Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die beloning vir harde werk is nie wat ‘n leier daarvoor ontvang nie, maar wat hy daardeur bereik. Niemand behaal per toeval sukses nie. Dis harde werk. Die geheim van enige leier se sukses is dat hy doodgewone werk buitengewoon goed doen. Hy beland nie in die seekatgreep van ydele, onversadigbare drange na sukses nie. Wie hierin beland, is soos ‘n man wat met ‘n gorilla stoei en nie kan nie ophou as hy moeg word nie. Die dierasie moet eerste moeg word!
BROKKIES UIT DIE BOEK: POENA (18)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die klein konvooi beweeg vinnig genoeg om buite bereik van die aanvallers te kom, maar stadig genoeg dat hulle nie skade in die ruwe terrein kry nie. Die groot V8’s van die voorste voeruie, met baie wringkrag en groot bande, is ideaal geskik vir hierdie soort ryery. Die ander, met kleiner enjins, kleiner bande en beperkte beweging op die aste, sukkel en moet hier en daar gehelp word, hetsy deur blote mannekrag, of met ‘n sleeptou. Dis ook onverantwoordelik om in die donker te ry, want nie net is die ligte aangepas om ver te sien nie, maar is ook ver sigbaar, iets wat hulle nie kan bekostig nie.
Hulle maak ‘n droë kamp ver in die berge, in klipperige grond, wat veroorsaak dat niemand gemaklik kan slaap nie. Die dag se opwinding, stres en trauma, saam met die gedagtes dat dit net sowel anders kon uitdraai as wat gebeur het, maak dat daar meer stilte as gesels is. Die geblikte weense worsies en poeiereiers gaan by sommige swaar af, selfs met die tee wat daarop volg.
Paul vat die Poena, soek ‘n plek waar hy ‘n bietjie meer hoogte kan kry en sit so stil as moontlik. Hy hoor na ‘n paar minute ‘n geluid.
“Wie is daar?” vra hy gedemp.
“Dis vriende. Moenie skiet nie, asseblief,” sê ‘n vrouestem.
Hy voel haar teenwoordigheid aan, voordat sy langs hom kom sit.
“En daardie drukkie van vandag?”
“Dis net om jou te troos. Moenie te veel daarin lees nie.”
*
Dood moet ‘n oorsaak hê. Soos Rudi ry, doem sy verlede soos spoke by hom op en teister hom soos net ‘n klomp uit ‘n mislukte verlede kan doen. Die enjin van die ou, 1978 model Volkswagen Golf 1100 loop op genade met die laaste paar liters brandstof wat hy uit ‘n kan kon kry.
Hy hou die hittemeter dop, verloor spoed teen die opdraand ‘n klompie kilometer suid van Pretoria, en soos sy spoed bloei, styg die naaldjie effens. Hoe het hy hier gekom? Was dit maar karma se toedoen, en indien wel, dan sluk hy swaar daaraan, want sy persoonlikheid huiwer tussen narsisme en sosiopatie. Die oorgang sou ‘n gebrek aan vrees wees, maar daarvan het Rudi baie. Dit beteken dat hy ten minste ses van die elf kenmerke van ‘n sosiopaat het, waarvan leuensvertel sekerlik die uitstaande een is. En natuurlik ‘n volslae gebrek aan gewete. Maar waarom spook sy verlede dan so? Is dit nie juis sy gewete wat praat nie? Hy besef dit is nie, maar eerder sy verbrokkelde selfbeeld wat hy so versigtig geheg en gepoets het deur die jare, wat nou finaal neig om uitmekaar te spat.
Die oorsaak van sy dood sou hy sekerlik kon terugvat na sy kinderjare, waar ‘n lang, té maer lyf en ‘n gebrek aan lojaliteit teenoor enigiemand behalwe homself, veroorsaak het dat hy mettertyd uit elke groep verstoot is.
Om daarvoor te kompenseer het hy toevallig op ‘n skoolpartytjie die waarde van ‘n paar slukkies vodka ontdek. Die goed wat feitlik reukloos is, soos water lyk en brandend in sy keel afgaan om die seer in sy gemoed toe te vou in ‘n “kan-nie-omgee-nie-kombersie”, het soos ‘n verlosser in sy lewe gekom. Wat hy nie op daardie stadium kon weet nie, is dat daar ‘n ding soos kompensering is.
