Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer iemand deur die kragtige werk van God uit die ou lewe na die nuwe oorgebring word, verander alles. Die versoening en redding wat Jesus gebring het, beteken dat die mense wat deur God nuut gemaak is, nou reeds deel in die orde van die nuwe wêreld wat finaal sal kom met die wederkoms van Christus. Die oue is dus verby, en die nuwe het reeds gekom. Dit is die boodskap van versoening wat die wêreld moet ingaan.
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (13)
083 444 7672)
Twee manne wat ontkom het uit die burgeroorlog in Kroasië, Jadranko en Matté, skryf dat hulle glad nie vir die geweld en hartseer voorberei was nie. Eintlik was niemand nie, behalwe die regering wat dit gestook het, maar as hulle terugkyk, kan hulle die mylpale wat daartoe gelei het, raaksien.
Eerstens was daar ‘n kunsmatige skeiding wat die owerhede teweeg gebring het tussen die twee groot groepe, naamlik Moslems en Christene. Die tweede ding wat oor hulle pad gebring is, is deur die een groep bo die ander voor te trek, deur kontrakte en en gereserveerde werksgeleenthede.
Daarna het die sogenaamde “no-go” areas in werking getree. Belastings is op een groep afgedwing en die ander daarmee oorgesien. Die jurisdiksie en die polisie was openlik gekant teen die een groep. Wapens is geregistreer en lisensies het haas onbekombaar geword. Die dag nadat wettige wapens gekonfiskeer is, het die oorlog begin.
Nie een van hulle was voorbereid nie. Almal het gedink die regering gaan deur ‘n moeilike tyd, maar hulle sal daardeur kan werk.
Die eerste ding wat die twee manne gedoen het nadat hulle werk in Suid-Afrika gekry het, was om gewere te koop en te leer skiet.
*
Een van die pilare van Kommunisme is die beginsel dat plase en fabrieke genasionaliseer word. Die rationaal was dat dit die bron van die ekonomie is en dat dit onder staatsbeheer moet kom en bly. ‘n Plaasboer wat sy eie grond besit, kan brandarm wees, maar hy is ‘n kapitalis en dus ‘n vyand van die burgery. So ook ‘n fabriekseienaar.
In Suid-Afrika het ambagsmanne en plaaswerkers skouer teen skouer gewerk met hulle swartmense. Niemand het die ander verafsku nie, maar saans en snags het die politieke organisasies juis hierdie punt uitgewys by vergaderings wat diep in die townships gehou is agter geslote deure.
“Ja, die boer werk saam met jou op die lande, maar aan die einde van die seisoen is die oes syne.”
Hulle het nagelaat om te sê daardie oes se geld is afhanklik van die marktoestande en die geld wat dan in die boer se rekening kom, moet verdeel word tussen die werkers se lone, die bank (met rente), die aankoop of vervang van implemente, diesel, kunsmis en ‘n magdom ander uitgawes. Dit is een van die redes waarom plase wat aan die “oorspronlike eienaars” teruggegee is, net een oes gelewer het – die laaste een wat die wit boer geplant het. Daarna, as die reste van die geld ook verdeel is, word die implemente, dit wil sê trekkers, ploeë, bakkies, pype, kabels en alles wat los is of losgemaak kan word, verkoop.
Uiteraard is dit dan onmoontlik om die volgende seisoen te plant. Waar dit vrugteboerdery is, word die verdroogde boompies mettertyd in die villages as brandhout verkoop. Daarna word die regering geblameer dat hulle nie genoeg geld beskikbaar gestel het vir die “opkomende boere” nie, nie genoeg opleiding en hulp gegee het nie, enigiets of iemand word met verwyte gegooi, behalwe gulsigheid, luiheid en onvermoë. Die regering kan uiteraard nie die blaam op hulle neem nie en die blankes word weereens beskuldig.
Dieselfde geld vir fabrieke, veral klein ondernemings, waar die werkers dikwels meer geld aan die einde van die maand huis toe kon neem as die eienaar.
Hierdie valshede het aanleiding gegee tot jaloesie en uiteindelik woede. En waar jaloesie en woede gedy, is hulle stiefboetie – haat - net ‘n enkele treë weg.
