Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Een van die belangrikste van die ses dinge in ons wapenrusting teen die bose geeste van Satan, is ons geloof. Wat sê Paulus sal ons daarmee kan doen? Die Bose se vurige pyle uitblus. As ons dít regkry is daar niejuis iets om voor bang te wees op hierdie aarde nie. En wat beteken dit in praktyk om geloof te hê? Dit behels om elke dag in opregtheid ons hele sondige natuur voor die Here te bely en met Hom te praat oor alles, net soos 'n klein kindjie sy ouers in sy vertroue neem, en dan rustig voort te werk in jou dagtaak met die wete dat Hy in beheer van daardie 'alles' is.
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (12)
“Pa, daar is weer voertuie op pad!”
Die ou man loop uit die erf na die pad se kant toe. Hy het sy lang geweer en handwapens by hom. Om sy nek hang ‘n ou weermag-tipe verkyker, met die skootplasingsmerke van ‘n mortieraanwyser.
Hy fokus op die voorste bakkie, en maak die drywer duidelik uit as ‘n blanke, asook die man op die passasiersitplek langs hom. Hy sien ook die gesigte agter op die bakkie is bleek en blank. Sodra die bakkie by die bult afry, kan hy sien die volgende vier voertuie se insittendes is dieselfde kleur, sover hy kan sien, in elk geval.
Na die stel wat hulle amper met die vorige witmense afgetrap het, is hy maar skepties en hy, twee van die seuns en sy een dogter gaan staan in die middel van die teerstraat, hul gewere gereed. Hy hou sy hand in die lug soos ‘n verkeerskonstabel om hulle te wys dis ver genoeg. Sodra die voertuie nie onmiddellik stilhou nie, tel hy sy geweer teen sy skouer en mik na die voorste een se buiteband. Dis egter nie nodig nie. Die man het gesien wat aangaan en rem onmiddellik, nie met bande wat skreeu nie, maar vinnig en dadelik.
Die voorste bakkie kom tot stilstand so drie honderd meter van hulle af. Die drywer klim uit en loop nader, sy hande nie bokant sy kop nie, maar skouerhoogte.
“Asseblief, moenie skiet nie, ons kom werklik in vrede!” roep hy.
“Kom dan nader. Net jy en niks snaakse gebare nie!”
Die man loop vinnig en doelgerig na hulle toe. Dis ‘n man van medium lengte en bou, met ‘n jagter se kamoefleer-uniform en ligbruin stewels. Oor sy skouer hang ‘n geweer en in sy lyfband is ‘n handwapen. Hy is skoongekeer, behalwe vir ‘n netjiese ligbruin snor. Hy loop tot tien meter van die groep af en staan stil.
“My naam is Maxim Nortje. Ons is deel van ‘n groep wat skuins anderkant Pietersburg ingegrawe is. Ons het inligting dat julle binne ‘n dag of drie deur ‘n groot groep mense aangeval gaan word. Asseblief, julle moet my glo, vir julle eie beswil.”
“Is jy ‘n generaal, of kolonel, of wat?”
“Nee, ons het nie vir onsself range gegee nie. Dis goed wat mense doen wat te veel ‘Grensvegter’-boekies gelees het toe hulle op skool was. Jy kan mos sien ek het nie enige rangkentekens aan my nie.”
“Dis al ‘n goeie begin. Ons groot probleem is dat ons julle nie ken nie en op hierdie stadium vertrou ons niemand buite ons familie of direkte vriendekring nie.”
Len het agter die ou man aangeloop gekom.
“Ek dink ons kan hom vertrou. Hy was kompaniebevelvoerder by Swartwater Kommando.”
“En jy weet dat hy nie intussen van lojaliteite versit het nie?”
“Ja, ek weet. Hy is my swaer – ek was met sy suster getroud. Sy vrou, Julie, is so vier jaar gelede verkrag en vermoor. Glo my, hy is aan ons kant.”
Die ou man dink dat dit uiters ironies is dat ‘n man se bona fide’s gekoppel is aan marteling en moord.
“Dis goed, Len. Maar gaan vat jy sy wapens en sorg dat hy nie iewers iets versteek nie.”
Daar was nie ander wapens nie, maar Len deursoek hom in elk geval versigtig.
“Kan hy nou maar nader kom?”
“Ja. Ek is nog nie heeltemal seker van hom nie, maar die feit dat jy hom vertrou, help darem so ‘n bietjie. Kom nader, Maxim.”
