Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, dankie dat ek weet U wil juis hierdie siekte gebruik sodat mense wat na my kyk, sal kan sien dat ek anders is en optree omdat ek aan U behoort; sodat ek in hierdie donker tyd 'n blinker, kragtiger getuie van u liefde kan wees.
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE VERONTREGTES” (30)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
-Virgil
*
Dis baie koud. Die kouefronte wat die een na die ander die Kaap getref het, het aanbeweeg oor die binneland en die sneeu val onophoudelik vir drie dae oor die berge van die ou Oos-Transvaal. Wanneer die son sak, daal die kwik tot ver onder vriespunt, die wind waai en selfs hier, waar hulle in ‘n holtetjie kampmaak, is dit bitter koud. Almal het geweet dat hulle voorsorg moet tref teen koue, en hulle het, maar hierdie is baie erg.
‘n Nuwe aankomeling, Frans Botes, het by hulle aangesluit. Hulle het sy Mitsubishi Pajero van ver af gesien naderkom, met ligte wat beweeg, stilhou en sodra hy voor die ligte inbeweeg en eers die regter en daarna die linkerlig vir ‘n oomblik wegraak, besef Skeer dis tipies van iemand wat uitklim en voor die voertuig, in die pad, spore gaan soek.
Na ‘n paar minute is die opjaag van ‘n voertuig se toere duidelik as die ding sukkel teen die sneeubelaaide opdraand. Skeer vat sy wapens, trek sy baadjie se kraag hoog op teen sy wange en loop na waar die voertuig aankom. Hy is minder as dertig meter van die kar af, as hy sy flits uithaal en drie vinnige kere na die windskerm flits. Die kar kom tot stilsand, maar die enjin luier nog en die winskermveërs beweeg in halfsirkels om die sneeu van die ruite af te vee.
Daar is ‘n hele paar sekondes waarin niks gebeur nie, klaarblyklik wanneer die bestuurder tot ’n besluit moet kom. Uiteindelik gaan die deur oop en ‘n kop en skouers verskyn, afgeëts teen die binneliggie.
“As jy vriendelik is en sonder bybedoelings, sê so!” roep Skeer.
“Het ek ‘n keuse?”
“Nie tensy jy wil kennis maak met ‘n koeël teen die kop nie!”
“My naam is Frans Botes, en ek is half verdwaal!”
“As ek moet kyk hoe jy rondsoek, sou ek sê jy is heeltemal verdwaal.”
“Wat moet ek doen?”
“Ry agter my aan,” sê Skeer en draai om, kyk met die lig van die flits waar die spore toegewaai is en loop vooruit kamp toe. Hier en daar, as daar ‘n rots of sloot is, sal hy omdraai en vir die man wys waar om te ry. Na tien minute is die kort afstand na die kamp voltooi.
Frans is baie onseker en verleë as hy uit die voertuig klim en nader loop.
“Koffie?”
“Asseblief!”
*
Elke mens staan onder een of ander gesag. Die gewone landsburger staan onder ‘n magdom wette, en dis in werklikheid vreemd dat die meeste nie elke dag van hierdie wette oortree nie, siende dat hulle nie al die landswette ken of verstaan nie. Dit is waarvoor daar regsgeleerdes is – nie om die wette aan mense te leer of selfs toe te pas nie, maar om vir hulle op te tree wanneer hierdie wette, doelbewus of onwetend, oortree word.
Natuurlik is daar sekere etiese kodes wat ‘n kind al aanleer, soos om nie seer te maak nie, en nie te steel nie, maar ingewikkelde wette soos byvoorbeeld met belasting en besigheid, word soms onnadenkend oortree.
Selfs iemand wat in absolute afsondering gaan leef, is onderhewig aan wette, al is dit in so ‘n geval grootliks bloot net natuurwette. Ook dan word van hom of haar vereis om volgens normatiewe kodes te leef.
