Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Volk moet sy leiers versigtig kies. Wie dit nie doen nie se lugkastele verander altyd in puinhope en hul dagdrome in nagmerries.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (12)
083 444 7672)
Minder as vyf persent van die totale Suid-Afrikaanse bevolking is nié aan die beweeg nie. Feitlik elke man, vrou, kind, bejaarde, sieke, gestremde, het die moontlike prooi van geweld geword. Die maklikste opsie vir enige spesie wat gejag word, is om te vlug.
Een van die hoofredes waarom ‘n jagtende spesie (predatore) se oë aan die voorkant van sy kop sit, is om die prooi goed te kan sien, om daarop te kan fokus en om die afstand goed te kan skat, vir die laaste aanval. Net so is die oë van die gejagdes aan die kante van hulle koppe, sodat hulle die jagters betyds kan raaksien en sodoende op vlug kan slaan. Daarby is die dier geseënd met beter gehoor en reuksintuie as die mens, en met min uitsonderings, groter spoed en ingeboude wapens, soos slagtande of horings.
Alhoewel die mens as spesie eintlik relatief hulpeloos is teen die natuur, het hy twee kenmerke wat vir hom enorme voordeel bied. Die een is dat hy ‘n duim het (soos sommige ander primate) wat teenoor sy ander vingers kan toevou om behoorlik vas te hou en in meeste gevalle ‘n gebruiksvoorwerp, soos byvoorbeeld gereedskap – of bamboes. Maar dit werk ook goed om wapens te vervaardig en gebruik, hetsy dit ‘n klip, stok, kierie, spies, boog of vuurwapen is.
Die ander een is ‘n goed-ontwikkelde brein. Anders as meeste spesies is die menslike brein in verhouding groot. ‘n Olifant het ‘n groter brein, maar in verhouding tot sy massa is dit kleiner as ‘n mens s’n. Ander minder ontwikkelde spesies, soos byvoorbeeld ‘n volstruis, se brein is kleiner as sy oog.
Die mens het hierdie geweldige voordele deur die eeue – millenia – ontwikkel en gebruik om hom mettertyd aan die bokant van die voedselketting te plaas, in so ‘n mate dat baie ander spesies uitgeroei is, of op die rand van uitwissing staan.
Gedurende die twintigste een het die totale mensebevolking van die planeet aarde eskponensieel toegeneem. In ontwikkelde lande het mense na die Tweede Wêreldoorlog min of meer ‘n vreedsame lewenswyse aangeneem en verantwoordelik aangeteel, maar dis nie die geval in Derde Wêreldse lande nie.
Gedurende en na kolonisasie, met die “vrymaking” van inheemse Afrikane, het die Weste ingegryp en triljoene tonne voedsel aan die mense verskaf, om die uitwerking van natuurlike rampe teen te werk. Hulle het ook die vorige duisende jare se gebruik om die bevolkingsgetalle in toom te hou deur stamgevegte, verhinder. Kerke het hulle stemme ook hierteen dik gemaak. Dìt, tesame met ongebreidelde voortplantingslus, het Afrika se bevolking soos ‘n oorgerysde brood die hoogte ingeskiet en in plaas van die vrugbare grond optimum te bewerk deur kundigheid, het hulle afhanklikheid met uitgestrekte bedelhande net toegeneem.
Vanaf 1965 tot 2020 het die blanke bevolking in Suid-Afrika min of meer konstant gebly, met rondom vier miljoen mense. Die swart bevolking, daarenteen, het egter gegroei (weens baie faktore) tot meer as 40 miljoen.
Die plaasboere, wat vir 90 persent van die verbouing van die voedsel verantwoordelik is, word daagliks uitgemoor, hulle ontvang nie hulp van die regering na natuurlike rampe soos oorstromings of droogtes nie en sukkel om banklenings te kry as gevolg van grondeise en die onsekerheid van die ekonomie. Landboubanke, wat onder swart bestuur kom, word leeggesuig en gesluit. Baie boere verkoop hulle plase ter wille van oorlewing en dié wat in die opkomende boere (lees “swart”) se hande val is in meer as 95 persent van die gevalle ‘n mislukking. Nie net verloor miljoene mense hulle werk nie, maar word ook die voeselverskaffing bedreig hierdeur.