“En my manne?”
“Hoeveel is daar van julle?”
“Sewe en dertig, agt en dertig saam met my. Ons kom help, glo my, want die manne wat hier bo in die berg vir julle wag, is ons vyande net so goed soos julle s’n.”
“Ons het nie kos vir julle nie.”
“Dis nie nodig nie, ons het ons eie voorraad gebring”
“Ons toiletgeriewe is te min.”
“Ons sal die bos gebruik. Luister, meneer, as julle nie ons hulp wil hê nie, sê dan net so. Agter julle, iewers nie te ver nie, op die berg, is ongeveer ses honderd gewapende rebelle. Hulle bestaan uit oud-weermag en polisielede, militia en amper ‘n derde van hulle kom uit Mosambiek en is lid van Isis of Boko Haram. Ek weet nie of julle besef hoe wreed en gevoelloos hulle is nie, maar julle moet my vandag glo dat julle paartjies hopeloos te min is vir hulle.”
*
Dit voel vir Demas asof iemand ‘n straal koue water teen sy rug af laat loop. Selfs hier, waar hy half onder die bos lê, met net sy oë en boshoed wat uitsteek, weet hy hy is onsigbaar van onder af en tog voel dit asof ‘n honderd paar oë op hom gefokus is.
Hy weet ook dat ‘n mens soms kan aanvoel as iemand vir jou kyk en daarom vermy hy totaal en al enige oogkontak. Stadig, sonder om ‘n blaar of takkie te versteur, seil hy agteruit. Hy bly net so lê vir meer as ‘n uur en dan hoor hy hoe die klomp gereedmaak om te vertrek.
Daar is ‘n geknetter van panne en kosmaak-gereedkap, gewere wat gespan word, en die gepratery het ‘n ander toon as vroeër. Hy wens hy kon uitmaak wat hulle sê, en alhoewel hy hier en daar ‘n Engelse woord hoor, klink dit vir hom na een of ander Afrika-taal en dalk net ook Portugees.
Hy hoor hoe hulle wegloop, al geselsende, seker dat daar niemand in die omgewing is wat vir hulle gevaar inhou nie. Hy wonder of hy nie netnou, toe hy die kans gehad het, maar die Mosambieker moes skiet nie. Miskien kon hy van die bultjie af wegkom voordat die ander naby genoeg was om op hom te skiet. Nou is dit te laat daarvoor en dit maak nie meer saak nie.
Na nog ‘n halfuur, kruip hy weer die paar treë vorentoe en loer versigtig bo-oor. Niemand nie. Niks behalwe ‘n half-smeulende vuur nie en ‘n paar stukke plastiek. Iemand het ‘n dik plastieksak half oor die kole gegooi en terwyl hy kyk, krul dit op en vat kortstondig vlam, maar na ‘n minuut of wat, rook dit net.
Hy kan sien in watter rigting hulle geloop het, en dit is beslis dorp se kant toe. Hy seil nog agtertoe en dan staan hy regop, as hy buite sig van die plek is waar die ander gewag het. Versigtig af ondertoe en dan loop hy om die bultjie, soos die Mosambieker en sy suster aanvanklik aangekom het.
Dis makliker vir een mens om ongesiens en ongehoor te loop, eerder as vir die groot groep. Tog loop hy nie agter hulle aan nie, maar in dieselfde rigting, oor ‘n ander hoogtetjie en van daar weer in dieselfde rigting. Hy weet hulle kan net so vinnig beweeg as die stadigste een in die groep en dit gee hom ‘n groot voorsprong.
Soms hoor hy hulle beweeg, want ‘n groot groep kan ook nie stilletjies deur die veld gaan nie. Net voor sononder hoor hy iets skielik naby hom en hy staan vir ‘n oomblik botstil. Een van die manne het van die groep afgedraai om aan die natuur se roep gehoor te gee en Demas vang hom letterlik met sy broek op sy knieë. Die man se oë is groot en angsbevange-wild as hy skielik in die witman se gesig vaskyk.