In sekere, uiterse gevalle, sal mense moet kies onder wie se wette hulle hulleself wil stel. Wanneer amptelike wette en normes verval, soos in die geval van chaos en ordeloosheid, sal die enkeling moet besluit of hy self wil oorleef en sy kanse vat om in afsondering reg te kom, of wil hy deel van ‘n groep wees. In so ‘n groep sal daar ook sekere reëls en regulasies wees. Indien hy/sy konformeer, sal die groep hom of haar aanvaar, maar as hy/sy daarteen rebelleer, sal hy òf uit die groep verban word, òf, indien hy ‘n gevaar vir die voortbestaan van groep inhou, doodgemaak word. Dis so eenvoudig as dit.
*
Dis maklik om na ‘n intense seisoen te smag as jy in gemak voor jou lugreëling of kaggel sit, maar dit is totaal en al iets anders as jy buitekant is, of in ‘n tent.
Dis asof die kloof, waarin hulle hulle nou bevind, soos ‘n tregter werk, wat die koue afsuig na hulle kampplek toe. Dit is, anders as die vorige plek, beskut teen vyandelike aanvalle, behalwe indien dit ook deur die opening van die kloof kom, soos hulle ingery het. Dis bitter koud en elkeen se neus loop daarvan, al is niemand werklik siek aan verkoue of griep nie.
Tussen die bome het hulle die voertuie in ‘n kring getrek en in die binneplaas skuilings gemaak van die paar tente, seile en selfs die karmatte wat hulle kon uithaal. Die vuur bly brand, en die een groot voordeel van die plek is dat daar baie hout beskikbaar is. Die ander is dat geen lewende siel in hierdie koue dit sal waag buite ‘n skuiling nie.
Die wolke hang swaar oor en tussen die berge, met sneeu wat sporadies val. Die manne het takke gekap en oor die tente en seile geplaas, in die hoop dat dit ‘n isolasielaag sou vorm teen die snerpende wind en yskoue. Miskien werk dit, maar hulle weet nie.
Koue het ‘n manier om ‘n mens se energie te tap en al sorg Skeer dat almal, kinders inkluis, sover as moontlik besig bly met takies in en rondom die kamp, dring die koue deur na been en murg.
“Hoe koud dink jy is dit?”
“Ek weet nie. Frans het vanoggend met daglig gekyk op sy voertuig se termometer en dit was toe minus nege grade.”
“Dis nie veel warmer nie. Ek dink ook nie dit gaan vinnig ooptrek en warmer word nie. Ons sal moet besluit of ons hier gaan bly en of ons moet gaan skuiling soek op ‘n warmer plek.”
“Ek dink ons moet hier bly en so warm as moontlik inrig. Onthou net dat daar baie mense daarbuite is wat ook koud kry en skuiling gaan soek, veral noudat so baie geboue afgebrand is.”
Arno lag. “Dis baie ironies en nie werklik snaaks nie, dat mense plekke afbrand en dan nie ‘n plek het om te gaan bly nie.”
“Nou waarom lag jy?”
“Want ek het niks anders om te doen nie.”
*
‘n Mens kan dit die sneeubal-effek noem as jy wil. Heinz se leër groei by die week en soms selfs by die dag. Soos wat hy oorwinnings behaal, bly daar uit die oorlewendes manne en vroue oor wat hy kan gebruik. Wanneer hierdie mens nie onmiddellik opleibaar blyk te wees, gehoorsaam sonder huiwering of ‘n gebrek aan dissipline openbaar, word hy of sy eenkant geneem en dood in die koue gelaat. Hy het aanvanklik min simpatie met ander en deesdae niks. ‘n Dooie mens is verkieslik bokant ‘n makker wat ‘n las kan raak.
Natuurlik, soos die sneeubal groter word, word die logistieke probleme van vervoer, voedsel en wapens al meer en natuurlik is daar gesag wat gehandhaaf word. Sommige leiers sal lei deur voorbeeld en inspirasie, ander deur vreesinboeseming. Alhoewel Heinz in alle opsigte voorbeeldig te werk gaan, met ysere selfdissipline en netheid op sy persoon, taaiheid en natuurlik bo-gemiddelde intelligensie, bly feitlik almal uit sy pad.
Die koue wat op die land neerdaal het, het ‘n negatiewe uitwerking op sy soldate en die moreel is baie laag. Die kos is nie altyd voldoende nie en daarby geensins aptytwekkend nie. Hy ervaar hierdie effense frustrasie van die voetsoldate en sy offisiere en onderoffisiere moet soms hardhandig te werk gaan met opstokers.