Waar die inwoners van die land deur die jare gewoond geraak het aan betreklik veilige toestande, waar sy woonhuis ‘n plek is wat bestand is teen ongurige natuurtoestande, soos reën en koue, maar ook teen menslike wreedaards, is dit in die een en twintigste eeu nie meer ‘n gegewe nie.
Al hoe meer huisrowe kom voor, grootliks as gevolg van mense wat desperaat gelaat is deur ‘n swak ekonomie en dus ‘n gebrek aan inkomste, maar ook ‘n traak-my-nie-agtige optrede en onbeheptheid van die aanvaarde beskermers van wet en orde, naamlik die Suid-Afrikaanse Polisiediens. In baie gevalle word misdade nie meer aangemeld nie, omdat hulle nie seker is wat die SAPD gaan doen nie. Hoër heinings, in baie gevalle met elektriese drade gekroon, sterker diefwerings, dikker deure, kwaai honde, alarmstelsels en private sekuriteitsfirmas raak die norm. Dit is egter net geskik om die inwoner ‘n kans te gee om wakker te word en sy lewe en eiendom self te beskerm, totdat hulp (miskien) opdaag.
Alhoewel baie blankes hulleself bewapen met slaan of steekgoed, is daar ‘n groot persentasie wat hulle toevlug neem tot vuurwapens. Dit is ook so dat in ‘n groot persentasie van huisrowe die inbrekers ook met vuurwapens (alhoewel onwettig en ongelisensieerd) gewapen is en dit maak die speelveld gelyk.
Met die verval van die ekonomie, die ineenstorting van Eskom, werkloosheid wat onkeerbaar is, honger mae, die blootstelling van die enorme korrupsie onder wetgewers en staatsamptenare, wat die infrastruktuur bykans vernietig het, maatskaplike toelae wat onbekostigbaar geraak het en belastingboikotte wat al meer die norm raak (“hoekom”, redeneer ‘n belastingbetaler, “sal ek betaal as die ontvangers van belasting nie hulle kant van die sosiale kontrak nakom nie?”) en les bes ‘n gebrek aan vertroue na weerskante van die kleurskeidslyn, het Suid-Afrika in ‘n tydbom verander en dit het mettertyd ontplof.
Die voorgestelde wet dat die (blanke) bevolking se vuurwapens vir alle praktiese doeleindes onteien word, het in die regering se gesig ontplof, toe die eerste werklike verset plaasgevind het. Die Afrikaanse mense het vuurwapens nie net omdat hulle dit wil gebruik vir jag of selfverdediging nie, maar dis inherent deel van hulle kultuur. Die ou Sannas was inderdaad die sleutel waarmee die trekboere aan die Kaap in die sewentiende eeu die binneland oopgesluit het. Dwarsdeur die geskiedenis wat daarop gevolg het, het vuurwapens, net soos die Bybel, ‘n integrale deel van hulle kultuur geword. Die regering het verslae gekyk hoe hulle magteloos probeer het om die wet af te dwing. Burgerlike verset was die onvoorsiene uitkoms. Orde het plek gemaak vir chaos.
Die regering het ook die opstand gesien kom en het op verskeie plekke begrotings gesny om die geld aan te wend vir die beskerming van BBP’s.
Oor die algemeen het die veilige woonhuise onverdedigbaar geword en het die meeste mense op vlug geslaan.
Mettertyd was die grootste deel van die bevolking aan die beweeg, op soek na basiese lewensmiddele en veiligheid.
*
Twee manne wat ontkom het uit die burgeroorlog in Kroasië, Jadranko en Matté, skryf dat hulle glad nie vir die geweld en hartseer voorberei was nie. Eintlik was niemand nie, behalwe die regering wat dit gestook het, maar as hulle terugkyk, kan hulle die mylpale wat daartoe gelei het, raaksien.
