Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons tyd is kort; die Bybel sê nêrens dat ons die hele tyd moet preek nie, wel dat ons die hele tyd moet bid. Laat ons dan minder met mense praat en meer met God.
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (8)
083 444 7672)
Die sagte misreën het plek gemaak vir ‘n harde bui en daarna die koue. Al vertroosting wat Demas het, is dat sy vyande net so koud en nat soos hy is.
Selfs in die mistigheid kan hy die diep skeur tussen die twee rotse sien en kruip stadig daarin. Die kans dat een of ander dier ook daar skuiling kan soek, is redelik goed en hy skyn met die flits vinnig daarin om seker te maak. Dis droog en, sover hy kan sien, sonder tydelike of permanente inwoners.
Die seiltjie is amper dieselfde kleur as die nat rotse en hy besluit na ‘n oomblik van wik en weeg om daarin te gaan. Twee skeure, nie presies dieselfde hoogte nie, maar naby genoeg, bied die opsie om die punte van die seil daarin te druk, met ‘n paar stokke en ’n klip vas te wig. Hy kruip onder die tydelike skuiling uit, loop ‘n paar treë agtertoe en dan kante toe, maar dis van ‘n paar meter af onsigbaar.
Dis baie koud en hy is tot op die vel toe nat. Die een kant van die rots maak ‘n effense lysie so knie-hoogte en hy sit sy mes en rewolwer daarop, maak die R1 staan langs die ander kant en trek al sy klere uit. Hy hoop die gleuf tussen die twee rotse bokant hom sal die rook wegvat van die skeur af en maak ‘n vuurtjie, klein en veilig, met takke, blare en ‘n stuk stomp wat deur die jare daarin geval en gewaai het.
Die rotse weerkaats die hitte en na ‘n rukkie is dit amper snoesig aan die binnekant. Hy hang sy nat klere teen die skuinste van die rotse en hoop twee dinge – die eerste is dat hy nie so poedelnakend gevang sal word nie en tweedens dat sy klere droog sal word voordat die brandstof klaar is.
Met sy kop op sy rugsak, opgekrul soos ‘n fetus, so na aan die vuur as wat veilig is, raak hy weer aan die slaap.
*
Niemand dink eens aan verder slaap nie. Opwinding en skok maak hulle dors en na ‘n uur, honger. Nadat die son opgekom het, loop die ou man om die huis en probeer nie net die skade bepaal nie, maar ook ‘n manier om dit reg te maak. Die voordeur is net oppervlakkig gebrand en dis nie nodig om verder daaraan aandag te gee nie. Die skerwe van die stukkende ruite word opgevee en in die asblik gegooi en stukke hout, afgeskroefde binne-deure, komberse en ‘n hangkas word voor die openinge gehang en geskuif.
Die volgende probleem is die lyke. Niemand is lus daarvoor nie, maar met dun handskoene aan, pak die manne die taak aan om een na die ander op die sleepwa te laai en vrag na vrag ver die veld in te vat en daar af te gooi. Daar is nie tyd of motivering om ‘n graf te grawe nie. Die hele ervaring het die manne bleek en naar gemaak. Van die wapens wat rondlê word die bestes uitgehou en al die ammunisie. Die res se sluitstukke word verwyder en op ‘n hoop in die pakkamer gesit.
Die vroue het kos gemaak, maar na al die bloed en stukke bene, vel en starende oë, is niemand lus om te eet nie. Twee van die manne neem hulleself voor om nooit weer vleis te eet nie.
“In my kar is ‘n bottel whisky. Ek stel voor ons elkeen vat ‘n glasie daarvan.”
Met die bietjie alkohol op hulle leë mae word hulle lomerig en met die vroue wat nou wagstaan, dut die manne in. Dis reeds amper skemer as hulle wakker word. Die realiteit van hulle situasie is nou in elkeen se gesig en houding te bespeur. Die kindertjies is groot-oog en bly naby hulle ma en ouma.
Nadat al die wapens skoongemaak en die magasyne gelaai is, word die aand se wagbeurte bespreek. Elkeen van die jonger manne en die vroue is dankbaar dat die ou man diensplig gedoen het en later in die kommando was. Sonder sy leiding sou hulle dalkies net omgekom het.
“Hoe lank gaan dit aanhou, Pa?”
“Tot iemand oorgee – en dit sal nie ons wees nie.”
Oorlog is nie vir sissies nie.
*
Soos sjongololo’s wat uitkruip na die reën, het daar ‘n flentertjie mense aangeslinger gekom.
“Wat sien Pa?”
“Ek sien dat dit van ons mense is. Nugter weet waar hulle uitgekruip het, en nog vreemder dat hulle nog lewe om dit te doen.”
“Wat gaan ons doen? Ons het nie plek vir almal nie.”
“Ons laat hulle eers nader kom, voordat ons besluit. Moet ook nie dat hulle julle onverhoeds betrap nie. Mense wat desperaat is, sal enigiets doen ter wille van oorlewing, selfs om ons te beroof sal nie uitgesluit wees nie.”
“Ons eie mense? Is dit nie juis nou dat ons moet saam staan nie?”
“Onthou nou, ek sê nie dit gaan gebeur nie, maar moenie te gerus wees nie.”
