Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die dood is die kleedkamer waar gelowiges vir die ewigheid aantrek; dis nie ʼn punt nie, maar eerder ʼn komma in die verhaal van ons lewe. Dank God daarvoor!
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (7)
083 444 7672)
Noudat hulle naby is, kan Paul die malende klompies mense sien wat naby die dorp kom. Hulle hou op ‘n afstand, wat Paul maar net kan dink buite skootafstand is. Iemand onder in die plekkie hou die spul weg van hulle af.
Terwyl Paul en Hannie sit en kyk na die klein dorpie voor hulle, gee die Land Cruiser ‘n sluk, loop weer, luier onegalig en vrek dan. Al die paneelliggies kom aan en Paul draai die sleutel. Die enjin wil vat, maar uiteindelik hou hy op, bang om die battery dood te karring. Hy klim uit en loop na die ander voertuie, wat naby hom tot stilstand kom.
“Wat nou, Paul?”
“Nou is al my kar se petrol op. Ek kan hom uit rat haal en ons kan die afdraand afloop, maar onder in die duik gaan hy staan. Dis die laaste ding wat ek wil hê.”
“As jy nog kon kry, wat sou jy voorstel, dat ons maar net binnery?”
“Nee, dis te gevaarlik. Julle kan self sien die plek is amper omsingel en die ouens binnekant, veronderstel ek, hou hulle weg. Dis ongelukkig so dat niemand vir altyd ‘n plek kan veilig hou teen ‘n beleg nie.”
“Kan ons agter die dorp kom?”
“Nie met ‘n pad nie.”
“Wat dan?”
“Daar is ‘n diep sloot wat van die berg se kant tot naby die dorp loop. Julle kan dit nie van hier af sien nie, maar aan die ander kant van die dorp is daar ‘n bruggie, nie meer as dertig meter lank nie, en dit span oor die sloot, wat in die reëntyd ‘n spruit word. Ek dink dit behoort nou droog of feitlik droog te wees. Ons kan om daardie koppie ry.” Hy wys met sy regterhand na een wat so ses tot sewe kilometer van hulle af is.
“Van daar af kan ons die bo-loop kry. Miskien kan ons naby genoeg kom om hulle af te sny.”
“Dis alles goed en wel, maar my voertuig is steeds sonder petrol.”
“Paul…”
“Ja, Jasper?”
Jasper is die bestuurder en eienaar van die Toyota bakkie. Hy, sy vrou en sewejarige dogter ry op die lang voorste sitplek en hy het sy bagasie onder ’n seil agter-op.
“Ek is jammer, ek moes al vroeër genoem het, maar ek was bang julle sou moeg word om my te sleep en daarom het ek nie gepraat nie. Ek moes dan genoeg hê om op my eie reg te kom. Ek het nog twee jerry-kanne petrol agter-op die bakkie.”
Niemand sê iets nie en as hy gedink het iemand sou hom verwyt, gebeur dit nie.
“Kan ek dit by jou kry?”
“Ek bring. Belowe net julle sal ons nooit los dat ons self moet regkom nie.”
“Hoe ken jy ons?”
Jasper antwoord nie, maar na ‘n paar minute bring hy die staalkanne en ‘n tregter. Dit vat net ‘n paar minute om die Land Cruiser se tenk half vol te maak. Paul klim weer agter die stuur en skakel die ontsteking aan. Die Facet-drukpompie knetter ‘n halminuut en dan verstadig die klank, soos hy die petrol uit die tenk sleep en na die enjin toe stoot. Die Land Cruiser se enjin gee drie draaie, sluk, draai en dan vat hy met ‘n gebrul, soos net ‘n Amerikaanse agtsilinder kan.
Stiaan ry voor hulle uit met ‘n smal twee-spoorpaadjie. Voor draai die pad effens na die regterkant toe en loop dan baie naby die voet van die koppe verby, tot by ‘n windpomp en ‘n vee-suiping. Hier moet hulle die doringdraad-heining platdruk en kan hulle verby ry. Stiaan hou stil en loop na Paul toe.
“Hiervandaan kan jy die donga sien. Jy moet nou weer voor ry, want ek dink die bodem gaan ongelyk en moeilik-begaanbaar wees. Jy sal definitief van ons karre moet sleep.”
“Sal jy vir Jasper sê hy moet agter my kom ry? Dan haak ons sommer nou sy bakkie aan my kar – ons moenie tyd mors as dit nie nodig is nie.”
*
“Het julle nog verrassings wat op my wag?”
“Soos?”
“Nog mense wat gaan inkom?”
“Nie wat ek van weet nie.”
“Wag nou, Dries. Jy gaan hulle net sleg laat voel. Hulle het netnou gepraat van wapens en jy het gesê: ‘Julle ken my mos’, is dit nie Petie?”
“Dit is so, hoekom?”
“Het jy meer as net jou en Annette s’n? Ek bedoel, ek soek ook een – het jy vir my ‘n wapen, Petie?”
“Ek het. Annette wil nie een dra nie, sy sê sy kan nie regtig skiet nie en is bang sy is ‘n gevaar vir ander. Kom kyk wat ek het, dan soek jy een vir jou uit.”
Petie haal twee sakke agter uit sy kar uit. Die een lyk soos ‘n gholfsak, maar net langer en die ander is ‘n dik seil dra-sak wat, as Rika moet oordeel aan die moeite waarmee hy dit dra, baie swaar moet wees.
“Nog twee, ek is nou terug.”
Die vier sakke word oopgerits en Petie se versameling lê oop op die dubbelbed. Daar is ses lang gewere, ‘n hoop ammunisie van verskeie kalibers en ‘n tiental handwapens.
“Is hierdie goed alles wettig?”
“Natuurlik.”
“Ek wil net ‘n kort geweer hê, nie ‘n lang een nie.”
“Jy bedoel ‘n rewolwer of ‘n pistool, en nie ‘n geweer nie?”
“Okay. Dis wat ek bedoel, ja.”
“Wys my hoe groot is jou hande.”
Rika hou haar hande uit dat Petie dit kan sien. Die palms van haar hande is, sover hy kan sien, normale grootte, maar haar vingers is lank en smal.
“Wat van hiedie een?”
Hy vat ‘n Beretta Model 84, maak seker dis veilig en hou dit vir haar uit.
“Dis ‘n lekker ligte wapen, wat jy maklik kan dra. Dis dertien-skoot en die kaliber is nege millimeter-kort.”
“Wat beteken die ‘kort’?”
“Dit beteken dis nie so kragtig as ‘n nege millimeter Parrabellum nie.”
“Skop ‘n Parabellum baie meer?”
“Nie regtig nie.”
“Dan soek ek een.”
“Wat van hierdie een? Dis ‘n Walther P38. Lekker akkuraat, is lig en baie betroubaar, maar hy vat net agt rondtes in die magasyn.”
“Wat van hierdie een?”
“Dis ‘n FN Browning. Ook nege millimeter Parabellum. Vat dertien rondtes in die magasyn, maar hy is swaarder.”
Rika vat die wapen, hou dit so asof sy die gewig probeer bepaal, korrel gemaak na die venster se kant toe en maak “pow-pow” met die loop wat effens lig met elke denkbeeldige skoot.
“Is dit ‘n goeie een?”
“Die beste.”
“Kan ek hom vat?