*
Die sloot wat die lokval was, is uiteindelik ook die manne se behoud. Een vir een hardloop, kruip of seil hulle onder dekvuur die sloot binne. Dis nie baie lank nie, nie vreeslik diep nie, en is uiteindelik beknop, maar bied genoeg dekking sodat Diek en sy manne die aanstormende soldate die hoof kan bied. Laasgenoemde het in die twee rantjies en agter elke beskikbare stukkie skuiling dekking geneem en op die manne in die sloot geskiet. Af en toe sal ‘n paar die moed hê om met ‘n blitsaanval vorendag te kom, maar dit word gou gestuit.
“Kom ons bid net dat hulle nie iets soos handgranate of mortiere het nie!”
“Moet nou nie gedagtes in hulle koppe plant nie!”
Indirekte vuur sou natuurlik korte mette met Diek en sy manne gemaak het, gesien die klein spasietjie waar hulle ingekluister is, maar dit gebeur darem nie. Die oor-en-weer uitruil van skote hou vir meer as twee ure aan. Die soldate sou wegkruip agter iets, vinnig omloer en terselfdetyd ‘n sarsie afvuur, dikwels sonder om te korrel. Dis natuurlik eenvoudig om so ‘n plek dop te hou, jou visiere op die spasie te plaas waar die kop en skouers gaan verskyn en die sneller te trek die oomblik dat dit gebeur. Uiteindelik is akkurate vuur belangriker as die hoeveelheid lood wat deur die lug trek.
Die agterste groep, wat aanvanklik uit ‘n kompenie van vyftig soldate bestaan het, word afgeslyp tot drie en twintig na twee lang, uitmergelende ure. Hulle beweeg al skietende agteruit, totdat hulle reken hulle is ver genoeg weg, of naby genoeg aan skuiling, om die laaste ent rieme neer te lê. Die ander drie groepe sien wat hulle makkers doen en besluit om hulle voorbeeld te volg.
“Kom!” beveel Diek, kry agt van sy manne in ‘n formasie en agtervolg die kleiner groep na hulle agterkant. Die vlugtendes sien wat gebeur en slaan alle versigtigheid in die wind, gooi selfs wapens neer en trek lyfpanster uit, in die proses om met so min gewig as moontlik, weg te hardloop.
Net anderkant die vulstasie is die pad oop, met hoë heinings langs die kante en dit bied geen skuiling nie. Die uitgewande kompenie hardloop nou so hard hulle kan, maar tog haal die goedgemikte skote hulle in, totdat net nege van hulle die veiligheid van die volgende kruising bereik.
“Dankie tog dat hulle vir ons ‘n loopgraaf gegrawe het!”
“Ek dink ons sal ‘n paar ander voertuie moet kry.”
*
Paul Roux se groep waag dit nie om die pad te gebruik nie. Dis asof iemand byekorwe oopgeskop het, soos daar uit elke plaas, gehuggie, dorp en stad mense aan die beweeg gekom het. Sommige soek kos en skuiling, ander soek veiligheid, maar die derde groep is op hulle spoor om hulle te beroof en te vermoor. Die snelweë, maar ook die sekondêre en selfs klein paadjies, wemel van misplaaste en ontwortelde mense.
Mans, gewapen met enigiets wat kan sny, steek, slaan of skiet, loop soos wat die norm was twee honderd en meer jaar gelede voor sy groepie mense, met die vroue en kinders wat agterna kom. Die vroue dra klein kindertjies, babas, komberse en kos in elke moontlike houer, vanaf plastieksakke tot gehawende reistasse en seil- en nylonsakke. Die kinders dra vragte na behore van hulle ouderdom en krag, soveel as moontlik.
Waar die groepe geloop het, word ‘n spoor van genoemde plastieksakke, stukkies gehawende klere, ontlasting, as en smeulende kole van enigiets brandbaar, stukkende karre en bakkies, lorries en hier en daar ‘n bus; die ruite uitgeslaan en een uit elke drie uitgebrand gelaat. Die ergste is die lyke wat amper soos mylpale elke paar kilometer lê en vergaan. Niemand het tyd, krag of lus om hulle te begrawe nie.