Die groepie kom nader, stadig, asof hulle bang is dat die dood enige oomblik iewers kan uitpeul. Dis duidelik dat hulle nie nou net uit ‘n huis kom waar daar gebad en geëet is nie. Selfs op ‘n afstand kan ‘n mens sien hulle klere is gehawend, die hare van die mans deurmekaar en die langes van die vroue en meisies gekoek en onversorg. Een van die mans dra ‘n kind in sy arms.
“Kom ons gaan help, Pa!”
“Nee. As hulle tot hier naby kon kom, kan hulle ook die laaste entjie stap.”
Die ou man trek die Velcro-strokie, wat die pistool in sy plek hou, los en vou die bandjie om die voorkant van die skede, sodat dit uit die pad kan wees.
Die afgelope weke is ‘n duidelike skeidslyn getrek tussen rasse, nog duideliker as wat die politieke leiers dit ‘n paar maande gelede gemaak het, toe hulle begin praat het van die blankes as kokkerotte, met ander woorde, insekte wat ‘n mens bloot net moet plattrap. Tog is daar iets wat die ou man se hare agter sy nek laat rys as hy die spulletjie sien aangeloop kom. Daar is manne en vroue, kinders en selfs klein kindertjies in die groepie, wat vir hom net té maklik lyk. Wat is dit wat hom pla? Hy kan nie sy vinger daarop lê nie, maar iets is uit plek uit.
Hy draai om, loop die huis binne en haal sy haelgeweer uit die sitkamer. Wanneer hy buite kom, is die groepie nie meer as tagtig meter van hulle af nie. Iets is nie reg nie.
*
Dit maak nie saak waar ‘n mens op die aarde is nie, daar sal altyd iemand in die omgewing wees, of dit in die woestyne van Noord en Suid-Afrika, die Savannas, die Himalaja’s of die woude van die Amasone, die sneeuvlaktes van Siberië of die onherbergsaamheid van Mongolië. Selfs die Noord en Suidpole is nie meer verlate nie.
Die Berg is, na alle waarskynlikheid, nie die belangrikste reeks in die land nie en alhoewel dit groot genoeg is dat jy jou daarin kan laat wegraak, is dit klein genoeg dat iemand jou weldra teë sal kom of opmerk. Geen mens kan uiteindelik heeltemal vir altyd ongemerk deur ‘n plek gaan nie. Jy los ‘n enkele voetspoor, ‘n merkie teen ‘n klip, rots of teen ‘n boom se bas, ‘n stompie of vuurhoutjie, bietjie koue as, ‘n stukkie lap van jou hemp, broek of baadjie teen ‘n doringtak, die reuk van urine of ontlasting, selfs die merke van ‘n wilde dier soos ‘n bobbejaan of bosbok wat verskrik van jou padgegee het.
In Demas se geval is die spore wat hy gelaat het nog veel duideliker. Alhoewel hy as kind saam met sy pa gaan jag het en geleer het om ‘n geweer te gebruik, was daar geen rede waarom hy geleer sou wees om sy spore dood te vee nie.
Natuurlik probeer hy om so lig en ongesiens as moontlik te beweeg, om sy as en ander dinge te begrawe, maar vir die inheemse jagters, wat staatmaak op strikke en enkele gesteelde vuurwapens, is sy spoor baie duidelik. Hy het nooit teruggekeer om doppies op te tel nie; die stukkende .270 Winchester, die ewe stukkende Dragunov, en natuurlik die gesneuweldes wat in die veld lê.
Niemand, behalwe die handjievol mense by die plaashuis en dié op wie se hakke hy bly, het hom al gesien nie, maar in sy spoor lê ‘n hele aantal dooie mense. Mense wat nie van natuurlike oorsaak dood is nie, tensy jy ‘n koeëlgat of ‘n meswond as natuurlik kan beskou.
Uit nuuskierigheid het die jagters probeer om naby genoeg te bly om te sien wat hy aanvang, maar ver genoeg om nie binne skootafstand te kom nie. ‘n Keer of wat kon hulle van ver af die knal of knalle hoor.
Legendes begin om rondom hom geweef te word en sulke stories het ‘n manier om baie vinnig te versprei. Bonatuurlike kragte, verweef met oeroue berglegendes, inkarnasie van die toordokter Tathe, die wit leeu van die heilige woud wat na die Oostekant toe lê, maar steeds deel is van die berg, en selfs die verdwyning van die wit krokodil in die Vondo-meer maak vir wye oop-oog stories laataand om die vure.
Die skielike vrees wat Dorkas, Butch Radebe se eens-onverskrokke stiefsuster, ontwikkel het en die stertjies wat sy aan hulle ontmoeting gelas het, help ook nie. Natuurlik is alles wat sy vertel nie net daarom gedraai dat Demas al skrikwekkender word nie, maar dat sy ook haar rol in die ontmoeting oordryf het. Sy het immers ontvlug uit sy kloue – iets wat die ander nie kon doen nie. En soos op enige plek op aarde waar mense ander wil beïndruk met hulle kennis, word die stories intenser en wreedaardiger. As Demas Barth ooit kon hoor wat van hom vertel is, sou hy uit sy nommer sewe skoene geskok wees. Hy het in mense se gedagtes gegroei tot ‘n bomenslike wese wat sy vyand op elke moontlike wyse kan afmaai, en hy kon oor afstande van etlike myle sy teikens raakskiet.