Eerstens was daar ‘n kunsmatige skeiding wat die owerhede teweeg gebring het tussen die twee groot groepe, naamlik Moslems en Christene. Die tweede ding wat oor hulle pad gebring is, is deur die een groep bo die ander voor te trek, deur kontrakte en en gereserveerde werksgeleenthede.
Daarna het die sogenaamde “no-go” areas in werking getree. Belastings is op een groep afgedwing en die ander daarmee oorgesien. Die jurisdiksie en die polisie was openlik gekant teen die een groep. Wapens is geregistreer en lisensies het haas onbekombaar geword.
Die dag nadat wettige wapens gekonfiskeer is, het die oorlog begin.
Nie een van hulle was voorbereid nie. Almal het gedink die regering gaan deur ‘n moeilike tyd, maar hulle sal daardeur kan werk.
Die eerste ding wat die twee manne gedoen het nadat hulle werk in Suid-Afrika gekry het, was om gewere te koop en te leer skiet.
*
Een van die pilare van Kommunisme is die beginsel dat plase en fabrieke genasionaliseer word. Die rationaal was dat dit die bron van die ekonomie is en dat dit onder staatsbeheer moes kom en bly. ‘n Plaasboer wat sy eie grond besit, kan brandarm wees, maar hy is ‘n kapitalis en dus ‘n vyand van die burgery. So ook ‘n fabriekseienaar.
In Suid-Afrika het ambagsmanne en plaaswerkers skouer teen skouer gewerk met hulle swartmense. Niemand het die ander verafsku nie, maar saans en snags het die politieke organisasies juis hierdie punt uitgewys, by vergaderings wat diep in die townships gehou is, agter geslote deure.
“Ja, die boer werk saam met jou op die lande, maar aan die einde van die seisoen is die oes syne.”
Hulle het nagelaat om te sê daardie oes se geld is afhanklik van die marktoestande en die geld wat dan in die boer se rekening kom, moet verdeel word tussen die werkers se lone, die bank (met rente), die aankoop of vervang van implemente, diesel, kunsmis en ‘n magdom ander uitgawes. Dit is een van die redes waarom plase wat aan die “oorspronlike eienaars” teruggegee is, net een oes gelewer het – die laaste een wat die wit boer geplant het. Daarna, as die reste van die geld ook verdeel is, word die implemente, dit wil sê trekkers, ploeë, bakkies, pype, kabels en alles wat los is of losgemaak kan word, verkoop.
Uiteraard is dit dan onmoontlik om die volgende seisoen te plant. Waar dit vrugteboerdery is, word die verdroogde boompies mettertyd in die villages as brandhout verkoop. Daarna word die regering geblameer dat hulle nie genoeg geld beskikbaar gestel het vir die “opkomende boere” nie, nie genoeg opleiding en hulp gegee het nie, enigiets of iemand word met verwyte gegooi, behalwe gulsigheid, luiheid en onvermoë. Die regering kan uiteraard nie die blaam op hulle neem nie en die blankes word weereens beskuldig.
Dieselfde geld vir fabrieke, veral klein ondernemings, waar die werkers dikwels meer geld aan die einde van die maand huis toe kon neem as die eienaar.
Hierdie valshede het aanleiding gegee tot jaloesie en uiteindelik woede. En waar jaloesie en woede gedy, is hulle stiefboetie – haat - net ‘n enkele treë weg.
*
Die sloot wat die lokval was, is uiteindelik ook die manne se behoud. Een vir een hardloop, kruip of seil hulle onder dekvuur die sloot binne. Dis nie baie lank nie, nie vreeslik diep nie, en is uiteindelik beknop, maar bied genoeg dekking sodat Diek en sy manne die aanstormende soldate die hoof kan bied. Laasgenoemde het in die twee randjies en agter elke beskikbare stukkie skuiling dekking geneem en op die manne in die sloot geskiet. Af en toe sal ‘n paar die moed hê om met ‘n blitsaanval vorendag te kom, maar dit word gou gestuit.