Sy geweer lê langs hom en sonder om sy broek op te trek, gryp hy daarna. Demas kan nie waag om ‘n skoot af te trek nie en gryp sy mes, wat oor sy skouers, agter sy rugsak hang. Dit kom vinnig en glad uit die skede en voor die man sy geweer ver genoeg kan optel om ‘n skoot af te kry, kap die meslem na hom. Dit tref hoër as wat Demas beplan het en sny diep en ver tussen die man se nek en skouer in, in die dik spier – diep genoeg dat hy die geweer los en na die hand gryp wat die mes vashou,
Demas pluk dit uit en in plaas van weer ‘n kaphou te gee, dryf hy die punt van die lem diep in die kuiltjie tussen sy gorrel en bors in. Die lem maak ‘n vlak suiggeluid as hy dit uit trek. Warm bloed stroom oor sy hand en dit walg hom tot in sy siel.
In die man se rugsak is ‘n ou melkbottel, half vol water. Hy spoel sy hande daarmee skoon en vee dit aan die gras af. Hy kan homself nie sover bring om dit aan die man se klere droog te vee nie.
Hy hurk naby die dooie mens, wag totdat sy hartklop effens bedaar terwyl hy luister of iemand anders aankom. Tevrede dat dit nie gebeur nie, hardloop hy so vinnig as wat die terrein dit toelaat, waar hy glo dat hy parallel met die groep is.
*
“Oom, ons wil nie gesien word nie, dus gaan ons in die verlate huise hier rondom intrek. Die voertuie sal ons hopelik in die motorhuise kan trek, as daar genoeg plek is. Ons wil nie inmeng in julle daaglikse roetines in nie, maar die groot ding is dat ons nie wil hê die vyand moet weet ons is hier nie.”
“Dit pas my. Jammer oor die onvriendelike ontvangs van netnou.”
“Geen probleem nie. Ek sou dit ook so hanteer het. Sê my, het jy ‘n militêre agtergrond?”
“Net diensplig en Kommando daarna.”
“Dit het voorgekom asof jy baie meer weet as wat jy wil voorgee. En ek dink dit steeds. Ek vra net uit belangstelling.”
“Jy?”
“Ja, soos Len gesê het, ek was ‘n Staandemaglid. Infanterie en ‘n wyle ook by berede. Bevelvoerder van ‘n eenheid by Swartwater en later verskuif na Leër Hoofkwartier. Dit was nie my ding nie en ek het ‘n ruk lank by Batavia, Ellisras en omgewing gewerk. Na 1994 het ek gesien hierdie boom wil ek nie klim nie; ek sal moet skuif en het tot ‘n paar maande gelede in die Midde-Ooste gaan help vir ‘n Amerikaanse konsultasie-firma.”
“Huursoldaat?”
Maxim kry ‘n glimlag om sy mondhoeke.
“Nee, Oom, dis mos onwettig.”
“Nou goed, wat kan ons van julle verwag? Jy sê daar is ‘n groot groep wat aankom – hoe groot, waarmee is hulle gewapen wat doen hulle leiers? Hoekom hierheen?”
“Dis baie vrae op een slag. Jy moet onthou dat ons op beskikbare inligting werk. Dit kry ons deur ons informante, waarvan sommige meer betroubaar as ander is. Daarmee moet ons ‘n legkaart aanmekaar sit, van hoe ons voorsien dinge gaan of kan gebeur. Dit lyk asof hierdie groep meer as vyf honderd, miskien nader aan ses honderd sterk is; presies hoeveel, weet ek nie. Ons kan aanvaar dat die meeste van hulle met Ak 47’s en R4’s gewapen is, sommige met handwapens, maar ek dink dis die minderheid. Miskien ‘n gesteelde jaggeweer hier en daar. Ons vermoed die groep bestaan uit plaaslike militia, Isis, Boko Haram en Al Shabaab. Ons kan ook daarop reken dat sommige van hulle ou SANW soldate en Suid-Afrkaanse polisie is. Die leiers – jou raaiskoot is so goed as myne. Moontlik, soos ek sê is sommige van die leiers ou soldate, maar ek dink die grootkop is ‘n Mosambieker, wat ons al lankal moeilikheid gee.”
“En waarom sal hulle juis hierheen kom?”
“Dis sover ek kan agterkom, bloot simbolies, maar ook persoonlik. Julle het ‘n ruk gelede ‘n aanslag afgeweer? Nou-ja, julle het die een leier se broer en seun geskiet, of so dink ons.”
“Ons gaan sukkel teen so baie mense. Selfs met julle by, is dit amper tien tot een en hulle het die voordeel van hoogte.”
“Dis waarom ons staat moet maak op die onverwagte. Hulle weet nie ons is hier nie en sal hulle strategie toespits op een plek en teen ongeveer tien mense.”