Die liggaam, wat die alkohol as vyandig ervaar en deur die lewer uitgeskei word, nadat dit ‘n draai deur die brein gemaak het, begin daaraan gewoond raak en kompenseer om groter dosisse. Om dieselfde verligting vir swaarmoedigheid en pyn te ervaar, moet ‘n mens al meer inkry. Natuurlik is daar baie negatiewe gevolge, soos lewerskade en ander liggaamlike nadelighede, maar dis probleme vir ‘n ander dag. Hierdie gebrek aan toekomsvoorsiening is natuurlik ook een van die kenmerke van ‘n sosiale versteuring.
‘n Mens sou dus kon sê Vodka is die oorsaak van Rudi se dood, maar dit sou ook nie die volle waarheid wees nie. Terwyl hy ry, dink hy daaraan dat hy dalk net soos Jakob vanouds is. Hy het ook mense bedrieg waar hy gekom het. Jakob het sy broer se swakheid gebruik om sy eersgeboortereg by hom te koop vir ‘n pot lensiesop. Hy het sy broer en sy pa bedrieg uit die seën wat Isak gebêre het vir sy geliefde Esau. Net soos Jakob het hy gevlug vir sy broer en pa, by Laban aangekom en hom met die skape en bokke bedrieg. Natuurlik was dit die Labans in sy lewe se eie skuld, net soos wat die man vir Jakob met Ragel en Lea verkul het.
Hy wat Rudi is, het nadat hy sy graad uiteindelik gekry het, lank werkloos gebly, ‘n minderwaardige een tydelik aanvaar, getrou, maar vinnig het die vrou hom geëien vir wat hy werklik was en so gou moontlik padgegee. Hy het ‘n uitnodiging gekry vir werk ver na die noorde, dit dadelik aanvaar en begin met planne om sy kollega uit te werk, wat na ‘n jaar en ‘n half vrugte afgewerp het – met leuens, gekonkel en swartsmeerdery, soos dit gewoonlik in sulke gevalle die norm is. Hy onthou dat hy die gebroke man nie eens bejammer het nie.
Sy werkgewer het egter vinnig gesien waaruit Rudi bestaan en dadelik die wiele aan die rol gesit om hom te verplaas, so ver en vinnig as moontlik en hy het ‘n betrekking aanvaar in Noord-Wes Provinsie. Hier het dit aanvanklik voor die wind gegaan, totdat hy op ‘n slegte tyd ‘n paar slukkies te veel van sy ou vriend vodka geneem en in ‘n boom vasgery het (natuurlik het ‘n koei voor hom ingeloop), sy femur en bekkenbeen versplinter het en breinskade opgedoen het. Sy gemene geneigdhede het sterker na vore getree en sy nuwe vrou het die baba geneem en na haar ma teruggegaan.
Vodka is in groter dosisse geneem. Sy wergewer het hom opnuut probeer verplaas, maar met niemand wat hom meer wou hê nie en ‘n reputasie wat soos ‘n slegte gewoonte hom oral agtervolg het, is sy pos oorbodig verklaar. Die nuwe Toyota, wat hy gekoop het met die versekering se uitbetaling as deposito en sy salarsisstrokie as borg, se paaiemente het agter geraak en kort voor lank het die balju daarop beslag gelê.
Rudi se ma het van sy nonsens genoeg gehad en met vyftiend duisend rand in die hand en ‘n belofte dat hy nooit weer terug sou keer na sy ouerhuis nie, het hy die Golf by ‘n drinkebroer gekoop, vol petrol gemaak, met drie bottels Vodka en met ‘n half-leë tas klere die lang pad aangepak.
Nou ry Rudi die Rot net iewers heen. Hy mik instinktief noorde toe, met geen ander plek waar hy welkom sal wees nie. ‘n Mens se verlede haal jou in, en jy kan nie vir altyd daarvan weghardloop nie. Hy het, so ver hy gery het, met meer geluk as vaardigheid die massas vermy. Op een plek het hulle op ‘n drie-voertuig konvooi toegesak en vir hom kans gegee om verby te sluip aan die ander kant. Dit kom nie by hom op om te help nie, al het hy ‘n ongelisensieerde .22 Star aan sy regterheup.