“Kom ons bid net dat hulle nie iets soos handgranate of mortiere het nie!”
“Moet nou nie gedagtes in hulle koppe plant nie!”
Indirekte vuur sou natuurlik korte mette met Diek en sy manne gemaak het, gesien die klein spasietjie waar hulle ingekluister is, maar dit gebeur darem nie. Die oor-en-weer uitruil van skote hou vir meer as twee ure aan. Die soldate sou wegkruip agter iets, vinnig omloer en terselfdetyd ‘n sarsie afvuur, dikwels sonder om te korrel. Dis natuurlik eenvoudig om so ‘n plek dop te hou, jou visiere op die spasie te plaas waar die kop en skouers gaan verskyn en die sneller te trek die oomblik dat dit gebeur. Uiteindelik is akkurate vuur belangriker as die hoeveelheid lood wat deur die lug trek.
Die agterste groep, wat aanvanklik uit ‘n kompanie van vyftig soldate bestaan het, word afgeslyp tot drie en twintig na twee lang, uitmergelende ure. Hulle beweeg al skietende agteruit, totdat hulle reken hulle is ver genoeg weg, of naby genoeg aan skuiling, om die laaste ent rieme neer te lê. Die ander drie groepe sien wat hulle makkers doen en besluit om hulle voorbeeld te volg.
“Kom!” beveel Diek, kry agt van sy manne in ‘n formasie en agtervolg die kleiner groep na hulle agterkant. Die vlugtendes sien wat gebeur en slaan alle versigtigheid in die wind, gooi selfs wapens neer en trek lyfpanster uit, in die proses om met so min gewig as moontlik, weg te hardloop.
Net anderkant die vulstasie is die pad oop met hoë heinings langs die kante en dit bied geen skuiling nie. Die uitgewande kompanie hardloop nou so hard hulle kan, maar tog haal die goedgemikte skote hulle in, totdat net nege van hulle die veiligheid van die volgende kruising bereik.
“Dankie tog dat hulle vir ons ‘n loopgraaf gegrawe het!”
“Ek dink ons sal ‘n paar ander voertuie moet kry.”
*
Paul Roux se groep waag dit nie om die pad te gebruik nie. Dis asof iemand byekorwe oopgeskop het, soos daar uit elke plaas, gehuggie, dorp en stad mense aan die beweeg gekom het. Sommige soek kos en skuiling, ander soek veiligheid, maar die derde groep is op hulle spoor om hulle te beroof en te vermoor. Die snelweë, maar ook die sekondêre en selfs klein paadjies, wemel van misplaaste en ontwortelde mense.
Mans, gewapen met enigiets wat kan sny, steek, slaan of skiet, loop soos wat die norm was twee honderd en meer jaar gelede voor sy groepie mense, met die vroue en kinders wat agterna kom. Die vroue dra klein kindertjies, babas, komberse en kos in elke moontlike houer, vanaf plastieksakke tot gehawende reistasse en seil- en nylonsakke. Die kinders dra vragte na behore van hulle ouderdom en krag, soveel as moontlik.
Waar die groepe geloop het, word ‘n spoor van genoemde plastieksakke, stukkies gehawende klere, ontlasting, as en smeulende kole van enigiets brandbaar, stukkende karre en bakkies, lorries en hier en daar ‘n bus; die ruite uitgeslaan en een uit elke drie uitgebrand gelaat. Die ergste is die lyke wat amper soos mylpale elke paar kilometer lê en vergaan. Niemand het tyd, krag of lus om hulle te begrawe nie.
Rondloperhonde het aanvanklik in in klein, maar later in groter troppe die groepe begin agtervolg, waar hulle soos hiënas, jakkalse en aasvoëls eenkant op die perimeters draf of wag, totdat die volgende liggaam agtergelaat word. Uiteindelik is daar net witgevrete, verspreide beendere oor.
