant die wind en enjingeraas van die Land Cruiser. Sy praat duidelik en dis asof ‘n las van haar skouers afval as sy praat.
“Ek het nog altyd my voorkoms gehaat. Daarom het ek myself oorgegee aan my beroep. Ek het geweet ek is begaafd as dit by skiet kom. Ek het my bevele sonder teëpraat of bevraagtekening uitgevoer. Toe ek julle daar in die berg onder skoot kry, maar skielik vir Ezratjie by julle gesien het, hoe jy en Skeer hom vaderlik behandel, het iets in my gebreek. Ek kon nie skiet nie. En net daar swaai my lewe met handomkeer om. Ek was skielik nie meer Luitenant Maya Pentz nie, maar ‘n swakkeling wat my bevelvoerder se opdragte nie kon uitvoer nie. Ek was ‘n droster, miskien selfs ‘n verraaier.”
Sy bly lank stil, asof sy die woorde self oordink. Arno antwoord nie.
“Die geveg in die berg was intens, hoor! En dit teen my eie eertydse makkers. En nou... ek weet nie hoe die toekoms lyk nie.”
“Wat dit ookal inhou, Maya, ek sal na jou kyk.”
“Arno, dit is juis die groot probleem. Jy!”
“Ek?”
“Ja, Doktor van Deventer. Jy het my nog nooit met iets behalwe respek en deernis behandel nie. Niemand het dit al ooit gedoen hierdie kant van my ouerhuis nie. Hoe oud is jy?”
“Hoe oud? Dis nie meer baie jare nie, dan is ek sewentig. ‘n Ou man.”
“Ek is agt en dertig. Maar ek het baie meer jare se ervaring en hartseer agter die rug. Wat van jou vrou?”
“My vrou? Ons is al lank getroud, Bessie en ek. Nie altyd maanskyn en rose nie, maar ons het kinders en sy is juis na my seun toe, sodat ek haar uit die gevaar kon kry. Die feit is dat ek maande laas van haar gehoor het, van haar of my ander kinders.”
Arno bly stil en wag vir die regte woorde.
“Wanneer mense lank getroud is, is daar ‘n tipe telepatiese aanvoeling tussen hulle twee. Ek kan dit nie verduidelik nie en dis nie empiries waarneembaar nie. Van die ou filosowe – en onthou ek is ook een – het gemeen dat dit ‘n feit is. Mense soos Anaximandros en Plato. Ek weet diep in my hart dat sy oorlede is. Hoe, waar en wanneer, weet ek nie, maar ek weet dit is so.”
“Ek is jammer.”
“Ek ook.”
“Sou dit baie verkeerd van my wees as ek gevoelens vir jou ontwikkel? En as dit is, hoe werk ek dit teen?”
“Maya, as dit is, is ek ook skuldig.”
*
Heinz von Kleibel se manne is gedissiplineerd, alle swak skakels uitgehaal en hulle beweeg vinnig, ordelik en sonder klagtes. Wanneer hulle veg, is dit volgens plan en onder bevele van die man, wat hulle nou ten volle vertrou. Wanneer daar buit is, word dit regverdig verdeel, sonder om range in aanmerking te bring. As daar vroue onder die oorlewendes is, blank, swart, Indiër of bruin, geld die ongeskewe reël dat hulle gebruik mag word, maar buite die kamp en niemand word toegelaat om te gaan vertel nie.
Die oud-lede van die SANW, die Lesufi-metro’s, sommige uit die SAPD, die ISIS en Boko-Hiram het verenig onder een doelstelling en dit is om die blanke Christene uit die land te kry, lewendig of dood.
Die mengelmoes van verskillende fabrikate en kalibers wapens word stadigaan gestandardiseer. Ou siviele goed soos .22 gewere, handwapens wat wissel van .32 Smith&Wesson, tot .45 Webleys word nutteloos gestel en weggegooi, en vervang met 9mm parabellums, 5,56 millimeter gewere, 7,62X51’s, wat militêre NAVO-ammunisie gebruik, en natuurlik AK-variante wat die beskikbare 7,62X39 rondtes gebruik.
Alle beskikbare voertuie word gebruik, vanaf sedans, sportnutse, bakkies, vragmotors en wat ookal beskikbaar is. Wanneer hulle op ‘n meer bruikbare en geskikte veldvoertuig kom, los hulle die minderwaardige een (nadat die tenk leeggesuig is en dit aan die brand gesteek is).
Hulle beweeg aanvanklik baie vinnig, maar sodra die leër groter en meer lomp word, is dit uiteraard stadiger - iets wat Heinz noodwendig aanvaar. Hy sou eerder ‘n kleiner, meer doeltreffende en vinnig-bewegende leër wou hê, maar soos dit nou is, kan hy dit ook hanteer.
Hulle leef van die veld en van gebuite en verowerde voorraad, soos leërs gedoen het al vanaf die tyd van die Hyksos en later Alexander die Grote.
Heinz se leër laat nie ‘n verskroeide aarde agter nie, maar ‘n leeggesuigde en verwoeste een.