‘n Ent voor die Fonteinesirkel draai hy regs af na Fort Klapperkop se kant, waar hy oor die stad kan kyk. Die voorheen-verligte metropool is nou donker, behalwe vir flou kersligskynsels hier en daar, en natuurlik die brande. Vlamme en rookbolle wat langs en binne geboue en voertuie opstyg. Kan dit wees dat daar so baie goed in een stad kan wees wat brand? Rudi dink vir geen oomblik aan die menselewens wat dit opgebruik het nie. Dis eenvoudig nie in sy aard om simpatie of empatie met ander mense te hê nie. Dit het hy as oorlewingsmiddel al lankal afgeskud.
Hy haal sy laaste bottel Smirnoff onder die sitplek uit, skud die ding om te hoor hoeveel is oor en met ‘n hartseer uitdrukking op sy gesig vat hy die laaste paar slukke daaruit. Die leë bottel slinger hy hard teen die afgrond af in die rigting van die brande.
Rudi verdwaal as hy na Waterkloof se kant teen die berg afry. Aan die onderkant van die straat ry hy byna in ‘n padversperring vas, draai links en is verlig as hy sien niemand volg hom nie. Die alkohol maak hom rustig en as dit nie daarvoor was nie, het hy dalk ontkom. Skielik is daar skares mense om sy kar, wat hy sò skielik tot stilstand bring dat die ou Golfie stol.
Die mense slaan sy ruite uit, wieg die karretjie op sy suspensie. Die petrolbom wat bars op die agtersitplek, vlam sò vinnig dat die mense padgee en Rudi kry met ‘n gekarring die Golf se enjin aan die loop, skiet die wapen leeg in ale rigtings, trap die petrolpedaal teen die vloerbord en stamp sy pad oop deur die mense. By die volgende kruising draai hy links en ry, totdat die vlamme hom oorval. Hy het genoeg krag om die deur oop te forseer, op die teer te val en hy rol om en om, om die vlamme te blus.
Die mense wat hom kom ophelp en binne die hek indra, sag neerlê op ‘n kombers, is die eerste vriendelike en besorgde gesigte wat hy in jare sien. Hy besef dat die ondraaglike pyn te erg gaan word. Wat hy nie besef nie is dat hy derdegraadse brandwonde oor tagtig persent van sy maer lyf het.
‘n Skraal, maar sterkgeboude man in sy middeljare buk aan sy linkerkant.
“Sê my tog jou naam, Oom. Ek wil nie by vreemde mense doodgaan nie.”
“Noem my sommer net ‘Diek’.”
“Wie is jy, Diek?”
“Ek is ‘n oud-soldaat, wat kwaad geword het.”
Rudi is lank stil, terwyl hy veg met die pyngolwe wat deur hom maal. Uiteindelik praat hy.
“Gaan julle hier bly, of gaan julle ook ry?”
“Ons wag nog ‘n rukkie, dan ry ons, hoekom?”
“Waarheen?”
“Noorde toe, skat ek. Dit lyk my daar is mense wat terugveg, net soos ons.”.
Rudi probeer sy oë toemaak, maar sy ooglede is afgebrand. Hy sug diep en lank, so lank dat Diek en Drien dink hy is dood. Sy het twee ampules morfien wat sy reghou, as hy klaar is.
“As julle daar bo kom… daar is ‘n ou man… julle sal weet wie dit is as julle daar kom. Sê vir hom ek is jammer”.
“Ons maak so”.
Diek knik vir Drien, wat die morfien toedien.
Dood het ‘n oorsaak en in Rudi se geval was dit sy stryd in sy eie Jabbokdrif. Hy kon nooit daar deurkom nie, maar het gesterf voor dagbreek. Hy het nooit die Here gesien nie. Pniël was nie vir hom beskore nie. Sy naam is ook nie verander na iets goed of mooi nie. Hy het blootgesterf as Rudi die Rot.