Paul-hulle vermy die walglikhede weens afsku, maar ook oor die gevaar daaraan verbonde. Hulle het baie tyd en sterk vierwieldrywe. Dus ry hulle deur die veld waar moontlik. Dit gebeur dat hulle baie kilometers beweeg voordat hulle noodgedwonge op die pad moet kom, maar dan ook net as dit leeg is en draai hulle so gou moontlik weer veld-in. Die Mercedes met die groot wiele ry feitlik enige plek en normaalweg is hy besig om een van die ander voertuie, soos die Toyota bakkie of een van die ander, te sleep. Die Frontier met sy gewillige 3.2 liter V6 en veldbande verbaas almal.
*
Die kanse dat jy iemand onder hierdie omstandighede sal raakloop of ry, is baie groot. Bouts hou op elke bultjie, koppie of hoogtetjie stil en verken die omgewing rondom hom voordat hy aanry. Die Nissan se 2,2 liter viersilinder enjin is gewillig en die lae ewenaarverhouding, gekoppel met die vyfspoed-ratkas, doen nie sleg nie, behalwe as dit modderig is of die sand te los.
Dit het ‘n paar aande gelede lekker gereën, en hier en daar staan nog poele water, wat hy dan versigtig vermy. Aan die bokant van die volgende opdraande hou hy oudergewoonte stil en kyk hoe die omgewing daarna uitsien. Ver na sy linkerkant is daar ‘n beweging. Hy kan nie die besonderhede uitmaak nie, maar weet sommer dis ‘n redelike groot groep mense wat daar loop. Voor hom in die pad, so twee kilometer van hom af, is ook ‘n groep mense, kleiner as die ander een, maar steeds groot genoeg dat hy hulle wil vermy. Sy enigste opsie is om òf terug te draai, wat hy nie wil doen nie, òf links af te draai die veld in. Hy knip die doringdraadheining, iets wat hy nooit vantevore sou droom om te doen nie, en ry stadig die veld binne. Dis reeds laatmiddag en hy begin uitkyk vir ‘n gerieflike, maar ook veilige staanplek vir die aand. ‘n Mens is selfs in die veld net so ongemaklik as wat jy kies om te wees.
Daar is nie ‘n teken van ‘n paadjie nie en die Tracker ry stadig deur die gras. Af en toe sal ‘n voorwiel lig teen ‘n groterige klip, of af in ‘n gat, waarna Bouts effens petrol moet trap om oor of uit te klim. Die enjinspoed klim en val die hele tyd. Die voertuig het onafhanklike vering voor, maar ‘n starre as en bladvere aan die agterkant, wat maak dat Bouts skommel en skud deur die veld.
Uiteindelik is hy aan die onderkant van die steilte en ‘n groenerige gelykte lê voor hom en nog verder aan, ‘n lappie polulierbome en ‘n lekseltjie groen gras. Hy ry deur die vlaktetjie en eers as hy die voorwiele binnekant het, besef hy dis ‘n stukkie vlei. Die voertuig se enjintjie skreeu as hy petrol gee, maar dit sak eenvoudig tot teen die vloerbord weg in die pap modder. Gelate dat sulke dinge gebeur, verwyt hy homself nie, en ook nie die natuur nie. Dis maar hoe die verloop van sake gaan. Hy maak die deur oop, klim uit en op die laaibak om nie sy skoene in die modder te kry nie, oor die agterkant en spring op die droë grond, waar hy hande in die sye staan en kyk wat aangaan. Dit lyk darem nie of die voertuig verder gaan wegsak nie en dit help ook nie hy probeer hier uitry nie. Daarvoor is die wiele te klein en te maer.
Die son begin sak oor die rand van die koppie skuins voor hom en hy kom tot ‘n besluit: môre is nog ‘n dag. Vandag was lank genoeg en hy het in elk geval nie ‘n tydskedule nie. Môre kan hy van die jong populiere afkap en onder die wiele inwig, of so iets. Hy sal wel ‘n plan maak en weldra hier uitkom.