Terwyl hy oor die kampplek kyk, wat nou te deurmekaar en ongedissiplineerd na sy smaak is, besef hy daar is net een manier om hierdie situasie die hoof te bied en dit is deur middel van ‘n groot veldslag. Hy kort net ‘n goeie teenstander om die ongedissiplineerde rante van sy leër uit te wan.
Stadig, meedoënloos en seker, beweeg die leër tussen die Vaaldriehoek en die Johannesburg-Prertoriagebied verby. In sy spoor laat dit verwoesting, hartseer, woede en haat agter. Nie een van hierdie emosies raak Heinz enigsins nie.
*
“Gaan ons verder soek, of is dit sinneloos?”
“Persoonlik dink ek dis nie sinneloos nie. Ek dink steeds die Krugermunte is daar iewers, miskien begrawe, miskien in ‘n grot, wie weet. As ek dink aan Fritz Joubert, oftewel Duquesne – ek dink hy was net mooi keelvol van alles en het tou opgegee.”
“Hoekom hou ons nie nou aan met soek nie?”
“Skeer, ek dink ons moet hier padgee. Ek voel hier is iets aan die broei en ons is nie genoeg mense nie, met genoeg wapens en genoeg ammunisie nie.”
Dis asof Skeer skielik tot ’n besluit kom.
“Ek stel voor ons gee hier pad en gaan in die teenoorgestelde rigting, nie terug Noorde toe nie, maar reg Wes.”
Wanneer Skeer oorkant die vuur en langs hom kyk na die mense saam met hom, besef hy dat almal verander het, selfs sy getroue vriend en vertroueling, Arno van Deventer. Hy besef skielik dat die man skraler is en dat die effense boepie wat hy gehad het, weg is. Wanneer hy opstaan, is dit met die energie en houding van ‘n baie jonger man. ‘n Frons verskyn stadig op Skeer se gesig as hy die oorsaak daarvan probeer ontsyfer. Skielik verdwyn die frons en ‘n glimlag verskyn as hy sien dat, wanneer Arno gaan sit, sy linkerbeen styf teen die regter een van Maya is. Skeer skud sy kop.
“Wat sien jy, Skeermes Hugo?”
“Nee, ek sien maar hoe almal verander het. Kyk vir Ezra – hy is nie meer die half-verskrikte seuntjie van ‘n jaar of wat gelede nie. Ja, hy eet nog net so baie, maar hy is meer onafhanklik en op ‘n manier meer volwasse as meeste kinders baie ouer as hy.”
Skeer kyk na die ander, sonder om iets te sê van wat hy opmerk. Frans die nuwe aankomeling, lyk tuis, Lucille het haar stukkende klere en Gucci-uitrusting verruil vir sterk, duursame klere; hy vermoed dat sy dit by Maya gekry het. Johan en sy kinders is meer op hulle gemak, Dons het ietwat ontspan, die plaaseienaar by wie hulle die Cruiser se vooras gekry het, sit met sy hand beskermend om sy vrou se skouers en die kinders op die grond net voor hom en haar, op ‘n dubbeldgevoude kombers. So kan hy sy oë laat gly oor elkeen van die groep, wat aanvanklik net uit hulle paartjies bestaan het, maar nou aangegroei het na ‘n klein veggroep.
Hy kyk weer na Arno en Maya en besef daar is iets tussen die twee. Is dit omdat hulle intellektueel bykans op dieselfde vlak is, dat Maya hom gered het daar bo in die berg, of omdat Arno haar so mooi versorg het die afgelope tyd? Maar hoe kan dit werk? Maya is nog in haar dertigs en Arno in sy middel tot laat sestigs. Is dit moontlik omdat sosiale aanvaarbaarheid verander omdat die milieu heeltemal omgeswaai het? Sien sy in hom ‘n vaderfiguur, omdat sy so lank sonder een moes klaarkom? Hy weet nie, maar is heimlik baie dankbaar vir hulle twee.
En skielik voel Skeer baie eensaam.