Rondloperhonde het aanvanklik in in klein, maar later in groter troppe die groepe begin agtervolg, waar hulle soos hiënas, jakkalse en aasvoëls eenkant op die perimeters draf of wag, totdat die volgende liggaam agtergelaat word. Uiteindelik is daar net witgevrete, verspreide beendere oor.
Paul-hulle vermy die walglikhede, weens afsku, maar ook oor die gevaar daaraan verbonde. Hulle het baie tyd en sterk vierwieldrywe. Dus ry hulle deur die veld waar moontlik. Dit gebeur dat hulle baie kilometers beweeg, voordat hulle noodgedwonge op die pad moet kom, maar dan ook net as dit leeg is en draai hulle so gou moontlik weer veld-in. Die Mercedes met die groot wiele ry feitlik enige plek en normaalweg is hy besig om een van die ander voertuie, soos die Toyota bakkie of een van die ander, te sleep. Die Frontier met sy gewillige 3.2 liter V6 en veldbande verbaas almal.
*
Die kanse dat jy iemand onder hierdie omstandighede sal raakloop of ry, is baie groot. Bouts hou op elke bultjie, koppie of hoogtetjie stil en verken die omgewing rondom hom, voordat hy aanry. Die Nissan se 2,2 liter viersilinder enjin is gewillig en die lae ewenaarverhouding, gekoppel met die vyfspoed-ratkas, doen nie sleg nie, behalwe as dit modderig is, of die sand te los.
Dit het ‘n paar aande gelede lekker gereën, en hier en daar staan nog poele water, wat hy dan versigtig vermy. Aan die bokant van die volgende opdraande hou hy oudergewoonte stil en kyk hoe die omgewing daarna uitsien. Ver na sy linkerkant is daar ‘n beweging. Hy kan nie die besonderhede uitmaak nie, maar weet sommer dis ‘n redelike groot groep mense wat daar loop. Voor hom in die pad, so twee kilometer van hom af, is ook ‘n groep mense, kleiner as die ander een, maar steeds groot genoeg dat hy hulle wil vermy. Sy enigste opsie is om òf terug te draai, wat hy nie wil doen nie, òf links af te draai die veld in. Hy knip die doringdraadheining, iets wat hy nooit vantevore sou droom om te doen nie, en ry stadig die veld binne. Dis reeds laatmiddag en hy begin uitkyk vir ‘n gerieflike, maar ook veilige staanplek vir die aand. ‘n Mens is selfs in die veld net so ongemaklik as wat jy kies om te wees.
Daar is nie ‘n teken van ‘n paadjie nie en die Tracker ry stadig deur die gras. Af en toe sal ‘n voorwiel lig teen ‘n groterige klip, of af in ‘n gat, waarna Bouts effens petrol moet trap om oor of uit te klim. Die enjinspoed klim en val die hele tyd. Die voertuig het onafhanklike vering voor, maar ‘n starre as en bladvere aan die agterkant, wat maak dat Bouts skommel en skud deur die veld.
Uiteindelik is hy aan die onderkant van die steilte en ‘n groenerige gelykte lê voor hom en nog verder aan, ‘n lappie polulierbome en ‘n lekseltjie groen gras. Hy ry deur die vlaktetjie en eers as hy die voorwiele binnekant het, besef hy dis ‘n stukkie vlei. Die voertuig se enjintjie skreeu as hy petrol gee, maar dit sak eenvoudig tot teen die vloerbord weg in die pap modder. Gelate dat sulke dinge gebeur, verwyt hy homself nie, en ook nie die natuur nie. Dis maar hoe die verloop van sake gaan. Hy maak die deur oop, klim uit en op die laaibak, om nie sy skoene in die modder te kry nie, oor die agterkant en spring op die droë grond, waar hy hande in die sye staan en kyk wat aangaan. Dit lyk darem nie of die voertuig verder gaan wegsak nie en dit help ook nie hy probeer hier uitry nie. Daarvoor is die wiele te klein en te maer.
Die son begin sak oor die rand van die koppie skuins voor hom en hy kom tot ‘n besluit: môre is nog ‘n dag. Vandag was lank genoeg en hy het in elk geval nie ‘n tydskedule nie. Môre kan hy van die jong populiere afkap en onder die wiele inwig, of so iets. Hy sal wel ‘n plan maak en weldra hier uitkom.